Bied die Goeie Nuus Aan—Deur die huis-tot-huisverslag te gebruik
1 “Ek het die goeie nuus omtrent die Christus deeglik verkondig” (Rom. 15:19, NW). Hierdie woorde van die apostel Paulus dui aan hoe ywerig hy was om sy opdrag uit te voer om te preek, te onderrig en dissipels te maak.
2 Ons wil net so deeglik wees wanneer ons in ons aangewese gebied getuig. Die tyd waarin ons lewe is uiters kritiek—lewens is op die spel. As ons die mense nie waarsku nie, sal ons ons bloedskuldig maak (Eseg. 3:18, 19). Soos die apostel Paulus wil ons kan sê dat ons “rein is van die bloed van almal” (Hand. 20:26). Hoe kan ons deegliker wees wanneer ons in ons gebied werk? Behoorlike gebruik van die vorm vir die huis-tot-huisverslag kan help.
WANNEER NIEMAND TUIS IS NIE
3 ’n Volledige en akkurate verslag van waar mense nie tuis is nie, is onontbeerlik as ons ons gebied deeglik wil dek. Dit is waar hetsy die gebied selde of dikwels gedek word. Ons moet dus aanhou probeer om iemand by elke huis te bereik. Wanneer daar geen antwoord is nie, moet ons gepaste aantekeninge op ’n huis-tot-huis-verslagvorm maak. Dan moet ons seker maak dat ons terugkeer en probeer om vir iemand in daardie huis te getuig.
4 Party het hulle huis-tot-huisverslag gebruik om diegene te bereik wat nie met die aanvanklike besoek tuis was nie, en het daardie selfde dag direk nadat hulle van huis tot huis gewerk het, teruggegaan. Of hulle probeer om op ’n ander dag of ’n ander tyd van die dag terug te gaan. Talle vind dat dit goeie resultate lewer as hulle mense in die aand besoek. Diegene wat aan hulle huis gekluister is, het welslae behaal deur telefoonoproepe te maak of briewe te skryf wanneer herhaalde besoeke by sekere huise nie geslaag was nie.
WANNEER BELANGSTELLING GEVIND WORD
5 Wanneer iemand met waardering luister, moet jy dit aanteken. Skryf die persoon se naam, adres en enige ander informasie neer wat jou sal help om terug te gaan na waar belangstelling getoon is. As jy die belangstellende persoon na ’n paar probeerslae nie tuis vind nie, kan dit dalk help as jy op ’n ander dag of tyd teruggaan. Moenie iemand wat belangstelling getoon het te gou afskryf nie.
6 Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld vir ons gestel. Hy het “deeglik getuienis afgelê” in sy aangewese gebied. As ons die huis-tot-huisverslag reg gebruik, sal dit ons help om deeglik getuienis af te lê in ons aangewese gebied. En watter vreugde sal ons smaak wanneer al hoe meer mense dissipels van Jesus Christus word! Sodoende sal ons Paulus se woorde ons eie kan maak: ‘Ek is rein van die bloed van almal.’—Hand. 20: 21, 26, vgl. NW.