Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 September bl. 14-19
  • Betoon respek aan ander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Betoon respek aan ander
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT BETEKEN DIT OM ANDER TE RESPEKTEER?
  • BETOON RESPEK AAN GESINSLEDE
  • BETOON RESPEK AAN MEDEAANBIDDERS
  • BETOON RESPEK AAN DIÉ BUITE DIE GEMEENTE
  • Wat het geword van respek?
    Ontwaak!—2024
  • Neem jy die leiding in eerbetoning?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoekom moet ons gesag respekteer?
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Wat kan ek doen sodat ander my sal respekteer?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 September bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 38

Lied 120 Volg Christus se sagmoedigheid na

Betoon respek aan ander

“Dit is beter om gerespekteer te word as om silwer en goud te hê.” – SPR. 22:1.

FOKUS

Leer hoekom ons respek aan ander moet betoon en hoe ons dit onder moeilike omstandighede kan doen.

1. Hoekom waardeer mense dit wanneer hulle gerespekteer word? (Spreuke 22:1)

WAARDEER jy dit wanneer mense jou respekteer? Dit is beslis iets wat jy waardeer. Respek is iets wat alle mense nodig het. Ons floreer wanneer ander ons respekteer. Dit is geen wonder dat die Bybel sê dat dit “beter [is] om gerespekteer te word as om silwer en goud te hê” nie! – Lees Spreuke 22:1.

2-3. Wat is ’n paar situasies waarin ons ander moet respekteer?

2 Dit is dalk nie altyd vir ons maklik om ander te respekteer nie. Om maar een ding te noem, ons kan nie help om die tekortkominge van dié rondom ons raak te sien nie. En ons lewe in ’n tyd waar dit vir mense algemeen is om disrespekvol te wees. Maar ons moet anders wees. Hoekom? Omdat Jehovah wil hê dat ons “alle soorte mense” moet eer, of respekteer. – 1 Pet. 2:17.

3 Ons kan baat vind by ’n bespreking van wat dit beteken om ander te respekteer en hoe ons dit kan betoon aan (1) gesinslede, (2) medeaanbidders en (3) dié buite die gemeente. Ons sal fokus op hoe ons respek onder moeilike omstandighede kan betoon.

WAT BETEKEN DIT OM ANDER TE RESPEKTEER?

4. Wat beteken dit om ander te respekteer?

4 Hoe sal jy respek definieer? In party tale hou die woorde “respek” en “eer” verband met mekaar. Hoe? “Respek” verwys hoofsaaklik na hoe ons iemand beskou. Wanneer ons ander respekteer, beskou ons hulle as belangrik en dink ons dat hulle ons aandag verdien, dalk as gevolg van hulle eienskappe, hulle prestasies of hulle posisie. Maar “eer” verwys na hoe ons iemand behandel. Wanneer ons ander eer, behandel ons hulle op maniere wat hulle laat voel dat ons hulle waardeer en dat ons hulle as waardig beskou. As ons iemand opreg wil eer, moet dit natuurlik uit die hart uit kom. – Matt. 15:8.

5. Wat kan ons help om ander te respekteer?

5 Jehovah wil hê dat ons ander moet respekteer; om die waarheid te sê, hy sê vir ons om “die hoër owerhede” te respekteer (Rom. 13:​1, 7). Maar party mense sê dalk: “Ek is bereid om mense te respekteer, solank hulle dit verdien het.” Is dit die regte manier om daaroor te redeneer? As knegte van Jehovah besef ons dat enige respek wat ons vir mense het, nie net op hulle dade gebaseer is nie. Dit is op iets diepers gebaseer – ons liefde vir Jehovah en ons begeerte om hom gelukkig te maak. – Jos. 4:14; 1 Pet. 3:15.

6. Is dit moontlik om iemand te respekteer wat jou nie respekteer nie? Verduidelik. (Sien ook prent.)

6 Party wonder dalk: ‘Is dit regtig moontlik om iemand te respekteer wat jou nie met respek behandel nie?’ Ja. Kyk na ’n paar voorbeelde. Koning Saul het sy seun Jonatan voor ander verneder (1 Sam. 20:​30-34). Maar Jonatan het sy pa respekvol ondersteun en saam met hom geveg tot die dag dat Saul gesterf het (Eks. 20:12; 2 Sam. 1:23). Die hoëpriester Eli het Hanna daarvan beskuldig dat sy dronk is (1 Sam. 1:​12-14). Maar Hanna het op ’n respekvolle manier met Eli gepraat, al was sy foute as ’n pa en as ’n hoëpriester algemeen bekend in Israel (1 Sam. 1:​15-18; 2:​22-24). En manne van Atene het die apostel Paulus beledig en gesê dat hy “baie praat” (Hand. 17:18). Ten spyte hiervan het Paulus op ’n respekvolle manier met hulle gepraat (Hand. 17:22). Dit moet duidelik wees dat diep liefde vir Jehovah en ’n gesonde vrees om hom teleur te stel, ons kan beweeg om ander te respekteer, nie net wanneer dit maklik is nie, maar ook wanneer dit moeilik is. Kom ons bespreek wie ons respek verdien en hoekom.

Jonatan, Saul en Israelitiese soldate veg met hulle swaarde, spiese en skilde op ’n oorlogsveld.

Al het sy pa hom verneder, het Jonatan aangehou om sy pa as koning te verdedig en te ondersteun (Sien paragraaf 6)


BETOON RESPEK AAN GESINSLEDE

7. Wat maak dit dalk vir ons moeilik om gesinslede met respek te behandel?

7 Die uitdaging. Ons spandeer baie tyd saam met ons gesin. As gevolg daarvan weet ons wat hulle sterk punte en hulle swakhede is. Party het dalk ’n siekte wat dit vir ons moeilik maak om vir hulle te sorg, of hulle ly dalk aan verskriklike angstigheid. Ander sê of doen dalk selfs dinge wat ons seermaak. Eerder as om hulle huis ’n plek van rus en vrede te probeer maak, skep party probleme deur hulle gesinslede met ’n gebrek aan respek te behandel. As gevolg daarvan is daar geen eenheid nie. Soos artritis wat keer dat liggaamsdele goed saamwerk, keer disrespek dat gesinslede in eenheid saamwerk. Maar anders as artritis, wat ons nie heeltemal kan genees nie, kan ons keer dat disrespek ons gesinsverhoudings benadeel.

8. Hoekom is dit belangrik om ons gesinslede te respekteer? (1 Timoteus 5:​4, 8)

8 Hoekom moet ons respek betoon? (Lees 1 Timoteus 5:​4, 8.) In sy eerste brief aan Timoteus het Paulus bespreek hoe gesinslede in mekaar se behoeftes moet voorsien. Hy het verduidelik dat die hoofrede hoekom ons ons gesinslede op hierdie manier eer, nie moet wees omdat dit ons plig is nie, maar as gevolg van “toegewydheid aan God”. Hierdie term verwys na lojale aanbidding en diens aan God. Jehovah het die gesinsreëling ingestel (Ef. 3:​14, 15). So wanneer ons ’n gesinslid eer, eer ons eintlik Jehovah, die Insteller van die gesin. (Sien studienotas vir 1 Timoteus 5:4 in nwtsty.) Wat ’n kragtige rede is dit tog om ons gesinslede te respekteer!

9. Hoe kan ’n man en vrou mekaar respekteer? (Sien ook prente.)

9 Hoe om respek te betoon. ’n Man wat sy vrou eer, wys in privaat en in die openbaar dat sy vir hom kosbaar is (Spr. 31:28; 1 Pet. 3:7). Hy sal haar nooit slaan, verneder of waardeloos laat voel nie. Ariel,a wat in Argentinië bly, sê: “As gevolg van my vrou se siekte sê sy soms dinge wat my seermaak. Wanneer dit gebeur, herinner ek myself daaraan dat haar woorde nie haar ware gevoelens weerspieël nie. In gespanne oomblikke dink ek aan 1 Korintiërs 13:​5, wat my motiveer om op ’n respekvolle manier eerder as op ’n vernederende manier te kommunikeer” (Spr. 19:11). ’n Vrou eer haar man deur goed van hom te praat (Ef. 5:33). Sy vermy dit om sarkasties te wees, hom te spot en hom name te noem; sy besef dat sulke gedrag die roes is wat ’n huwelik wegvreet (Spr. 14:1). ’n Suster in Italië wie se man met angstigheid sukkel, sê: “Soms voel ek dat my man te bekommerd is oor dinge. In die verlede het my woorde en gesigsuitdrukkings gewys dat ek ’n gebrek aan respek vir hom het. Maar ek vind dat hoe meer ek met mense assosieer wat op ’n respekvolle manier van ander praat, hoe meer word ek beweeg om my man te respekteer.”

Collage: ’n Getroude paartjie behandel mekaar met respek. 1. Die man praat op ’n liefdevolle manier met sy vrou terwyl hulle kos in die kombuis voorberei. 2. Die vrou prys haar man voor hulle gaste terwyl hy vir ’n ouer broer kos gee.

Wanneer ons ons gesinslede respekteer, eer ons ons Gesinshoof, Jehovah (Sien paragraaf 9)


10. Hoe kan jongmense wys dat hulle hulle ouers respekteer?

10 Jongmense, wees gehoorsaam aan die gesinsreëls wat jou ouers vir jou stel (Ef. 6:​1-3). Praat op ’n respekvolle manier met jou ouers (Eks. 21:17). Soos hulle ouer word, sal jou ouers moontlik meer van jou aandag nodig hê. Doen jou bes om vir hulle te sorg. Kyk na die voorbeeld van María, wie se pa nie een van Jehovah se Getuies is nie. Toe haar pa siek geword het, het hy dit vir María moeilik gemaak om vir hom te sorg. Sy vertel: “Ek het Jehovah nie net gevra om my te help om respek vir my pa te hê nie, maar ook om vir hom te wys dat ek hom respekteer. Ek het geredeneer dat as Jehovah my vra om my ouers te eer, dit dan logies is dat hy my die krag kan gee om dit te doen. Met verloop van tyd het ek begin besef dat my pa nie sy gedrag hoef te verander vir my om hom met respek te behandel nie.” Wanneer ons ons gesinslede ten spyte van hulle tekortkominge respekteer, wys ons dat ons Jehovah se reëling respekteer.

BETOON RESPEK AAN MEDEAANBIDDERS

11. Hoekom is dit dalk moeilik om medeaanbidders met respek te behandel?

11 Die uitdaging. Medegelowiges lewe volgens Bybelstandaarde; maar soms behandel party ons dalk nie liefdevol nie, oordeel hulle ons onregverdig of irriteer hulle ons. As ons ‘’n rede het om te kla’ oor ’n medegelowige, sukkel ons dalk om hom met respek te bly behandel (Kol. 3:13). Wat kan ons help om dit te hanteer?

12. Hoekom is dit belangrik om medegelowiges te respekteer? (2 Petrus 2:​9-12)

12 Hoekom moet ons respek betoon? (Lees 2 Petrus 2:​9-12.) In sy tweede geïnspireerde brief het Petrus gesê dat party in die eerste-eeuse Christengemeente op ’n disrespekvolle manier gepraat het van “dié wat eer verdien”, dit wil sê Christenouermanne. Hoe het die getroue engele wat gesien het wat besig is om te gebeur, gereageer? “Uit respek vir Jehovah” het hulle nie ’n enkele beledigende woord oor daardie mense gesê nie. Dink net! Die volmaakte engele het geweier om sleg van daardie arrogante mans te praat. Hulle het dit eerder aan Jehovah oorgelaat om hulle te oordeel en te straf. (Rom. 14:​10-12; vergelyk Judas 9.) Ons kan ’n les by die engele leer. As ons nie ons teenstanders met disrespek moet behandel nie, hoeveel te meer moet ons dit vermy om medegelowiges met disrespek te behandel. Wat meer is, ons moet ‘die leiding neem’ om eer aan hulle te betoon (Rom. 12:10). As ons dit doen, wys ons dat ons Jehovah respekteer.

13-14. Hoe kan ons dié in die gemeente respekteer? Gee voorbeelde. (Sien ook prente.)

13 Hoe om respek te betoon. Ouermanne, probeer ander op ’n liefdevolle manier onderrig (Filem. 8, 9). As jy iemand moet raad gee, doen dit op ’n liefdevolle manier en nie wanneer jy gefrustreerd is nie. Susters, julle kan baie doen om die atmosfeer van respek in die gemeente te skep en te beskerm deur te weier om by negatiewe skinderpraatjies of laster betrokke te raak (Tit. 2:​3-5). Ons almal kan wys dat ons gemeentelike ouermanne respekteer deur met hulle saam te werk en deur vir hulle te sê dat ons die harde werk waardeer wat hulle doen om vergaderinge te hou, die leiding in die predikingswerk te neem en dié te help wat “’n verkeerde rigting” begin inslaan het. – Gal. 6:1; 1 Tim. 5:17.

14 ’n Suster met die naam Rocío het dit moeilik gevind om respek te hê vir ’n ouerman wat vir haar raad gegee het. “Ek het gevoel dat hy hard was op my,” sê sy. “Ek het by die huis negatief van hom gepraat. Al het ek probeer om dit nie te wys nie, het ek sy beweegredes bevraagteken en nie na sy raad geluister nie.” Wat het Rocío gehelp? Sy verduidelik: “Ek het in my Bybellees afgekom op 1 Tessalonisense 5:​12, 13. Toe ek besef dat ek nie respek het vir hierdie broer nie, het my gewete my begin pla. Ek het tot Jehovah gebid en navorsing gedoen in ons publikasies om spesifieke inligting te vind wat my kon help om my gesindheid te verander. Ek het uiteindelik besef dat die broer nie die probleem is nie, maar dat my trots die probleem is. Ek verstaan nou dat daar ’n verband is tussen my nederigheid en my vermoë om ander te respekteer. Ek moet nog steeds verbeter, maar terwyl ek respek probeer betoon, voel ek dat Jehovah my pogings waardeer.”

Collage: ’n Ouer suster lees haar Bybel en dink aan die verskillende maniere waarop die ouermanne hard werk. 1. ’n Ouerman gee ’n toespraak by ’n gemeentelike vergadering. 2. Hy help ’n broer in ’n rolstoel. 3. Hy verwyder sneeu buite die Koninkryksaal.

Ons almal kan wys dat ons gemeentelike ouermanne respekteer deur met hulle saam te werk en te sê dat ons die harde werk wat hulle doen, waardeer (Sien paragraaf 13-14)


BETOON RESPEK AAN DIÉ BUITE DIE GEMEENTE

15. Hoekom sukkel ons dalk om dié te respekteer wat nie Getuies is nie?

15 Die uitdaging. Ons ontmoet dikwels mense in die bediening wat lyk asof hulle nie lief is vir Bybelwaarheid nie (Ef. 4:18). Party mense weier om na ons boodskap te luister as gevolg van hoe hulle grootgemaak is. Ons het dalk te doen met werkgewers of skoolonderwysers wat moeilik is om tevrede te stel, en medewerkers of skoolmaats wat onbeskof of onvriendelik is. Met verloop van tyd kan ons respek vir sulke mense afneem en behandel ons hulle dalk nie soos ons graag behandel wil word nie.

16. Hoekom is dit belangrik om dié wat Jehovah nog nie dien nie, te respekteer? (1 Petrus 2:12; 3:15)

16 Hoekom moet ons respek betoon? Onthou dat Jehovah aandag skenk aan hoe ons ongelowiges behandel. Die apostel Petrus het Christene daaraan herinner dat hulle goeie gedrag party dalk sal beweeg om “God [te] verheerlik”. Daarom het hy hulle aangespoor om hulle geloof “met sagmoedigheid en diep respek” te verdedig. (Lees 1 Petrus 2:12; 3:15.) Of Christene nou hulle geloof verdedig in ’n hof of terwyl hulle met iemand anders praat, hulle moet ongelowiges behandel net soos hulle sou as hulle in die teenwoordigheid van God was. Ons weet dat Jehovah kyk en luister na wat ons sê en hoe ons dit sê. Wat ’n kragtige rede is dit tog om dié buite die gemeente met respek te behandel!

17. Hoe kan ons dié buite die gemeente respekteer?

17 Hoe om respek te betoon. Wanneer ons in die bediening is, wil ons nooit die indruk skep dat ons neerkyk op dié wat min of geen Bybelkennis het nie. Ons wil ander eerder as kosbaar vir God en as hoër as onsself beskou (Hag. 2:7; Fil. 2:3). As iemand jou beledig weens jou oortuigings, vermy dit om hom terug te beledig deur dinge te sê wat jou slim laat lyk maar wat sarkasties is (1 Pet. 2:23). As jy wel iets sê waaroor jy spyt is, vra dadelik om verskoning. Hoe kan jy dié by die werk respekteer? Wees ’n harde werker, en probeer ’n goeie gesindheid behou teenoor dié met wie jy werk en dié vir wie jy werk (Tit. 2:​9, 10). Wanneer jy eerlik en hardwerkend is, sal jy mense moontlik of moontlik nie altyd tevrede stel nie, maar jy sal God beslis tevrede stel. – Kol. 3:​22, 23.

18. Hoekom is dit die moeite werd om respek vir ander te ontwikkel en dit te betoon?

18 Ons het baie goeie redes om respek vir ander te ontwikkel en om dit te betoon! Ons het gesien dat ons ons Gesinshoof, Jehovah, eer wanneer ons ons gesin respekteer. Net so, wanneer ons ons geestelike broers en susters respekteer, eer ons ons hemelse Vader. En wanneer ons dié buite die gemeente respekteer, skep ons die beste moontlike omstandighede vir hulle om ons groot God te verheerlik, of te eer. Al respekteer party mense ons nooit, sal dit die moeite werd wees om respek vir hulle te ontwikkel en dit te betoon. Hoekom? Omdat Jehovah ons sal seën. Hy belowe: “Dié wat my eer, sal ek eer.” – 1 Sam. 2:30.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe kan ons gesinslede respekteer?

  • Hoe kan ons medeaanbidders respekteer?

  • Hoe kan ons dié buite die gemeente respekteer?

LIED 129 Ons sal volhard

a Party name is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel