Weerwraak van die mikrobes
DIE 20ste eeu het wonderlike vooruitgang in die mediese wetenskap gesien. Duisende jare lank was die mens feitlik hulpeloos teen die plaag van dodelike mikrobes. Maar in die middel-dertigerjare het dinge begin verander toe wetenskaplikes sulfanilamied ontdek het, die eerste middel wat bakterieë kon oorwin sonder om die aangetaste persoon ernstig te skaad.a
In die daaropvolgende jare het wetenskaplikes kragtige nuwe geneesmiddels ontwikkel om aansteeklike siektes te bestry—chlorokien om malaria aan te val en antibiotika om longontsteking, skarlakenkoors en tuberkulose te oorwin. Teen 1965 was daar al meer as 25 000 verskillende antibiotiese produkte beskikbaar. Baie wetenskaplikes het tot die slotsom gekom dat bakteriese siektes nie meer ’n bron van groot besorgdheid of selfs van navorsingsbelang was nie. Ja, waarom siektes ondersoek wat weldra nie meer sou bestaan nie?
In die wêreld se ontwikkelde lande het nuwe entstowwe die tol wat masels, pampoentjies en Duitse masels geëis het drasties verminder. ’n Uitgebreide inentingsveldtog teen polio, wat in 1955 van stapel gestuur is, was so suksesvol dat gevalle van dié siekte in Wes-Europa en Noord-Amerika in daardie jaar van 76 000 tot minder as 1000 in 1967 gedaal het. Pokke, ’n dodelike siekte wat baie slagoffers geëis het, is wêreldwyd uitgeroei.
In hierdie eeu is die elektronmikroskoop ook uitgevind, ’n instrument wat so kragtig is dat dit wetenskaplikes in staat stel om virusse te sien wat ’n miljoen keer kleiner as ’n man se vingernael is. Sulke mikroskope, tesame met ander tegnologiese deurbrake, het dit moontlik gemaak om aansteeklike siektes veel beter as voorheen te verstaan en te bestry.
Aansteeklike siektes skynbaar oorwin
Ná hierdie ontdekkings was die mediese gemeenskap vol vertroue. Die mikrobes van aansteeklike siektes het gewyk voor moderne geneesmiddels. Die oorwinning van die wetenskap oor mikrobes sou seer seker vinnig, beslissend en volkome wees! As daar nie reeds ’n geneesmiddel vir ’n bepaalde siekte was nie, sou dit weldra beskikbaar wees.
Reeds in 1948 het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, George C. Marshall, daarop geroem dat die oorwinning oor alle aansteeklike siektes op hande is. Drie jaar later het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beweer dat Asiatiese malaria moontlik weldra ’n siekte sou wees wat “nie meer van groot belang” is nie. Teen die middel-sestigerjare was die mening dat die era van plae en peste verby is so algemeen dat die Amerikaanse geneesheer-generaal, William H. Stewart, aan gesondheidsbeamptes gesê het dat die tyd aangebreek het om die boek oor aansteeklike siektes toe te maak.
Ou siektes keer terug
Maar die boek oor aansteeklike siektes kon nog lank nie toegemaak word nie. Mikrobes het nie van die planeet af verdwyn net omdat die wetenskap geneesmiddels en entstowwe uitgevind het nie. In plaas van oorwonne te wees, het welbekende dodelike mikrobes met mening teruggekeer! Daarbenewens het ander dodelike mikrobes te voorskyn gekom—mikrobes waarvan dokters voorheen nie geweet het nie. Gevolglik saai beide ou en nuwe mikrobes verwoesting en bedreig, teister of dood hulle miljoene der miljoene mense wêreldwyd.
Dodelike siektes wat mense voorheen gemeen het onder beheer was, het weer kop uitgesteek, dodeliker as tevore en moeiliker om met geneesmiddels te behandel. ’n Voorbeeld hiervan is tuberkulose (TB). Die WGO het onlangs gesê: “TB-geneesmiddels word sedert 1944 op groot skaal in Japan, Noord-Amerika en Europa gebruik om TB-gevalle en -sterftes drasties te verminder. Maar pogings om TB in minder ontwikkelde lande te beheer, is nagelaat . . . , en dit het die siekte na ryker lande laat terugkeer in vorme wat gevaarliker is en teen talle geneesmiddels bestand is.” Tans sterf ongeveer driemiljoen mense elke jaar—meer as 7000 per dag—aan TB, wat gewoonlik deur lugverspreide bakterieë veroorsaak word wat in die longe gaan sit. Teen die jaar 2005 kan die dodetal tot viermiljoen per jaar styg.
Ander voormalige doders steek ook weer kop uit. Cholera is nou endemies in baie dele van Afrika, Asië en Latyns-Amerika; al hoe meer mense word daardeur geteister en doodgemaak. ’n Heeltemal nuwe vorm het in Asië ontstaan.
Dengue, wat deur die Aedes aegypti-muskiet versprei word, is ook vinnig aan die toeneem; dit bedreig nou 2,5 miljard mense in meer as 100 lande wêreldwyd. Sedert die vyftigerjare het ’n dodelike nuwe hemoragiese vorm van die siekte ontstaan en oral deur die trope versprei. Daar word geraam dat dit elke jaar ongeveer 20 000 mense doodmaak. Soos in die geval van die meeste virussiektes is daar geen entstof teen die siekte en geen geneesmiddel daarvoor nie.
Malaria, wat die wetenskap eens op ’n tyd gehoop het om uit te wis, dood nou elke jaar nagenoeg tweemiljoen mense. Dit word al hoe moeiliker om die malariaparasiete en die muskiete wat dit dra, dood te maak.
Verwoestende nuwe siektes
Die bekendste van die nuwe siektes wat onlangs ontstaan het en die mensdom teister, is moontlik die dodelike vigs. Hierdie ongeneeslike siekte word deur ’n virus veroorsaak wat ongeveer 12 jaar gelede nog onbekend was. Tog was daar teen die einde van 1994 regoor die wêreld tussen 13 en 15 miljoen mense wat met die virus besmet was.
Ander aansteeklike siektes wat voorheen onbekend was, sluit die hantavirus- pulmonêre sindroom in. Dit word deur veldmuise oorgedra en het in die suidwestelike Verenigde State uitgebreek en was dodelik in meer as die helfte van die aangemelde gevalle. Twee soorte hemoragiese koorse—albei nuut, albei dodelik—het in Suid-Amerika ontstaan. Ander verskriklike siektes het ook verskyn—virusse met vreemde, eksotiese name—Lassa, Sinkdal, Oropouche, Rocio, Q. Guanarito, VEE, aappokke, Chikungunya, Mokola, Duvenhage, LeDantec, die Kyasanurwoud-breinvirus, die Semlikiwoud-agens, Krim-Kongo, O’nyongnyong, Sindbis, Marburg, Ebola.
Waarom verskyn nuwe siektes?
Met al die kennis en hulpmiddels wat die moderne mediese wetenskap besit, ontstaan die vraag: Waarom is dit so moeilik om dodelike mikrobes te bekamp? Een rede is die groter beweeglikheid van vandag se samelewing. Hedendaagse vervoer kan ’n plaaslike epidemie baie vinnig wêreldwyd laat versprei. Stralervervoer maak dit maklik vir ’n dodelike siekte om, versteek in ’n besmette persoon, binne ure van een wêrelddeel na enige ander deel van die wêreld te versprei.
’n Tweede rede, wat mikrobes tot voordeel strek, is die ontsettende groei van die wêreldbevolking—veral in die stede. Stede bring natuurlik vullis voort. Vullis bevat plastiekhouers en motorbande vol vars reënwater. In die trope veroorsaak dit die aanwas van muskiete wat draers van dodelike siektes soos malaria, geelkoors en dengue is. En net soos ’n digte bos ’n brand kan aanstook, skep ’n hoë bevolkingsdigtheid die ideale toestande vir die vinnige verspreiding van tuberkulose, griep en ander lugverspreide siektes.
’n Derde rede vir die terugkeer van mikrobes hou verband met veranderinge in die mens se gedrag. Seksueel oordraagbare mikrobes het gefloreer en versprei as gevolg van die ongeëwenaarde voorkoms van geslagsomgang met talle maats, wat hierdie laaste deel van die 20ste eeu gekenmerk het. Die verspreiding van vigs is net een voorbeeld.b
’n Vierde rede waarom dodelike mikrobes so moeilik is om te bekamp, is omdat die mens die oerwoude en reënwoude binnegedring het. Skrywer Richard Preston sê in sy boek The Hot Zone: “Die verskyning van vigs, Ebola en talle ander reënwoud-agense is blykbaar ’n natuurlike nasleep van die vernietiging van die tropiese biosfeer. Die nuwe virusse kom van dele van die aarde wat ekologies beskadig is. Baie van hulle kom van die verrinneweerde some van tropiese reënwoude . . . Die tropiese reënwoude is die groot reservoirs van lewe op die planeet deurdat dit die meeste van die wêreld se plant- en dierspesies bevat. Die reënwoude is ook die grootste reservoirs van virusse, aangesien alle lewende dinge draers van virusse is.”
Mense het sodoende in nouer aanraking gekom met insekte en warmbloedige diere waarin virusse leef, vermenigvuldig en sterf sonder om enige skade aan te rig. Maar wanneer ’n virus van ’n dier tot ’n mens “spring”, kan die virus dodelik word.
Die beperkinge van die mediese wetenskap
Ander redes waarom aansteeklike siektes terugkeer, het te doen met die mediese wetenskap self. Baie bakterieë is nou bestand teen antibiotika wat hulle voorheen doodgemaak het. Dit is ironies dat antibiotika self hierdie situasie help skep het. As ’n antibiotikum byvoorbeeld net 99 persent van die skadelike bakterieë in ’n besmette persoon doodmaak, kan die oorblywende een persent wat teen die antibiotikum bestand was nou groei en vermeerder soos kakiebos in ’n pas geploegde land.
Pasiënte vererger die probleem as hulle nie ’n kursus antibiotika voltooi wat deur hulle dokter voorgeskryf is nie. Pasiënte staak moontlik die gebruik van pille sodra hulle beter begin voel. Hoewel die swakste mikrobes dalk dood is, bly die sterkstes lewe en vermeerder hulle stilweg. Binne ’n paar weke keer die siekte terug, maar hierdie keer is dit moeiliker of onmoontlik om dit met medisyne te genees. Wanneer hierdie soort mikrobes wat teen geneesmiddels bestand is ander mense binnedring, het dit ’n ernstige openbare gesondheidsprobleem tot gevolg.
Deskundiges by die WGO het onlangs gesê: “Bestandheid [teen antibiotika en ander antimikrobiese middels] is in baie lande epidemies, en bestandheid teen talle geneesmiddels maak dit vir dokters feitlik onmoontlik om ’n toenemende aantal siektes te behandel. In hospitale alleen kom daar elke dag wêreldwyd ’n geraamde eenmiljoen bakteriese infeksies voor, en die meeste daarvan is teen geneesmiddels bestand.”
Bloedoortappings, wat sedert die Tweede Wêreldoorlog al hoe meer gebruik is, het ook die verspreiding van aansteeklike siektes aangehelp. Ten spyte van die wetenskap se pogings om te verhoed dat dodelike mikrobes bloed besmet, het bloedoortappings aansienlik bygedra tot die verspreiding van hepatitis, sitomegalovirus, antibiotikum-bestande bakterieë, malaria, geelkoors, Chagas se siekte, vigs en baie ander verskriklike siektes.
Die stand van sake vandag
Hoewel die mediese wetenskap gedurende hierdie eeu ’n geweldige toename in kennis geniet het, is daar steeds talle raaisels. C. J. Peters bestudeer gevaarlike mikrobes by die Sentrums vir Siektebeheer, Amerika se vernaamste laboratorium vir openbare gesondheid. Hy het tydens ’n onderhoud in Mei 1995 oor Ebola gesê: “Ons weet nie waarom dit so gevaarlik vir die mens is nie, en ons weet nie wat dit doen [of] waar dit is wanneer dit nie hierdie epidemies veroorsaak nie. Ons kan dit nie vind nie. Daar is geen ander virusgroep . . . waarvan ons so ontsettend min weet nie.”
Selfs wanneer doeltreffende mediese kennis, geneesmiddels en entstowwe bestaan om ’n siekte te bestry, is geld nodig om dit beskikbaar te stel vir diegene wat dit nodig het. Miljoene leef in armoede. Die WGO se World Health Report 1995 sê: “Armoede is die vernaamste rede waarom babas nie ingeënt word nie, waarom skoon water en sanitasie nie voorsien word nie, waarom geneesmiddels en ander behandelings nie beskikbaar is nie . . . In die ontwikkelende wêreld sterf daar elke jaar 12,2 miljoen kinders onder 5 jaar, die meeste van hulle weens oorsake wat voorkom kan word teen net ’n paar Amerikaanse sent per kind. Hulle sterf in groot mate weens die wêreld se ongeërgdheid, maar hulle sterf bowenal omdat hulle arm is.”
Teen 1995 was aansteeklike siektes en parasiete die wêreld se grootste doders, wat elke jaar die lewens van 16,4 miljoen mense uitgeblus het. Ongelukkig leef ontelbare miljoene mense in toestande wat ideaal is vir die verskyning en verspreiding van dodelike mikrobes. Kyk na die betreurenswaardige toestand wat vandag heers. Meer as ’n miljard mense leef in volslae armoede. Die helfte van die wêreld se bevolking het nie gereelde toegang tot mediese behandeling en noodsaaklike geneesmiddels nie. Op die strate van besoedelde reusestede dwaal miljoene verlate kinders rond, en baie van hulle spuit hulleself met dwelms in en beoefen prostitusie. Miljoene vlugtelinge kwyn in onhigiëniese kampe te midde van cholera, disenterie en ander siektes.
In die stryd tussen die mens en mikrobes het toestande al hoe meer ten gunste van die mikrobe gedraai.
[Voetnote]
a Sulfanilamied is ’n kristalagtige verbinding waarvan sulfamiddels in ’n laboratorium gemaak word. Sulfamiddels kan die groei van bakterieë inhibeer sodat die liggaam se eie verdedigingsmeganisme die bakterieë kan doodmaak.
b Ander voorbeelde van seksueel oordraagbare siektes: Daar is wêreldwyd sowat 236 miljoen mense wat met trigomoniase besmet is en ongeveer 162 miljoen mense met chlamydiale infeksies. Elke jaar is daar nagenoeg 32 miljoen nuwe gevalle van genitale vratte, 78 miljoen van gonorree, 21 miljoen van genitale herpes, 19 miljoen van sifilis en 9 miljoen van sjankroïed.
[Lokteks op bladsy 6]
“In hospitale alleen kom daar elke dag wêreldwyd ’n geraamde eenmiljoen bakteriese infeksies voor, en die meeste daarvan is teen geneesmiddels bestand.” Wêreldgesondheidsorganisasie
[Venster op bladsy 7]
Wanneer Mikrobes Terugveg
’n Klein mikrobe bekend as ’n bakterie “weeg maar net 0,00000000001 gram. ’n Blouwalvis weeg omtrent 100-000000 gram. Tog kan ’n bakterie ’n walvis doodmaak.”—Bernard Dixon, 1994.
Onder die mees gevreesde bakterieë in hospitale is Staphylococcus aureus-soorte wat teen geneesmiddels bestand is. Hierdie bakterieë tas die siekes en die swakkes aan en veroorsaak dodelike bloedinfeksies, longontsteking en toksiese skok. Volgens een opname dood stafilokokkus elke jaar ongeveer 60 000 mense in die Verenigde State—meer as dié wat in motorongelukke sterf. Deur die jare heen het hierdie bakteriesoorte so bestand teen antibiotika geword dat daar teen 1988 net een antibiotikum was wat effektief daarteen was, die middel vankomisien. Berigte omtrent vankomisien-bestande soorte het egter weldra regoor die wêreld begin verskyn.
Maar selfs wanneer antibiotika doen wat dit moet, kan ander probleme ontstaan. In die middel van 1993 is Joan Ray na ’n hospitaal in die Verenigde State vir ’n roetine-operasie. Sy het verwag om binne ’n paar dae tuis te wees. In plaas daarvan moes sy 322 dae in die hospitaal bly, hoofsaaklik weens infeksies wat sy ná die operasie opgedoen het. Dokters het die infeksies met groot dosisse antibiotika bestry, waaronder vankomisien, maar die mikrobes het teruggeveg. Joan sê: “Ek kon nie my hande gebruik nie. Ek kon nie my voete gebruik nie. . . . Ek kon nie eers ’n boek optel om dit te lees nie.”
Dokters het gesukkel om uit te vind waarom Joan ná maande se antibiotiese behandeling nog steeds siek was. Laboratoriumtoetse het getoon dat Joan nie net stafilokokkus-infeksie in haar gestel gehad het nie, maar ook ’n ander soort bakterie—vankomisien-bestande enterokokkus. Soos die naam aandui, het vankomisien niks aan hierdie bakterie gedoen nie; dit het ook gelyk of dit immuun is teen enige ander antibiotikum.
Toe het dokters iets geleer wat hulle stomgeslaan het. Die bakterie het nie net die geneesmiddels weerstaan wat veronderstel was om dit dood te maak nie, maar dit het eintlik, in teenstelling met wat hulle verwag het, die vankomisien gebruik om aan die lewe te bly! Joan se dokter, ’n spesialis op die gebied van aansteeklike siektes, het gesê: “[Die bakterieë] het daardie vankomisien nodig om te vermeerder, en as hulle dit nie het nie, sal hulle nie groei nie. In sekere sin gebruik hulle die vankomisien dus as voedsel.”
Toe die dokters opgehou het om vir Joan vankomisien te gee, het die bakterieë doodgegaan, en Joan het herstel.
[Prent op bladsy 8]
Mikrobes floreer wanneer pasiënte antibiotika verkeerd gebruik
[Prent op bladsy 9]
Bloedoortappings versprei dodelike mikrobes