Ons studie van Kom nader aan Jehovah begin die week van 6 Januarie
1. Watter geleentheid sal ons vanaf die week wat met 6 Januarie begin, hê om nader aan Jehovah te kom?
1 Jehovah wil hê dat ons nader aan hom moet kom (Jak. 4:8). Om ons te help om dit te doen, sal ons Kom nader aan Jehovah vanaf die week wat begin met 6 Januarie, tydens die Gemeentelike Bybelstudie bestudeer. Die voorwoord sê die volgende aangaande die doel van die boek: “As ons nadink oor hoe Jehovah elkeen van sy eienskappe openbaar, sien hoe Jesus Christus hulle volmaak weerspieël het en verstaan hoe ons hulle ook kan aankweek, sal dit ons nader aan God laat kom.” Gemeentes het hierdie boek gedurende 2004 en 2005 bespreek. Maar vir baie van die sowat tweemiljoen verkondigers wat sedertdien in die waarheid gekom het, sal dit die eerste keer wees dat Jehovah se innemende eienskappe breedvoerig bespreek sal word. Hierdie studie sal diegene wat die boek al voorheen bestudeer het, help om hulle waardering vir Jehovah se eienskappe te vergroot.—Ps. 119:14.
2. Hoe sal Kom nader aan Jehovah bestudeer word?
2 Hoe dit bestudeer sal word: Die studiehouer sal met ’n kort inleiding begin van dalk een of twee sinne. Die materiaal dui nie aan watter tekste gelees moet word nie, en daarom sal die studiehouer gedurende die studie sleuteltekste kies wat gelees sal word. Een of twee vrae kan ter hersiening aan die einde van elke les gevra word. As die materiaal die venster “Vrae om oor te peins” insluit, sal dit as die hersiening gebruik word. Die studiehouer kan na gelang van die tyd party van die teksverwysings in die venster laat lees en dan bykomende vrae vra om kommentare by die gehoor uit te lok.
3. Wat kan ons doen om ten volle by die studie van hierdie boek baat te vind, en waarom moet ons dit doen?
3 Vind ten volle baat: Berei voor al het jy hierdie boek voorheen bestudeer. Lewer kommentaar, want dit sal lof aan Jehovah bring, jou help om die inligting te onthou en ander wat teenwoordig is, tot voordeel strek (Ps. 35:18; Heb. 10:24, 25). Namate jy oor Jehovah se weergalose eienskappe peins, sal jy nader aan hom kom (Ps. 77:11-13). Dan sal jy meer vasbeslote wees om sy gebooie te gehoorsaam en meer gemotiveerd wees om ander van hom te vertel.—Ps. 150:1-6.