Ons moet ons toewyding naleef
1 Of jy nou onlangs of dekades gelede gedoop is, jy onthou heel waarskynlik daardie mylpaal in jou lewe. Ons doop is nie die einde nie, maar eerder die begin van ’n leeftyd van toegewyde diens wat vir ewig kan voortduur (1 Joh. 2:17). Wat behels dit om ons toewyding na te leef?
2 Volg Christus se voorbeeld: Nadat Jesus gedoop is, het hy “met sy werk begin” om “die goeie nuus van die koninkryk van God” bekend te maak (Luk. 3:23; 4:43). Toe ons ons toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer het, het ons eweneens geordende bedienaars van die goeie nuus geword. Hoewel dit dalk baie tyd en inspanning verg om die noodsaaklike materiële dinge in die lewe te verkry, is die Christelike bediening ons vernaamste werk (Matt. 6:33). Diegene wat aan God toegewy is, streef nie rykdom of aansien na nie, maar probeer eerder om, soos die apostel Paulus, ‘hulle bediening te verheerlik’ (Rom. 11:13). Waardeer jy jou voorreg om Jehovah te dien en doen jy jou bes daarin?
3 Net soos Jesus moet ons ‘die Duiwel teëstaan’ (Jak. 4:7). Satan het Jesus ná Sy doop versoek, en net so is toegewyde knegte van Jehovah vandag die teiken van sy aanvalle (Luk. 4:1-13). Omdat ons deur Satan se wêreld omring is, moet ons selfdissipline beoefen en enigiets vermy wat ons verstand kan besoedel of ons hart kan verderf (Spr. 4:23; Matt. 5:29, 30). Christene word gemaan dat hulle “nie deel [kan] hê aan ‘die tafel van Jehovah’ en die tafel van demone nie” (1 Kor. 10:21). Dit vereis dat ons teen onheilsame vermaak, slegte omgang en gevare op die Internet waak. Dit beteken ook dat ons afvallige leesstof moet vermy. As ons op ons hoede is vir hierdie en ander taktiek van Satan, sal dit ons help om ons toewyding na te leef.
4 Gebruik God se voorsienings: Om ons te help om ons toewyding na te leef, het Jehovah hulp deur middel van sy Woord en die Christengemeente voorsien. Maak Bybellees en gebed tot Jehovah deel van jou daaglikse roetine (Jos. 1:8; 1 Tess. 5:17). Skep behae in gemeentelike vergaderinge (Ps. 122:1). Gaan om met diegene wat Jehovah vrees en sy bevele onderhou.—Ps. 119:63.
5 Met Jehovah se hulp kan jy jou toewyding aan hom naleef en die vreugde smaak om hom vir ewig te dien.—Ps. 22:26, 27; Fil. 4:13.