Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 7/15 bl. 27-30
  • Waarom moet ons ons met nederigheid beklee?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet ons ons met nederigheid beklee?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is nederigheid?
  • Dit moet opreg wees
  • Jehovah se beskouing
  • God en Christus openbaar nederigheid
  • Die voordele van nederigheid
  • Nederigheid en God se organisasie
  • Nederigheid en dissipline
  • Bly met nederigheid geklee
  • Kweek ware nederigheid aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Jehovah waardeer sy nederige knegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Jesus het die voorbeeld in nederigheid gestel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Navolgenswaardige voorbeelde van nederigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 7/15 bl. 27-30

Waarom moet ons ons met nederigheid beklee?

DIE Amerikaanse skrywer Edgar Allan Poe het so pas sy jongste verhaal vir ’n paar van sy vriende voorgelees. Hulle het skertsend gesê dat hy die held se naam te dikwels gebruik het. Hoe het Poe gereageer? Een vriend vertel: “Sy trotse gees kon nie so ’n openlike teregwysing duld nie, en voor sy vriende hom kon keer, het hy in ’n woedebui elke vel in ’n brandende vuur gegooi.” ’n Verhaal wat “uiters amusant, heeltemal vry van sy gewone . . . somberheid” was, was nou verlore. Nederigheid kon dit gered het.

Hoewel hoogmoed mense onwyse dinge laat doen, is dit in die wêreld iets algemeens. Maar Jehovah se knegte moet anders wees. Hulle moet die goed ontwerpte kleed van nederigheid dra.

Wat is nederigheid?

Die apostel Paulus het van die pragtige Christelike kleed van nederigheid gepraat toe hy aan medegelowiges in die antieke stad Kolosse geskryf het. Hy het hulle aangespoor: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid [“ootmoedigheid van gees”, NW], sagmoedigheid, lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12.

Ja, nederigheid is “ootmoedigheid van gees”. Dit is “nederigheid van gees; ’n gebrek aan hoogmoedigheid; sagmoedigheid”. ’n Nederige persoon is “beskeie van gees; nie hoogmoedig nie”. Hy is “op innige of beleefde wyse eerbiedig” (The World Book Dictionary, Deel 1, bladsy 1030). Nederigheid is nie lafhartigheid of swakheid nie. Hoogmoed is in werklikheid ’n teken van swakheid, terwyl dit dikwels moed en krag verg om nederigheid aan die dag te lê.

In die Skrif beteken ’n Hebreeuse woord wat as “verneder jou” vertaal word letterlik “vertrap jouself”. Die wyse skrywer van Spreuke het dus hierdie raad gegee: “My seun, . . . as jy deur die woorde van jou mond gevang is, . . . red jouself, want jy het in die hand van jou naaste gekom: Gaan verneder jou [vertrap jouself], en bestorm jou naaste met voortdurende aandrang” (Spreuke 6:1-3, NW). Dit wil sê, verwerp hoogmoedigheid, erken jou fout, stel sake reg.

Dit moet opreg wees

Nie almal wat nederig voorkom, is werklik nederig nie. Party mense wat nederig lyk, is dalk in werklikheid hoogmoedig en sal vir niks stuit om hulle sin te kry nie. Dan is daar diegene wat valse nederigheid as dekmantel gebruik om ander te beïndruk. Die apostel Paulus het byvoorbeeld sommige teengekom wat “skynnederigheid” getoon het, en hy het getoon dat enigeen wat dit doen eintlik “sonder goeie rede opgeblase is deur sy vleeslike gesindheid”. So iemand het verkeerdelik gedink dat God se guns daarvan afhang of hy sekere dinge eet, drink of aanraak en of hy godsdienstige dae vier of nie. Hy kon dalk weliswaar vroom en nederig voorgekom het, maar sy valse nederigheid was waardeloos (Kolossense 2:18, 23, NW). Trouens, dit het hom laat dink dat die lewe as beloning gegee word aan diegene wat van materiële dinge afstand gedoen het. Dit het ook ’n subtiele vorm van materialisme voortgebring omdat asketiese verbooie die aandag vestig op materiële dinge wat hy kwansuis haat.

Daarenteen keer opregte nederigheid dat ’n mens verwaand is wat kleredrag, persoonsversorging en lewenstyl betref (1 Johannes 2:15-17). ’n Individu wat met die kleed van nederigheid beklee is, vestig nie onnodige aandag op homself of sy vermoëns nie. Nederigheid help hom eerder om ander bedagsaam te behandel en homself te sien soos God hom sien. En hoe is dit?

Jehovah se beskouing

Toe die profeet Samuel op die punt gestaan het om ’n nuwe koning vir die nasie Israel te salf, het hy gedink dat Isai se seun Eliab Jehovah se keuse was. Maar God het vir Samuel gesê: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” Sewe van Isai se seuns is verwerp. God se keuse was Dawid, wat bewys het dat hy ’n man van getrouheid en nederigheid was.—1 Samuel 13:14; 16:4-13.

Die kleed van nederigheid beskerm ons sodat ons nie hoogmoedig en verwaand raak—en God se guns verloor nie. Hy “weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jakobus 4:6). Sy beskouing word getoon in die psalmis se woorde: “Die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte” (Psalm 138:6; 1 Petrus 5:5, 6). Wat God van sy knegte verwag, is duidelik uit hierdie vraag wat in Miga 6:8 gestel is: “Wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”

God en Christus openbaar nederigheid

Dit is geen wonder dat Jehovah van ons verwag om nederigheid te betoon nie! Dit is een van sy eie eienskappe. Nadat God Dawid van sy vyande verlos het, het hy gesing: “Ook het U [Jehovah] my die skild van u uitredding gegee . . . en u neerbuigende goedheid [“nederigheid”, NW] het my groot gemaak” (Psalm 18:36; 2 Samuel 22:1, 36, NW). Hoewel Jehovah in die hoogste hemel is, is hy die een “wat laag neersien, in die hemel en op die aarde . . . Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef; om hom te laat sit by die edeles” (Psalm 113:5-8). God toon nederigheid deur barmhartigheid aan die sondige mensdom te bewys. Sy handelwyse met sondaars en die feit dat hy sy Seun as ’n sondoffer gegee het, is blyke van sy nederigheid, liefde en ander eienskappe.—Romeine 5:8; 8:20, 21.

Jesus Christus wat “sagmoedig en nederig van hart” is, het die beste menslike voorbeeld van nederigheid gestel (Mattheüs 11:29). Hy het vir sy dissipels gesê: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (Mattheüs 23:12). Dit was nie blote retoriek nie. Op die aand voor sy dood het Jesus die voete van sy apostels gewas, en sodoende ’n diens verrig wat gewoonlik deur slawe gedoen is (Johannes 13:2-5, 12-17). Jesus het God nederig gedien voordat hy aarde toe gekom het en het sedert sy opstanding tot ’n verhewe posisie in die hemel nederigheid geopenbaar. Daarom vermaan Paulus medegelowiges om ‘die een die ander hoër as homself te ag’ en die nederige gesindheid van Jesus Christus te hê.—Filippense 2:3, 5-11.

Aangesien God en Christus nederigheid aan die dag lê, moet diegene wat goddelike goedkeuring begeer hierdie eienskap openbaar. As ons by tye hoogmoedig was, sal dit wys wees om onsself te verootmoedig en om God se vergifnis te vra. (Vergelyk 2 Kronieke 32:24-26.) En pleks van ’n verhewe beskouing van onsself te hê, moet ons Paulus se raad toepas: “Moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige” (Romeine 12:16). Hoe kan nederigheid ons en ander egter tot voordeel strek?

Die voordele van nederigheid

Een voordeel van nederigheid is dat dit ons daarvan weerhou om oor onsself te spog. Ons spaar ander dus ergernis en vermy persoonlike verleentheid as hulle nie deur ons prestasies betower word nie. Ons moet in Jehovah roem, en nie in onsself nie.—1 Korinthiërs 1:31.

Nederigheid help ons om goddelike leiding te verkry. Jehovah het ’n engel met ’n visioen na Daniël gestuur omdat daardie profeet homself voor God verootmoedig het toe hy na leiding en insig gesoek het (Daniël 10:12). Toe Esra op die punt gestaan het om Jehovah se volk uit Babilon uit te lei, met al die goud en silwer om die tempel in Jerusalem te versier, het hy ’n vastyd uitgeroep sodat hulle hulle voor God kon verootmoedig. Die resultaat? Jehovah het hulle gedurende die gevaarlike reis teen aanvalle deur hulle vyand beskerm (Esra 8:1-14, 21-32). Laat ons, soos Daniël en Esra, nederigheid openbaar en Jehovah se leiding soek, pleks van godgegewe pligte in ons eie wysheid en krag te probeer vervul.

As ons ons met die kleed van nederigheid beklee, sal ons ander respekteer. Byvoorbeeld, kinders wat nederig is, respekteer en gehoorsaam hulle ouers. Aangesien nederigheid ons onpartydig maak, respekteer nederige Christene ook hulle medegelowiges van ander nasionaliteite, rasse en agtergronde.—Handelinge 10:34, 35; 17:26.

Nederigheid bevorder liefde en vrede. ’n Nederige persoon baklei nie met sy medegelowiges om sy vermeende regte te probeer bewys nie. Paulus het net dinge gedoen wat opbouend was en wat nie ’n broer se gewete sou kwel nie (Romeine 14:19-21; 1 Korinthiërs 8:9-13; 10:23-33). Nederigheid help ons ook om liefde en vrede te bevorder deur ander hulle sondes te vergewe wat hulle teen ons begaan het (Mattheüs 6:12-15; 18:21, 22). Dit beweeg ons om na ’n veronregte te gaan, ons fout te erken, sy vergifnis te vra en te doen wat ons kan om enige onreg wat ons dalk gepleeg het reg te stel (Mattheüs 5:23, 24; Lukas 19:8). As ’n veronregte ons nader, moet nederigheid ons beweeg om sake vreedsaam in ’n gees van liefde op te los.—Mattheüs 18:15; Lukas 17:3.

Redding hang daarvan af of ’n mens nederigheid aan die dag lê. Aangaande God word daar byvoorbeeld gesê: “U verlos die verdrukte [“nederige”, NW] volk, maar u oë is teen die hoogmoediges; U verneder hulle” (2 Samuel 22:28). Wanneer die Koning Jesus Christus ‘voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid ry’, sal hy diegene red wat hulle voor hom en sy Vader verootmoedig (Psalm 45:5). Diegene wat nederigheid betoon, kan uit hierdie woorde bemoediging put: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:3.

Nederigheid en God se organisasie

Nederigheid lei daartoe dat God se volk sy organisasie waardeer en dat hulle as handhawers van onkreukbaarheid daarby bly. (Vergelyk Johannes 6:66-69.) As ons nie ’n diensvoorreg ontvang waarop ons gehoop het nie, help nederigheid ons om saam met diegene te werk wat die verantwoordelikheid in die gemeente dra. En ons stel ’n goeie voorbeeld deur ons nederige samewerking.

Daarenteen weerhou nederigheid ons daarvan om ydelheid in verband met ons diensvoorregte onder Jehovah se volk aan die dag te lê. Dit voorkom dat ons eer soek vir werk wat ons bevoorreg is om in God se organisasie te doen. As ons boonop as ouere manne dien, help nederigheid ons om God se kudde met teerheid te behandel.—Handelinge 20:28, 29; 1 Petrus 3:8.

Nederigheid en dissipline

Die kleed van nederigheid help ons om dissipline te aanvaar. Nederige mense is nie soos Juda se koning Ussia nie, want sy hart het so hoogmoedig geword dat hy onwettig priesterlike pligte uitgevoer het. Hy het ‘ontrou gehandel teen die HERE sy God: want hy het in die tempel van die HERE gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar’. Toe Ussia vir die priesters woedend word omdat hulle hom teregwys, is hy met melaatsheid getref. Wat ’n dure les om tog weens ’n gebrek aan nederigheid te leer! (2 Kronieke 26:16-21; Spreuke 16:18). Moet nooit soos Ussia toelaat dat hoogmoed jou verhinder om dissipline van God deur Sy Woord en organisasie te aanvaar nie.

In hierdie opsig het Paulus vir Hebreeuse Christene gesê: “Julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. . . . Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:5-11). Onthou ook dat “die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe” is.—Spreuke 6:23.

Bly met nederigheid geklee

Hoe belangrik is dit tog dat Christene altyd die kleed van nederigheid dra! Dit beweeg ons om as Koninkryksverkondigers te volhard, terwyl ons nederig van huis tot huis getuig op soek na diegene wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Handelinge 13:48, NW; 20:20). Nederigheid help ons inderdaad om in elke opsig gehoorsaam aan God te bly, al haat hoogmoedige teenstanders ons regverdige weg.—Psalm 34:22.

Omdat nederigheid ons beweeg om ‘met ons hele hart op die HERE te vertrou’, maak hy ons paaie gelyk (Spreuke 3:5, 6). Trouens, slegs as ons met hierdie puik eienskap beklee is, kan ons waarlik met God wandel en sy goedkeuring en seën geniet. Soos die dissipel Jakobus geskryf het: “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jakobus 4:10). Laat ons ons dus beklee met nederigheid, daardie pragtige kleed wat deur Jehovah God ontwerp is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel