Gebruik jy die Vereis-brosjure om studies te begin?
1 Besef jy dat jy ’n Bybelstudie hou as jy gereelde en progressiewe Bybelbesprekings met ’n belangstellende het en julle materiaal in een van die aanbevole publikasies dek, al is dit ook kort? Ja, dit is selfs die geval as die studie by die deur of oor die telefoon gehou word. Wend gerus gedurende Mei en Junie ’n spesiale poging aan om so ’n studie te begin deur die Vereis-brosjure te gebruik.
2 Berei voor om sukses te behaal: Wanneer jy die Vereis-brosjure aanbied, moet jy presies weet wat jy wil bespreek. As jy ’n herbesoek doen, moet jy die gesprek wat jy gedurende die eerste besoek gehad het, in gedagte hou. Vra jou af: ‘Watter paragrawe in die brosjure kan ek gebruik om daardie bespreking verder te voer en ’n Bybelstudie te begin?’ As jy van huis tot huis werk, moet jy dink aan watter onderwerpe ’n tiener, ’n bejaarde, ’n man of ’n vrou se belangstelling sal wek. Kyk na die brosjure se inhoudsopgawe en kies ’n gepaste onderwerp. Nadat jy besluit het wat jou benadering gaan wees, moet jy dit ’n paar keer oefen. Dit is een van die sleutels tot sukses.
3 Die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Januarie 2002 gee agt “Wenke om die Vereis-brosjure aan te bied”. Die venster “Die direkte benadering” toon hoe om die brosjure te gebruik om studies te begin. Jy kan die eerste wenk só aanpas:
◼ “Het jy geweet dat jy binne ’n paar minute die antwoord op ’n belangrike Bybelvraag kan vind? Byvoorbeeld, waarom is daar soveel godsdienste wat beweer dat hulle Christelik is? Het jy al ooit daaroor gewonder?” Nadat die persoon geantwoord het, kan jy na les 13 blaai en die eerste twee paragrawe bespreek. Lees en bespreek ’n teks of twee, na gelang van die tyd. Lees dan die laaste vraag boaan die bladsy en sê: “Die res van die les vestig die aandag op vyf kenmerke van die ware godsdiens. Ek sal graag wil terugkom en dit met jou bespreek.”
4 Volhard daarin: Maak van elke geleentheid gebruik om ’n Bybelstudie in die Vereis-brosjure te demonstreer. Vra Jehovah om jou te seën (Matt. 21:22). As jy hierin volhard, sal jy moontlik die vreugde smaak wat ’n mens daaruit kry as jy iemand help om aan die goeie nuus gehoor te gee!