Verkondig die Koninkryksboodskap ywerig
1 Jehovah is ’n God van goeie werke, en hy is ywerig om hulle te volbring. Alles wat hy doen, strek diegene wat hom dien tot voordeel. Jesus het ’n puik voorbeeld gestel deur sy Vader se ywer na te volg. By een geleentheid het ywer vir Jehovah se huis hom beweeg om diegene wat die tempel in ’n handelshuis verander het, uit te jaag (Joh. 2:14-17). Ons moet ook ywer in ons diens aan Jehovah God openbaar as ons geïdentifiseer wil word as ’n volk wat “ywerig in goeie werke” is.—Tit. 2:14.
2 Die goeie werke van Christene strek ander tot voordeel. Die beste ding wat ons vir iemand anders kan doen, is om hom te help om Jehovah te ken en te dien (Joh. 17:3). Ons verleen sulke hulp deur ons ywerige Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk.
3 Wat is ywer? Ywer is geesdrif. Christelike ywer spruit voort uit ’n opregte begeerte om te doen wat reg is. Die Griekse woord vir “ywer” beteken “om te kook”. As bedienaars van God moet ons hierdie eienskap aan die dag lê terwyl ons die Koninkryksboodskap versprei. Is ons ywerig in die bediening? Doen ons alles in ons vermoë om ander te help sodat hulle van Jehovah se voornemens kan leer?
WEES YWERIG WANNEER DIE BROSJURES AANGEBIED WORD
4 Gedurende Augustus sal ons weer die voorreg hê om enige brosjure met 32 bladsye, behalwe Die skool en Jehovah se Getuies, aan te bied. Ons kan Jy kan vir ewig op die aarde lewe!, “Kyk, Ek maak alles nuut”, Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, “Laat u Naam geheilig word”—Watter naam? of Die regering wat die Paradys gaan bring aanbied. Berei voor om enige brosjure aan te bied wat jy dink die geskikste sal wees vir die gebied sowel as die persoon wat jy by die deur ontmoet.
5 As ons die Koninkryksboodskap ywerig wil verkondig, moet ons goed voorbereid wees. Is ons vertroud met die huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’? Hoe kan ons die ‘Onderwerp vir gesprekke’ laat inskakel by die brosjure wat ons aanbied? Watter spesifieke gedagtes in die brosjures kan ons meld? As ons die tyd inruim om met die vyf brosjures vertroud te raak en in ons eie gedagtes entoesiasme daarvoor wek, sal ons toegerus wees om hulle ywerig in ons gebied te versprei.
WENKE OM BROSJURES AAN TE BIED
6 Nadat jy jou voorgestel het, kan jy sê: “Het jy al ooit gewonder of God besorg is oor die goddeloosheid in die hedendaagse wêreld? [Laat huisbewoner antwoord.] Die Bybel verduidelik dat goddeloses binnekort vernietig sal word. [Lees Psalm 92:8.] Aangesien dit die geval is, tot wie kan ons ons wend vir ware leiding en beskerming? [Lees Psalm 145:20.] Die enigste manier waarop ons dus redding kan ontvang, is deur ’n verhouding met ons Skepper, Jehovah God, te hê. Ons moet dink aan die seëninge wat hy vir alle gehoorsame mense beloof.” Jy kan dan na prent 49 in die Lewe op aarde-brosjure blaai en die opskrif lees, terwyl jy die aandag vestig op die seëninge wat geïllustreer word. Of blaai na bladsy 29 van die Regering-brosjure en bespreek die seëninge wat daar verduidelik word. Party wil dalk paragrawe 49 en 50 in die “Kyk”-brosjure gebruik om te verduidelik wat God se Koninkryk vir die mensdom gaan doen.
7 Aangesien ons in kritieke tye lewe, is die boodskap wat ons verkondig dringend. Dit is belangrik dat ons die Koninkryksboodskap ywerig moet verkondig en ander moet aanmoedig om God en sy Woord te leer ken. As ons hierdie lewegewende kennis ywerig versprei, gee ons blyk van ons godvrugtige toegewydheid en ons liefde vir Jehovah. Vra jou af: ‘Is ek ywerig in goeie werke? Kan my ondersteuning van die predikingswerk as ywerig en heelhartig beskryf word?’ Ons antwoorde sal boekdele spreek oor die kwaliteit van ons ywer. Hoe meer ons aan die verkondiging van die Koninkryksboodskap deelneem, hoe groter sal ons ywer wees. Ander sal sien dat ons werklik ’n volk ywerig in goeie werke is.