Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Stryery​—⁠Hoe gebeur dit?
    Ontwaak! – 2015 | Desember
    • Kinders hoor hoe hulle ouers stry

      VOORBLADONDERWERP | VREDE IN DIE GESIN

      Stryery​—⁠Hoe gebeur dit?

      “ONS stry gewoonlik oor geld”, erken Sarah,a in Ghana, wat 17 jaar lank met Jacob getroud is. Sy verduidelik: “Ek is kwaad omdat ek baie vir die gesin doen, maar Jacob praat nooit met my oor ons geldsake nie. Ons praat weke lank nie met mekaar nie.”

      “Ja”, sê haar man, Jacob, “daar is tye wanneer ons lelik met mekaar praat. Dit word gewoonlik veroorsaak deur misverstande en slegte kommunikasie. Soms stry ons ook omdat ons in sekere situasies oorreageer.”

      Die pasgetroude Nathan, in Indië, beskryf wat eendag gebeur het toe sy skoonpa op sy skoonma geskree het. “Sy het aanstoot geneem en uit die huis uit gestap”, sê hy. “Toe ek, sy skoonseun, hom gevra het waarom hy so skree, het hy gevoel dat ek hom beledig. Toe ek weer sien, skree hy op ons almal.”

      Dalk het jy ook al opgelet hoe ’n stryery kan ontstaan wanneer die verkeerde ding op die verkeerde tyd gesê word. Wat miskien as ’n kalm gesprek begin, kan vinnig in ’n argument ontaard. Niemand kan altyd die regte ding sê nie, en daarom kan dit maklik wees om ander se woorde en beweegredes verkeerd te verstaan. Tog is dit moontlik om ’n mate van vrede en harmonie te hê.

      Wat kan jy doen as ’n hewige stryery ontstaan? Watter stappe kan jy doen om vrede en kalmte in die gesin te herstel? Hoe kan gesinne vrede in die huis bewaar? Lees asseblief verder.

      a Van die name in hierdie artikels is verander.

  • Hoe om op te hou stry
    Ontwaak! – 2015 | Desember
    • ’n Egpaar sit saam en die man luister na wat sy vrou sê

      VOORBLADONDERWERP | VREDE IN DIE GESIN

      Hoe om op te hou stry

      SÊ NOU julle gesin is in ’n bose kringloop van stryery vasgevang. Dalk stry julle nou meer en is die argumente hewiger. Julle weet miskien nie eers hoe dit begin het nie. Maar julle is lief vir mekaar en wil mekaar nie seermaak nie.

      Hou in gedagte: Dit beteken nie noodwendig dat julle gesin verbrokkel omdat julle verskillende menings oor iets het nie. Dit is nie die feit dat julle oor iets verskil nie, maar hoe julle dit hanteer, wat bepaal hoe vreedsaam of hoe vyandig die atmosfeer in die huis sal wees. Kyk na ’n paar stappe wat julle kan help om op te hou stry.

      1. HOU OP OM TERUG TE KAP.

      Twee is nodig om te stry, maar wanneer een begin luister en ophou praat, kan ’n kwaai stryery begin bedaar. Daarom moet jy die versoeking weerstaan om terug te kap wanneer iets gesê word wat jou kwaad maak. Behou jou selfrespek en waardigheid deur selfbeheersing te hê. Onthou, vrede in die gesin is belangriker as om argumente te wen.

      “Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood, en waar daar geen lasteraar is nie, bedaar die twis.”​—Spreuke 26:20.

      2. ERKEN HOE JOU GESINSLEDE VOEL.

      Om aandagtig en met empatie te luister sonder om vooraf te oordeel of die ander persoon in die rede te val, kan baie help om woede te blus en vrede te herstel. Moenie aanneem dat die ander persoon slegte beweegredes het nie; erken eerder sy gevoelens. Moenie dink dat die persoon jou opsetlik wou seermaak as dit miskien net onvolmaaktheid is nie. Wanneer iemand iets sê wat jou seermaak, is dit dalk omdat hulle nie gedink het nie of omdat hulle hart vol pyn is en nie omdat hulle gemeen of wraaksugtig is nie.

      “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”​—Kolossense 3:12.

      3. GEE JOUSELF TYD OM AF TE KOEL.

      As jy voel dat jy jou humeur gaan verloor, sal dit dalk verstandig wees om jou vriendelik te verskoon en weg te stap sodat jy ’n rukkie kan neem om af te koel. Miskien kan jy na ’n ander vertrek gaan of gaan stap totdat jy kalmer voel. Dit beteken nie dat jy nie jou samewerking wil gee of dat jy afsydig is nie​—dit is ook nie stilstuipe, wanneer iemand weier om te kommunikeer, nie. Dit is eerder ’n goeie tyd om God te vra vir geduld, insig en begrip.

      “Gaan dus weg voordat die rusie uitgebreek het.”​—Spreuke 17:14.

      4. DINK MOOI NA OOR WAT JY MOET SÊ EN HOE JY DIT MOET SÊ.

      Dit sal dinge nie beter maak as jy jou kop breek om ’n snedige, snydende antwoord te vind nie. Probeer eerder om iets te sê wat jou geliefde sal troos as hy seergemaak voel. En eerder as om vir die persoon te sê hoe jy dink hy moet voel, kan jy hom nederig vra hoe hy voel en dankie sê vir enige hulp of insig wat dit jou gee.

      “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing.”​—Spreuke 12:18.

      5. MOENIE HARDER BEGIN PRAAT NIE EN HOU JOU STEMTOON VRIENDELIK.

      Wanneer een gesinslid ongeduldig is, kan dit maklik ’n ander gesinslid kwaad maak. Moenie sarkasties of beledigend wees of harder begin praat nie, al voel jy baie te na gekom. Vermy beskuldigings wat die persoon kan seermaak, soos “Jy gee nie vir my om nie” of “Jy luister nooit nie.” Sê eerder kalm vir jou maat hoe sy of haar gedrag jou geraak het (“Dit maak my baie seer wanneer jy . . . ”). Enige vorm van geweld, soos om iemand te stoot, te klap of te skop, kan nooit verskoon word nie. Dit is ook die geval met skelname, verkleinerende opmerkings of dreigemente.

      “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid.”​—Efesiërs 4:31.

      6. WEES GOU OM VERSKONING TE VRA EN VERDUIDELIK WAT JY SAL DOEN OM DIE SITUASIE REG TE STEL.

      Moenie toelaat dat negatiewe emosies maak dat jy jou hoofdoel​—om vrede te maak—​uit die oog verloor nie. Onthou, wanneer twee mense stry, is daar nie wenners nie. Maar as julle vrede maak, wen julle albei. Neem dus verantwoordelikheid vir enigiets wat jy dalk gedoen het wat tot die stryery bygedra het. Selfs al is jy seker dat jy niks verkeerds gedoen het nie, kan jy nog steeds om verskoning vra omdat jy geïrriteerd geraak het, vir die manier waarop jy gereageer het of omdat jy onwetend tot die probleem bygedra het. Vreedsame verhoudings is belangriker as trots en om te wen. En as iemand jou om verskoning vra, moet jy gou wees om te vergewe.

      “Gaan verneder jou en bestorm jou medemens met dringende versoeke.”​—Spreuke 6:3.

      Wat kan jy ná die argument doen om vrede in die gesin te bevorder? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

  • Hoe om tot vrede in die gesin by te dra
    Ontwaak! – 2015 | Desember
    • VOORBLADONDERWERP | VREDE IN DIE GESIN

      Hoe om tot vrede in die gesin by te dra

      DINK jy dat die Bybel julle kan help om vrede in die gesin te hê? Vergelyk asseblief wat die Bybel sê met wat die volgende persone nuttig gevind het. Kyk na watter punte jou kan help om konflik te vermy, die vrede te bewaar en hegte familiebande te smee.

      BYBELBEGINSELS WAT TOT VREDE BYDRA

      ONTWIKKEL ’N POSITIEWE BESKOUING VAN MEKAAR.

      ’n Gesin speel saam op die strand

      “[Julle moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag, terwyl julle nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.”​—Filippense 2:3, 4.

      “Ons het gevind dat dit goed is om jou maat as belangriker te beskou as jouself en ander.”​—C.P., 19 jaar getroud.

      LUISTER AANDAGTIG EN SONDER OM TE OORDEEL.

      “Hou aan om hulle daaraan te herinner . . . [om] nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê.”​—Titus 3:1, 2.

      “’n Mens kan baie spanning vermy as jy jou maat nie op ’n stryerige manier antwoord nie. Dis belangrik om te luister sonder om te oordeel en om sy of haar beskouing te respekteer, al stem jy nie daarmee saam nie.”​—P. P., 20 jaar getroud.

      KWEEK GEDULD EN SAGMOEDIGHEID AAN.

      “Deur geduld word ’n aanvoerder oorgehaal, en ’n sagte tong kan die gebeente breek.”​—Spreuke 25:15.

      “Daar sal wel konflikte wees, maar hoe dit goed afloop, hang van ons gesindheid af. Dis baie belangrik om geduldig te wees. Dit help ons gewoonlik om ons probleme uit te stryk.”​—G. A., 27 jaar getroud.

      MOENIE JOU MAAT BELEDIG OF FISIES MISHANDEL NIE.

      “Verwyder dan nou al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond.”​—Kolossense 3:8.

      “Ek bewonder my man se selfbeheersing. Hy bly altyd kalm, en hy skree nooit op my en beledig my nooit nie.”​—B. D., 20 jaar getroud.

      VERGEWE VRYELIK EN MAAK GOU VREDE.

      “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.”​—Kolossense 3:13.

      “Wanneer ’n mens onder druk is, is dit nie altyd maklik om kalm te bly nie en kan jy maklik dinge sê of doen wat jou maat kan seermaak. Op sulke tye is dit goed om te vergewe. Dis nie moontlik om ’n gelukkige huwelik te hê as julle mekaar nie vergewe nie.”​—A. B., 34 jaar getroud.

      WEES ONSELFSUGTIG EN VRYGEWIG.

      “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. . . . Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet.”​—Lukas 6:38.

      “My man weet waarvan ek hou, en hy verras my dikwels. Dit laat my weer dink: ‘Hoe kan ek hom gelukkig maak?’ Dit het al tot baie gelukkige tye in ons lewe bygedra.”—H. K., 44 jaar getroud.

      HOU AAN OM VREDE TE BEVORDER

      Die familielede met wie Ontwaak! ’n onderhoud gevoer het, is net ’n paar van die miljoene regoor die wêreld wat deur die Bybel gehelp is om eienskappe aan te kweek wat tot vrede in die huis bydra.a Selfs wanneer dit lyk asof party in hulle gesin nie hulle samewerking gee nie, het hulle gevind dat dit nog steeds die moeite werd is om ’n vredemaker te wees, want die Bybel belowe: “Dié wat vrede aanraai, het blydskap.”—Spreuke 12:20.

      a Vir meer inligting oor hoe om ’n gelukkige gesinslewe te hê, sien hoofstuk 14 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies en beskikbaar by www.jw.org/af. Kyk ook onder BYBELLERINGE > HULP VIR DIE GESIN.

Afrikaanse publikasies (1975-2026)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel