Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Oktober bl. 6-11
  • Jehovah is ons “groot vreugde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah is ons “groot vreugde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE BRON VAN WARE GELUK EN VREUGDE
  • MOENIE TOELAAT DAT ENIGE IETS JOU VAN JOU VREUGDE BEROOF NIE
  • Vreugde — ’n Eienskap wat ons van God kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Hoe om die bediening meer te geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Oktober bl. 6-11

STUDIEARTIKEL 40

LIED 111 Ons redes tot vreugde

Jehovah is ons “groot vreugde”

“Ek [sal] gaan, na God, my groot vreugde.” – PS. 43:4.

FOKUS

Om ons te help identifiseer wat ons van ons vreugde kan beroof en hoe ons ons vreugde kan terugkry as ons dit verloor.

1-2. (a) Watter situasie ondervind baie mense vandag? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

ONS wêreld is obsessief daarmee om geluk na te jaag. En tog bly blywende vreugde buite bereik. Baie mense is oorweldig deur gevoelens van leegheid en hartseer. Jehovah se volk is nie immuun teen hierdie gevoelens nie. Omdat ons in “die laaste dae” lewe, verwag ons om situasies en emosies te ondervind wat “moeilik is om deur te kom”. – 2 Tim. 3:1.

2 In hierdie artikel sal ons bespreek watter dinge ons van ons vreugde kan beroof en hoe ons ons vreugde kan terugkry as ons dit verloor. Maar eerstens moet ons die Bron van ware geluk en vreugde identifiseer.

DIE BRON VAN WARE GELUK EN VREUGDE

3. Wat leer die skepping ons omtrent Jehovah? (Sien ook prente.)

3 Jehovah was nog altyd gelukkig. En hy wil hê dat ons gelukkig en vreugdevol moet wees. So dit is nie verbasend dat ons sien hoe sy vreugde weerspieël word in sy skepping nie – ons pragtige planeet, die eindelose verskeidenheid kleure rondom ons, die spelerigheid van diere en ’n oorvloed lekker kos. God is regtig lief vir ons, en hy wil hê dat ons die lewe moet geniet!

Collage: Die spelerigheid van verskillende diere. 1. ’n Baba-olifant speel in die water. 2. Baba-pikkewyne loop oor die sneeu. 3. Baba-bokke spring vrolik rond in ’n veld. 4. Dolfyne spring uit die water.

Baba-olifant: Image © Romi Gamit/Shutterstock; baba-pikkewyne: Vladimir Seliverstov/500px via Getty Images; baba-bokke: Rita Kochmarjova/stock.adobe.com; twee dolfyne: georgeclerk/E+ via Getty Images

Die spelerigheid van diere weerspieël Jehovah se vreugde (Sien paragraaf 3)


4. (a) Hoe kan Jehovah gelukkig bly ten spyte van die lyding wat hy in die wêreld sien? (b) Wat is Jehovah se geskenk aan ons? (Psalm 16:11)

4 Al is Jehovah “die gelukkige God,” is hy ten volle bewus van die hartseer en lyding in die wêreld (1 Tim. 1:11). Maar hy het nie toegelaat dat hierdie realiteit sy vreugde laat afneem nie. Hy weet dat alle lyding tydelik is – hy het self die vervaldatum daarvoor gestel. En hy wag geduldig tot die dag dat hy alle hartseer en lyding vir ewig sal beëindig. Intussen verstaan Jehovah wat ons deurmaak, en hy wil ons help. Hoe help hy ons? Om maar een ding te noem, hy gee ons die geskenk van vreugde. (Lees Psalm 16:11.) Let op hoe hy daardie geskenk met sy Seun, Jesus, gedeel het.

5-6. Hoekom is Jesus vreugdevol?

5 Uit al die dinge wat Jehovah geskep het, is Jesus die gelukkigste. Hoekom? Kyk na twee redes. (1) “Hy is die beeld van die onsigbare God” en weerspieël sy Vader se persoonlikheid volmaak in elke opsig. (Kol. 1:15; sien die studienota “happy” vir 1 Timoteus 6:15 in nwtsty.) (2) Jesus het die meeste tyd deurgebring met sy Vader, wat die Bron van geluk is.

6 Jesus het nog altyd vreugde daarin gevind om te doen wat ook al sy Vader hom vra om te doen (Spr. 8:​30, 31; Joh. 8:29). As gevolg van sy getrouheid het hy Jehovah se guns en goedkeuring. – Matt. 3:17.

