Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Maart bl. 2-7
  • Verbeter jou onderrigvermoë in die bediening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verbeter jou onderrigvermoë in die bediening
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GEE OM VIR JOU LUISTERAARS
  • MAAK STAAT OP GOD SE WOORD
  • FOKUS OP JEHOVAH
  • HOU AAN OM JOU ONDERRIGVERMOË TE VERBETER
  • Help Bybelstudente om ’n standpunt vir die waarheid in te neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Help ander om Jehovah te leer ken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Dié wat “die regte gesindheid” het, sal reageer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Maart bl. 2-7

4-10 MEI 2026

LIED 53 Gereed om te preek

Verbeter jou onderrigvermoë in die bediening

“Verkondig die woord . . . met alle geduld en deur goed te onderrig.” – 2 TIM. 4:2.

FOKUS

Drie maniere hoe ons ons onderrigvermoë in die bediening kan verbeter.

1. Watter vaardigheid moet ons ontwikkel, en hoekom? (2 Timoteus 4:2) (Sien ook prent.)

JESUS het vir sy volgelinge gesê: “Maak dissipels . . . , en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het” (Matt. 28:​19, 20). Hierdie instruksie wys dat alle Christene onderrigters moet wees. Ja, Jehovah trek dié wat “die regte gesindheid” het, en die engele speel ’n rol daarin om ons na sulke mense te lei (Hand. 13:48; Joh. 6:44; Op. 14:6). Maar ons moet ons deel doen. Dink aan die voorbeelde wat die apostel Paulus en die apostel Barnabas gestel het. Die Bybel sê dat hulle, toe hulle in die sinagoge in Ikonium gepreek het, “so goed gepraat [het] dat ’n groot groep Jode sowel as Grieke gelowiges geword het” (Hand. 14:1). Paulus en Barnabas het beslis geleer hoe om “goed te onderrig”. (Lees 2 Timoteus 4:2.) En dit sal goed wees as alle Christene leer hoe om goed te onderrig.

Paulus praat met oortuiging in ’n sinagoge terwyl mense aandagtig luister. Barnabas wat daar naby sit, kyk vreugdevol hoe Paulus onderrig.

Ons kan leer hoe om ander “goed te onderrig” uit die voorbeelde van Jesus en sy dissipels, soos die apostel Paulus en die apostel Barnabas (Sien paragraaf 1)


2. Hoekom voel party Christene dalk dat hulle nie hulle onderrigvermoë kan verbeter nie?

2 Party voel dalk dat hulle nie hulle onderrigvermoë kan verbeter nie omdat hulle beperkte sekulêre opvoeding of natuurlike vermoë het. Party manne wat in die Bybel genoem word, het ook onbekwaam gevoel (Eks. 4:10; Jer. 1:6). Party voel dalk dat hulle nie goeie onderrigters is nie omdat dit lyk asof hulle nie die positiewe resultate kry wat ander kry nie. Nie almal met wie ons praat of wat ons ontmoet, sal natuurlik positief op die goeie nuus reageer nie. En die resultate wat ons kry, hang nie net af van hoe goed ons onderrig nie. Soos genoem is, maak Jehovah en die engele seker dat opregtes gevind word. Maar ons wil nog steeds ons bes doen om ons boodskap op ’n aanloklike manier aan te bied. Om ons te help, sal hierdie artikel drie maniere bespreek hoe ons beter onderrigters kan word.

GEE OM VIR JOU LUISTERAARS

3. Hoekom kon Jesus sy luisteraars se harte raak?

3 Die Bybel sê dat Jesus “geweet [het] wat in die mens is” (Joh. 2:25). Hierdie woorde dra die gedagte oor dat Jesus geweet het hoe mense dink en wat hulle motiewe is. Jesus kon sy luisteraars se harte raak omdat hy hulle behoeftes verstaan het. Hy kon sien dat mense geestelik honger ly en dat hulle deur baie tradisies en mensgemaakte reëls onderdruk is (Matt. 9:36; 23:4). Jesus het in sy Bergpredikasie oor daardie einste kwessies gepraat. Baie mense het dit geniet om na Jesus te luister omdat hy oor dinge gepraat het wat hulle persoonlik geaffekteer het.

4. Hoe kan ons wys dat ons vir mense omgee? (Sien ook prente.)

4 Ons kan wys dat ons vir die mense wat ons ontmoet, omgee deur hulle bekommernisse te probeer verstaan. Elke persoon vir wie ons preek, word op die een of ander manier deur Satan se korrupte wêreld geaffekteer. As ons dit in gedagte hou, kan dit ons help om empatie te hê met die mense in ons gebied. Byvoorbeeld, is daar ’n onlangse nuusgebeurtenis waaroor dié in ons gebied dalk bekommerd is? Is ouers bekommerd oor die veiligheid van hulle kinders by die skool? Is werkloosheid algemeen? Probeer jou indink hoe die lewe moet wees vir mense terwyl hulle hierdie “swaar tye” ondervind sonder die hoop wat die Bybel bied. – 2 Tim. 3:1; Jes. 65:​13, 14.

Collage: ’n Suster berei vir die bediening voor deur aan die omstandighede van die mense in haar gebied te dink. 1. ’n Ma hou haar jong seun beskermend vas terwyl ’n man hulle met sy vuis dreig. 2. ’n Jong vrou rook ’n sigaret. 3. ’n Bejaarde vrou ontvang slegte nuus oor haar gesondheid by ’n dokter.

Probeer om die omstandighede van dié wat jy leer, te verstaan en leer om vir hulle om te gee (Sien paragraaf 4)


5. As ’n onderrigter, hoe het Jesus van die Fariseërs verskil? (Matteus 11:​28-30)

5 Jesus het vir sy luisteraars omgegee, en hulle kon dit sien in die manier hoe hy hulle behandel het. Hy was baie anders as die Fariseërs, wat op die gewone mense neergekyk het en hulle dikwels sleg behandel het! (Matt. 23:13; Joh. 7:49). Maar Jesus het mense met liefde en respek behandel. Hy was “saggeaard en nederig van hart,” en dit het bygedra tot die feit dat hy ’n effektiewe onderrigter was. (Lees Matteus 11:​28-30.) Ons moet ook ons luisteraars met liefde en respek behandel.

6. Hoe kan ons liefdevol en respekvol wees teenoor dié wat ons boodskap verwerp of teëstaan?

6 Party verwerp ons boodskap of staan dit selfs teë. Hoe moet ons reageer? Jesus het ons beveel om meer te doen as om teenstand net te verdra. Hy het gesê dat ons ‘goed moet doen aan die mense wat ons haat,’ ‘mense moet seën wat ons vervloek’ en selfs ‘moet bid vir die mense wat ons beledig’ (Luk. 6:​27, 28). Dit sal makliker wees om dit te doen as ons onthou dat daar dalk ’n rede is hoekom dié wat ons boodskap verwerp, nie na ons wil luister nie. Dit is waar dat party direkte teenstanders is. Maar ander is dalk ontsteld as gevolg van ’n gesinsprobleem of angstig oor ’n situasie wat niks met ons te doen het nie. Dalk het ons hulle net op ’n slegte tyd besoek. In alle gevalle moet ons die volgende raad volg: “Laat [ons] woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat [ons] kan weet hoe [ons] elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:6). As ons empatie met mense het en hulle behoeftes probeer verstaan, sal ons minder geneig wees om aanstoot te neem en kan ons beter onderrigters wees.

MAAK STAAT OP GOD SE WOORD

7. Hoe het Jesus gewys dat hy op God se Woord staatmaak wanneer hy onderrig het? (Johannes 7:​14-16)

7 Jesus het nie op sy eie kennis staatgemaak nie. Sy onderrigting was gebaseer op God se Woord, wat hy op maniere toegepas het wat sy gehoor maklik kon verstaan en onthou. Die Bybel sê vir ons dat Jesus mense geleer het “soos iemand wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie”. Die mense “was verstom” daaroor (Mark. 1:22.) Die skrifgeleerdes in Jesus se dag het baie gerespekteerde rabbi’s aangehaal om hulle leringe te ondersteun. Maar Jesus het die geïnspireerde Skrif vryelik aangehaal. As die Seun van God wat voorheen in die hemel gelewe het, kon hy sy eindelose wysheid gebruik het om sy luisteraars te beïndruk en selfs te oorweldig. Maar hy het nie. Hy het eerder sy onderrigting op God se wil en Woord gebaseer. (Lees Johannes 7:​14-16.) Jesus het ’n uitstekende voorbeeld vir sy volgelinge gestel.

