Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 8/22 bl. 10-13
  • Die basiese feite oor borsvoeding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die basiese feite oor borsvoeding
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voor die baba kom
  • Die eerste paar dae
  • Wanneer moet jy jou baba speen
  • Bewyse van ’n liefdevolle Skepper
  • Moedersmelk bly maar die beste
    Ontwaak!—1993
  • Hoe babas ’n huwelik verander
    Julle gesin kan gelukkig wees
  • Wat babas nodig het en wil hê
    Ontwaak!—2003
  • ’n Ma se melk
    Is dit ontwerp?
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 8/22 bl. 10-13

Die basiese feite oor borsvoeding

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË

Indien jy, soos baie moeders, besluit het om jou baba te borsvoed, het jy besluit om van ’n liefdevolle voorsiening van die mensdom se Skepper gebruik te maak. Die melk wat jou eie liggaam produseer, sal presies in die voedingsbehoeftes van jou baba voorsien en gesonde groei en ontwikkeling bevorder. Dit sal jou baba ook teen algemene siektes help beskerm. Die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) sê tereg: “[Borsmelk] is

die beste voedsel wat ’n kind ooit sal hê. Geen plaasvervangers, waaronder koeimelk, poeiermelkformules en dun graanpap, is van dieselfde hoë gehalte nie.”

Borsvoeding hou vir jou ook voordele in. Daar is geen bottels om te was of te steriliseer nie en jy hoef nie in die middel van die nag uit die bed op te staan om ’n maaltyd vir jou baba voor te berei nie. Borsvoeding sal jou ook liggaamlik bevoordeel, aangesien dit jou sal help om die gewig af te skud wat jy gedurende jou swangerskap opgetel het en jou baarmoeder sal help om na sy normale grootte terug te keer. En studies beweer dat vroue wat hulle kinders borsvoed minder geneig is om borskanker te kry.

“Feitlik elke moeder kan haar baba borsvoed”, verseker die Verenigde Nasies-kinderfonds. Jy kan dus waarskynlik ook. Maar jy kom dalk agter dat borsvoeding nie so maklik is as wat jy gedink het dit sal wees nie, veral as jy dit die eerste keer probeer doen. Dit is omdat borsvoeding, hoewel dit natuurlik is, nie iets is wat ’n mens instinktief doen nie; dit is ’n vaardigheid wat jy moet aanleer. Jy vind dalk dat dit jou en jou baba ’n paar dae of selfs ’n paar weke neem om ’n gerieflike en aangename roetine uit te werk.

Voor die baba kom

As jy ’n kind nog nie voorheen met welslae geborsvoed het nie, kan jy met moeders gesels wat dit wel gedoen het. Hulle kan jou help om probleme te voorkom of te oorbrug. Hulle kan ook help om jou vertroue op te bou in jou vermoë om jou baba op ’n doeltreffende wyse te borsvoed.

Dit is belangrik dat jy tydens jou swangerskap en daarna genoeg rus kry. Daarbenewens moet jy ook seker maak dat jy genoeg eet. ’n Brosjure van die WGO, Breastfeeding, sê: “Swak voeding voor of tydens swangerskap kan daartoe lei dat die baba nie behoorlik in die baarmoeder groei nie. Dit kan ook beteken dat die moeder nie genoeg vette kan berg om later genoeg melk te produseer nie. Die moeder moet dus, gedurende haar swangerskap en borsvoedingsperiode, ’n gebalanseerde dieet volg wat uit ’n verskeidenheid voedselsoorte bestaan.”

Die versorging van die borste is ook belangrik. Tydens die laaste maande van swangerskap moet jy jou borste afspoel wanneer jy bad, maar jy moenie seep gebruik nie. Kliere in die areola (die donker gedeelte rondom die tepels) skei ’n antibakteriese smeermiddel af wat die tepels vogtig hou en teen infeksie beskerm. Seep kan die tepels uitdroog en die smeermiddel verwyder of neutraliseer. As jou borste droog of jeukerig raak, kan jy ’n strelende room aanwend. Maar jy moet dit nie op die tepels of die areola aanwend nie.

Dokters het moeders vroeër aangeraai om hulle tepels tydens swangerskap “te brei” deur dit vinnig te vryf. Hoewel dit veronderstel was om seerheid van die tepels tydens borsvoeding te voorkom, toon studies dat dit nie veel help nie. Die tepels raak gewoonlik seer as die suigeling verkeerd aan die bors geplaas word.

