Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 April bl. 14-19
  • Behou die regte beskouing van moeilike tye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behou die regte beskouing van moeilike tye
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE REGTE BESKOUING VAN MOEILIKE TYE
  • HOE DIE VERKEERDE BESKOUING ONS KAN BENADEEL
  • STAPPE WAT ONS KAN NEEM WANNEER ONS MOEILIKE TYE ONDERVIND
  • Is jou probleme ’n straf van God af?
    Ontwaak!—2009
  • Onthou dat Jehovah “die lewende God” is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Hoe Jehovah ons help om te volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 April bl. 14-19

15-21 JUNIE 2026

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

Behou die regte beskouing van moeilike tye

“Al kry ek swaar en al ondervind ek moeilike tye, bly ek lief vir u gebooie.” – PS. 119:143.

FOKUS

Om die regte beskouing van moeilike tye te hê, kan ons help om dit suksesvol te hanteer.

1-2. Wat moet ons doen om ons moeilike tye suksesvol te hanteer? (Sien ook prent.)

ONDERVIND jy op die oomblik ongeregtigheid, familieteenstand of vervolging as gevolg van jou geloof? Verduur jy swak gesondheid of die gevolge van bejaardheid? Of verwerk jy ’n tragedie, dalk die dood van ’n geliefde? Soos so baie van Jehovah se kosbare skape is jou lewe dalk “vol probleme en hartseer”. – Ps. 90:10.

2 Om ons moeilike tye suksesvol te hanteer, moet ons die regte beskouing daarvan hê. Wat behels dit? Ons kan dit op hierdie manier illustreer: Die probleme wat jy in die lewe ondervind, is soos die gevare wat jy dalk teëkom wanneer jy ’n kar bestuur. Afhangende van die gevaar sal jy dalk links of regs draai, stadiger ry of tydelik stilhou. Maar om die regte besluit te neem, moet jy die gevaar duidelik sien. Jy kan dit nie sien as jou vensters vol sneeu of modder is nie. Net so, om ons moeilike tye suksesvol te hanteer, moet ons dit sien soos Jehovah dit sien. In hierdie artikel sal ons kyk na (1) die regte beskouing van ons moeilike tye, (2) hoe die verkeerde beskouing van ons situasie ons kan benadeel en (3) ’n paar stappe wat ons kan neem om die regte beskouing te behou wanneer ons moeilike tye ondervind.

’n Man bestuur ’n kar met ’n vuil voorruit en word verras deur ’n padblokkade wat reg voor hom is.

Ons moet die regte beskouing van ons moeilike tye hê sodat ons dit suksesvol kan hanteer (Sien paragraaf 2)


DIE REGTE BESKOUING VAN MOEILIKE TYE

3. Wat moet ons aanvaar oor die lewe in hierdie goddelose wêreld?

3 Moeilike tye is onvermydelik in hierdie goddelose wêreld. Solank as wat ons onvolmaak is en Satan oor die wêreld regeer, sal moeilike tye ons affekteer. En terwyl die einde van hierdie wêreld al hoe nader kom, sal ons selfs meer probleme ondervind, of dit nou is as gevolg van natuur- of mensgemaakte rampe of as gevolg van mense wat goddelose dinge doen (Matt. 24:8; 2 Tim. 3:13). As Jehovah al hierdie soort probleme nou sou oplos, kan dit lyk asof hy besig is om Satan te help om hierdie wêreld te beheer. In hierdie wêreld kan ons nie “rampspoed” vryspring nie. – Pred. 9:12.

4. Watter ander probleme ondervind Christene?

4 Christene ondervind meer probleme. Jesus het dikwels vir sy dissipels gesê dat hulle as gevolg van hulle geloof vervolg sou word (Matt. 24:9; Joh. 16:2). Omdat ons dit weet, word ons geloof nie deur sulke moeilike tye verswak nie (1 Tess. 3:​3, 4). Wanneer ons moeilike tye verduur omdat ons sterk geloof het, kan ons daarvan seker wees dat ons nog steeds op die pad is wat na die ewige lewe lei. Ons wys ook aan watter kant ons in die groot geskil, die een tussen Jehovah en Satan, is. As deel van Satan se aanval op God se naam beweer hy dat mense God slegs vir selfsugtige redes dien. Om sy punt te probeer bewys, val hy Jehovah se volk intens aan (Job 1:​9-11). Wanneer ons volhard as gevolg van ons liefde vir Jehovah maak ons sy hart bly. – Spr. 27:11.

5. Wat kan ons uit Prediker 7:​13, 14 leer? (Sien ook prente.)

5 Jehovah laat moeilike tye toe. Jehovah tree nooit goddeloos op of toets ons nooit met slegte dinge nie (Jak. 1:13). Maar koning Salomo het geskryf dat “’n dag van rampspoed” “die werk van die ware God” is. (Lees Prediker 7:​13, 14.) Soos dikwels die geval is, sê die Bybel hier dat Jehovah iets doen wanneer hy eintlik net toelaat dat dit gebeur. Salomo het goeie raad gegee wat ons kan help om die regte beskouing van ons moeilike tye te hê. Eerstens, ons moet realisties wees oor ons onvolmaakte lewe in Satan se wêreld – ons sal goeie dae en slegte dae hê. Wanneer ons ’n goeie dag het, kan ons wys dat ons God se goedheid waardeer en die dag as ’n geskenk van hom af beskou. Tweedens, Salomo herinner ons aan die feit dat ons “nie kan weet wat . . . sal gebeur nie”, of dit ’n goeie dag of ’n slegte dag sal wees nie. Onverwagse probleme tref die regverdiges en die onregverdiges.

Collage: ’n Man ondervind goeie en slegte dae in sy tuin. 1. Hy is gelukkig terwyl hy gesonde tamaties uit sy florerende tuin oes. 2. Op ’n ander dag kyk hy hartseer na ’n vrot tamatie uit sy verlepte tuin.

Ons moet realisties wees deur te besef dat ons goeie dae en slegte dae in Satan se wêreld sal hê (Sien paragraaf 5)


6. Hoekom laat Jehovah dalk toe dat ons moeilike tye ondervind? (Hebreërs 12:​7, 11)

6 As ons die regte beskouing van ons probleme het, sal ons sien dat Jehovah ons leer om nie op onsself nie, maar op hom te vertrou. Jehovah sien altyd wanneer ons moeilike tye ondervind, en hy gee om wanneer ons ly. Selfs wanneer hy toelaat dat ons in “die vallei van diep skaduwee” gaan, hou hy aan om ons te lei, om ons van sy liefde te verseker en om ons die krag te gee wat ons nodig het om te volhard (Ps. 23:4). Moeilike tye kan ons ook help om ons swakhede te identifiseer en om ons persoonlikheid met God se hulp te verfyn. (Lees Hebreërs 12:​7, 11.) Job moes byvoorbeeld aan sy nederigheid werk. Jehovah het nie Job se probleme veroorsaak nie; maar Hy het dit toegelaat en dit gebruik om Job te help om waardevolle lesse te leer (Job 42:​1-6). Maar ongeag wat dalk op ons pad kom, ons weet dat wat Jehovah ook al toelaat, ons nie permanent kan benadeel nie. Wanneer ons ons moeilike tye getrou verduur, het ons “heeltemal oorwin”. – Rom. 8:​35-39.

7. Hoekom kan jy gelukkig wees selfs wanneer jy as gevolg van jou geloof vervolg word?

7 Ons kan gedurende vervolging gelukkig wees. As jy as gevolg van jou geloof vervolg word, moet jy nie dink dat jy Jehovah se seën verloor het nie. Sulke teenstand wys eerder dat jy sy goedkeuring het (Matt. 5:​10-12). Met die regte beskouing kan jy, net soos die apostels, vreugdevol wees en jou selfrespek behou wanneer jy vervolg word omdat jy ’n Christen is (Hand. 5:​40-42). En jy kan dalk nie-Getuies help om die waarheid te leer en “God [te] verheerlik” (1 Pet. 2:12). Soos Josef kan jy suksesvol wees gedurende moeilike tye – nie net wanneer dit verby is nie. – Gen. 39:​3, 23.

8. Watter verdere aansporing het ons om te volhard wanneer ons moeilike tye ondervind?

8 Ons moeilike tye sal tot ’n einde kom. Job se ondervinding herinner ons aan die feit dat ons probleme tot ’n einde sal kom. Om die waarheid te sê, “Jehovah het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die begin” (Job 42:12). Net so belowe Jehovah om “die laaste deel” van jou lewe, die deel wat vir ewig aanhou, meer te seën as die kort begin wat dalk vol probleme is. Wat ’n aansporing is dit vir ons elkeen om tot die einde toe te volhard! – Matt. 24:13.

