Meer geleenthede om Jehovah te loof
1. Watter nuwe reëling sal ons help om ‘Jehovah grootliks te prys’?
1 Vanaf Maart vanjaar het ’n nuwe reëling in werking getree wat verkondigers die geleentheid gee om elke Maart en April en gedurende die maand van die kringopsiener se halfjaarlikse besoek 30 uur aan die hulppionierdiens te bestee. As die besoek van die kringopsiener oor twee maande strek, kan verkondigers wat aansoek doen om 30 uur aan die hulppionierdiens te bestee, kies om dit gedurende enige van die twee maande te doen. Alle hulppioniers kan die hele vergadering bywoon wat hy met die gewone en spesiale pioniers hou. As die vereiste van 50 uur dus buite ons bereik is, kan ons Jehovah nogtans vier keer per jaar “grootliks prys” as hulppioniers wat 30 uur aan die bediening bestee!—Ps. 109:30; 119:171.
2. Wat sal dié wat gedurende die kringopsiener se besoek hulppionierdiens doen, geniet?
2 Gedurende die kringopsiener se besoek: Dit sal nou vir baie meer moontlik wees om gedurende die kringopsiener se besoek hulppionierdiens te doen en wedersydse aanmoediging te geniet wanneer hulle saam met hom in die bediening werk (Rom. 1:11, 12). Baie hulppioniers sal waarskynlik gedurende die week ’n dag verlof neem sodat hulle saam met die kringopsiener kan werk. Dié wat gedurende die week sekulêre werk doen, kan hom vra of hy Saterdag of Sondag saam met hulle sal werk. En hoe aanmoedigend sal dit tog vir die hulppioniers wees om die pioniervergadering saam met die gewone en spesiale pioniers by te woon!
3. Waarom is die Gedenkmaalseisoen ’n uitstekende tyd om aan die hulppionierdiens deel te neem?
3 Gedurende Maart en April: Diegene wat gebruik gemaak het van die vorige reëling om een maand gedurende die Gedenkmaalseisoen 30 uur as hulppioniers in die bediening te bestee, kan nou hulle “lofoffer” verdubbel! (Heb. 13:15). Maart sowel as April bied uitstekende geleenthede om ons bediening as hulppioniers uit te brei. Elke jaar gedurende hierdie maande neem ons deel aan ’n genotvolle kampanje om mense na die Gedenkmaal te nooi. Omdat baie hulle bediening gedurende die Gedenkmaalseisoen uitbrei, kan ons ook saam met verskillende verkondigers werk. Ná die Gedenkmaal gaan ons terug na belangstellendes wat dit bygewoon het en wek ons geesdrif vir die spesiale openbare toespraak. Sal jou hart jou beweeg om gebruik te maak van hierdie bykomende geleenthede om aan die hulppionierdiens deel te neem?—Luk. 6:45.