Meer Bethelwerkers nodig!
1 Dit is opwindend om die voorwaartse beweging van Jehovah se werk te sien. Tydskrifverspreiding het die afgelope ruk so toegeneem dat die broers op ons rotasiepers nagskof moes werk. Ons druk nou elke maand 25 uitgawes van Die Wagtoring en 10 uitgawes van Ontwaak! Daarbenewens druk ons nou 9 uitgawes van Ons Koninkryksbediening.
2 Ten einde lektuur en tydskrifte in al die verskillende tale gelyktydig met die Engels te voorsien, moes ons ons Vertaalafdeling baie vergroot. Gedurende die afgelope sewe maande het ons aan publikasies in 28 tale gewerk. Dit het ons genoodsaak om ons vertaalpersoneel te vermeerder tot ongeveer 70, waarvan 60 by Bethel dien, terwyl die ander buite as vertalers dien.
3 As gevolg van hierdie vermeerdering in getalle bestaan ons Bethelgesin nou uit 345 broers en susters. Dit is naastenby twee maal so groot as die Bethelgesin wat ons ’n paar jaar gelede by Elandsfontein gehad het. Maar hierdie vermeerdering was nodig sodat ons kon tred hou met die uitbreiding van die Koninkrykswerk. Ons wou graag meer ongetroude broers inroep omdat baie van die werk meer geskik is vir broers as vir susters. Aangesien ons nie genoeg ongetroude broers kon kry om die poste te vul nie, moes ons meer getroude paartjies en ongetroude susters inroep. Dit is duidelik dat ons in die toekoms baie meer broers sal nodig hê om ons te help.
4 Kan jy jouself beskikbaar stel as jy ’n ongetroude broer is? Ons is seker daarvan dat ons meer as genoeg ongetroude mans sou hê as dit nie was vir die feit dat meer as 800 van ons jong broers as gevolg van hulle neutrale standpunt hulle vonnis van ses jaar uitdien nie. ’n Paar van hulle sal in die nabye toekoms hulle vonnis voltooi en heelwat het hulle begeerte uitgespreek om aansoek te doen om Betheldiens.
5 Dit is duidelik uit die vervulling van Bybelprofesieë dat wêreldgebeure op die einde van hierdie ou stelsel afstuur. Die ou wêreld kan niemand ’n loopbaan met ’n toekoms bied nie. Maar Jehovah kan. Kan jy dus, as jy ’n ongetroude broer is, soos Jesaja antwoord: “Hier is ek, stuur my”? (Jes. 6:8). ’n Jong man kan nou, net voor die einde van die ou wêreld, geen groter voorreg geniet as om Jehovah heelhartig by Bethel te dien nie. As jy gehoor kan gee aan die oproep om Bethel toe te kom, moet jy sonder versuim aan die Genootskap skryf en om ’n Bethelaansoekvorm vra.