Die betekenis van gebed
“In Hebreeus kom die vernaamste woord vir gebed van die grondwoord ‘om te oordeel’, en dit is gewoonlik in die refleksiewe vorm . . . wat letterlik beteken ‘om jouself te oordeel’.” Dit is wat The Authorised Daily Prayer Book sê. Dit impliseer dat een van die funksies van gebed is dat dit die persoon moet help om te sien in watter mate hy aan die regverdige standaarde en vereistes van God voldoen.
Daarom word daar dwarsdeur die Bybel vir ons gesê dat God net iemand se gebede sal verhoor mits hy God se wil doen. “Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.”—Spreuke 15:29; 1 Johannes 5:14.
’n Selfondersoek voor Jehovah God moet die een wat bid gewis nederig en berouvol maak. Dit gee des te meer krag aan Jesus se gelykenis van die trotse Fariseër en die berouvolle tollenaar wat na die tempel gekom het om te bid.—Lukas 18:9-14.
Gebed, of ons nou tot Jehovah bid om hom te dank, te loof of te smeek, moet dus altyd ’n geleentheid vir selfondersoek wees. Gebed sal ons sodoende nader aan Jehovah bring en ons verhouding met hom versterk.