Op soek na meer Bybelstudies
1 Jehovah God seën sy aardse organisasie met volgehoue groei. In die afgelope diensjaar is daar wêreldwyd 375,923 gedoop—gemiddeld meer as 1,000 nuwe dissipels elke dag, of ongeveer 43 elke uur! Ondanks die dekades van ontbering waarvoor ons broers dalk in verskeie dele van die wêreld te staan gekom het, floreer die Koninkrykswerk, en uitstekende toenames word ondervind. Hoe opwindend is dit tog om te lees van die vooruitgang wat gemaak word in die verspreiding van die goeie nuus!
2 In Suid-Afrika het ons ook die afgelope diensjaar vermeerderings gehad in die gemiddelde aantal verkondigers en hulppioniers, in die ure wat aan die predikingswerk gewy is en in die getal boekies, brosjures en tydskrifte wat versprei is. Daar was ’n toename in die aantal persone wat gedoop is en die Gedenkmaalbywoning was die hoogste tot nog toe. Wat van herbesoeke en Bybelstudies? Daar was geringe vermeerderings. En tog is dit hierdie aspekte van die bediening waaroor die dissipelmaakwerk eintlik gaan. Wat kan elkeen van ons doen om ons aandeel aan die herbesoek- en Bybelstudiewerk te vergroot?
3 Kweek die begeerte aan om ’n studie te hou: Ons moet ons daarop toelê om geestelik sterk en bedrywig te wees. Christus se ware volgelinge is “ywerig vir voortreflike werke” (Tit. 2:14). Kan ons, wanneer ons ons bediening ondersoek, sê dat ons ’n intense begeerte het om terug te gaan na waar ons ook al lektuur in die veld gelaat het? Bied ons geesdriftig tuisbybelstudies aan vir almal wat belangstelling toon? (Rom. 12:11). Of moet ons ’n groter begeerte aankweek om herbesoeke te doen en tuisbybelstudies te begin?
4 As ons gereeld die Bybel lees en vergaderinge bywoon, asook die publikasies bestudeer, sal ons altyd geestelik verkwik wees en krag van God se gees hê (Ef. 3:16-19). Dit sal ons geloof en vertroue in Jehovah asook ons liefde vir ons medemens versterk. Ons sal beweeg word om ander die waarheid te leer, en sodoende maak ons ons bediening interessant, suksesvol en ’n genot. Ja, ons behoort meer Bybelstudies te wil hê!
5 Studeer eers met jou gesin: Christenouers met kinders wat nog in die huis is, moet besorg wees oor hulle program van gereelde gesinsbybelstudie (Deut. 31:12; Ps. 148:12, 13; Spr. 22:6). Dit sal baie goed wees as ouers die Vereis-brosjure en dan die Kennis-boek met hulle kinders studeer om hulle voor te berei om as ongedoopte verkondigers te kwalifiseer, asook vir toewyding en doop. Bykomende stof kan natuurlik bespreek word na gelang van die behoefte en die ouderdom van die kind. ’n Ouer wat met ’n ongedoopte kind studeer, kan die studie, die tyd en herbesoeke tel, soos uiteengesit in die Vraebus van Ons Koninkryksbediening vir Junie 1987.
6 Verbeter persoonlike organisasie: Wanneer ons dink aan die aantal tydskrifte, brosjures en boeke wat versprei word, ly dit geen twyfel nie dat baie saad gesaai word. Hierdie saad van waarheid wat al gesaai is, kan baie nuwe dissipels voortbring. Maar sal ’n boer of ’n tuinier werklik tevrede wees as hy voortdurend plant en, ná al sy moeite, nooit tyd neem om te oes nie? Sekerlik nie. Dit is eweneens nodig dat ons opvolgwerk doen.
7 Sit jy gereeld tyd opsy om herbesoeke te doen? Gaan so gou as moontlik terug na alle belangstelling wat gevind word. Doen herbesoeke met die doel om ’n Bybelstudie te begin. Is die verslag wat jy van jou herbesoeke hou netjies, op datum en goed georganiseerd? Maak seker dat jy, tesame met die naam en adres van die huisbewoner, ook ’n aantekening maak van die datum van die eerste besoek, enige lektuur wat gelaat is, ’n kort beskrywing van wat bespreek is en ’n gedagte wat met die volgende besoek ontwikkel kan word. Laat ruimte op jou verslag sodat jy ná elke herbesoek verdere inligting kan byvoeg.
8 Hoe om ’n herbesoek te doen: Wat is ’n paar punte om te onthou wanneer jy ’n herbesoek by ’n belangstellende doen? (1) Wees hartlik, vriendelik, geesdriftig en informeel. (2) Bespreek onderwerpe of vrae waarin hy belangstel. (3) Hou die bespreking eenvoudig en skriftuurlik. (4) Probeer met elke besoek die huisbewoner iets leer wat hy sal beskou as nuttig vir hom as persoon. (5) Wek afwagting vir die onderwerp wat met die volgende besoek bespreek sal word. (6) Moenie te lank bly nie. (7) Moenie vrae stel wat die huisbewoner ongemaklik laat voel of in die verleentheid bring nie. (8) Gebruik onderskeidingsvermoë sodat jy nie verkeerde opvattings of slegte gewoontes van die huisbewoner veroordeel voordat geestelike waardering opgebou is nie.—Sien die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Maart 1997 vir bykomende hulp oor hoe om met welslae herbesoeke te doen en Bybelstudies te begin.
