Waarom dit jou begeerte moet wees om ’n Bybelstudie te hou
1 Een van die lonendste ondervindinge wat ’n Christen kan hê, is wanneer Jehovah hom gebruik om iemand anders te help om ’n dissipel van Christus te word (Matt. 28:19; 1 Kor. 3:6, 9). Dit kan die ewige lewe beteken vir diegene wat ons op hierdie manier help.
2 ’n Baie hegte verhouding ontwikkel tussen die onderrigter en die een wat onderrig word. Die geestelike vooruitgang van die student is inderdaad ’n bron van groot blydskap (1 Thess. 2:11, 19, 20). Daarom moet dit elke Christen se doelwit wees om ten minste een tuisbybelstudie te hou met iemand wat nie deel van sy huisgesin is nie. Dit is natuurlik die verantwoordelikheid van elke gesinshoof om ’n betekenisvolle, gereelde Bybelstudie met sy eie gesin te hou. In daardie huisgesinne waar die vader nie ’n gelowige is nie, moet die Christenmoeder gepaste reëlings tref om die Bybel met die kinders te studeer.
BID OM STUDIES
3 Aangesien ons al so diep in hierdie tyd van die einde is, moet ons ons almal inspan om doeltreffende Bybelstudies te hou. Gereelde gebed tot Jehovah in hierdie verband toon ons opregte begeerte om ’n Bybelstudie te hou. Dit toon dat ons besef dat die geskil wat hierby betrokke is ’n saak van lewe of dood is (Eseg. 33:7-9, 14-16). Ons kan seker wees dat Jehovah ons pligsgetroue pogings sal seën.—1 Joh. 5:14, 15.
4 As ons met welslae dissipels wil maak, moet ons goed voorberei. Dit is ook baie nuttig om te kyk wat ander doen wat bedrewe in Bybelstudiewerk is. In die komende maande sal ons wenke gee van reisende opsieners en ander wat daarin geslaag het om dissipels te maak. ’n Reeks artikels sal praktiese gedagtes beklemtoon oor hoe om produktiewe Bybelstudies te begin en te hou.
TOEKOMSTIGE ARTIKELS
5 Wat is party van hierdie gedagtes wat in toekomstige nommers van Ons Koninkryksbediening bespreek sal word? Ons sal bespreek hoe verskeie verkondigers en pioniers Bybelstudies begin het en watter onderrigmetodes hulle gebruik het om die hart van hulle studente te bereik. Ons sal ook wenke gee oor hoe ons waardering vir Jehovah se organisasie in hulle kan opbou en hoe ons ’n begeerte by hulle kan wek om aan velddiens deel te neem. Daar sal ook wenke wees oor hoe jy jou eie gesinsbybelstudie betekenisvoller kan maak sodat jou kinders ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah sal ontwikkel.
6 Gedurende die afgelope vier diensjare is 959 834 persone oor die wêreld heen gedoop, en 12 683 van hulle is in Suid-Afrikaanse gemeentes. Die oorgrote meerderheid van hierdie mense het die stap gedoen om gedoop te word omdat iemand hulle gehelp het deur ’n Bybelstudie met hulle te hou. Die opkoms by die Gedenkmaal en by ons streekbyeenkomste toon dat daar baie meer mense is wat gehelp kan word om hulle vir doop te bekwaam. Deur met ons pogings te volhard om Bybelstudies met sulke mense te begin en te hou, kan ons baie meer mense help om dissipels te word en om uiteindelik die ewige lewe te geniet.—1 Tim. 6:12, 19.