“’n Antwoord op my gebed”
Lesers reageer op die reeks oor alkoholisme
DIT is ’n uitdrukking wat ons van lesers oor die hele wêreld gehoor het: “Jehovah het my gebede verhoor.” Hiermee het die lesers na die reeks artikels verwys wat in ons nommer van 22 Mei 1992 verskyn het met die titel “Hulp vir alkoholiste en hulle gesinne”.
Hierdie artikels wat op die Bybel gebaseer is, het getoon hoe alkoholisme die hele gesin kan verswelg. Dikwels ontken huweliksmaats en kinders ook dat die alkoholis werklik ’n drankprobleem het. Hulle en ander maak dalk van ondoeltreffende metodes gebruik om die alkoholis te probeer verander—maar slaag dalk slegs daarin om sy verslaafdheid te laat voortduur. Gesinslede moet gevolglik die aard van alkoholisme verstaan, en spesifieke wenke is gegee om hulle te help om alkoholisme se vernietigende greep te verbreek. Inligting is ook aan volwasse kinders van alkoholiste gegee om hulle te help om hulle emosionele letsels te identifiseer—en te genees. Dit is dus geen wonder dat hierdie artikels ’n oorweldigende reaksie van ons lesers uitgelok het nie!
Een vrou het geskryf: “Toe ek die buiteblad sien, het ek koue rillings gekry. Ek was die afgelope jaar en ’n half baie siek. In Desember het ek hewige paniek- en depressieaanvalle begin kry. Ek is deur ’n pa wat ’n alkoholis is, grootgemaak, maar het gedink dit was belaglik om die verlede op te haal. Toe ek julle tydskrif ontvang het, het ek dit keer op keer gelees. Ek het myself vir die eerste keer verstaan.”
Talle lesers het soortgelyke menings uitgespreek. Een 16-jarige wie se pa ’n alkoholis is, het die artikels die begin van haar genesingsproses genoem. ’n Ander leser sê: “Ek lees die Ontwaak! sedert 1969, en nog nooit het die inligting daarin my só diep getref nie. Nadat ek jare lank gedink het dat ek ’n mislukking was, het ek gemeen dat ek selfs vir Jehovah in die steek gelaat het. Wat het my makeer? Ek het in die huwelik getree maar het met dieselfde soort pyn en skande te kampe gehad wat ek gedink ek agtergelaat het en het vyf kinders in ’n alkoholisomgewing grootgemaak. Ek kon nie vir hulle die emosionele sekuriteit gee wat hulle nodig gehad het nie. Die Ontwaak! van 22 Mei het vir my die weg gebaan! Ek dank Jehovah dat hy my gehelp het om my probleem te verstaan.”
Dit is nie verbasend dat die artikels baie lesers geestelik gehelp het nie. “Ek het lank gely omdat ek nie Bybelbeginsels kon toepas nie”, erken ’n vrou van Japan. “Ek het tot God gebid om my te help om my persoonlikheid te verander. ’n Paar dae later het ek hierdie tydskrif ontvang. Dit het my die redes vir my optrede getoon en my die moed gegee om sake te probeer reg stel.”
Die artikels het party lesers gehelp om nie meer die probleem te ontken nie. “Ek is ook ’n slagoffer van ’n pa wat ’n alkoholis is”, skryf een Kanadese vrou. “Maar dit was eers nadat ek julle artikel gelees het dat dit my getref het wat my probleem was. Ek het grootgeword en nooit erken dat daar ’n probleem in ons huis was nie. Vandag het ek die eerste stap na genesing geneem deur met ’n geestelik ryp Christensuster te praat. Ek was verstom om te verneem dat haar pa ook ’n alkoholis is.”
Die materiaal het ander laat besef dat hulle nie alleen is nie. “Dit was vir my terapeuties om hierdie artikels te lees”, het een leser gesê, “want ek weet nou dat daar van my Christenbroers en -susters is wat soos ek voel en wat verstaan.”
Baie lesers het trane gestort terwyl hulle die artikels gelees het. “Toe ek die titel sien, het ek begin huil”, het een vrou gesê. “My pa is ’n alkoholis en my man was ook een. Ek het nie besef watter groot rol alkoholisme gespeel het om my kinderjare te vernietig nie. Dit het my huwelik vernietig en dit het my byna vernietig. Ek huil omdat lig op vrae gewerp is wat ek my lewe lank gehad het, soos: ‘Waarom voel ek altyd asof ek niks werd is nie? Waarom is ek so bang om mense te vertrou? Wat is hierdie leegheid binne-in my?’”
