Hou geleerdheid op die regte plek
’NVAARDIGE kunstenaar weet hoe om diepte te skep. Die besonderhede op die voorgrond word sterker beklemtoon as dié op die middel- en agtergrond. Ons prioriteite in die lewe is baie dieselfde. Sommige verdien meer aandag as ander.
Jesus Christus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Mattheüs 5:3, NW). Geestelike waardes moet dus heel eerste gestel word. Materiële besittings moet daarenteen van minder belang wees.
Waar pas geleerdheid in die prentjie? Dit is beslis nie vir ’n Christen sommer iets onbeduidends nie. ’n Sekere mate van sekulêre opleiding is gewoonlik nodig om die skriftuurlike verpligting na te kom wat die apostel Paulus gegee het: “Iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Timotheüs 5:8). Verder vereis die opdrag wat Jesus sy volgelinge gegee het om dissipels te maak en hulle te ‘leer om alles te onderhou wat hy hulle beveel het’ dat hulle “kennis opdoen” en ander dan op bekwame wyse onderrig.—Mattheüs 28:19; Johannes 17:3, NW; Handelinge 17:11; 1 Timotheüs 4:13.
Tog moet geleerdheid op die regte plek gehou word. Dit moet nie nagejaag word net om akademies uit te blink of indrukwekkende grade te verwerf nie. Om oordrewe klem op die najaging van geleerdheid te plaas, is selfverydelend. Dit kan weliswaar tydelike materiële voordele meebring. Maar soos die wyse koning Salomo gesê het: “Jy werk vir iets met al jou wysheid, kennis en bekwaamheid, en dan moet jy dit alles agterlaat aan iemand wat nie daarvoor gewerk het nie.”—Prediker 2:21, Today’s English Version.
Jehovah se Getuies stel belang in geleerdheid, nie in geleerdheid as sulks nie, maar om nuttiger in God se diens te wees en hulleself te onderhou. Aangesien hulle bediening niewinsgewend is, is baie van sekulêre werk afhanklik om ’n bestaan te maak. Dit kan vir voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies, wat pioniers genoem word, ’n besondere uitdaging wees. Hulle moet ’n besige rooster in die bediening handhaaf terwyl hulle voldoende voorsiening maak vir hulleself en hulle gesin indien hulle getroud is.a—Spreuke 10:4.
Nadat hulle die verskillende faktore teen mekaar opgeweeg het, het van Jehovah se Getuies besluit om verder te leer. Hulle moes natuurlik versigtig wees en geleerdheid op die regte plek hou. Wat het hulle gehelp om dit te doen? “Verskeie faktore het my gehelp”, sê ’n jong Brasiliaan met die naam John. Selfs wanneer ek saans moes studeer, het ek nie van Christelike vergaderinge af weggebly nie. Ek het ook van die begin af my klasmaats duidelik laat verstaan dat ek een van Jehovah se Getuies is.”
Eric, ook van Brasilië, het van die geleentheid gebruik gemaak om met ander oor sy oortuiging te praat terwyl hy verder geleer het. “Ek het die kollege as my spesiale gebied beskou”, sê hy. “Dit was vir my moontlik om Bybelstudies met verskeie onderwysers en studente te hou, waarvan vyf nou gedoop is en twee as ouere manne dien.”
Richard het deeltyds verder gestudeer om ’n graad as ’n tekenaar te ontvang. “My opleiding het my gehelp om werk te kry sodat ek myself en my vrou kon onderhou”, sê hy, “maar dit het ook ’n deur tot ’n ander geleentheid oopgemaak. Namate ek na die bouprojekte van snelbou-Koninkryksale gereis het en met diegene in verantwoordelike posisies gesels het, het ek agtergekom dat daar ’n behoefte aan tekenaars is.b My opleiding kom nou goed te pas by hierdie projekte. Daarbenewens hoop ek en my vrou om eendag by die wêreldhoofkwartier of by die internasionale bouprojekte van Jehovah se Getuies te dien.”
Terselfdertyd het baie van Jehovah se Getuies die uitdaging die hoof gebied om sonder ekstra opleiding vir hulleself en hulle gesin te sorg. “Ek onderhou myself deur twee dae per week huiswerk te doen”, verduidelik Mary. “Ironies genoeg verdien ek meer geld per uur as party van die mense vir wie ek werk. Maar ek beskou my werk as ’n middel tot ’n doel. Dit hou my in die pionierdiens en ek is glad nie spyt nie.”
Steve voel dieselfde. “Toe ek die pionierdiens betree het”, sê hy, “het party vir my gesê: ‘Wat gaan jy doen as jy trou en ’n gesin het? Hoe gaan jy die pot aan die kook hou?’ Maar soos sake nou staan, het ek al soveel verskillende dinge gedoen dat ek ondervinding het in net mooi enigiets waaraan jy kan dink. Noudat ek ’n vrou het om te onderhou, verdien ek meer as sommige gegradueerdes wat by ons agentskap werk.”
Ongelowige vaders het dalk daarop aangedring dat minderjarige kinders aanvullende opleiding verkry, en hulle het skriftuurlik die gesag om dit te doen. Maar in sulke gevalle, in ooreenstemming met Mattheüs 6:33, kan jongmense kursusse volg wat hulle sal help om nuttiger in Jehovah se diens te word of wat hulle selfs toelaat om aan die voltydse bediening deel te neem terwyl hulle die kursus volg.
Die grootste geleerdheid
Al Jehovah se Getuies, ongeag hulle vlak van geleerdheid, het iets gemeen. Hulle erken dat die belangrikste geleerdheid wat vandag beskikbaar is sy oorsprong by God se Woord, die Bybel, het. Johannes 17:3 sê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (NW). Ongeag watter sekulêre geleerdheid ’n Christen verkry, om kennis in te neem van Jehovah en sy Seun, Jesus, moet voorkeur geniet.
Eerste-eeuse Christene het hierdie voorbeeld gestel. Manaen is “saam met Herodes, die distriksheerser, opgevoed”; tog was hy teenwoordig en bedrywig onder die profete en leermeesters van die gemeente in Antiochië (Handelinge 13:1, NW). Paulus het eweneens ’n opleiding soortgelyk aan ’n universiteitsopleiding ontvang. Nadat hy ’n Christen geword het, het hy sy opleiding nietemin op die regte plek gehou. Hy het dit nie gebruik om ontsag by ander in te boesem nie, maar het sy kennis van sosiologie, die regte en geskiedenis gebruik om vir alle soorte mense te getuig.—Handelinge 16:37-40; 22:3; 25:11, 12; 1 Korinthiërs 9:19-23; Filippense 1:7.
Die eerste-eeuse Christene was nie hoofsaaklik vir hulle geleerdheid bekend nie. Baie was ‘ongeleerd en eenvoudig’ en was nie in die rabbynse skole opgelei nie. Maar dit beteken nie dat hulle ongeletterd was nie. Inteendeel, hierdie manne en vroue was toegerus om hulle geloof te verdedig—’n vermoë wat van grondige opleiding getuig het.—Handelinge 4:13.
Alle Christene stel gevolglik in geleerdheid belang. Terselfdertyd streef hulle daarna om “seker [te] maak van wat die belangriker dinge is” en om geleerdheid—sowel as enige ander strewes—op die regte plek te hou.—Filippense 1:9, 10, NW.
[Voetnote]
a Dit is opmerkenswaardig dat die apostel Paulus, wat hooggeleerd was, verkies het om homself in die bediening te onderhou deur tente te maak, ’n ambag wat hy waarskynlik by sy pa geleer het. Om tente te maak, was nie ’n maklike taak nie. Die bokhaarmateriaal wat gebruik is, wat cilicium genoem is, was geneig om styf en grof te wees, wat dit moeilik gemaak het om te sny en aanmekaar te werk.—Handelinge 18:1-3; 22:3; Filippense 3:7, 8.
b Die uitdrukking “snelbou” verwys na ’n hoogs georganiseerde boumetode wat deur Jehovah se Getuies ontwikkel is. Die vrywilligers wat aan hierdie projekte werk, word nie betaal nie; hulle bied hulle tyd en middele vrywillig aan. In die Verenigde State word daar elke jaar ongeveer 200 nuwe Koninkryksale gebou, en nog 200 word deur middel van hierdie metode opgeknap.
[Venster op bladsy 7]
’n Welverdiende aanbeveling
Die jaar voordat Matthew sy hoërskoolloopbaan voltooi het, het hy ernstig nagedink oor hoe hy homself as ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies kon onderhou. Nadat Matthew die saak biddend oorweeg het, het hy en sy ouers gemeen dat verdere geleerdheid ’n aanwins sou wees om sy doelwit te bereik. Hy het dus om ’n beurs aansoek gedoen. Matthew se skoolvoorligter het ’n aanbevelingsbrief saamgestuur wat gesê het:
“Dit was gedurende die afgelope twee en ’n half jaar vir my ’n plesier om Matt se raadgewer en vriend te wees. Matt is ’n beginselvaste persoon . . . Hy is diep gelowig, met sterk oortuiging, en sy verhoudings en dade getuig daarvan.
“Deur die jare heen het Matthew hom vir die bediening voorberei. ’n Bedienaar van sy godsdiens ontvang geen geldelike vergoeding nie. Dit is waarlik ’n liefdeswerk. Matt is ’n selfopofferende jong man, hoflik en bedagsaam. Hierdie beurs kan vir hierdie gelowige man ’n manier voorsien om homself te onderhou terwyl hy sy opleiding en vrywillige diens voortsit.
“Wat vrywillige werk en gemeenskapsdiens betref, het Matt al tallose ure oor naweke, ná skool en gedurende somervakansies aan die predikingswerk van huis tot huis bestee. Hy werk binne die gemeenskap en met ’n groot verskeidenheid mense. Matt het sy leierseienskappe en vaardighede geopenbaar deur Bybelstudies met jonk sowel as oud te hou. . . . Hy het die vermoë om mense te besiel en hulle te help om hulle ware potensiaal te bereik. Onderwysers het opgemerk dat hy altyd ’n positiewe invloed in die klaskamer is. Hy neem ywerig aan klasbesprekings deel en is ’n kranige debatteerder. . . .
“Matt is een van die aangenaamste jong manne vir wie ek die voorreg gehad het om van raad te voorsien. Sy portuurs en sy onderwysers hou baie van hom, en hulle respekteer hom. Sy integriteit is van die hoogste gehalte.”
[Prente op bladsy 9]
Jehovah se Getuies stel in geleerdheid belang hoofsaaklik om bekwamer knegte van God te word