Stel geestelike doelwitte
1 Wat ’n voorreg sal dit tog wees om Jehovah tot in alle ewigheid te loof! Om ons te help om dit te doen, kan ons korttermyn- geestelike doelwitte stel en daarna streef om dit te bereik. Dit stel ons in staat om ons kragte verstandig te gebruik (1 Kor. 9:26). Wat sal vir jou realistiese doelwitte wees?
2 Bybelstudie: Berei jy vir elke gemeentelike vergadering voor? Indien wel, sit jy tyd opsy vir navorsing en bepeinsing wanneer jy studeer? Wanneer jy byvoorbeeld vir die weeklikse Wagtoring-studie en Gemeentelike Boekstudie voorberei, onderstreep jy net die antwoorde of slaan jy die teksverwysings na en peins jy ook oor die redes vir die verduidelikings? Kan jy dit as ’n doelwit stel om elke week navorsing te doen oor ’n paar punte uit die toegewese Bybelleesgedeelte vir die Teokratiese Bedieningskool? Hierdie soort navorsing verg tyd en inspanning, maar dit bring ryk seëninge mee.—Spr. 2:4, 5.
3 Gemeentelike vergaderinge: Nog ’n doelwit is om al vyf gemeentelike vergaderinge gereeld by te woon. As ons vroeg genoeg daar is om met medegelowiges te assosieer en saam die openingslied te sing en te bid, bevorder dit ’n goeie gees in die gemeente. Ons kan ons dit ook ten doel stel om by elke vergadering te antwoord en probeer om ons antwoorde te verbeter. Jy kan dalk wys hoe ’n teks in die paragraaf met die bespreking verband hou of toon hoe die materiaal op ons alledaagse lewe van toepassing is.—Heb. 10:24, 25.
4 Velddiens: Ons sal ’n groot verbetering in ons bediening sien as ons doelwitte stel. Het jy vir jou ’n doelwit gestel van hoeveel uur jy elke maand in die velddiens wil deurbring? Party vind dit nuttig. Of kan jy in die een of ander aspek van jou bediening verbeter, soos om die Bybel in die huis-tot-huis-bediening te gebruik, doeltreffender herbesoeke te doen, ’n Bybelstudie te probeer begin of tydens studies op bekwamer wyse te onderrig?
5 Ouers, spoor julle julle kinders aan om doelwitte in Jehovah se diens te stel? Help hulle om te sien dat diens as ’n pionier, ’n sendeling of ’n lid van die Bethelgesin ’n uitstekende manier is om te toon hoeveel waardering hulle vir Jehovah het.—Pred. 12:1.
6 As ons ons bedrywighede ondersoek, geestelike doelwitte stel en hulle dan probeer bereik, sal ons groter vreugde in ons diens smaak en vir ander ’n bron van aanmoediging wees.—Rom. 1:12.