Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Maart bl. 14-19
  • Hoe sal jy teen jou afleidings stry?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe sal jy teen jou afleidings stry?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WATTER AFLEIDINGS HET ONS?
  • HOE HET JESUS TEEN POTENSIËLE AFLEIDINGS GESTRY?
  • HOE KAN ONS TEEN ONS AFLEIDINGS STRY?
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onthou dat Jehovah “die lewende God” is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Leer uit die laaste woorde van getroue mans
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Maart bl. 14-19

18-24 MEI 2026

LIED 35 ‘Maak seker van die belangriker dinge’

Hoe sal jy teen jou afleidings stry?

“Probeer verstaan wat die wil van Jehovah is.” – EF. 5:17.

FOKUS

Hoe om op geestelike aktiwiteite te fokus ten spyte van omstandighede wat ons aandag kan aflei.

1-2. Hoe kan iets belangriks ’n afleiding word?

WANNEER laas het jy teen ’n afleiding gestry? Dalk het iets jou aandag afgetrek van dit waarmee jy besig was en moes jy besluit wat belangriker is. Sê nou byvoorbeeld jou selfoon lui terwyl jy bestuur. Die oproep is dalk belangrik, maar jy besef dat dit op daardie oomblik ’n afleiding is. Dit is belangriker om te konsentreer op hoe jy bestuur.

2 Ons lewe is vol aktiwiteite wat belangrik is. Ons weet dat dit die belangrikste is om op ons geestelike aktiwiteitea en roetine te konsentreer (Matt. 6:33). Soos versigtige bestuurders probeer Jehovah se volk om dinge te identifiseer wat hulle aandag daarvan kan aflei om op die pad wat voorlê, te konsentreer. – Spr. 4:25; Matt. 6:22.

3. Hoe kan dit ons help om te kyk na hoe om teen afleidings te stry?

3 Niemand van ons wil hê dat ons aandag van ons geestelike aktiwiteite afgelei moet word nie. Maar ons almal ondervind omstandighede wat ons aandag maklik kan aflei (Luk. 21:​34-36). So om ons te help om op ons diens aan Jehovah te konsentreer, kom ons kyk na (1) watter afleidings ons het, (2) hoe Jesus teen potensiële afleidings gestry het en (3) hoe ons vandag teen ons afleidings kan stry.

WATTER AFLEIDINGS HET ONS?

4-6. Watter soort dinge kan ons aandag maklik aflei?

4 Ons almal het baie dinge in ons persoonlike lewe wat ons aandag vereis. Byvoorbeeld, ons het dalk gesondheidsprobleme of belangrike gesins- of persoonlike sake om na om te sien. Hierdie dinge is natuurlik belangrik, en ons moet daaraan aandag skenk. Maar kan dit afleidings word? Dit kan, as dit ons gedagtes begin oorheers en ons so baie van ons tyd daaraan spandeer dat ons geen tyd of krag oorhet om enige iets anders te doen nie.

5 Baie van ons word ook persoonlik geraak deur die politieke onrus, ekonomiese probleme, uitbreek van siektes en aanhoudende konflik wat ’n kenmerk van hierdie wêreld is (2 Tim. 3:1). Wanneer ons sulke dinge ondervind, word ons dalk so angstig dat ons heeltyd daaroor tob.

6 Dalk ken ons mense wie se lewens onderstebo gekeer is deur sulke gebeure. Dit is te verstane dat hulle verskriklik ontsteld is as gevolg van wat hulle ondervind het. Mense is nie ontwerp om te ly of om heeltyd angstig te wees nie. Dit is geen wonder dat party mense voel dat hulle nie meer ’n normale lewe kan hê nie! As gevolg daarvan probeer party hulle angstigheid verminder deur hulle lewe met vermaak of ontspanning te vul. Wat kan ons doen as ons sien dat ons in enige van hierdie situasies is? Kom ons kyk na wat ons by Jesus kan leer wat ons sal help om te sorg dat ons aandag nie van ons aanbidding afgelei word nie.

HOE HET JESUS TEEN POTENSIËLE AFLEIDINGS GESTRY?

7. Wat kon Jesus se aandag afgelei het?

7 Daar was baie dinge wat Jesus se aandag kon aflei, soos sosiale en politieke kwessies. In sy dag was baie mense arm en siek (Matt. 14:14; Mark. 14:7). Die Romeine en ander Jode het hulle lewe baie moeilik gemaak. Toe mense sien dat Jesus die krag en die vermoë het om wonderwerke te doen, wou hulle hom hulle koning maak (Joh. 6:​14, 15). Satan het Jesus ook probeer versoek om ’n kortpad te neem om ’n wêreldheerser te word (Matt. 4:​8, 9). En die apostel Petrus, een van Jesus se beste vriende, het hom eenkeer aangemoedig om sy eie lewe makliker te maak deur te sê: “Wees goed vir uself, Here.” – Matt. 16:​21, 22.

8. Hoe het Jesus teen potensiële afleidings gestry?

8 Hoe het Jesus teen potensiële afleidings gestry? Op drie maniere. Eerstens, hy het Jehovah se denkwyse nagevolg (Joh. 8:28; 14:9). Tweedens, hy het met geestelike aktiwiteite besig gebly (Matt. 9:35). En derdens, hy het duidelik verstaan wat werklik belangrik is (Joh. 4:34). Hy het Satan se versoekings ferm verwerp en is nie beïnvloed deur Petrus se goedbedoelde maar misplaaste goedhartigheid nie (Matt. 4:10; 16:23). Jesus het geweier om toe te laat dat dit wat mense gedink, gesê of gedoen het, sy aandag daarvan aflei om God se wil uit te voer. Ja, die afleidings wat ons het, is dalk anders as Jesus s’n. Maar deur meer te leer, kan ons teen ons afleidings stry en Jesus navolg.

HOE KAN ONS TEEN ONS AFLEIDINGS STRY?

9. Wat beteken dit om te “probeer verstaan wat die wil van Jehovah is”? (Efesiërs 5:17)

9 Leer om soos Jehovah te dink. As jy dit doen, kan dit jou help om te “probeer verstaan wat die wil van Jehovah is”. (Lees Efesiërs 5:17.) Ons kan leer wat Jehovah gelukkig maak deur sy Woord te lees en daaroor na te dink. Ons kan dit doen selfs wanneer die Bybel nie ons spesifieke omstandighede bespreek nie. Hoe? Deur Jehovah se denkwyse beter te leer ken en gewillig te wees om daardeur gelei te word.

10. Hoe kan ons omtrent Jehovah se denkwyse leer?

10 Ons kan omtrent Jehovah se denkwyse leer deur die Bybel te studeer en te kyk na hoe hy mense behandel (Jer. 45:5). Terwyl ons die verslae lees, kan ons ons vrae afvra soos: ‘Wat leer dit my omtrent Jehovah? Wat moet ek doen om dinge te sien soos Jehovah dit sien?’ Sy denkwyse is natuurlik hoër as ons s’n (Jes. 55:9). Daarom is dit goed dat ons hom in gebed vra om ons te leer hoe om sy wil te doen (Ps. 143:10). En ons bid vol vertroue vir hulp om sy denkwyse te verstaan en om meer soos hy te dink. – 1 Joh. 5:14.

11. Wat wil Jehovah vir ons hê?

11 Terwyl ons leer om soos Jehovah te dink, verstaan ons dat hy nie wil hê dat ons aandag afgelei moet word nie sodat ons gereed is vir die einde van hierdie wêreld (Matt. 24:44). Hy wil nie hê dat ons deur angstigheid oorweldig moet word nie (Matt. 6:​31, 32). So wanneer ons angstig is oor ons gesondheid, ons werk, ons huis of ander persoonlike en familiesake, gee Jehovah praktiese hulp. Hy nooi ons om op hom te vertrou vir die wysheid en die krag om ons uitdagings te hanteer. – Ps. 55:22; Spr. 3:​5-7.

12. Wat is een manier hoe ons angstigheid oor wêreldgebeure kan hanteer? (Matteus 5:3)

12 Bly besig met geestelike aktiwiteite. Ons almal het ’n mate van angstigheid oor wêreldgebeure, wat buite ons beheer is. So om te keer dat ons aandag afgelei word deur dit wat ons nie kan beheer nie, fokus ons op ons geestelike aktiwiteite. As ons ons bes doen om ’n hegte vriendskap met Jehovah te hê, dan sal ons gelukkig wees omdat dit is wat Jehovah ons geskep het om te doen. (Lees Matteus 5:3.) Ons doen dit deur die Bybel te studeer en deur alles te doen wat ons kan in Jehovah se diens. As ons dit doen, sal ons ook Jehovah gelukkig maak omdat ons ons tyd wyslik gebruik. – Spr. 23:15.