9 Ondersoek elke moontlikheid: In een gemeente was dit moontlik om die name en woonstelnommers te kry van al die huurders in ’n woonstelkompleks waar daar streng veiligheidsmaatreëls is. Daar is aan elke huurder ’n persoonlike brief geskryf en twee traktate daarby ingesluit. Aan die einde van die brief is ’n tuisbybelstudie aangebied en ’n plaaslike telefoonnommer verskaf sodat die ontvanger daarop kon reageer. Binne ’n paar dae het ’n jong man geskakel en vir ’n Bybelstudie gevra. Die volgende dag is ’n herbesoek gedoen, en ’n studie is in die Kennis-boek begin. Daardie selfde aand het hy die Gemeentelike Boekstudie bygewoon, en hy het voortgegaan om al die vergaderinge by te woon. Hy het feitlik onmiddellik begin om die Bybel elke dag te lees en het vinnig tot doop gevorder.
10 Verkondigers in een motorgroep het gereël om saam ’n paar herbesoeke te doen. Toe ’n suster een van haar besoeke gedoen het, was die persoon na wie sy gesoek het nie tuis nie, maar ’n ander jong vrou het die deur oopgemaak en gesê: “Ek het vir julle gewag.” Die huisbewoner het die Kennis-boek vroeër by ’n vriend gekry. Teen die tyd dat die susters aan haar deur geklop het, het sy die boek al twee keer deurgelees, en sy was baie beïndruk deur die inligting wat dit bevat het. Sy het gesê dat sy nie verbaas was dat die Getuies daardie dag aan haar deur geklop het nie, want sy het gebid dat hulle moes kom en die Bybel met haar studeer. ’n Studie is begin, sy het gemeentelike vergaderinge begin bywoon en vinnig vordering gemaak.
11 ’n Suster wat al bykans 25 jaar gedoop is, het onlangs vir haar moeder ’n Kennis-boek gegee. Haar moeder, ’n kerkganger, het die boek begin lees. Nadat sy twee hoofstukke gelees het, het sy haar dogter geskakel en tot haar dogter se verbasing gesê: “Ek wil een van Jehovah se Getuies word!” Die moeder het begin studeer en is nou gedoop.
12 Probeer hierdie wenke: Het jy al ooit die direkte benadering gebruik om studies te begin? Jy kan eenvoudig sê: “As jy graag ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, kan ek in net ’n paar minute vir jou wys hoe dit gedoen word. As jy dit geniet, kan jy daarmee voortgaan.” Baie mense huiwer nie om so ’n aanbod te aanvaar nie, en hulle kyk dan graag na ’n demonstrasie van ’n Bybelstudie.
13 Wys vir die student vroeg in die studie hoe om voor te berei deur teksverwysings te lees en sleutelwoorde in antwoord op die gedrukte vrae te onderstreep. Vestig die aandag slegs op die hoofpunte. Hoewel ons vir die eerste paar sessies dalk aanpasbaar moet wees, is dit belangrik dat ’n Bybelstudie gereeld gehou word. Dink aan hoe jy gebed sal inbring as ’n onontbeerlike deel van die studie en hoe jy die student skriftuurlik vir teenstand sal voorberei. Doen jou bes om die studie lewendig te hou!
14 Nie alle Bybelstudente vorder natuurlik ewe vinnig nie. Party is nie so geestelikgesind soos ander nie en neem ook nie die dinge wat geleer word so vinnig in nie. Ander lei baie besige lewens en kan dalk nie die tyd afstaan wat nodig is om elke week ’n volle hoofstuk te dek nie. Dit kan dus in party gevalle nodig wees om meer as een studiesessie te hê om sekere hoofstukke te dek en ’n paar ekstra maande te neem om die boek te voltooi. In party gevalle sal ons moontlik eers die Vereis-brosjure studeer en dan deur die Kennis-boek gaan. Tesame met hulle bywoning van gemeentelike vergaderinge sal dit elke student help om ’n stewige grondslag in die waarheid te kry.
15 Bowenal moet jy om ’n Bybelstudie bid! (1 Joh. 3:22). Een van die bevredigendste ondervindinge vir ’n Christen is om deur Jehovah gebruik te word om iemand te help om ’n dissipel van Jesus Christus te word (Hand. 20:35; 1 Kor. 3:6-9; 1 Tess. 2:8). Dit is nou die tyd om groot ywer in die Bybelstudiewerk aan die dag te lê, vol vertroue dat Jehovah ons pogings om meer studies te begin ryklik sal seën!
[Lokteks op bladsy 3]
Bid jy om ’n nuwe Bybelstudie te begin?