Ons moet ons ywer vir die bediening behou
1 Jehovah se Getuies het elke jaar sedert 1992 ywerig meer as ’n miljard uur aan die wêreldwye Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk gewy. Hoe bly is ons tog dat ons ’n klein aandeel aan hierdie wonderlike bedrywigheid gehad het!—Matt. 28:19, 20.
2 Natuurlik kom alle dank en lof Jehovah toe, wat ons gedurende hierdie “kritieke tye” in ons bediening onderskraag (2 Tim. 3:1). Wat moet ons doen as ons wil aanhou om ywerig aan hierdie belangrike werk deel te neem?
3 Grondslag vir ywer: Innige liefde vir God en ons naaste, sowel as ’n opregte begeerte om ons toewyding na te leef, spoor ons aan in ons Koninkryksdiens (Matt. 22:37-39; 1 Joh. 5:3). Liefde beweeg ons om opofferings te maak sodat ons soveel moontlik in die predikingswerk kan doen.—Luk. 9:23.
4 Span jou in om jou ywer te behou: Ons teenstander die Duiwel doen alles in sy vermoë om ons ywer vir die bediening te laat afneem. Die onverskilligheid van mense in ons gebied, die afleidings van hierdie wêreld, die druk van die daaglikse lewe en bekommernis oor ons verswakkende gesondheid is net ’n paar van die dinge wat hy gebruik in ’n poging om ons te ontmoedig.
5 Ons moet ons dus inspan om ywerig te bly. Dit is belangrik dat ons “die liefde wat [ons] eers gehad het”, lewendig hou. Dit behels dat ons God se Woord, die Bybel, gereeld lees en daaroor peins en al die geestelike voorsienings van “die getroue en verstandige slaaf” benut.—Op. 2:4; Matt. 24:45; Ps. 119:97.
6 Soos Bybelprofesieë duidelik toon, kom Jehovah se dag vir die vernietiging van die goddelose mense vinnig nader (2 Pet. 2:3; 3:10). Laat ons, terwyl ons dit duidelik voor oë hou, ons inspan om ons ywer vir die bediening te behou en soveel moontlik te doen in die wêreldwye Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk wat nou aan die gang is!