13. Hoe kan ons “die beste gebruik van [ons] tyd” maak?

13 As Christene is ons vasbeslote om “die beste gebruik van [ons] tyd” te maak (Ef. 5:​15, 16). Ons besef dat die Bybel nie net aanbeveel dat ons ons tyd in alledaagse dinge beter moet gebruik nie. Dit moedig ons eerder aan om mooi te dink oor hoe ons ons tyd gebruik voordat Jehovah ’n einde aan hierdie goddelose wêreld maak. Hoe maak ons die beste gebruik van ons tyd? As ons baie tyd daaraan spandeer om op hoogte te bly van al die slegte dinge wat gebeur, kan ons aandag afgelei word en kan ons mismoedig en minder ywerig in ons aanbidding word. Dit is baie beter as ons die hoeveelheid nuus waarna ons kyk of wat ons lees, beperk! Op hierdie manier word ons nie oorweldig nie en kan ons met opbouende geestelike aktiwiteite besig bly. Dit sal ook goed wees om dit te oorweeg om ons bediening uit te brei waar dit moontlik is, soos om meer herbesoeke te doen. Ons verstaan dat dit baie belangrik is om van elke geleentheid gebruik te maak om mense te help om “gered [te] word en akkurate kennis van die waarheid [te] kry”. – 1 Tim. 2:4.

14. Hoe help dit ons om met geestelike aktiwiteite besig te bly? (Sien ook prent.)

14 Wanneer ons met geestelike aktiwiteite besig bly, behou ons ’n gebalanseerde beskouing van die tye waarin ons lewe. Terwyl ons aanhoudende politieke onrus, ekonomiese probleme en wydverspreide siektes sien, is ons nie te bekommerd nie. Ons sien hierdie dinge vir wat dit is – bewyse dat Bybelprofesieë besig is om vervul te word. Eerder as om toe te laat dat ons aandag deur vrees afgelei word, het ons die vertroue dat Jehovah binnekort die nuwe wêreld sal bring. Ons kan kalm bly terwyl ons aanhou om op Jehovah te vertrou om ons te help om te volhard. – Ps. 16:8; 112:​1, 6-8.

’n Paartjie loop met lektuurtrollies terwyl hulle met vertroue vorentoe kyk. Collage: Tonele van ontstellende wêreldgebeure. 1. ’n Groep woedende betogers. 2. Politieke verkiesingsuitslae. 3. Soldate in ’n oorlog. 4. Farmaseutiese medikasie. 5. ’n Tabel wat wys hoe ’n maatskappy se aandele vinnig daal.

Bly besig met geestelike aktiwiteite ten spyte van ontstellende wêreldgebeure (Sien paragraaf 14)b


15. Wat sal dit ons help om te doen as ons verstandig is? (1 Petrus 4:7)

15 Onthou wat werklik belangrik is. Vandag is baie mense gefokus op ontspanning, nie op die naderende einde van hierdie wêreld nie. Ontspanning het sy plek, maar ons moet “verstandig [wees]” om nie deur die wêreld se beskouing beïnvloed te word nie. (Lees 1 Petrus 4:7.) As ons verstandig is, sal dit ons help om nie te veel tyd daaraan te spandeer om net lekker dinge te doen nie, maar om wyse besluite te maak. Sulke besluite sal Jehovah se denke weerspieël en sal wys dat ons verstaan wat werklik belangrik is. – 2 Tim. 1:7.

16. Waarop het Jesus gefokus kort voordat hy gesterf het?

16 Jesus het altyd onthou wat die belangrikste is. Gedurende sy moeilike laaste ure op die aarde voor sy dood het hy heeltemal daarop gefokus om lojaal te bly en om God se wil te doen. Daarom het hy intens gebid. Anders as Jesus, wat waaksaam gebly het, het sy dissipels aan die slaap geraak. Hulle was “uitgeput omdat hulle so baie getreur het”. – Luk. 22:​39-46; Joh. 19:30.

17. Hoekom gebruik baie sosiale media, maar hoe kan dit ’n afleiding wees? (Sien ook prent.)

17 Soos Jesus se dissipels voel ons soms dalk emosioneel uitgeput. Gebeure wat ’n kenmerk van hierdie tyd van die einde is, kan ons angstig laat voel. Baie mense van vandag spandeer baie tyd op sosiale media om van hulle probleme te vergeet. Hulle gebruik dit om met vriende en familie regoor die wêreld te kommunikeer en om nuus, foto’s en nog meer te deel. En hulle gebruik dit om eindelose vermaak te geniet. Maar hierdie individue kan op die ou end heeltemal daarin verdiep word en baie van hulle tyd en energie daaraan spandeer om op hoogte te bly van die nuutste dinge. Om ons te help om ’n gebalanseerde beskouing van sosiale media te hê, kan ons ons afvra: ‘Laat die gebruik van sosiale media my regtig beter voel of lei dit my aandag af van wat werklik belangrik is?’

’n Suster probeer die Bybel by die huis lees terwyl haar aandag afgelei word deur boodskappe op haar slimfoon van ’n sosiale media-⁠app, ’n fliek-⁠app en ’n inkopie-⁠app.

Goeie oordeel help ons om te sorg dat ons aandag nie deur sosiale media, vermaak en ontspanning afgelei word nie (Sien paragraaf 17)


18. Hoekom het ons goeie oordeel nodig wanneer ons vermaak kies?

18 Ons het ook goeie oordeel nodig as ons films of televisiereekse op stromingsplatforms kyk, kort video’s op internetplatforms kyk of videospeletjies speel. Hierdie aktiwiteite kan lekker wees en kan ons help om te ontspan. Maar ons het goeie oordeel nodig wanneer dit kom by die soort en die hoeveelheid vermaak wat ons kies. Video-⁠dienste gee gebruikers heeltyd nuwe voorstelle en kan hulle aan geweld of onsedelikheid blootstel. Dit is wat met een van ons broers in Asië gebeur het. Hy het eers fliekhoogtepunte op een aanlynplatform begin kyk. Terwyl hy video-⁠grepe wat voorgestel is, bly kyk het, het hy onsedelike tonele begin kyk. Uiteindelik het hy pornografie begin kyk. Danksy die hulp van die ouermanne en die ondersteuning van goeie vriende het hy ferm opgetree – hy het sekere apps van sy toestelle afgehaal en beperkings gestel op die tyd wat hy op sy foon spandeer het. Hierdie ondervinding is ’n goeie voorbeeld van hoekom ons goeie oordeel moet gebruik wanneer ons vermaak kies.

19. Wat kan gebeur as ons ons lewe om ontspanning laat draai?

19 Ons het dalk ook goeie oordeel nodig wanneer dit kom by ontspanning en vakansies. Ons almal moet elke nou en dan ontspan en ’n blaaskans neem – dit is goed vir ons en help ons om gesond te bly. Maar as ons te veel op ontspanning fokus, kan ons ongebalanseerd word en minder tyd aan die belangriker dinge spandeer (Fil. 1:10). Ons almal moet self besluit watter dinge ons sal doen en hoeveel tyd ons daaraan sal spandeer. Wanneer jy sulke besluite maak, vra jou af: ‘Wys die tyd wat ek aan ontspanning en vakansie spandeer dat ek goeie oordeel het? Maak ek seker van wat werklik belangrik is en berei ek my voor vir “die einde van alles”?’

20. Hoe vind ons daarby baat om teen afleidings te stry?

20 Ons vind daarby baat wanneer ons sorg dat niks ons aandag van ons geestelike aktiwiteite en roetine aflei nie (Jes. 48:17). Met Jehovah se hulp sal ons ons uitdagings in die lewe beter kan hanteer. Ons sal nie te bekommerd wees oor wêreldgebeure nie. En ons sal dit vermy om ons lewe slegs om ontspanning te laat draai. So laat ons aanhou om vasbeslote te wees om soos Jehovah te dink, om met geestelike aktiwiteite besig te bly en om te onthou wat werklik belangrik is. Deur dit te doen, sal ons nie net teen afleidings stry nie, maar ook “’n stewige houvas op die werklike lewe . . . kry”. – 1 Tim. 6:19.

HOE KAN JY TEEN AFLEIDINGS STRY DEUR . . .

  • te leer om soos Jehovah te dink?

  • besig te bly met geestelike aktiwiteite?

  • te onthou wat werklik belangrik is?

LIED 129 Ons sal volhard

a WAT DIT BETEKEN: Ons geestelike aktiwiteite verwys na enige iets wat direk verband hou met ons aanbidding van Jehovah – soos om die Bybel te studeer, vergaderinge by te woon, aan gesinsaanbidding deel te neem en velddiens te doen. Ons aanbid Jehovah ook wanneer ons vergaderingplekke bou en daarna omsien, die noodlenigingswerk ondersteun, aanbied om by ons byeenkomste te help of by Bethel dien.

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie bly besig in die predikingswerk eerder as om toe te laat dat ontstellende wêreldgebeure hulle aandag aflei.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel