Thai Liang Lim/E+ via Getty Images
HOU AAN WAAK!
Wêreldwye bekommernis oor sosiale media en jongmense
Gedurende 2025 het regerings regoor die wêreld gesê dat hulle bekommerd is oor die uitwerking wat sosiale media op jongmense het. Een land het jongmense onder die ouderdom van 16 verbied om sosiale media te gebruik, en ander lande oorweeg dit om iets soortgelyks te doen.
Dit is interessant dat selfs party jongmense dink dat sosiale media ’n slegte ding kan wees. ’n Opname wat in die Verenigde State deur die Pew-navorsingsentrum gedoen is, wat in April 2025 vrygestel is, het gesê dat “omtrent die helfte van tieners (48%) sê dat sosiale media meestal ’n negatiewe uitwerking op mense van hulle ouderdom het”.
Gesondheidsdeskundiges het ’n waarskuwing gegee oor die uitwerking wat sosiale media op jongmense se verstandelike gesondheid kan hê. Verlede jaar het Dr. Vivek Murthy, wat op daardie stadium die Amerikaanse geneesheer-generaal was, gesê: “Die verstandelike gesondheidskrisis onder jongmense is ’n noodgeval – en ons het besef dat sosiale media ’n belangrike bydraende faktor is.”
Hoe kan ouers hulle kinders teen die gevare van sosiale media beskerm? Die Bybel gee praktiese raad.
Wat ouers kan doen
Dink aan die volgende Bybelbeginsels.
“Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.
Omdat sosiale media ’n slegte invloed op jou kind kan hê, moet jy nie voel dat jy jou kind moet toelaat om sosiale media te gebruik nie. Voordat jy vir jou kind toestemming gee om sosiale media te gebruik, maak seker dat hy of sy volwasse genoeg is om by die tydsbeperking te bly, goeie vriendskappe te behou en dit te vermy om na ongepaste dinge te kyk.
Om meer te leer, lees die artikels “Moet my kind sosiale media gebruik?” en “Leer jou tiener hoe om sosiale media op ’n veilige manier te gebruik”.
“Maak die beste gebruik van julle tyd.” – Efesiërs 5:16.
As jy jou kind toelaat om sosiale media te gebruik, maak reëls oor hoe hy of sy dit moet gebruik, en verduidelik hoe dit sal help om hom of haar veilig te hou. Wees op die uitkyk vir enige veranderinge in jou kind se optrede wat kan aandui dat jy jou kind se toegang tot sosiale media moet beperk.
Gebruik die witbord-tekenprent Werk slim met sosiale netwerke om jou kind te help om te verstaan hoekom perke nodig is.
Vir nog Bybelgebaseerde voorstelle oor wat ouers kan doen, sien die artikel “Senior gesondheidsamptenaar waarsku dat sosiale media ’n slegte uitwerking op jongmense kan hê – Wat sê die Bybel?”
Leer meer
Die Bybel sê dat ons lewe in “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Maar dit gee ons ook praktiese raad wat ons kan help om hierdie dinge te hanteer. ’n Lysie met meer as 20 Bybelgebaseerde artikels vir ouers en hulle kinders kan in die artikel “Verstandelike gesondheidsprobleme onder tieners al hoe erger – Wat sê die Bybel?” gevind word.