Die Leer Bybel-boek—ons primêre Bybelstudiehulp
1 Hoe opwindend was dit tog toe die boek Wat leer die Bybel werklik? by die “Godvrugtige gehoorsaamheid”-streekbyeenkoms vrygestel is! Byeenkomsgangers was verheug om na afloop van Saterdag se program hulle eie eksemplaar te ontvang. Hoe gaan hierdie nuwe onderrigmiddel gebruik word? Dit is saamgestel om ons primêre Bybelstudiehulp te wees. Hoewel die nuwe boek eers in Junie as die lektuuraanbod gebruik sal word, word verkondigers aangemoedig om dit onmiddellik te begin gebruik om Bybelstudies te begin en te hou.
2 Bybelstudies wat tans gehou word: Verkondigers wat Bybelstudies in die Kennis-boek of Vereis-brosjure hou, moet goeie oordeel aan die dag lê wanneer hulle besluit hoe en wanneer om na die nuwe publikasie oor te skakel. As ’n studie onlangs begin is, kan jy eenvoudig voor in die nuwe boek begin. As julle al verder in die Kennis-boek is, kan jy die studie in die ooreenstemmende hoofstuk van die Leer Bybel-boek voortsit. As julle naby die einde van die Kennis-boek is, kan jy besluit om daardie publikasie te voltooi.
3 Ons almal ken ongetwyfeld baie mense wat daarby sal baat vind om die Leer Bybel-boek te bestudeer. Bied gerus by elkeen ’n Bybelstudie in hierdie progressiewe studiehulp aan. Diegene wat byvoorbeeld die Vereis-brosjure of die Kennis-boek bestudeer het maar nie tot toewyding en doop gevorder het nie, sal dalk hulle studie in die nuwe boek wil hervat. Ouers kan die publikasie gebruik terwyl hulle juiste kennis van God se wil aan hulle kinders oordra.—Kol. 1:9, 10.
4 Studeer ’n tweede boek: Is daar ’n reëling dat ’n Bybelstudent ’n tweede boek kan bestudeer wanneer hy sy studie in Wat leer die Bybel werklik? voltooi het? Ja. As dit duidelik is dat ’n student vordering maak, al is dit stadig, en waardering opbou vir wat hy leer, kan die Bybelstudie voortgesit word in die boek Aanbid die enigste ware God. Ons is vol vertroue dat die Leer Bybel-boek ’n kragtige instrument in ons hande sal wees terwyl ons die opdrag uitvoer om dissipels te maak.—Matt. 28:19, 20.