Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 11/15 bl. 3-5
  • Watter soort persoon wil jy wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Watter soort persoon wil jy wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is “by my aanwesig”?
  • Wat wil jy wees?
  • Ons kán slaag
  • “Die woord van God is lewend en kragtig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jy kan ‘die ou persoonlikheid uittrek’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Hou aan om “die nuwe persoonlikheid” aan te trek nadat jy gedoop is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • “Die woord van God is lewend”
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 11/15 bl. 3-5

Watter soort persoon wil jy wees?

DIE polisiehoof in ’n dorp in die Filippyne het vir ’n pionier gevra: “Wat het jy gedoen om hierdie man so ver te kry om sy gedrag te verander?” Hy het na ’n stapel papiere op sy lessenaar gewys en bygevoeg: “Weet jy dat dít alles verslae van vorige hofsake teen hom is? Jy het ons verlos van een van ons kopsere in hierdie dorp.” Die betrokke man was vroeër ’n dronk bakleier wat heeltyd moeilikheid gemaak het. Wat het hom beweeg om ontsaglike veranderinge in sy lewe aan te bring? Dit was die geïnspireerde boodskap in God se Woord, die Bybel.

Baie mense het die apostel Paulus se raad ter harte geneem om ‘die ou persoonlikheid af te lê, wat met hulle vroeëre lewenswandel ooreengekom het, en hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee, wat na God se wil geskep is’ (Ef. 4:22-24). Om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee, is deel van die proses om die Christelike godsdiens aan te neem, hetsy die veranderinge wat ons moet aanbring, groot of klein is.

Die veranderinge wat ons aanbring en die vooruitgang wat ons maak om vir doop te kwalifiseer, is egter net die begin. Wanneer ons ons laat doop, is ons amper soos ’n stuk hout wat rofweg in ’n vorm gekerf is. ’n Mens kan die voorwerp herken, maar baie werk moet nog daaraan gedoen word. Die beeldsnyer moet nog die fynere besonderhede aanbring om die voorwerp mooi te maak. Wanneer ons gedoop word, het ons die basiese eienskappe wat nodig is om ’n kneg van God te wees. Maar ons nuwe persoonlikheid is nog in sy vroeë stadium. Ons moet dit bly verbeter deur aanpassings te maak.

Selfs Paulus het besef dat dit nodig is om te verbeter. Hy het erken: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig” (Rom. 7:21). Paulus het beslis geweet wat hy is en wat hy graag wou wees. Wat van ons? Ons moet ons ook afvra: ‘Wat is by my aanwesig? Watter soort persoon is ek? En watter soort persoon wil ek word?’

Wat is “by my aanwesig”?

Wanneer ons ’n ou huis opknap, is dit nie genoeg om die buitekant te verf as daar binne verrotte balke is nie. As strukturele gebreke geïgnoreer word, sal dit later beslis probleme veroorsaak. Net so is ’n dun lagie opregtheid nie genoeg nie. Ons moet tot die kern van ons persoonlikheid deurdring en probleme identifiseer wat opgelos moet word. Anders sal eienskappe van die ou persoonlikheid weer kop uitsteek. Selfondersoek is dus noodsaaklik (2 Kor. 13:5). Ons moet ongewenste eienskappe identifiseer en regstel. In dié verband het Jehovah ons van hulp voorsien.

Paulus het geskryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Heb. 4:12). Die boodskap in God se geskrewe Woord, die Bybel, kan ’n kragtige invloed op ons lewe hê. Dit dring deur tot diep binne ons—figuurlik gesproke tot by die murg binne-in die bene. Dit openbaar ons gedagtes en beweegredes en onthul wat ons werklik innerlik is in vergelyking met hoe ons van buite lyk of wat ons dink ons is. Watter kragtige hulpmiddel is God se Woord tog om ons tekortkominge te identifiseer!

Wanneer ons ’n ou huis herstel, is dit moontlik nie genoeg om die beskadigde materiaal te vervang nie. As ons weet wat die oorsaak van die defekte is, help dit ons om stappe te doen om te verhoed dat dieselfde probleme weer voorkom. As ons eweneens nie net ons negatiewe eienskappe identifiseer nie, maar ook vasstel wat dit veroorsaak het of daartoe bygedra het, kan dit ons help om ons swakhede onder beheer te hou. Ons persoonlikheid word deur tallose faktore gevorm. Dit sluit in ons sosiale status en ons ekonomiese situasie, ons milieu, ons kultuur, ons ouers, ons vriende en ons godsdiensagtergrond. Selfs die televisieprogramme en rolprente waarna ons kyk, sowel as ander vorme van vermaak, het ’n uitwerking op ons. As ons dinge identifiseer wat ’n negatiewe invloed op ons persoonlikheid uitoefen, plaas dit ons in ’n beter posisie om die uitwerking daarvan te beperk.

Ná ’n selfondersoek is ons dalk geneig om te sê: ‘Dis maar net hoe ek is.’ Sulke denke is verkeerd. Met verwysing na persone in die gemeente in Korinte wat hoereerders, homoseksuele, dronkaards en so meer was, het Paulus gesê: “Dit [is] wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas . . . met die gees van ons God” (1 Kor. 6:9-11). Met die hulp van Jehovah se heilige gees kan ook ons daarin slaag om die nodige veranderinge aan te bring.

Beskou die geval van ’n man met die naam Marcos,a wat in die Filippyne woon. Marcos het oor sy agtergrond gesê: “My ouers het alewig gestry. Daarom het ek rebels geword toe ek 19 was.” Marcos het berug geword weens dobbelary, diefstal en gewapende roof. Hy en ’n paar ander wou selfs ’n vliegtuig skaak, maar daar het niks van die plan gekom nie. Marcos se slegte gewoontes het voortgeduur nadat hy getrou het. Hy het uiteindelik al sy besittings weggedobbel. Kort daarna het Marcos aangesluit by die Bybelstudie wat Jehovah se Getuies met sy vrou gehou het. Aanvanklik het hy onwaardig gevoel om ’n Getuie te word. Maar omdat Marcos toegepas het wat hy geleer het en vergaderinge bygewoon het, het dit hom gehelp om sy vorige weë te laat staan. Hy is nou ’n gedoopte Christen wat ander gereeld leer hoe ook hulle kan verander.

Wat wil jy wees?

Watter veranderinge moet ons dalk aanbring om ons Christelike eienskappe te verbeter? Paulus maan Christene: “Verwyder dan nou al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond. Moenie vir mekaar lieg nie. Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af.” Die apostel sê verder: “Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het.”—Kol. 3:8-10.

Ons hoofdoel is dus om die ou persoonlikheid af te lê en ons met die nuwe persoonlikheid te beklee. Watter eienskappe moet ons aankweek om dit te doen? Paulus sê: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kol. 3:12-14). As ons ’n doelbewuste poging aanwend om hierdie eienskappe aan te kweek, sal dit ons help om “meer geliefd [te wees] vanuit Jehovah se standpunt sowel as vanuit dié van mense” (1 Sam. 2:26). Toe Jesus op die aarde was, het hy godvrugtige eienskappe op voortreflike wyse aan die dag gelê. As ons sy voorbeeld bestudeer en navolg, kan ons meer soos Christus word in ons strewe om “navolgers van God” te wees.—Ef. 5:1, 2.

Nog ’n manier om te onderskei watter veranderinge ons moet aanbring, is deur die eienskappe van Bybelkarakters te bestudeer en te kyk wat omtrent hulle vir ons aantreklik is en wat nie. Byvoorbeeld, dink aan Josef, die seun van die aartsvader Jakob. Ondanks die onregte wat hy gely het, het Josef positief en innerlik mooi gebly en ’n innerlike skoonheid behou (Gen. 45:1-15). Daarenteen het koning Dawid se seun Absalom voorgegee dat hy baie besorg is oor die volk, en hy is vir sy skoonheid geprys. Maar hy was in werklikheid ’n verraaier en ’n moordenaar (2 Sam. 13:28, 29; 14:25; 15:1-12). Geveinsde goedheid en fisiese skoonheid maak ’n mens nie werklik aantreklik nie.

Ons kán slaag

Om ten goede te verander en in God se oë mooi te wees, moet ons aandag skenk aan die innerlike mens (1 Pet. 3:3, 4). As ons veranderinge in ons persoonlikheid wil aanbring, moet ons ons negatiewe eienskappe en die faktore wat dit veroorsaak of daartoe bydra, identifiseer en ook godvrugtige eienskappe aankweek. Kan ons daarvan seker wees dat ons pogings om te verbeter, sal slaag?

Ja, met Jehovah se hulp kan ons die nodige veranderinge aanbring. Ons kan soos die psalmis bid: “Skep in my ook ’n suiwer hart, o God, en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees” (Ps. 51:10). Ons kan vra dat God se gees in ons werksaam moet wees en ons begeerte moet vergroot om ons lewe meer in ooreenstemming met sy wil te bring. Ons kan beslis daarin slaag om aantrekliker in Jehovah se oë te word!

[Voetnoot]

a Nie sy regte naam nie.

[Prent op bladsy 4]

Sal dit genoeg wees om net die buitekant van hierdie stormbeskadigde huis te verf?

[Prent op bladsy 5]

Het jou persoonlikheid soos dié van Christus geword?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel