Die ‘Onderwerp vir gesprekke’
1 Ons Koninkryksdiens vir April 1977 het die deel “Onderwerp vir gesprekke” ingelei en wenke gegee oor hoe dit op doeltreffende wyse gebruik kan word. Ons het almal gedurende die afgelope 12 jaar by hierdie deel baat gevind. Dit het talle gehelp om bekwamer te word in hulle aanbieding van die goeie nuus.
2 Gedurende die afgelope paar jaar is ’n nuwe ‘Onderwerp vir gesprekke’ elke drie of vier maande gegee. In die toekoms sal Ons Koninkryksbediening die voorgestelde ‘Onderwerp vir gesprekke’ meer dikwels verander. Daar sal in die reël ’n ander “Onderwerp” wees elke keer wanneer die lektuuraanbod verander. Dit sal ons help om makliker van die tekste na die lektuuraanbod oor te gaan. Dit sal ook groter verskeidenheid aan ons bediening verleen.
VERANDERING VAN ‘ONDERWERP VAN GESPREKKE’
3 Jy sal gewoonlik vind dat die basiese voorgestelde ‘Onderwerp vir gesprekke’ by elke deur gebruik kan word. Niemand moet egter huiwer om die ‘Onderwerp’ te verander of ’n ander een te gebruik as dit lyk of dit voordelig sal wees nie. Wanneer nuwe of jong verkondigers opgelei word, is dit dalk raadsaam om nie van die voorgestelde ’Onderwerp vir gesprekke’ af te wyk nie.
4 Pioniers, sowel as ander wat gereeld in hulle gebied werk, sal dit ongetwyfeld nuttig vind om variasies van die ‘Onderwerp’ te gebruik om te voorkom dat hulle aanbieding stereotiep word. Verskeie omstandighede kan dit raadsaam maak om soms ’n ander ‘Onderwerp’ te gebruik as die een wat in Ons Koninkryksbediening voorgestel word.
BRONMATERIAAL VIR AANBIEDINGS
5 Waar kan ons ander gedagtes kry om te gebruik as ons dink dat dit nodig is om ’n ander ‘Onderwerp vir gesprekke’ te gebruik? Ouer nommers van Ons Koninkryksbediening kan ons help. Die publikasie wat jy aanbied, kan ook gebruik word as die bron vir jou onderwerp vir gesprekke. Kies ’n prent, ’n teks of ’n hoofstuktema en maak ’n kort aanbieding om belangstelling te wek. Probeer om die boek in die hande van die voornemende leser te kry sodat hy self daarna sal kyk. Jy sal dalk verbaas wees om te sien hoe maklik dit is om lektuur op hierdie manier te versprei. Wanneer jy later die herbesoek doen, kan jy meer besonderhede verstrek. Hou die aanvanklike aanbieding dus betreklik kort.
6 Ons moet almal aanhou om Jehovah vir “’n geoefende tong” te vra sodat ons sal weet hoe om diegene te onderrig wat ons in ons gebied teëkom (Jes. 50:4). Dit is ons opregte begeerte om die ‘Onderwerp vir gesprekke’ op bekwame wyse te gebruik. Lewens staan op die spel.—1 Tim. 4:16.