’n Werk wat nederigheid vereis
1 God se Woord vermaan ons om ‘nederig van verstand te wees, nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om eerder te seën’ (1 Pet. 3:8, 9). Hierdie raad is beslis op die predikingswerk van toepassing. Ja, die Christelike bediening kan ’n toets van ons nederigheid wees.
2 Nederigheid is ’n eienskap wat ons help om onaangename situasies te verduur. Wanneer ons die predikingswerk doen, nader ons vreemdelinge ongenooid, met die wete dat party onvriendelik gaan wees. Dit verg nederigheid om ondanks sulke behandeling voort te gaan met die predikingswerk. Twee pioniersusters het in ’n besonder moeilike gebied twee jaar lank elke dag van deur tot deur gegaan sonder dat enigiemand vir hulle die deur oopgemaak het! Maar hulle het volhard, en vandag is daar twee gemeentes in daardie gebied.
3 Wanneer mense ongeskik is: Nederigheid sal ons help om Jesus na te volg wanneer ander onvriendelik of onbeleef is (1 Pet. 2:21-23). By een huis is ’n suster eers deur die vrou uitgeskel en toe deur haar man, wat haar beveel het om die eiendom te verlaat. Die suster het bloot geglimlag en gesê dat sy hopelik ’n ander keer met hulle sal kan praat. Dit het die paartjie so beïndruk dat hulle geluister het na die volgende Getuie wat aan hulle deur geklop het, en hulle het ’n uitnodiging aanvaar om ’n vergadering by die Koninkryksaal by te woon. Die suster wat aanvanklik deur hulle weggejaag is, was daar om hulle te groet en verder vir hulle te getuig. Ook ons kan onontvanklike mense se harte versag deur “sagmoedigheid en diep respek” aan die dag te lê.—1 Pet. 3:15; Spr. 25:15.
4 Vermy verwaandheid: Ons kennis van die Bybel gee ons geen rede om op mense neer te sien of neerhalend van hulle te praat nie (Joh. 7:49). Inteendeel, God se Woord vermaan ons om “van niemand kwaad te spreek nie” (Tit. 3:2). As ons nederig van hart is, soos Jesus was, verkwik ons ander (Matt. 11:28, 29). ’n Nederige benadering laat ons boodskap byval vind.
5 Ja, nederigheid help ons om in moeilike gebied te volhard. Dit kan onontvanklike mense se hart versag, en dit trek ander tot die Koninkryksboodskap aan. Bowenal behaag dit Jehovah, wat “onverdiende goedhartigheid aan die nederiges [gee]”.—1 Pet. 5:5.