11-17 MEI 2026
LIED 7 Jehovah, ons sterkte
Vertrou op die Soewereine Heerser van die heelal
“Jehovah . . . , u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” – PS. 83:18.
FOKUS
Om ons vertroue te versterk dat Jehovah die Universele Soewerein is en om ons te verseker dat hy ons sal help om die moeilike tye te oorkom wat ons nou en in die toekoms deurmaak.
1. Watter tragiese gebeure het Job deurgemaak?
JOB, ’n eertydse man van geloof, het amper alles verloor: sy kinders, sy gesondheid en sy rykdom. Sy goeie reputasie was ook vernietig. En baie van die dinge wat sy “vriende” gesê het, was ontmoedigend. Selfs sy geliefde vrou het so mismoedig geword dat sy vir hom gesê het: “Vervloek God en sterf!” (Job 2:9; 15:4, 5; 19:1-3). Hierdie tragiese gebeure kon Job se vertroue in die ware God verswak het en hom laat twyfel het dat Jehovah dié wat Hom liefhet en dien, sou beskerm.
2-3. Waaroor begin ons dalk wonder, en wat sal ons uit die boek Job leer?
2 Ons ondervind ook soms moeilike situasies wat ons vertroue in Jehovah erg kan toets. Ons lewe in “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Wanneer ons die een probleem ná die ander ondervind, voel ons dalk oorweldig en nie in staat om te volhard nie. Sulke ondervindinge het party laat wonder of Jehovah regtig vir hulle omgee.
3 As jy al ooit persoonlik sulke gevoelens gehad het, moenie hoop verloor nie. Job het geleer dat Jehovah dié wat lojaal aan Hom is, red. Ons kan ’n soortgelyke vaste vertroue in ons hemelse Vader opbou. Om ons te help om daardie doelwit te bereik, kom ons kyk na die boek Job en sien hoe dit ons van twee belangrike dinge verseker: Eerstens, Jehovah alleen is die Soewereine Heerser van die heelal. Tweedens, ons almagtige God kan wêreldgebeure beheer om te verseker dat sy verklaarde voorneme vervul word en dat sy volk beskerm word teen permanente geestelike en fisiese skade.
SATAN HET TUSSEN HULLE INGEKOM
4. Wie het die vergadering in die hemel bygewoon wat in die boek Job genoem word?
4 Op ’n dag het “die seuns van die ware God” voor Jehovah in die hemel bymekaargekom. Die verslag sê verder: “Satan het ook tussen hulle ingekom” (Job 1:6). Dit is die vroegste verwysing in die Bybel na die beskrywende titel van die een wat Jehovah teëstaan, “Satan”, of “die Teenstander”. Teen hierdie tyd was Satan nie meer ’n getroue seun van God nie. Hy het ’n vyand van Jehovah en van die hemelse en die aardse dele van Sy gesin geword. Jehovah het aangedui dat Satan nie meer deel van Sy hemelse gesin is nie toe Hy die woorde in Genesis 3:15 gesê het. So Satan is nie deel van “die vrou” – Jehovah se gesin van geesskepsele – wat die “nageslag” sou voortbring nie.
5. Wat leer ons deur dit wat by die vergadering in die hemel gesê is, te ondersoek?
5 Jehovah het dit wat by daardie vergadering in die hemel gesê is, in die Bybel laat opteken. Satan se woorde maak dit duidelik dat hy ’n ongevoelige lasteraar is. (Job 1:9; vergelyk Openbaring 12:10.) Die feit dat Jehovah hierdie hemelse toneel in die Bybel ingesluit het, verseker ons dat hy sy verhewe gesag op ’n volmaakte, regverdige manier uitoefen. Dit wys ook dat die Almagtige die perke stel op wat ander kan doen.
JEHOVAH STEL DIE PERKE
6. Hoe het Jehovah gewys dat hy heeltemal in beheer was van die vergadering in die hemel? (Job 1:7, 8)
6 Lees Job 1:7, 8. Jehovah was heeltemal in beheer van daardie vergadering. Hy het Satan gevra: “Het jy my kneg Job opgemerk?” Ja, Jehovah was ten volle bewus van die feit dat Satan getroue Job as sy teiken uitgesonder het. Kom ons kyk hoe Jehovah sy krag sou gebruik om Job te help.
7. Wat het Satan geïmpliseer oor hoekom mense Jehovah dien volgens Job 1:10, 11?
7 Lees Job 1:10, 11. Jehovah is die almagtige Soewerein van die heelal, en hy gebruik sy gesag en mag op maniere wat hy goeddink (Jer. 32:17; Dan. 4:35). Satan het nogtans beweer dat Jehovah Sy mag nie op die regte manier gebruik het nie. Satan het in werklikheid beweer dat God mense, soos Job, omkoop om Hom te dien. Satan het ook geïmpliseer dat dié wat Jehovah dien, dit net doen as gevolg van wat hulle by Hom kan kry. Hoe het Jehovah gereageer?
8-9. Watter duidelike perke het Jehovah vir Satan gestel, en hoekom? (Job 1:12) (Sien ook prent.)
8 Lees Job 1:12. Jehovah het die Duiwel toegelaat om sy bewering te toets – maar binne vasgestelde perke. God het duidelik gesê: “Aan die man [Job] self mag jy nie raak nie!” Jehovah het voor almal wat teenwoordig was, die perke vir Satan se aanvalle gestel. Satan het nie die mag gehad om verder as daardie opdrag te gaan nie, so hy kon nie anders as om binne daardie perke te bly nie. En vandag is dit nog steeds die geval. So Jehovah het Sy gesag en mag gebruik om Job te beskerm en om Sy eie reputasie te beskerm.
9 Satan se eerste aanval het heeltemal misluk. Job het getrou aan sy hemelse Vader gebly (Job 1:22). Maar die Teenstander het Job nog nie klaar getoets nie.
Jehovah het toegelaat dat Satan sy uitdaging voor toeskouers maak (Sien paragraaf 8-9)
10. Hoekom het Jehovah Satan toegelaat om Job verder te toets? (Job 2:2-6)
10 Lees Job 2:2-6. Hierdie keer het Satan harder probeer om Job te breek. Satan het beweer dat Job God sekerlik sou vervloek om sy eie lewe te red. Om die saak op te los, het Jehovah die Duiwel toegelaat om daardie getroue man te tref. Maar Jehovah het weereens die perke gestel deur te sê: “Jy mag hom . . . nie doodmaak nie!” Satan kon nie anders as om te bly by die beperkings wat op hom geplaas is nie. Ons sien weer dat die Allerhoogste in beheer was gedurende Job se moeilike tyd omdat Satan nie verder kon gaan as die perke wat Jehovah gestel het nie.
JEHOVAH BEËINDIG JOB SE LYDING
11. Hoe het Jehovah Job beloon nadat Hy Job se moeilike tye beëindig het? (Job 42:10-13)
11 Lees Job 42:10-13. Dit het duidelik geword dat Job nie sy getrouheid sou prysgee nie, en Jehovah het ’n einde aan Satan se aanvalle gemaak. Jehovah het opgetree en die lyding van sy getroue kneg beëindig. Die Teenstander was weereens magteloos en kon nie Jehovah se besluit keer nie. Satan was nie meer toegelaat om aan te hou om Jehovah se kosbare kneg Job direk aan te val nie.
12. Gee ’n voorbeeld van die uitkoms vir dié wat op Jehovah se reddingskrag vertrou.
12 Gedurende die laaste dae het baie mense Jehovah se reddingskrag ondervind. In 1945 was daar byvoorbeeld 230 Getuies van Jehovah wat ’n bekende Nazi-doodsmars vanaf ’n konsentrasiekamp oorleef het. Hulle het hierdie woorde oor hulle verskriklike ondervinding in ’n resolusie neergeskryf: “’n Lang, moeilike tydperk van beproewing is agter die rug en dié wat bewaar is, wat as ’t ware uit die vuuroond geruk is, het nie eens die reuk van die vuur aan hulle nie. . . . Inteendeel, hulle is vol sterkte en krag van Jehovah.” Hulle het bygevoeg: “Ons het net een begeerte . . . [nadat] ons in die leeukuil was, dat ons toegelaat word om Jehovah . . . vir ewig te dien. Dit sou op sigself ons grootste beloning wees.” – Vergelyk Daniël 3:27; 6:22.
13. Watter vertroue kan jy hê terwyl jy moeilike tye deurmaak? (Sien ook prente.)
13 Ons ondervind dalk ook oomblikke in ons lewe wanneer ons figuurlik in die leeukuil gegooi word (1 Pet. 5:8-10). Soms voel ons dalk baie mismoedig en wonder ons dalk of ons moeilike tyd ooit tot ’n einde sal kom. Gedurende sulke tye kan dit ons help om Job se ondervinding te onthou. Ons kan volle vertroue in Jehovah se krag hê om ons lyding te beëindig – ongeag of hy dit nou of in die nuwe wêreld wat kom, doen. Jehovah het ’n tyd gekies om hierdie goddelose wêreld te beëindig en dit sal nie ’n dag langer as daardie vasgestelde tyd bestaan nie!
Jehovah sal ’n einde maak aan die lyding van sy lojale knegte (Sien paragraaf 13)
JEHOVAH IS LIEF VIR SY LOJALE KNEGTE
14-15. Hoe voel Jehovah daaroor om sy lojale knegte te beloon? (Job 14:15) (Sien ook prent.)
14 Lees Job 14:15. Ons hemelse Vader het ’n spesiale band met dié wat lojaal is aan hom. Hulle is so kosbaar vir hom dat hy hulle, as hulle sou sterf, weer lewend sal maak. Hy sal die pyn wat deur die dood veroorsaak word, ongedaan maak. – Jes. 65:17.
15 Al het Job nog steeds in ’n wêreld gelewe wat deur Satan oorheers is, weet ons uit die betroubare verslag in die Bybel dat Jehovah Job se gesondheid herstel het en hom selfs meer seëninge gegee het as wat hy gehad het voordat hy getoets is. Daardie seëninge was net ’n voorsmakie van wat Jehovah in die toekoms vir Job sal doen. Jehovah het gewys dat hy wil hê dat sy lojale knegte heeltemal gelukkig moet wees en die lewe moet geniet. Om die waarheid te sê, Jehovah sal almal wat lojaal bly, die geleentheid gee om volmaakte lewe op ’n paradysaarde te geniet (Op. 21:3, 4). As die Soewereine Heerser van die heelal het hy die begeerte om dit te doen. Daardie gedagte vertroos ons baie wanneer ons moeilike tye moet verduur!
Ná sy moeilike tye het Job en sy vrou ryk seëninge van Jehovah geniet (Sien paragraaf 14-15)
16. Wat is nog ’n rede hoekom ons op Jehovah as die Soewereine Heerser kan vertrou?
16 Ná ’n lang lewe het Job uiteindelik gesterf. Maar Jehovah is die Soewereine Heerser, die Almagtige, wat selfs oor die dood mag het (Deut. 32:39). So niemand kan keer dat hy dié wat hy liefhet, opwek nie. En dit sal gebeur op ’n tyd wat hy kies. – Rom. 8:38, 39.
VERTROU HEELTEMAL OP JEHOVAH
17. Wat wys dat Satan misluk het in sy pogings om Jehovah se volk uit te wis?
17 Die Bybelverslag van Job voorsien ons van vaste redes om heeltemal op Jehovah te vertrou. Ons is baie dankbaar dat Satan misluk het in sy pogings om Jehovah se volk uit te wis! Vandag is omtrent negemiljoen getroue knegte van Jehovah ’n lewende bewys van die ware Soewereine Heerser se krag. Ons het oor en oor gesien dat wapens wat teen Jehovah se knegte gevorm word, nie suksesvol is nie (Jes. 54:17). Kragtige nasies en godsdiensorganisasies kon dit nie regkry om Jehovah se volk wat onbeskermd lyk, te vernietig nie. En niks kan ons keer om die waarheid omtrent Jehovah te versprei en om te wys dat Satan ’n bedrieër en ’n moordenaar is nie. Selfs die dood kan ons nie keer nie omdat Jehovah enige iemand wat lojaal aan hom sterf, weer lewend sal maak. – Hos. 13:14.
18. Hoekom kan ons die toekoms met vertroue aanpak?
18 Terwyl ons oor die ware verhaal van Job nadink, versterk ons ons geloof dat ons die toekoms met vertroue kan aanpak. Gedurende die groot verdrukking sal dit lyk asof dit maklik is om God se volk aan te val en asof Satan en dié wat hom ondersteun, die oorhand gekry het. Maar net soos in Job se dag sal Jehovah heeltemal in beheer wees en nie toelaat dat Satan enige permanente skade veroorsaak nie. Die tyd kom vinnig nader wanneer Jehovah die lyding wat Satan oor die mensdom gebring het, sal beëindig. Die Duiwel en sy demone sal vir 1 000 jaar in ’n afgrond opgesluit word (Luk. 8:31; Op. 20:1-3). Satan en almal aan sy kant sal uiteindelik vernietig word (Op. 20:10). Soos Jehovah gesê het, sal Satan se kop vergruis word. Hy sal eens en vir altyd heeltemal vernietig word. – Gen. 3:15; Rom. 16:20.
19. Watter beloning wag op dié wat heeltemal op Jehovah vertrou? (Sien ook prent.)
19 Ware aanbidders sien gretig uit na die herstelling van volmaakte lewe en geluk in die nuwe wêreld wat binnekort hier sal wees. Die lewe sal selfs beter wees as wat ons ons kan indink. Jehovah belowe: “Kyk! Ek maak alles nuut” (Op. 21:5). Wat sal dit behels? Vir die eerste keer in duisende jare sal die mens vry wees van die korrupte, haatlike, vernietigende invloed van Satan en sy demone. Die gevoel van verligting sal wonderlik wees! Die angstighede van hierdie ou wêreld sal nooit weer veroorsaak dat jy ’n slapelose nag het nie. Dié wat Armageddon oorleef, sal sien hoe mense regoor die wêreld wonderdadig genees word. En ons geliefdes wat gesterf het, sal uiteindelik opgewek word. Ons sal ook die lewe kan geniet soos ons hemelse Vader wou hê ons moes!
Getroue knegte wat in die verlede moeilike tye verduur het, sal Jehovah se ryk seëninge geniet (Sien paragraaf 19)
20. Wat is jy vasbeslote om te doen?
20 Terwyl ons enige oorblywende moeilike tye in hierdie laaste dae moedig deurmaak, laat ons vasbeslote wees om heeltemal op Jehovah te vertrou en sy soewereiniteit te ondersteun. Laat ons ons liefde vir ons hemelse Vader wys en bewys dat Satan verkeerd is. Ja, ons kan met vertroue na die toekoms kyk onder die heerskappy van ons Soewerein, Jehovah, wat baie graag sy getroue knegte grootliks wil beloon!
LIED 153 Maak my moedig