Bied die uitdaging die hoof
DEUR die jare heen is daar al ’n hele paar behandelingsmetodes vir ATSH voorgestel. Sommige hiervan het op dieet gekonsentreer. Sekere studies meen egter dat voedselbymiddels nie gewoonlik hiperaktiwiteit veroorsaak nie en dat oplossings wat met voeding verband hou dikwels geen uitwerking het nie. Ander metodes om ATSH te behandel, is met geneesmiddels, gedragswysiging en kognitiewe opleiding.a
Geneesmiddels. Aangesien ATSH blykbaar foutiewe breinfunksies insluit, het geneesmiddels wat die regte chemiese balans herstel baie mense al gehelp.b Maar die leerproses kan nie deur geneesmiddels vervang word nie. Dit help net die kind om sy aandag op een ding toe te spits, waarop hy nuwe vaardighede kan voortbou.
Baie volwassenes met ATSH is eweneens deur geneesmiddels gehelp. Dit is egter raadsaam om versigtig te wees—in die geval van kinders en volwassenes—aangesien sommige stimulante wat gebruik word om ATSH te behandel verslawend kan wees.
Gedragswysiging. ’n Kind se ATSH stel ouers nie vry van hulle verpligting om dissipline uit te oefen nie. Hoewel die kind dalk spesiale behoeftes in hierdie opsig het, vermaan die Bybel ouers: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). In haar boek Your Hyperactive Child sê Barbara Ingersoll: “Die ouer wat eenvoudig die handdoek ingooi en sy hiperaktiewe kind ‘vrye teuels gee’, doen die kind geen guns nie. Net soos enige ander kind het die hiperaktiewe kind konsekwente dissipline nodig, gekoppel met respek vir die kind as persoon. Dit beteken duidelike perke en gepaste belonings en straf.”
Dit is gevolglik belangrik dat ouers vaste riglyne voorsien. Daarbenewens moet daar ’n streng roetine vir daaglikse bedrywighede wees. Ouers kan die kind ’n mate van vryheid gee om self hierdie rooster op te stel, met onder meer ’n tyd vir huiswerk, studie, bad, ensovoorts. Hou dan konsekwent daarby. Maak seker dat daar by die daaglikse roetine gehou word. Phi Delta Kappan sê: “Geneeskundiges, psigoloë, skoolbeamptes en onderwysers het ’n verpligting teenoor die kind en die kind se ouers om te verduidelik dat die diagnosering van ATS of ATSH nie beteken dat alles geduld moet word nie, maar verskaf eerder ’n verduideliking wat tot die regte hulp vir die betrokke kind sal lei.”
Kognitiewe opleiding. Dit sluit in dat die kind gehelp word om sy beskouing oor homself en sy steurnis te verander. “Mense met aandagtekortsteurnis voel ‘lelik, dom en sleg’, selfs al is hulle aantreklik, intelligent en goedhartig”, sê dr. Ronald Goldberg. Die kind met ATS of ATSH het gevolglik ’n gepaste beskouing van sy waarde nodig, en hy moet weet dat hy sy aandagprobleme kan beheer. Dit is veral belangrik gedurende adolessensie. Teen die tyd dat ’n persoon met ATSH sy tienerjare bereik, het hy dalk al baie kritiek van sy portuurs, onderwysers, broers en susters en dalk selfs van sy ouers ontvang. Dit is belangrik dat hy nou realistiese doelwitte stel en homself eerder billik beoordeel as wat hy te streng op homself is.
Die voorafgaande behandelingsmetodes kan ook deur volwassenes met ATSH gevolg word. “Wysigings hang natuurlik van ouderdom af”, skryf dr. Goldberg, “maar die grondslag van behandeling—geneesmiddels waar gepas, gedragswysiging en kognitiewe [opleiding]—bly deur die lewe heen nuttige metodes.”
Voorsien ondersteuning
John, die vader van ’n adolessent met ATSH, sê aan ouers in soortgelyke omstandighede: “Leer alles wat jy kan oor hierdie probleem. Neem ingeligte besluite. Bowenal moet jy jou kind liefhê en hom opbou. ’n Swak selfbeeld is dodelik.”
Albei ouers moet saamwerk sodat die kind met ATSH voldoende ondersteuning sal hê. Dr. Gordon Serfontein skryf dat ’n kind met ATSH moet “weet dat hy by die huis geliefd is en dat die liefde afkomstig is van die liefde wat daar tussen die ouers bestaan”. (Ons kursiveer.) Sulke liefde word ongelukkig nie altyd betoon nie. Dr. Serfontein sê voorts: “Daar is oor en oor bewys dat huweliksonenigheid en -verbrokkeling bykans ’n derde meer voorkom in die gesin waar daar [’n ATSH-kind] is as in die normale bevolking.” Om sulke onenigheid te voorkom, moet die vader ’n betekenisvolle rol in die grootmaak van die ATSH-kind speel. Die verantwoordelikheid moet nie uitsluitlik op die moeder geplaas word nie.—Efesiërs 6:4; 1 Petrus 3:7.
Intieme vriende kan ontsaglike ondersteuning bied, al is hulle nie deel van die gesin nie. Hoe? “Wees liefdevol”, sê John, wat vroeër aangehaal is. “Kyk dieper as wat jou oë kan sien. Leer ken die kind. Praat ook met die ouers. Hoe gaan dit met hulle? Waarmee worstel hulle van dag tot dag?”—Spreuke 17:17.
Lede van die Christengemeente kan vir die kind met ATSH asook die ouers van groot hulp wees. Hoe? Deur redelike verwagtinge te koester (Filippense 4:5). Soms kan ’n kind met ATSH ontwrigtend wees. In plaas van ongevoelig te vra: “Waarom kan julle nie julle kind beheer nie?” of “Waarom dissiplineer julle hom nie net nie?” sal ’n oplettende medegelowige besef dat die ouers moontlik reeds oorweldig word deur die daaglikse eise wat met die grootmaak van ’n ATSH-kind gepaardgaan. Ouers moet natuurlik doen wat hulle kan om die kind se ontwrigtende gedrag te beperk. Diegene wat in die geloof verwant is, moet nietemin eerder daarna strewe om ‘meegevoel te betoon’ en ‘’n seën te skenk’ as om uit irritasie teen hulle uit te vaar (1 Petrus 3:8, 9). Trouens, God ‘vertroos die terneergedruktes’ dikwels deur middel van medelydende medegelowiges.—2 Korintiërs 7:5-7.
Bybelstudente besef dat alle menslike onvolmaakthede, onder meer leergestremdhede en ATSH, van die eerste mens, Adam, oorgeërf is (Romeine 5:12). Hulle weet ook dat die Skepper, Jehovah, sy belofte sal vervul om ’n regverdige nuwe wêreld tot stand te bring waarin daar nie meer onrusbarende siektes sal bestaan nie (Jesaja 33:24; Openbaring 21:1-4). Hierdie versekering is ’n anker van ondersteuning vir diegene wat deur steurnisse soos ATSH geraak word. “Ouderdom, opleiding en ondervinding help ons seun om sy steurnis te verstaan en te beheer”, sê John. “Maar in hierdie stelsel van dinge sal hy nooit heeltemal genees word nie. Die feit dat Jehovah ons seun se steurnis in die nuwe wêreld gaan wegneem en dit vir hom moontlik sal maak om die lewe ten volle te geniet, is vir ons ’n daaglikse troos.”
[Voetnote]
a Ontwaak! staan nie enige spesifieke behandeling voor nie. Christene moet versigtig wees dat enige behandeling wat hulle volg nie in stryd met Bybelbeginsels is nie.
b Party mense ondervind ongewenste newe-effekte van geneesmiddels, onder andere angs en sekere ander emosionele probleme. Daarbenewens kan stimulante sametrekkings vererger in pasiënte met senutrekkingsteurnisse soos Tourette-sindroom. Geneesmiddels moet gevolglik onder ’n dokter se toesig beheer word.
[Venster op bladsy 8]
’n Woordjie van waarskuwing aan ouers
FEITLIK alle kinders is soms onoplettend, impulsief en ooraktief. Die aanwesigheid van hierdie karaktertrekke dui nie altyd op ATSH nie. In sy boek Before It’s Too Late, sê dr. Stanton E. Samenow: “Ek het al tallose gevalle gesien waar ’n kind wat iets nie wil doen nie, verskoon word omdat hy glo aan ’n gebrek of toestand ly wat nie sy skuld is nie.”
Dr. Richard Bromfield meld ook dat dit nodig is om versigtig te wees. “Sommige mense wat met ATSH gediagnoseer word, het ongetwyfeld ’n neurologiese versteuring en het geneesmiddels nodig”, skryf hy. “Maar die steurnis kry ook die skuld vir allerhande vorme van mishandeling, skynheiligheid, verwaarlosing en ander maatskaplike euwels wat in die meeste gevalle niks met ATSH te doen het nie. Trouens, die gebrek aan waardes in die moderne lewe—wydverspreide geweld, dwelmmisbruik en, minder afgryslik, huise met te min dissipline en te veel stimulasie—is meer geneig om ATSH-tipe rusteloosheid te bevorder as enige neurologiese afwyking.”
Dr. Ronald Goldberg waarsku dus tereg daarteen om ATSH vir alles te blameer. Sy raad is om “seker te maak dat geen belangrike diagnostiese steen onaangeroer gelaat word nie”. Simptome wat met ATSH ooreenkom, kan op enigeen van talle fisiese of emosionele probleme dui. Die hulp van ’n ervare dokter is derhalwe onontbeerlik om ’n juiste diagnose te maak.
Selfs as ’n diagnose gemaak is, sal dit verstandig van ouers wees om die voor- en nadele van geneesmiddels te oorweeg. Ritalin kan ongewenste simptome wegneem, maar dit kan ook onaangename newe-effekte hê, soos slapeloosheid, toenemende angstigheid en senuweeagtigheid. Daarom waarsku dr. Richard Bromfield teen die toediening van geneesmiddels net om ’n kind se simptome weg te neem. “Ritalin word onnodig vir te veel kinders, en al hoe meer volwassenes, gegee”, sê hy. “Uit ondervinding meen ek dat die gebruik van Ritalin grootliks van die ouers en onderwysers se vermoë afhang om kinders se gedrag te verdra. Ek weet van kinders wat dit gekry het om hulle eerder rustiger te maak as om in hulle behoeftes te voorsien.”
Ouers moet dus nie te vinnig besluit dat hulle kinders ATSH of ’n leergestremdheid het nie. Hulle moet eerder met die hulp van ’n bekwame professionele persoon die bewyse versigtig oorweeg. As daar vasgestel word dat ’n kind ’n leersteurnis of ATSH het, moet ouers die tyd neem om goed vertroud te raak met die probleem sodat hulle in die belang van hulle kinders kan optree.
[Prent op bladsy 9]
Die kind met ATSH het liefdevolle maar konsekwente dissipline nodig
[Prent op bladsy 10]
Lof van ouers help baie