7. Hoe kan ons ware vreugde vind?

7 Ons kan ook ware vreugde vind deur nader aan Jehovah, die Bron van geluk, te kom. Hoe meer tyd ons daaraan spandeer om omtrent Jehovah te leer en hom na te volg, hoe gelukkiger sal ons wees. Ons sal ook vreugde daarin vind om God se wil te doen en om te weet dat ons sy goedkeuring het (Ps. 33:12).a Maar sê nou ons voel soms of selfs vir ’n lang tyd ’n gebrek aan vreugde? Beteken dit dat ons nie God se goedkeuring het nie? Nee! Ons is onvolmaak, en soms ondervind ons pyn, hartseer en depressie. Jehovah verstaan dit (Ps. 103:14). Kom ons bespreek watter dinge ons van ons vreugde kan beroof en hoe ons ons vreugde kan terugkry.

Vertrou op Jehovah vir vreugde

Bid vir Jehovah se heilige gees. Ons moet op Jehovah vertrou om vreugde te verkry omdat vreugde deel van die vrug van sy heilige gees is (Gal. 5:22). Met die hulp van Jehovah se heilige gees kan ons “ten volle . . . volhard met geduld en vreugde” selfs wanneer ons moeilike tye ondervind. – Kol. 1:11.

Fokus daarop om Jehovah te aanbid. Bestudeer gereeld God se Woord en ons publikasies. Gebruik elke geleentheid om die “goeie nuus . . . van groot vreugde” met ander te deel (Luk. 2:10). Dié wat die aanbidding van Jehovah ’n prioriteit maak, is die gelukkigste mense. – Ps. 65:4.

Gehoorsaam Jehovah ten alle tye. Onthou dat Jehovah se wette tot jou voordeel is. Gehoorsaamheid aan Jehovah beperk nie ons vryheid nie, dit lei eerder tot ons geluk. – Luk. 11:28.

MOENIE TOELAAT DAT ENIGE IETS JOU VAN JOU VREUGDE BEROOF NIE

8. Watter uitwerking kan die lewe se probleme op ons hê?

8 Dief nr. 1: Die lewe se probleme. Ondervind jy die gevolge van vervolging, ’n natuurramp, armoede, siekte of die ouderdom? Ons kan maklik van ons vreugde beroof word wanneer ons sulke probleme ondervind, veral wanneer ons min of geen beheer oor ’n situasie het nie. Die Bybel erken realisties: “’n Hart vol pyn breek ’n mens se gees” (Spr. 15:13). Babis, ’n ouerman wat sy broer en albei sy ouers binne vier jaar aan die dood verloor het, sê: “Ek het alleen en hulpeloos gevoel. Soms het ek ook verdeeld gevoel omdat ek so baie gehad het om te hanteer en omdat ek nie kwaliteittyd met my ouers en my broer kon deurbring voordat hulle gesterf het nie.” Die lewe se probleme kan ons beslis fisies en emosioneel dreineer.

9. Wat kan ons help om ons vreugde terug te kry? (Jeremia 29:​4-7, 10)

9 Wat kan ons help om ons vreugde terug te kry? Ons kan ons vreugde terugkry deur realisties en dankbaar te wees. Die wêreld bevorder die idee dat ons lewe perfek moet wees vir ons om gelukkig te wees. Maar dit is nie waar nie. Byvoorbeeld, Jehovah het vir die Jode in Babilon gesê om hulle nuwe realiteit as gevangenes in ’n vreemde land te aanvaar en om hulle bes onder daardie moeilike omstandighede te doen. (Lees Jeremia 29:​4-7, 10.) Die les? Probeer om jou omstandighede te aanvaar, en wees dankbaar vir die goeie dinge in jou lewe. Onthou, Jehovah sal jou help (Ps. 63:7; 146:5). Effie, wat in ’n ongeluk was wat haar verlam gelaat het, sê: “Ek het baie hulp en ondersteuning ontvang van Jehovah, my familie en die gemeente. Daarom het ek gevoel dat ek ondankbaar sou wees as ek net opgee. Ek wil vir Jehovah en die broers en susters wys dat ek dankbaar is vir al hulle hulp.”

10. Hoekom kan ons vreugdevol wees selfs wanneer ons probleme ondervind?

10 Selfs wanneer ons lewe allesbehalwe ideaal is of wanneer verskriklike dinge met ons of met ons familie gebeur, kan ons nog steeds vreugdevol wees (Ps. 126:5).b Hoekom? Want ons vreugde hang nie van ons omstandighede af nie. Maria, ’n pionier, sê: “Wanneer jy probleme ondervind, beteken dit nie dat jy jou gevoelens onderdruk as jy vreugdevol bly nie. Dit beteken eerder dat jy nie Jehovah se beloftes vergeet het nie. Ons Vader sal ons help om ons vreugde te beskerm.” Onthou, ongeag hoe moeilik dinge nou is, al ons probleme is tydelik – soos voetstappe op ’n strand. Dit sal binnekort weggespoel word, asof dit nooit daar was nie.

11. Hoe moedig die apostel Paulus se voorbeeld jou aan?

11 Sê nou ons begin wonder of ons probleme bewys dat ons Jehovah se goedkeuring verloor het? Dit kan ons help om te dink aan ander getroue knegte van Jehovah wat baie moeilike situasies ondervind het. Dink aan die voorbeeld van die apostel Paulus. Hy is deur Jesus self gekies om die waarheid na “die nasies sowel as konings en die Israeliete” te bring (Hand. 9:15). Wat ’n voorreg! Tog was Paulus se lewe allesbehalwe probleemvry (2 Kor. 11:​23-27). Dit het gelyk asof daar nie ’n einde aan Paulus se moeilike tye was nie. Maar het dit beteken dat hy Jehovah se goedkeuring verloor het? Natuurlik nie! Om die waarheid te sê, sy volharding het bewys dat hy Jehovah se seën gehad het (Rom. 5:​3-5). Dink nou aan jou situasie. Jy volhard getrou ten spyte van al die moeilike tye wat jy ondervind. So jy kan ook seker wees dat jy Jehovah se goedkeuring het.

12. Hoe kan onvervulde verwagtinge ons van ons vreugde beroof?

12 Dief nr. 2: Onvervulde verwagtinge (Spr. 13:12). Ons liefde en dankbaarheid vir Jehovah motiveer ons om doelwitte in sy diens te stel. Maar as die doelwitte wat ons stel, nie realisties vir ons omstandighede is nie, kan ons mismoedig raak (Spr. 17:22). ’n Pionier met die naam Holly sê: “Ek wou die Skool vir Koninkrykspredikers bywoon, in ’n ander land gaan dien of aan die Ramapo-bouprojek werk. Maar my omstandighede het verander, en ek kon nie meer daardie doelwitte nastreef nie. Ek was teleurgesteld. Dit is frustrerend wanneer jy dinge wil bereik, maar jy kan nie.” Baie voel dieselfde.

13. As ons omstandighede beperk wat ons kan doen, watter realistiese doelwitte kan ons stel?

13 Wat kan ons help om ons vreugde terug te kry? Onthou dat Jehovah nie veeleisend is nie. Hy verwag nie te veel van ons nie; en hy bepaal nie ons waarde gebaseer op wat ons in sy diens kan bereik nie. Jehovah wil hê dat ons beskeie en getrou moet wees (Miga 6:8; 1 Kor. 4:2). Hy gee meer om oor wie ons van binne is as oor wat ons doen. Sou dit redelik wees om meer van onsself te verwag as wat Jehovah verwag?c Beslis nie! So as jou omstandighede beperk wat jy in Jehovah se diens kan doen, moet jy probeer fokus op wat binne jou bereik is. Kan jy ’n mentor word vir jong persone of bejaardes aanmoedig? Kan jy die doelwit stel om iemand in persoon, oor die telefoon of selfs deur middel van ’n teksboodskap aan te moedig? Jehovah sal jou met vreugde seën terwyl jy probeer om sulke betekenisvolle en realistiese doelwitte te bereik! En hou in gedagte dat ons binnekort in Jehovah se nuwe wêreld eindelose geleenthede sal hê om hom op maniere te dien wat ons ons nie eers kan voorstel nie! Holly, wat vroeër genoem is, het gesê: “Ek sit terug en dink by myself: ‘Ek het die ewigheid.’ Met Jehovah se hulp kan ek in die nuwe wêreld van my doelwitte bereik.”

14. Wat kan ons nog van ons vreugde beroof?

14 Dief nr. 3: Selfbevrediging. Party gebruik sosiale media om die idee te bevorder dat ’n mens ware geluk en tevredenheid sal vind as ons onsself tevrede stel. Mense word aangemoedig om dinge soos stokperdjies, inkopies en reis hulle hooffokus te maak. Dit is nie verkeerd om hierdie dinge te geniet nie. Jehovah het ons so gemaak dat ons pragtige dinge kan waardeer. Maar baie het gevind dat die dinge wat hulle gedink het vir hulle vreugde sou bring, hulle eintlik daarvan beroof het. Eva, ’n pionier, sê: “Wanneer jou lewe daarom draai om jouself tevrede te stel, is niks ooit genoeg nie.” Selfbevrediging kan ons teleurgesteld en leeg laat voel.

15. Watter les kan ons by koning Salomo leer?

15 Ons kan uit koning Salomo se ondervinding leer wanneer dit kom by die hartseer gevolge van selfbevrediging. Hy het geluk probeer vind deur sy persoonlike begeertes te bevredig, soos om goeie kos, pragtige musiek en al die goeie dinge wat geld in sy dag kon koop, te geniet. Maar dit het hom nie gelukkig gemaak nie. Hy het gesê: “Die oog kry nie genoeg van sien nie, en ook nie die oor van hoor nie” (Pred. 1:8; 2:​1-11). Die wêreld se idees oor wat ware vreugde bring, is soos vervalste geld. Dit lyk waardevol; maar dit kan nie vir ons gee wat dit belowe nie.

16. Hoe kan dit ons help om ons vreugde terug te kry as ons aan ander gee? (Sien ook prente.)

16 Wat kan ons help om ons vreugde terug te kry? Jesus het ons geleer: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). ’n Ouerman met die naam Alekos sê: “Ek fokus daarop om klein dingetjies vir ander te doen. Hoe meer ek gee, hoe minder fokus ek op myself, en dit maak my gelukkig.” Wat kan jy vir ander doen? As jy sien dat iemand sukkel, probeer hom aanmoedig. Jy sal dalk nie sy probleme kan oplos nie, maar jy kan hom vertroos deur met empatie te luister, deur meegevoel te betoon en deur hom daaraan te herinner dat hy sy las vir Jehovah moet gee (Ps. 55:22; 68:19). Jy kan hom ook verseker dat Jehovah hom nie verlaat het nie (Ps. 37:28; Jes. 59:1). Jy kan selfs aanbied om iets prakties vir hom te doen, soos om ’n ete voor te berei of om net saam met hom te gaan stap. Nooi hom om saam met jou velddiens te doen, iets wat hom sal laat beter voel. Laat toe dat Jehovah jou gebruik om ander aan te moedig. As ons op ander fokus eerder as op onsself, sal dit vir ons ware vreugde bring! – Spr. 11:25.

Collage: 1. ’n Suster sit alleen by ’n koffiewinkel en kyk na iets op haar foon. Sy is omring deur baie inkopiesakke. 2. Sy is gelukkig terwyl sy ’n bejaarde suster by haar huis besoek en vir haar ’n bos blomme bring.

Eerder as om te fokus op die dinge wat jy wil hê, fokus op die dinge wat ander nodig het (Sien paragraaf 16)d


17. Hoe hou ons vreugde verband met Jehovah? (Psalm 43:4)

17 Ons kan regtig gelukkig wees as ons aanhou om nader aan ons hemelse Vader te kom. Die Bybel verseker ons daarvan dat Jehovah ons “groot vreugde” is. (Lees Psalm 43:4.) So ongeag wat ons in die lewe ondervind, ons kan veilig voel. Laat ons dan bly fokus op Jehovah, die ewige Bron van ons vreugde! – Ps. 144:15.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom is Jehovah en Jesus gelukkig?

  • Wat kan ons van ons vreugde beroof?

  • Hoe kan ons ons vreugde terugkry wanneer ons dit verloor?

LIED 155 Vir ewig ons vreugde

a Sien die venster “Vertrou op Jehovah vir vreugde”.

b As ’n voorbeeld, sien op jw.org die onderhoud van Dennis en Irina Christensen in die Jongste nuus van die Bestuursliggaam vir 2023 – Nr. 5.

c Vir meer inligting, sien die artikel “Wees redelik in jou verwagtinge en wees vreugdevol” in Die Wagtoring van 15 Julie 2008.

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster gaan doen inkopies en koop baie dinge vir haarself, maar dit gee haar meer vreugde om blomme te koop vir ’n ouer suster wat aanmoediging nodig het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel