’n Les in operasang
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
DIE sanger staan regop met sy hande langs sy sye, sy kop omhoog, sy bors uitgestoot, sy voorkop, lippe en mond ontspanne. Ná ’n kort inleiding deur die orkes val die tenoor weg met ’n aria waarvoor die gehoor in afwagting gesit en wag het. Die note vloei skynbaar moeiteloos, terwyl dit klink asof die stem van buite die sanger se liggaam kom. Ná die aria word die sanger met dawerende applous begroet.
Opera is ’n toneelstuk wat deur singende akteurs en met orkesbegeleiding opgevoer word. Geniet jy opera? Het jy al ooit die geleentheid gehad om ’n opvoering in ’n operahuis by te woon? Wat dink jy is die geheim van die operasanger se pragtige stem?
Die stem—’n musiekinstrument
Die stem is ’n wonderlike gawe van God en is al tereg ’n musiekinstrument genoem. Hoewel min mense musiek soos ’n operasanger kan voortbring, is sang vir baie mense ’n deel van die lewe wat byna so natuurlik is soos om te eet of te slaap. Hetsy jy goed sing of nie, jy sal ongetwyfeld daarin belangstel om van naderby te kyk na hoe hierdie “instrument” werk.
Die larinks, wat in die middel van jou keel is, is eintlik die orgaan wat klank voortbring. Dit bestaan uit ’n kraakbeenraamwerk met ’n opening in die middel waarin daar twee geplooide spiertjies is—jou stembande. Hoe word klank voortgebring? Tydens normale asemhaling is die stembande ontspanne en vorm hulle ’n driehoekige opening in die lugpyp, wat as die glottis bekend staan. Wanneer jy sing, word meer lug deur die larinks gedwing, die glottis vernou en die stembande vibreer en bring klank voort. Hoe stywer die stembande gespan word, hoe meer vibreer dit en hoe hoër is die klanke wat voortgebring word. Maar wanneer minder lug deur die larinks vloei en die stembande ontspan, vergroot die opening van die glottis, wat die vibrasies laat verminder en ’n dieper stemtoon tot gevolg het.
Tegniek en liggaamsbou
’n Jong man met die naam Enrico Caruso het ’n wonderlike stem gehad; maar dit was nie baie sterk nie. Oefening het dit versterk. ’n Pragtige stem is ’n gawe, maar wanneer dit by operasang kom, is tegniek ook belangrik. Die sanger moet leer hoe om asem te haal sodat hy genoeg lug inasem. Dan moet hy leer hoe om dit te beheer. Sodoende kon die beroemde 18de-eeuse sanger Carlo Broschi, wat as Farinelli bekend gestaan het, blykbaar 150 note in een asem sing.
Operasangers moet eweneens leer om hulle stem te versterk deur die liggaam as ’n klankkas te gebruik. Volgens sekere kenners word hierdie funksie deur die borsbene verrig wanneer laer note gesing word, terwyl die kakebeen en die holtes in die gesigsbene dit doen wanneer hoër note gesing word.
Baie dink dat sang net ’n funksie van die keel is. Maar daar is al tereg gesê dat die hele liggaam sing, in die sin dat dit al die persoon se energie verg. Volmaakte balans moet gehandhaaf word om die spierspanning in al die liggaamsdele te koördineer. Operasang verg dus ’n aansienlike hoeveelheid fisiese inspanning en energie, en dit verklaar moontlik waarom sommige operasangers stewig gebou is. Maria Callas was een van die beroemdste 20ste-eeuse operasangeresse, maar baie meen dat haar vinnige gewigsverlies as gevolg van ’n drastiese dieet daartoe bygedra het dat haar stem verswak het.
Die ontwikkeling van operasang
Deur die eeue heen het operasang in terme van styl en tegniek ontwikkel. Kom ons kyk na net twee voorbeelde. Toe operas nie meer in kapelle of ander klein vertrekke opgevoer is nie, maar in operahuise, is sagte, delikate en moeitelose sang vervang met sang wat deur die liggaam se natuurlike resonators versterk is. Hierdie verandering was nog opvallender, aangesien kleiner orkeste soos dié wat deur Mozart gebruik is, plek gemaak het vir baie groter orkeste, soos dié wat deur Verdi en Wagner gebruik is. In die 17de en 18de eeu sowel as deel van die 19de eeu was die musiek minder belangrik geag as die virtuositeit, of tegniese vaardigheid, van die sanger. Die tweede helfte van die 19de eeu en die eerste deel van die 20ste eeu is gekenmerk deur ’n styl wat baie hiervan verskil het. Gedurende hierdie tydperk was die stem, hoewel nog steeds ’n belangrike deel van die opera, net een van die noodsaaklike elemente daarvan.
Die moontlikhede wat opera gebied het, het musiek op groot skaal bevorder. Komponiste soos Paisiello, Cimarosa, Gluck, Mozart, Donizetti, Rossini, Bellini, Wagner, Verdi, Puccini, Bizet, Meyerbeer en Mascagni, om van die bekendstes te noem, het onvergeetlike komposisies geskryf wat diep emosie kan wek.
Uiterstes in die naam van musiek
Daar was ook al donker tye in die geskiedenis van operasang. Dink aan die kastrate, wat Italiaanse opera meer as ’n eeu lank oorheers het.a Jong seuns is voor puberteit gekastreer sodat hulle hulle hoë stemme met buitengewone omvang en krag behou het. “Dit was die Kerk”, sê Guido Tartoni, wat hierdie gebruik bevorder het, omdat “hulle verbied het dat vroue . . . in kapelle sing”.
Bekende operasangers het sterstatus verkry, en sommige van hulle aanhangers aanbid hulle. Luciano Pavarotti se begrafnis was ’n voorbeeld van hierdie heldeverering. Maria Callas is La Divina (die Goddelike) genoem, en Joan Sutherland is La Stupenda (die Wonderlike) genoem. Maar die gewildheid van operasang is te danke aan die vermoë wat dit het om gehore gaande te maak.
Dalk sal jy in die toekoms ’n sopraan die een of ander beroemde aria hoor sing. Indien wel, dink ’n bietjie aan die opleiding en dissipline wat nodig was om daardie pragtige stem moontlik te maak. Jy sal dalk dieselfde beskouing van operasang kry as die skrywer wat dit ’n manier genoem het “om woorde en musiek te laat saamsmelt en om aan gedigte . . . die vleuels van ’n melodie te gee”.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1996, bladsye 11-14, vir meer inligting oor die kastrate.
[Venster/Prent op bladsy 12]
’N PAAR STEMSOORTE
Koloratuursopraan: ’n Vrouestem wat vinnige, hoë note maklik kan sing. Die sangeres speel dikwels die rol van ’n lewenslustige en spitsvondige karakter.
Liriese sopraan: ’n Ryker vrouestem. Die sangeres vertolk die rol van ’n sentimentele of ’n romantiese karakter.
Dramatiese sopraan: ’n Selfs dieper vrouestem. Die sangeres speel oor die algemeen die rol van ’n dramatiese karakter.
Mezzosopraan: ’n Vrouestem wat ryker en dieper is as die dramatiese sopraan. Die sangeres speel dikwels die rol van ’n bejaarde vrou of die sopraan se teenstander.
Alt: ’n Seldsame vrouestem. Die sangeres vertolk dieselfde rolle as die mezzosopraan.
Tenoor: ’n Manstem met soortgelyke eienskappe as die sopraan—lig, liries, dramaties. Die sanger speel dikwels die rol van ’n minnaar of ’n held.
Bariton: Hierdie stem is tussen die tenoor en die bas. Die sanger speel die rol van ’n broer, ’n vader of ’n mededinger.
Bas: Hierdie stem, wat die diepste manstem is, word in drie kategorieë verdeel: basso buffo, basso cantante en basso profundo. Die eerste is geskik vir lewenslustige, spitsvondige karakters; die tweede vir sentimentele rolle en die derde vir karakters wat intense gevoelens moet uitdruk.
[Prent op bladsy 10]
Operaverhoog
[Prent op bladsy 10]
Operahuis
[Foto-erkennings op bladsy 10]
Verhoog: Philip Groshong for The Cincinnati Opera; huis: Courtesy of Tourism Office of Budapest