Die grootte en vorm van die borste is nie faktore wat suksesvolle borsvoeding verseker nie, maar ’n baba kan nie aan ’n ingetrekte of plat tepel drink nie. Jy kan jouself toets deur saggies met jou duim en wysvinger net agter elke tepel te druk om seker te maak dat die tepels uitdy. As hulle nie uitdy nie, moet jy jou dokter raadpleeg. Hy beveel dalk ’n tepelskermpie aan, ’n eenvoudige toestel wat tydens swangerskap of tussen borsvoedings gedra word. Skermpies verbeter dikwels die vorm van plat of ingetrekte tepels.

Die eerste paar dae

Dit is goed vir jou as jy jou baba binne ’n uur ná geboorte begin borsvoed. Party dink dalk dat die moeder en die baba, onmiddellik ná die veeleisende bevalling, te moeg is om persoonlike kontak te hê. Maar die moeder kry gewoonlik nuwe krag vir die geleentheid, en die baba, nadat hy ’n paar minute geneem het om aan die lewe buite die baarmoeder gewoond te raak, soek gretig na die vertroosting van die bors.

Nuwe moeders kan hulle pasgebore baba van ’n gelerige of helder vloeistof genaamd kolostrum voorsien. Hierdie “vloeibare goud” is uiters voordelig vir die baba. Dit bevat komponente wat skadelike bakterieë beveg. Dit is ook ryk aan proteïene en die suiker- en vetinhoud is laag, wat dit die ideale voedsel tydens die eerste paar dae van lewe maak. Tensy daar die een of ander mediese probleem is, sal die baba geen ander voedsel of vloeistof nodig hê nie. Aanvullende bottelvoeding kan ’n baba lui maak om aan die bors te drink, aangesien dit minder inspanning verg om aan ’n bottel te suig.

Twee tot vyf dae ná geboorte begin moeders gewoonlik melk sonder kolostrum produseer. Die toename in die vloei van bloed na die borste sal jou borste dalk op hierdie tydstip laat vergroot en hulle gevoelig maak. Dit is normaal. Borsvoeding sal die ongemak gewoonlik verlig. Maar soms sal geswelde borste die tepels laat intrek. Aangesien so iets dit vir die baba moeilik maak om te suig, sal jy dalk self ’n bietjie melk met die hand moet uitdruk. Jy kan dit doen deur albei hande te gebruik om elke bors te masseer deur van onder te begin en na die tepel toe te werk.

Jy kan nie meet hoeveel melk jou baba tydens borsvoeding drink nie, maar moet jou nie bekommer nie—jou liggaam is toegerus om alles te voorsien wat jou baba nodig het, al het jy ook ’n tweeling. Hoe meer jy borsvoed, hoe meer melk sal jy produseer. Dit is een rede waarom jy nie borsmelk met ander bottelvoedings, soos poeiermelkformules en koeimelk, moet aanvul nie. As jy dit doen, sal jou baba minder aan jou drink. Dit sal weer beteken dat jy minder melk produseer.

“Normale voltermynbabas is by geboorte nie naastenby so hulpeloos soos aanvanklik gedink is nie, en hulle kan hulle maaltye so reël dat dit vir hulleself en hulle moeder se liggaam gerieflik is, as ander mense hulle net sal toelaat om dit te doen”, skryf Gabrielle Palmer in The Politics of Breastfeeding. Die bepalende faktor is die beginsel van voeding op aanvraag—wanneer jou baba kos wil hê (gewoonlik deur te huil), verskaf jy dit. In die begin sal die baba elke twee of drie uur wil drink. Elke keer wanneer jy borsvoed, moet jy jou baba aan albei borste laat drink. Die meeste babas neem tussen 20 en 40 minute om klaar te drink, hoewel party babas daarvan hou om op hulle tyd, met tussenposes, te drink. Sulke draaikouse kan tot 60 minute neem om hulle maaltyd te nuttig. Gewoonlik kry jou baba genoeg om te eet as hy ten minste agt keer in 24 uur geborsvoed word, as jy hom kan hoor sluk terwyl hy drink en as hy ná die vyfde dag daagliks agt of meer nat doeke het.

’n Baie belangrike vaardigheid wat jy tydens borsvoeding moet aanleer, is hoe om jou baba korrek aan die bors te plaas. Verkeerde plasing kan daartoe lei dat jou baba nie genoeg melk kry nie. Party babas weier selfs om te drink.

Verkeerde plasing kan tot ’n ander algemene probleem lei: gebarste of seer tepels. Die Breastfeeding Source Book sê: “Seer tepels word deur etlike faktore veroorsaak, maar ’n belangrike faktor is hoe goed die baba aan die bors ‘vashou’, en op sy beurt sal dit in ’n groot mate afhang van die posisie waarin sy koppie in verhouding met die bors is. Om die baba korrek in posisie te hou, moet jou baba naby die bors wees, met sy koppie reguit (hy moet nie op, af of na die kant toe kyk nie), en hy moet reg teenoor die tepel wees sodat hy dit nie een kant toe trek nie.”

Die baba se lippies moet verkieslik ’n seël op die bors vorm, ten minste drie sentimeter agter die tepel. Jy sal weet dat die posisie korrek is as jou baba se hele lyfie na jou toe gedraai is, as hy lang teue neem, ontspanne en gelukkig is en as jou tepels nie seer is nie.

Wanneer moet jy jou baba speen

Ná die eerste paar weke sal jy sowel as jou baba mekaar leer ken en waarskynlik ’n gerieflike en aangename roetine uitgewerk het. Die volgende vier tot ses maande sal jou baba geen ander kos of vloeistof behalwe borsmelk nodig hê nie. Daarna moet jy jou baba geleidelik ander voedsel begin gee, soos fyngemaakte groentes, graanpap of vrugte. Maar totdat jou baba nege of tien maande oud is, sal sy vernaamste voeding steeds van jou melk afkomstig wees; daarom is dit altyd goed om jou baba te borsvoed voordat jy hom vaste kos gee.

Hoe lank moet jy met borsvoeding volhou? So lank as moontlik, raai die WGO aan. Baie moeders hou aan om hulle kinders te borsvoed totdat hulle meer as twee jaar oud is en hou sodoende hulle kinders dop en nie die kalender nie. Die boek Mothering Your Nursing Toddler sê: “Dit is nie moeilik om te sien watter behoefte ons kinders aan borsvoeding het nie—hulle vreugde as hulle geborsvoed word en hulle teleurstelling as dit hulle ontneem word. ’n Eenvoudige maar goeie rede om aan te hou om jou kind te borsvoed, is omdat die kind dit geniet.”

Bewyse van ’n liefdevolle Skepper

Dink aan die Skepper van hierdie reëling terwyl jy jou baba borsvoed, miskien laat in die nag wanneer die res van die gesin slaap. Al verstaan jy nie die ingewikkelde liggaamlike prosesse wat dit moontlik maak nie, sal die wonder van borsvoeding jou die wysheid en liefde van ons Skepper help sien.

Dink daaroor na—daar is geen beter kos vir babas as moedersmelk nie. Dit voldoen volkome aan ’n baba se behoeftes vir voedsel en vloeistof tydens die eerste maande van lewe. Terselfdertyd is dit ’n wondermiddel wat teen siektes beskerm. Dit is veilig, higiënies, vereis geen voorbereiding nie en kos niks. Dit is oor die hele wêreld beskikbaar, en hoe groter die baba word, hoe meer melk word geproduseer.

En dink bietjie na oor die feit dat borsvoeding ’n aangename ondervinding vir beide die moeder en die kind is. Die voeding, die mond- en vel-tot-vel-kontak en die liggaamlike warmte wat borsvoeding bied, dra alles daartoe by om ’n sterk band van liefde en intimiteit tussen moeder en kind te bevorder.

Waarlik, die Skepper van hierdie wonderlike reëling verdien hoë lof. Jy sal ongetwyfeld hierdie woorde wat die psalmis Dawid geskryf het jou eie wil maak: “Ek loof U [Jehovah], omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!”—Psalm 139:14.

[Venster op bladsy 12]

Vaders, wees ondersteunend

• Laat jou vrou weet dat jy borsvoeding goedkeur. Stel haar gerus en ondersteun haar op ’n liefdevolle manier.

• Help jou vrou om ’n gebalanseerde dieet te volg tydens haar swangerskap en terwyl die baba geborsvoed word.

• Sorg dat sy genoeg rus kry. ’n Vrou wat uitgeput is, kan sukkel om genoeg melk te produseer. Kan jy haar werk ligter maak deur na die ander kinders om te sien of met die huishoudelike takies te help?

• As jou vrou ontspanne en gelukkig is, sal haar melk beter vloei. Hou haar so gelukkig as wat jy kan. Luister na haar probleme en help om hulle op te los.

[Venster op bladsy 13]

Borsvoeding teenoor bottelvoeding

“Borsmelk is voedsamer, meer higiënies, beskerm babas teen algemene siektes en verminder die moeder se kanse om bors- en baarmoederkanker te kry. Babaformules word, afgesien van die feit dat dit duur is, dikwels oorverdun met vuil water en in ongesteriliseerde bababottels aan kinders gegee. In arm gemeenskappe is die verskil so lewensbelangrik dat ongeveer 1 miljoen lewetjies elke jaar gered kan word as die wêreld se moeders die eerste vier tot ses maande weer uitsluitlik sal borsvoed.”—The State of the World’s Children 1993, ’n publikasie van die Verenigde Nasies-kinderfonds.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel