VOORBLADONDERWERP | VREDE IN DIE GESIN
Stryery—Hoe gebeur dit?
“ONS stry gewoonlik oor geld”, erken Sarah,a in Ghana, wat 17 jaar lank met Jacob getroud is. Sy verduidelik: “Ek is kwaad omdat ek baie vir die gesin doen, maar Jacob praat nooit met my oor ons geldsake nie. Ons praat weke lank nie met mekaar nie.”
“Ja”, sê haar man, Jacob, “daar is tye wanneer ons lelik met mekaar praat. Dit word gewoonlik veroorsaak deur misverstande en slegte kommunikasie. Soms stry ons ook omdat ons in sekere situasies oorreageer.”
Die pasgetroude Nathan, in Indië, beskryf wat eendag gebeur het toe sy skoonpa op sy skoonma geskree het. “Sy het aanstoot geneem en uit die huis uit gestap”, sê hy. “Toe ek, sy skoonseun, hom gevra het waarom hy so skree, het hy gevoel dat ek hom beledig. Toe ek weer sien, skree hy op ons almal.”
Dalk het jy ook al opgelet hoe ’n stryery kan ontstaan wanneer die verkeerde ding op die verkeerde tyd gesê word. Wat miskien as ’n kalm gesprek begin, kan vinnig in ’n argument ontaard. Niemand kan altyd die regte ding sê nie, en daarom kan dit maklik wees om ander se woorde en beweegredes verkeerd te verstaan. Tog is dit moontlik om ’n mate van vrede en harmonie te hê.
Wat kan jy doen as ’n hewige stryery ontstaan? Watter stappe kan jy doen om vrede en kalmte in die gesin te herstel? Hoe kan gesinne vrede in die huis bewaar? Lees asseblief verder.
a Van die name in hierdie artikels is verander.