‘Pessiektes op verskillende plekke’
VOLGENS die woorde hierbo, wat in Lukas 21:11 opgeteken staan, word ’n toename in pessiektes as deel van die teken van die laaste dae gemeld. In Openbaring 6:8 word daardie pessiektes voorafgeskadu deur die rit van ’n vaal perd, die vierde perd van Openbaring hoofstuk 6. Rubriekskrywer Lawrence Hall het glanspunte aangehaal uit ’n nuwe boek van Andrew Nikiforuk met die titel The Fourth Horseman: A Short History of Epidemics, Plagues, Famine and Other Scourges. Dit het in Lawrence Hall se rubriek in die Star-Ledger van 25 Februarie 1994 van Newark, New Jersey, verskyn. Hier volg uittreksels uit die rubriek.
“Die Vierde perderuiter van die Apokalips ry vinnig gedurende hierdie benarde tye. Die mensdom verkeer in meer as een opsig in gevaar—selfs met al die uitstekende, splinternuwe tegnologie en vooruitgang in die mediese wetenskap. Talle antibiotika, wat eens as wondergeneesmiddels bestempel is, is nie opgewasse teen hedendaagse superorganismes nie. . . .
“‘Hoewel . . . geneesmiddels en entstowwe dalk ’n illusie van bevoegdheid skep, sal pessiektes aanhou om die menigte daaraan te herinner dat die jongste wetenskap nog ’n luier dra, en waarskynlik nog ’n vuil luier boonop’ . . . Dis nie my bedoeling om julle bang te maak nie, maar die metafoor van die Vierde Perderuiter is beslis ’n werklikheid. Tering is weer eens aan die toeneem. Die vigs-virus gaan voort om jaarliks derduisende mense regoor die wêreld af te maai . . . Ander siektes soos ingewandskoors, witseerkeel, cholera, miltsiekte en malaria is ’n bedreiging—tot die ontsteltenis van gesondheidsbeamptes en mense oor die algemeen. . . .
“Elke geskiedkundige tydperk van die mensdom het nuwe siektes laat ontstaan. . . . Dit was sifilis gedurende die Renaissance, pokkies het saam met Columbus in die Amerikas aangekom en vigs bedreig ons nou opnuut. . . . En daar breek steeds nuwe plae en epidemies uit namate dit lyk asof die mensdom sy stryd teen mikrobes verloor. . . . Die aantal mense wat ’n onderdrukte immuunstelsel het, neem toe.” Andrew Nikiforuk sê ook: “‘Een van die groot leuens van die 20ste eeu [is] dat antibiotika, entstowwe en dokters ons van pessiektes gered het. . . .
“‘Al probeer ons ook hoe hard, ons kan nie die superorganisme oorwin, die Perderuiter omkoop of die onveranderlike teenwoordigheid van pessiektes in die geskiedenis ignoreer nie.’”