HOE DIE VERKEERDE BESKOUING ONS KAN BENADEEL

9. Hoe kan die verkeerde beskouing van ons moeilike tye ons benadeel?

9 Ongeag watter moeilike tye ons ondervind, ons moet die regte beskouing daarvan hê sodat ons nie nog probleme vir onsself veroorsaak nie. Ons voel byvoorbeeld dalk dat Jehovah eintlik die oorsaak van ons moeilike tye is. Job het ’n ruk lank gevoel dat Jehovah sy probleme veroorsaak het, en hierdie verkeerde beskouing het daartoe gelei dat hy probeer “bewys het dat hý reg is eerder as God” (Job 32:2). Net so het na Naomi Jehovah eers vir haar rampspoed blameer (Rut 1:​13, 20, 21). As Job en Naomi aan sulke verkeerde beskouings vasgehou het, sou hulle hulle verhouding met Jehovah beskadig het (Spr. 19:3). Maar Jehovah het hulle gehelp om die regte beskouing van hulle probleme te verkry en hulle vir hulle lojaliteit geseën.

10. Waaroor begin ons dalk wonder wanneer ons moeilike tye ondervind?

10 Al is ons oortuig dat Jehovah nie die oorsaak van ons moeilike tye is nie, begin ons dalk wonder of hy nog steeds vir ons omgee. So ’n negatiewe beskouing kan ons baie mismoedig maak (Spr. 24:10). Koning Dawid en die profeet Habakuk het elkeen moeilike tye ondervind en het soms gewonder of Jehovah na hulle hulpgeroep luister (Ps. 10:1; Hab. 1:2). Maar hulle het nie opgehou bid nie. Jehovah het daardie getroue manne van sy ondersteuning verseker, en hy sal dieselfde vir jou doen. – Ps. 10:17.

11. Wat kan met ons gebeur as ons nie die regte beskouing van moeilike tye het nie?

11 As ons nie die regte beskouing van moeilike tye het nie, is ons dalk verras wanneer dit gebeur en voel ons dalk dat sulke dinge nie met ons moet gebeur nie (1 Pet. 4:12). Jesus se dissipels het gesukkel om te verstaan dat hy intense vervolging sou ondervind (Luk. 18:​33, 34). Ten spyte van Jesus se duidelike stelling oor wat vir hom voorlê, het die apostel Petrus die moeilike tyd afgewater. Jesus het geweet dat sulke denke kon keer dat hy Jehovah se wil doen, en daarom het hy Petrus tereggewys (Mark. 8:​31-33). En selfs ná Jesus se dood het sy dissipels nog steeds gesukkel om daardie gebeure te verstaan. Maar Jesus het hulle nie afgeskryf nie. Toe hy ná sy opstanding met hulle gepraat het, het hy hulle gehelp om die regte beskouing van sy lyding te verkry deur “die Skrif ten volle aan [hulle te] verduidelik” (Luk. 24:​25-27, 32, 44-48). As hulle nagedink het oor wat Jesus hulle geleer het, sou dit hulle help om voorbereid te wees vir die teenstand wat hulle binnekort as sy volgelinge sou ondervind. Dit kan ons ook help om vir moeilike tye voor te berei as ons oor Bybelwaarhede nadink.

12. Hoe kan die verkeerde beskouing van ons situasie ons laat voel?

12 Die verkeerde beskouing van ons situasie kan ons laat voel dat dit erger is as wat dit eintlik is. Jesus het een manier gewys hoe dit kan gebeur in sy illustrasie van die werkers in die wingerd. Party werkers het gekla omdat hulle gedink het dat hulle nie die regte betaling ontvang het nie, maar die meester het vir een van hulle gesê: “Vriend, ek behandel jou nie onregverdig nie” (Matt. 20:​10-13). Die werkers se klagte was nie op ’n onreg gebaseer nie, maar op hulle verkeerde verwagtinge. Vandag het party Getuies al met soortgelyke gevoelens gesukkel – byvoorbeeld, wanneer hulle nie ’n diensvoorreg ontvang het nie of dit moes opgee. Watter praktiese dinge kan ons doen om die regte beskouing van ’n moeilike situasie te hê?

STAPPE WAT ONS KAN NEEM WANNEER ONS MOEILIKE TYE ONDERVIND

13. Wat kan gebeur wanneer jy moeilike tye ondervind?

13 Jy weet dalk wat die Bybel oor moeilike tye sê. Jy het dit dalk selfs met ander gedeel om hulle te help om hulle probleme te hanteer. Maar wanneer jy persoonlik moeilike tye ondervind, sukkel jy dalk om die regte beskouing te behou. Byvoorbeeld, jy voel dalk dat Jehovah jou straf of dat hy nie na jou gebede luister nie. Watter stappe kan jy neem om die regte perspektief te behou?

14. Waarvoor kan jy bid wanneer jy ly? (Filippense 4:13)

14 Vra Jehovah vir sy ondersteuning. Vertel Jehovah van jou lyding en hoe dit jou affekteer. Jy kan bid vir die spesifieke manier hoe jy wil hê Jehovah jou moet help. Jy kan hom vir sy heilige gees vra om jou die krag en die wysheid te gee wat jy nodig het om te volhard. Maar onthou dat Jehovah jou gebed dalk op ’n manier sal beantwoord wat jy nie verwag nie (Ef. 3:20). Hy sal dalk ook die engele of jou broers en susters rig om jou te ondersteun (Ps. 34:7). So aanvaar Jehovah se hulp hoe hy dit ook al voorsien. Hy voorsien sy heilige gees in oorvloed, en dit kan jou help om enige uitdaging te oorkom. – Lees Filippense 4:13.

15. Wat sal jou help om moeilike tye te verduur? (Sien ook prent.)

15 Bly by ’n geestelike roetine. Doen wat jy kan, al kan jy nie by die roetine bly wat jy voorheen gehad het nie. Jy moet jou verstand met God se gedagtes vul en dit selfs meer doen gedurende “swaar en . . . moeilike tye” (Ps. 119:143). Hou aan om die Bybel gereeld te lees, te bestudeer en daaroor na te dink. Doen soveel velddiens as wat jy kan, en woon vergaderinge by en neem daaraan deel. Spandeer tyd met jou broers en susters. Stry teen enige begeerte wat jy dalk het om jouself af te sonder. – Spr. 18:1.

’n Broer in ’n hospitaalbed woon die “Wagtoring”-studie deur middel van videoverbinding by. Hy volg saam in sy eie kopie van “Die Wagtoring” en die Bybel.

Doen wat jy kan om by ’n geestelike roetine te bly (Sien paragraaf 15)


16. Watter twyfelgedagtes het jy dalk wanneer jy moeilike tye ondervind, en hoe kan jy dit oorkom? (2 Korintiërs 10:​4, 5)

16 Oorkom jou twyfelgedagtes. Wanneer jy moeilike tye ondervind, moet jy dalk idees wat soos “sterk vestings” is, afbreek, insluitende twyfelgedagtes oor jouself of oor Jehovah. (Lees 2 Korintiërs 10:​4, 5.) Jy kan sulke twyfelgedagtes oorkom deur “die kennis van God” wat in die Bybel en in die publikasies van sy organisasie is, te gebruik. Byvoorbeeld, twyfel jy dat jy nog steeds Jehovah se goedkeuring het? Bestudeer die ondervindinge van die apostel Paulus. Gedurende sy bediening het hy verskriklik moeilike tye ondervind; maar dit het net sy oortuiging versterk dat hy ’n goedgekeurde bedienaar van Christus is (2 Kor. 11:​23-27). Wonder jy of Jehovah jou regtig vir vorige foute vergewe het? Indien wel, maak ’n lys van tekste wat wys dat Jehovah wel sondes vergewe (Jes. 43:25). Lees dan hierdie verse en dink daaroor na (Ps. 119:97). Het ’n tragedie veroorsaak dat jy God se belofte om sy getroue knegte te beskerm, bevraagteken? Doen navorsing oor die redes hoekom God lyding toelaat en hoe hy ons geestelik beskerm ongeag wat met ons gebeur (Ps. 91:​9-12). En lees die verslae van broers en susters wat tragedies suksesvol hanteer het.a

17. Wat moet ons doen wanneer ons moeilike tye ondervind?

17 Geniet jy op die oomblik ’n goeie dag, sonder enige ernstige probleme? Sê dan vir Jehovah dankie, en maak goed gebruik van die geleentheid om oor sy goedheid na te dink (Pred. 7:14). Maar wanneer jy moeilike tye ondervind, behou die regte beskouing daarvan, en maak seker dat jou vertroue in Jehovah sterk bly. Wanneer jy dit doen, sal Jehovah “die uitweg gee, sodat [jy] dit sal kan verduur” (1 Kor. 10:13). Maar wat van ons dierbare broers en susters? Hoe kan ons hulle help wanneer hulle moeilike tye ondervind? Ons volgende artikel sal daardie onderwerp bespreek.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat kan ons help om die regte beskouing van moeilike tye te hê?

  • Hoe kan die verkeerde beskouing van ons situasie ons benadeel?

  • Wat kan ons doen wanneer ons moeilike tye ondervind?

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

a Byvoorbeeld, die lewensverhaal “’n Gelukkige gesin – Verwoes en herbou” op jw.org vertel hoe broer David Maza en sy gesin die verskriklike verlies van sy seun verwerk het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel