Vraebus
◼ Hoe moet die openingslied van die Teokratiese Bedieningskool, die Diensvergadering, die Openbare Vergadering en die Wagtoring-studie aangekondig word, en deur wie?
Die gekose openingslied vir elke week van die Teokratiese Bedieningskool word gemeld in die rooster vir die Teokratiese Bedieningskool wat in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Oktober verskyn. Bladsy 2 van Ons Koninkryksbediening dui aan met watter lied elke week se Diensvergadering geopen en afgesluit moet word. Die nommers van die liedere vir die weeklikse Wagtoring-studie kan eweneens op bladsy 2 van elke nommer van Die Wagtoring gevind word. Die aangewese liedere vir ’n spesifieke vergadering word as deel van daardie vergadering beskou en moet dus aangekondig word deur die broer wat die vergadering lei en nie deur die voorsitter van die vorige vergadering nie.
Byvoorbeeld, die opsiener van die Teokratiese Bedieningskool sal die gehoor verwelkom, die openingslied aankondig, die skool hou en dan die eerste spreker van die Diensvergadering na die verhoog nooi. Die broer wat die deel op die Diensvergadering behartig, moet die lied aankondig waarmee die Diensvergadering geopen word.
Net so sal die Openbare Vergadering deur ’n voorsitter geopen word. Hy sal almal wat teenwoordig is, hartlik verwelkom en hulle nooi om die openingslied wat die spreker gekies het, saam te sing. Die voorsitter (of miskien ’n ander bekwame broer wat vooraf gevra is) sal die vergadering met gebed open. Hy sal die spreker aan die woord stel en sê waaroor sy toespraak handel. Ná die toespraak sal die voorsitter kortliks waardering uitspreek vir die onderrigting sonder om ’n opsomming te gee van wat die spreker gesê het. Hy sal die tema van die openbare toespraak vir die volgende week aankondig, en dan sal hy almal wat teenwoordig is, nooi om vir die Wagtoring-studie te bly. Dit is nie vir die voorsitter nodig om te vra of die gehoor liefde en groete aan ’n besoekende spreker se gemeente wil stuur nie. Daarna sal die voorsitter die Wagtoring-studiehouer na die verhoog nooi.
Die Wagtoring-studiehouer sal die eerste lied aankondig wat vir die studie gesing moet word. Hy sal die studie in ooreenstemming met gedrukte instruksies hou, en dan sal hy die slotlied aankondig. Die Wagtoring-studiehouer sal gewoonlik die broer wat die openbare toespraak gehou het, vra om die slotgebed te doen.
As hierdie algemene riglyne gevolg word, sal dit help om te verseker dat ons gemeentelike vergaderinge op ’n eenvormige manier gehou word.