Die Laaste dae—Wat dan?
SOMMIGE mense sidder wanneer hulle aan “die laaste dae” dink (2 Timoteus 3:1). Al wat in hulle gedagtes opkom, is kritieke tye. Waarom het soveel dan deur die eeue heen daarna uitgesien? Omdat die laaste dae ook ’n aanduiding is dat beter tye voorlê.
Sir Isaac Newton was byvoorbeeld daarvan oortuig dat die tyd van die einde ’n nuwe era van wêreldwye vrede en voorspoed onder die Duisendjarige Heerskappy van God se Koninkryk sou inlui. Hy het gesê dat die profesie in Miga 4:3, asook dié in Jesaja 2:4, in daardie tyd vervul sou word: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.”
Toe Jesus van die tyd van die einde gepraat het, het hy sy volgelinge aangespoor om ’n positiewe beskouing te hê. Nadat hy van die ontberinge, angstigheid en vrees gepraat het wat daar tydens die groot verdrukking sou wees, het hy gesê: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want julle verlossing kom nader” (Lukas 21:28). Verlossing waarvan?
Wat God belowe
Oorlog, burgerlike onrus, misdaad, geweld en honger is ’n paar van die dinge wat die mensdom vandag teister en miljoene in vrees en angs laat lewe. Het enige van hierdie dinge jou al geraak? Kyk dan wat God belowe:
“Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.
“My volk sal in ’n vreedsame woonplek en in wonings van volle vertroue en in ongestoorde rusplekke woon.”—Jesaja 32:18.
“[Jehovah] laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.”—Psalm 46:9.
“Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”—Miga 4:4.
“Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.
“Wat die een betref wat na my luister, hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie.”—Spreuke 1:33.
Al woon ons op ’n plek waar lewensomstandighede relatief aangenaam is, is siekte en die dood vir ons almal ’n onvermydelike werklikheid. Ook dit sal in God se nuwe wêreld iets van die verlede wees. Ons het dus die vooruitsig om ons geliefdes wat gesterf het, weer te sien. Let op die volgende:
“Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.
“[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
“As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word.”—1 Korintiërs 15:26.
“Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.
Die apostel Petrus het dit alles goed opgesom toe hy geskryf het: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Sodat regverdigheid regoor die aarde kan heers, sal enigeen wat hierdie toestand versteur, verwyder moet word. Dieselfde geld vir die nasies van vandag, wat soveel verdeeldheid en bloedvergieting veroorsaak deur op selfsugtige wyse hulle eie belange na te jaag. Alle aardse heerskappye sal vervang word deur die heerskappy van God se Koninkryk onder Christus. Aangaande daardie heerskappy word ons verseker: “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk om dit stewig te vestig en om dit deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid in stand te hou, van nou af en tot onbepaalde tyd. Die ywer van Jehovah van die leërs sal dit doen.”—Jesaja 9:7.
Jy kan hierdie vooruitsig hê, want die Bybel verseker ons: “[God] se wil . . . is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Moenie uitstel nie. Neem die kennis in wat die ewige lewe beteken (Johannes 17:3). Begin deur met die uitgewers van hierdie tydskrif in aanraking te kom en ’n gratis tuisbybelstudie aan te vra.
[Prente op bladsy 8, 9]
Jy kan die vooruitsig hê om vir ewig in vrede en volmaakte gesondheid in die komende Paradys hier op aarde te lewe