Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 8/22 bl. 14-15
  • Die neut met ’n nuwe naam

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die neut met ’n nuwe naam
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die insameling van die neute
  • Ná die insameling
  • Die makadamianeut ’n—Australiese lekkerny
    Ontwaak!—2010
  • Betelneut moet jy dit kou?
    Ontwaak!—2012
  • Die wêreld se grootste kasjoeboom
    Ontwaak!—1995
  • Een van die nuttigste neute op aarde
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 8/22 bl. 14-15

Die neut met ’n nuwe naam

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BOLIVIA

UIT die digte reënwoude van die Amasonegebied kom ’n neut wat smaaklik en voedsaam is. Die neut se vorige naam, “Brasiliaanse neut”, is nie meer gepas nie, aangesien tot die helfte daarvan nou van buite die grense van Brasilië kom, veral van Bolivia af.

Op 18 Mei 1992 het die Internasionale Neuteraad heel gepas besluit om die neut se naam te verander. Die neut het voorheen verskeie name gehad en het bekend gestaan as die Brasiliaanse neut, roomneut, grysneut, castana do Pará, Paranuss en noix du Brésil. Nou sal dit die Amasoneneut genoem word.

Die insameling van die neute

Luister na wat Cornelio, wat neute insamel al vandat hy ses jaar oud is, oor die insameling van hierdie eksotiese oerwoudneut te sê het: “Die meeste Amasoneneute word ingesamel waar hulle wild groei. Ons moet tot diep in die oerwoud gaan om die neute te vind. Kronkelende riviere is die enigste manier om daar te kom. Ek en my 19-jarige seun reis dae lank op ’n dubbeldekker-rivierboot na ’n kamp waar ’n deel van die woud aan ons toegewys word.

“Om die daglig ten volle te benut, staan ons teen 4:30 vm. op en is ons reeds teen dagbreek op pad. Voetpaadjies strek net ’n paar [kilometer] na die versamelpunte toe; daarvandaan moet ons ons pad vorentoe deur die digte ruigtes oopkap. Daar is geen bakens nie. Ons moet weet hoe om die son as ’n gids te gebruik, anders sal ons nooit die pad terug vind nie.

“Die oerwoud hou baie gevare in vir enigiemand wat na sy skatte soek. Daar is siektes, soos malaria, sowel as die voortdurende gevaar van slange. Ons is nie bekommerd oor die reuseluislange nie—hulle pla ons nie—maar weggesteek tussen die dooie blare op die grond is kleinerige slange wat dodelik is. Hulle kleur en patrone kamoefleur hulle heeltemal. Die bytplek is aanvanklik nie seer nie, maar die slagoffer word geleidelik deur die gif verlam. Kleinerige groen slange wat in die bome versteek is, is net so gevaarlik.

“Ons kan die pragtige neutdraende bome, wat almendros genoem word, maklik opspoor, aangesien hulle [30 tot 50 meter] hoog is en ver bo die meeste ander bome van die woud uittoring. Die stam is gewoonlik sonder takke tot waar dit bo die wouddak uitstyg. Die cocos, harde, bolvormige doppe wat tussen [10 en 15 sentimeter] in deursnee is, groei aan die punte van die takke. Hulle bevat 10 tot 25 neute wat soos die huisies van ’n lemoen gerangskik is, elkeen in sy eie dop.

“Die cocos val grond toe gedurende die reënseisoen, wat van November tot Februarie duur. Hulle moet onmiddellik ingesamel word, anders bederf hulle. Cocos wat van bome afval wat so hoog soos ’n 15-verdiepinggebou is, is ’n ander lewensgevaarlike bedreiging. Ons moet vinnig werk en die cocos in ’n hoop weg van die almendro af gooi om die gevaar tot die minste te beperk. Maar oppas vir slange! Wanneer hulle met hulle kop op hulle opgekrulde lyf slaap, lyk hulle nes ’n coco. Party werkers het ’n slang al vir ’n coco aangesien en die slang opgetel en gegooi.

“Om die coco oop te sny, verg vaardigheid. ’n Hele paar harde houe met die kapmes op net die regte plek is nodig om die neute uit te kry sonder om hulle te beskadig. Weldra keer ons terug met swaar sakke vol neute. Ons maak nie van voertuie of pakdiere gebruik nie. Iemand wat neute insamel, moet sterk en atleties wees, veral omdat die oes gedurende die warmste en natste tyd van die jaar plaasvind.”

Ná die insameling

Die neute is groen wanneer hulle ingesamel word, wat beteken dat hulle weens die hoë waterinhoud (ongeveer 35 persent) bederfbaar is. Om te voorkom dat hulle bederf, moet hulle daagliks met ’n graaf omgewerk word om die neute onder in die hoop te laat droog word. Die meeste van Bolivia se neute word vir uitvoer voorberei. Die verwerking van die oes duur ses maande.

Verwerking begin deur die neute in ’n groot drukpot te verhit. Die hitte maak die neut van sy dop los. Gevolglik kom die meeste van die neute heel uit wanneer hulle van hulle doppe geskei word.

Die neute word dan volgens grootte gesorteer, op draadpanne gesprei en in oonde verhit om die waterinhoud tot tussen 4 en 8 persent te verminder. Die doppe word as brandstof gebruik om die oonde te verhit. Die verminderde waterinhoud maak dit moontlik om die neute ’n jaar of etlike jare lank te berg, indien hulle verkoel bly. Om die gehalte en geur van die neute te behou, word die neute vir uitvoerdoeleindes in aluminiumfoelie vakuumverpak.

Amasoneneute word op verskeie maniere deur miljoene mense regoor die wêreld geniet. Party eet die neute in hulle ontbytgraan. Ander geniet dit wanneer dit met ’n lagie sjokolade bedek of met droë vrugte gemeng is. Wanneer jy weer hierdie heerlike neut eet, onthou dat dit ’n nuwe naam het—die Amasoneneut!

[Prente op bladsy 15]

Amasoneneute en die boom waaraan hulle groei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel