Die koning van spoed
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
WIE het hierdie titel? Die jagluiperd, die wêreld se vinnigste dier oor kort afstande. Elke jagluiperd het sy eie unieke patroon van kolle—daarom word hy ook cheetah genoem, wat van ’n Sanskritwoord afkomstig is wat “gespikkelde liggaam” beteken.
Party mense sê van hierdie kat dat jy met die eerste oogopslag net bene sien. Ander sê dat sy rug hol is en sy kop te klein is. Maar juis hierdie eienskappe is tot die jagluiperd se voordeel. Die lang agterbene verleen veerkrag wat die jagluiperd in staat stel om statig te stap en met grasie te hardloop. En hierdie dier kán hardloop! Vanuit ’n stilstaande posisie kan die jagluiperd binne ’n paar sekondes ’n snelheid van ongeveer 110 kilometer per uur behaal.
Die jagluiperd het die regte liggaamsbou vir optimum spoed. Sy geraamte weeg min en sluit ’n besondere soepel ruggraat in wat soos ’n veer kan buig en terugspring. Die jagluiperd is ook toegerus met ’n diep ribbekas, groot longe, ’n sterk hart, ’n stert wat hom help balanseer en groot neusgange wat vinnige asemhaling moontlik maak—dit alles dra tot hierdie dier se ongeëwenaarde vlugvoetigheid by. Die jagluiperd se vlaag van energie is egter kortstondig. Ná ’n skrale 400 meter teen topsnelheid moet hy stop om te rus.
Jagluiperds hou oor die algemeen nie ’n bedreiging vir mense in nie. Ann van Dyk, wat jagluiperds al jare lank teel, skryf in haar boek The Cheetahs of De Wildt: “Nadat hulle gevoer is, het ek dit geniet om daardie laaste paar oomblikke voor donker saam met my gesin van katte deur te bring. ’n Gevoel van vertroue het tussen ons ontwikkel, en hoewel hulle nie mak was nie, het ek geweet dat hulle my nie sou seermaak nie.”
Maar mense was nie altyd so vriendelik teenoor die jagluiperd nie. Jagters in Afrika het byvoorbeeld sy buitengewone pels begeer, en kolonisasie het die ruimte beperk waarin die jagluiperd kan hardloop. Dit het die jagluiperdbevolking aansienlik laat afneem. Vroeër was jagluiperds volop in Indië, maar in 1952 het hulle daar uitgesterf. Hulle kom ook nie meer voor in party lande wat aan die ooste van die Middellandse See grens nie.
Hoe bly kan ons tog wees dat diere in God se nuwe wêreld nie meer deur hebsugtige mense bedreig sal word nie! (Jesaja 11:6-9). Miskien sal jy dan die voorreg hê om hierdie koning van spoed, die jagluiperd, wat so wonderlik geskape is te sien.