Baie het gemeen dat die artikels ander knaende vrae beantwoord het. Een jong man van Finland het gesê: “Ek het altyd oor my gevoelens gewonder aangesien ek nie in staat was om mense te vertrou of innigheid teenoor hulle te toon nie.” “Die inligting was net wat ek nodig gehad het”, het een vrou saamgestem. “Mede-Christene prys ons dikwels vir die mooi voorbeeld wat ons as ’n gesin stel. Selfs ons bure komplimenteer ons. Maar ondanks al hierdie sukses het ek dikwels gevoel dat daar diep binne-in my iets met my skort. Soms het ek met skuldgevoelens en ’n gebrek aan eiewaarde geworstel, maar ek kon nooit verstaan waarom nie. Die artikels het my gehelp om op ’n meer gebalanseerde manier na baie dinge te kyk. My wonde het begin genees.”
Volwasse kinders van alkoholisouers word dikwels deur skuldgevoelens geteister. Let egter op wat een leser van Japan geskryf het: “Wanneer my dronk pa my ma geslaan het, het ek geestesspanning en -skok verduur. Ek het altyd naar geword en selfs opgebring! Hy het altyd gesê: ‘As julle die Bybel sal opgee, sal ek die drinkery opgee.’ Hierdie artikel het egter vir my getoon dat alkoholiste die skuld vir hulle drinkery op ander probeer pak en dat ons nie daardeur mislei moet word nie! Ek voel asof ek bevry is.” ’n Leser van Brasilië het geskryf: “Wanneer my pa drink, blameer hy ons altyd daarvoor. Ek het dikwels gedink dat dit my skuld is. Die artikels het my gehelp om te begryp dat dit nie my of my ma se skuld is nie.”
Liefdevolle Christen- ouere manne kan ’n belangrike bron van hulp wees (Jesaja 32:2). Die artikels oor alkoholisme is bedoel om gemeenteopsieners te help om sulke probleme doeltreffend die hoof te bied (Jesaja 50:4). Een Christenvrou sê: “Ek het jare lank kalmeermiddels gebruik; my dokter het my gesmeek om professionele hulp te kry. Maar ek voel nie op my gemak om met ’n vreemdeling oor my probleme te praat nie. Ek het die ouere manne ingeroep en deur met hulle sowel as my man te praat, kon ek van die meeste van my angs, woede, frustrasie en gevoel van verlatenheid verlos word.”
Professionele hulp is dikwels nodig om die probleme op te los wat deur alkoholisme geskep word. Hoewel die artikels nie enige spesifieke vorm van behandeling aanbeveel het nie, het baie lesers hulle persoonlike ondervindings vertel. “My man het met ’n behandelingsprogram vir alkoholiste begin”, vertel een vrou. “Vir ons albei was dit net die begin van ’n stryd wat drie jaar geduur het. Ons het met weeklikse intense terapie begin. Ons sou geensins op ons eie uit so ’n emosionele duisternis kon kom nie.” ’n Duitse vrou wat by ’n kliniek werk waar verslaafdes behandel word, voeg by: “Baie dankie dat julle daarop gewys het dat mense wat werk maak van probleme en wat hulp soek, sterk is—nie dié wat hulle probleme ’n geheim probeer hou of sê dat dit net ’n kleinigheidjie is nie. Julle het duidelik getoon dat dit nie ’n skande is as iemand behandeling ontvang nie.”
Hoewel dit ons verheug om te sien watter uitstekende reaksie daar op hierdie artikels is, weet ons maar alte goed dat dit ’n lang en dikwels moeilike proses is om die emosionele letsels van alkoholisme te genees. Ons gebede is met dié wat, met Jehovah God se hulp, hierdie ernstige probleme die hoof bied. Een leser het gesê: “Ek het grootgeword met ’n pa wat ’n alkoholis was. Selfs al is ek gelukkig in my diens aan Jehovah, is die emosionele letsels steeds sigbaar. Met Jehovah se hulp het ek grootliks herstel, maar ek stem saam dat algehele genesing net in Jehovah se nuwe wêreld sal kom.”—Jesaja 65:17.