8. Hoe het die apostel Petrus Jesus se voorbeeld nagevolg?

8 Jesus se dissipels het ook op God se Woord staatgemaak wanneer hulle onderrig het. Kyk byvoorbeeld na die toespraak wat die apostel Petrus op Pinksterdag 33 HJ gegee het. Petrus was nie ’n hooggeleerde man nie. Maar hy het die harte van sy luisteraars geraak met sy skriftuurlike verduideliking van die profesieë wat Jesus vervul het (Hand. 2:​14-37). Die resultaat? “Dié wat sy woorde met blydskap aanvaar het, is . . . gedoop, en op daardie dag is omtrent 3 000 mense bygevoeg.” – Hand. 2:41.

9. Hoekom moet ons op God se Woord staatmaak wanneer ons onderrig?

9 Daar is nie ’n beter stuk gereedskap om ons luisteraars se harte te bereik as die Woord van God nie (Heb. 4:12). Daarom moet ons op die Bybel fokus wanneer ons onderrig. Ons wil “die woord” verkondig, nie ons eie idees nie (2 Tim. 4:2). Spreuke 2:6 sê: “Jehovah gee wysheid, en sy woorde gee ’n mens kennis en insig.” So wanneer ons uit die Bybel onderrig, laat ons, in ’n sekere sin, Jehovah praat (Mal. 2:7). Ons wil hê dat mense moet weet dat die Bybel iets bevat wat ver verhewe is bo menslike wysheid. Dit is deur God geïnspireer en gee vir ons die kennis wat ons nodig het sodat ons ons Skepper gelukkig kan maak en ’n gelukkige en betekenisvolle lewe kan hê. – 2 Tim. 3:​16, 17.

10. Hoe kan ons ’n Bybelstudent se aandag op God se Woord vestig?

10 Terwyl jy voorberei om ’n Bybelstudie te hou, vind maniere om jou student se aandag te vestig op wat die Bybel leer. Al gebruik ons prente en video’s om lesse te leer, moet ons altyd fokus op wat die Bybel sê. So lees die sleuteltekste saam en help jou student om daaroor te redeneer. Wanneer jy na prente en video’s verwys, maak seker dat die student die basiese Bybelbeginsels verstaan wat hy geleer word. Jy hoef nie baie te sê of baie tekste te lees om dit reg te kry nie. Gee die student eerder tyd om die betekenis van elke teks wat gelees word, te absorbeer, en lees ’n teks selfs weer as dit nodig is. Deur dit te doen, leer ons nie ’n persoon wat ’n boek, prent of video sê nie, maar ons leer hom wat die Bybel sê. – 1 Kor. 2:13.

11-12. (a) Hoe kan ons geduldig wees met ons Bybelstudente? (Handelinge 17:​1-4) (Sien ook prent.) (b) Wat besef party dalk nie oor die Bybel nie, en hoe kan ons hulle help?

11 As jou student sukkel om ’n sekere punt te aanvaar, onthou om “die woord . . . met alle geduld [te verkondig]”. Almal vorder nie teen dieselfde pas nie. Party studente het dalk meer tyd nodig om waarhede te verstaan wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Paulus moes op verskeie geleenthede vir die Jode in Tessalonika preek en uit die Skrif met hulle redeneer voordat party van hulle die punt verstaan het. – Lees Handelinge 17:​1-4.

12 Nog ’n manier hoe ons geduldig kan wees, is deur ons studente vrae te vra sodat ons kan hoor hoe hulle voel en deur enige begeerte om dalk te veel te praat, te weerstaan. Probeer om mooi te luister en hulle denke te verstaan. Lees en bespreek dan spesifieke tekste om hulle te help om God se denke oor die saak te verstaan. Dink ook hieraan: Party mense is glad nie bekend met die Bybel nie en het geen idee wat dit bevat nie. Sal dit help om vir hulle ’n gedrukte Bybel te wys? Jy kan verwys na “’n Inleiding tot God se Woord”, wat voor in die Nuwe Wêreld-⁠vertaling is, om te wys dat die Bybel ’n magdom inligting bevat. Jy kan dan die praktiese waarde van die inhoud illustreer deur een of twee tekste onder vraag 15 te gebruik om te verduidelik hoe die Bybel ons kan help om geluk te vind. So, as jy vir jou Bybelstudente die krag van God se Woord wys, sal jou onderrigting effektiewer wees.

Die suster van die vorige prent hou ’n Bybelstudie op ’n bankie in die buitelug met die jong vrou wat gerook het. Dit suster luister aandagtig terwyl die vrou sê hoe sy voel.

Om ’n goeie onderrigter te wees, moet jy meer luister as wat jy praat (Sien paragraaf 11-12)


FOKUS OP JEHOVAH

13. Op wie moet ons die aandag vestig wanneer ons onderrig? Illustreer.

13 Ons doelwit is om ons luisteraars te help om Jehovah te leer ken en om nader aan hom te kom (Jak. 4:8). In daardie opsig kan ons ons werk vergelyk met dié van ’n persoon wat die beligting in ’n teater doen. Gedurende die vertoning skyn hy nie die lig op homself nie. Hy skyn dit eerder op die hoofkarakters en verseker dat hulle in die kollig is. Wanneer ons onderrig, moet ons dieselfde doen – ons vestig die aandag op Jehovah, nie op onsself nie.

14. Hoe kan ons ons student help om op Jehovah te fokus?

14 Wanneer jy ’n Bybelstudie hou, help jou student om die begeerte te ontwikkel om Jehovah gelukkig te maak (Spr. 27:11). Jy leer nie net die student wat reg en wat verkeerd is sodat hy een van Jehovah se Getuies kan word nie. Jy wil hê dat jou student veranderinge moet maak om Jehovah gelukkig te maak. Byvoorbeeld, as jou student sukkel om ’n slegte gewoonte te oorkom, vra hom vrae soos: “Hoekom haat Jehovah hierdie gebruik? Hoekom vereis Jehovah dat jy iets wat jy geniet, moet opgee? Hoe wys hierdie vereiste dat Jehovah jou liefhet?” Hoe meer jy jou student motiveer om oor Jehovah te dink, hoe meer sal hy sien wat ’n wonderlike Vader ons het. Dit sal jou student dan help om Jehovah gelukkig te wil maak.

HOU AAN OM JOU ONDERRIGVERMOË TE VERBETER

15. Wat kan jy doen om jou onderrigvermoë te verbeter?

15 Jy kan Jehovah in gebed vra om jou te help om jou onderrigvermoë te ondersoek om te sien waar jy kan verbeter (1 Joh. 5:14). Jy kan in ooreenstemming met jou gebede werk deur aandag te skenk aan die opleiding wat Jehovah by gemeentelike vergaderinge gee. Jy kan bekwame onderrigters nooi om saam met jou na jou Bybelstudie te gaan. Vra hulle dan vir terugvoering. Onthou ook dat jou student nie die materiaal so goed ken as wat jy dit ken nie. Probeer om deur sy oë na die materiaal te kyk. Help dan jou student om te besef dat ons boodskap werklik goeie nuus is. Dit kan hom beweeg om ’n hegte vriendskap met Jehovah te ontwikkel en kan hom regtig gelukkig maak. – Ps. 1:​1-3.

16. Hoe sal ons daarby baat vind as ons aanhou om ons onderrigvermoë te verbeter?

16 Om ander oor Jehovah te leer, is een van die grootste vreugdes wat ons kan ondervind. En in die nuwe wêreld sal daar baie mense wees wat geleer moet word. So laat ons aanhou om vir ons luisteraars om te gee, om op God se Woord staat te maak en om op Jehovah te fokus terwyl ons die goeie nuus verkondig. Deur dit te doen, kan ons ons onderrigvermoë in die bediening verbeter.

HOE KAN JY WYS DAT JY . . .

  • vir jou luisteraars omgee?

  • op God se Woord staatmaak?

  • op Jehovah fokus?

LIED 65 Gaan vooruit!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel