Neem die profete as ’n voorbeeld—Joël
1. Hoe kan ons Joël se nederigheid navolg terwyl ons preek?
1 Wie was die profeet Joël? Hy meld slegs dat hy “die seun van Petuel” was (Joël 1:1). Hierdie nederige profeet het die aandag gevestig op Jehovah se boodskap, nie op die rol wat hy as die boodskapper gespeel het nie. Net so probeer ons in ons bediening nie om lof en erkenning vir onsself te verkry nie, maar ons vestig eerder die aandag op Jehovah en die Bybel (1 Kor. 9:16; 2 Kor. 3:5). En die boodskap wat ons verkondig, gee ons krag. Watter aspekte van Joël se profesie kan ons vandag met ywer en hoop besiel?
2. Wat moet die nabyheid van Jehovah se dag ons beweeg om te doen?
2 “Die dag van Jehovah is naby” (Joël 1:15): Hoewel hierdie woorde duisende jare gelede geskryf is, lewe ons in die tyd van die finale vervulling daarvan. Verslegtende wêreldtoestande en die onverskilligheid en bespotting waarmee ons in ons gebied te kampe het, lewer duidelike bewys dat ons nou in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge lewe (2 Tim. 3:1-5; 2 Pet. 3:3, 4). Wanneer ons dink aan hoe naby die einde is, het ons alle rede om die bediening voorkeur in ons lewe te gee.—2 Pet. 3:11, 12.
3. Waarom is die bediening besonder belangrik terwyl die groot verdrukking naderkom?
3 “Jehovah sal ’n toevlug vir sy volk wees” (Joël 3:16): Die bewing waarvan hierdie vers praat, kan net van toepassing wees op die voltrekking van Jehovah se oordeel gedurende die groot verdrukking. Dit is vir ons bemoedigend om te weet dat Jehovah sy getroue knegte gedurende daardie tyd sal verlos (Op. 7:9, 14). Terwyl ons aan die predikingswerk deelneem en ondervind hoe Jehovah ons onderskraag en versterk, bou ons geloof en volharding op wat ons gedurende die komende groot verdrukking sal help.
4. Waarom kan ons bly wees en die toekoms met vertroue tegemoetgaan?
4 Hoewel party Joël se boodskap al as somber beskryf het, bied dit God se volk die wonderlike hoop op verlossing (Joël 2:32). Laat ons dus die toekoms met vertroue tegemoetgaan en die goeie nuus van God se Koninkryk ywerig verkondig terwyl ons ag slaan op die woorde van Joël 2:23: “Wees bly en verbly julle in Jehovah julle God.”