Vertroos dié wat treur
“Jehovah [het] my gesalf . . . om al die treurendes te vertroos.”—JESAJA 61:1, 2.
1, 2. Aan wie moet ons vertroosting bied, en waarom?
JEHOVAH, die God van alle ware vertroosting, leer ons om besorgdheid te toon wanneer ander teëspoed ondervind. Hy leer ons om “vertroostend met die terneergedrukte siele [te praat]” en om al die treurendes te vertroos (1 Tessalonisense 5:14). Wanneer ons medeaanbidders sulke hulp nodig het, voorsien ons dit. Ons betoon ook liefde aan diegene buite die gemeente, selfs aan diegene wat nog nooit voorheen juis getoon het dat hulle ons liefhet nie.—Matteus 5:43-48; Galasiërs 6:10.
2 Jesus Christus het die volgende profetiese opdrag gelees en op homself toegepas: “Die gees van die Soewereine Heer Jehovah is op my, omdat Jehovah my gesalf het om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind, . . . om al die treurendes te vertroos” (Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:16-19). Hedendaagse gesalfde Christene besef lank reeds dat hierdie opdrag ook op hulle van toepassing is, en die “ander skape” is gretig om hierdie werk saam met hulle te doen.—Johannes 10:16.
3. Hoe kan ons mense help wat vra: “Waarom laat God rampe toe?”
3 Wanneer rampe mense tref en hulle gebroke van hart is, vra hulle dikwels: “Waarom laat God rampe toe?” Die Bybel gee ’n duidelike antwoord op hierdie vraag. Maar dit neem dalk tyd vir iemand wat nie ’n student van die Bybel is nie, om die antwoord ten volle te verstaan. Hulp word in die publikasies van Jehovah se Getuies voorsien.a Party mense is egter vertroos deur aanvanklik net ’n teks soos Jesaja 61:1, 2 in die Bybel te sien, omdat dit toon dat God graag wil hê mense moet vertroos word.
4. Hoe kon ’n Getuie in Pole ’n neerslagtige skoolmeisie help, en hoe kan hierdie ondervinding jou help om ander te help?
4 Jongmense, sowel as ouer mense, het vertroosting nodig. ’n Neerslagtige tiener in Pole het iemand wat sy geken het, raad gevra. Toe die vriendin, wat een van Jehovah se Getuies is, haar vriendelik uitvra, het sy agtergekom dat die meisie met baie vrae en twyfelgedagtes worstel: “Waarom is daar soveel goddeloosheid? Waarom ly mense? Waarom moet my verlamde sussie ly? Waarom het ek ’n hartkwaal? Die Kerk sê dat dit God se wil is. Maar as dit so is, wil ek nie meer in hom glo nie!” Die Getuie het in haar hart tot Jehovah gebid en toe gesê: “Ek is bly dat jy my hieroor gevra het. Ek sal jou probeer help.” Sy het vertel dat sy ook as kind oor baie dinge getwyfel het en dat Jehovah se Getuies haar gehelp het. Sy het verduidelik: “Ek het geleer dat God mense nie laat ly nie. Hy is lief vir mense, hy wil net die beste vir hulle hê en hy gaan binnekort groot veranderinge op die aarde teweegbring. Siekte, probleme wat met bejaardheid gepaardgaan en die dood sal iets van die verlede wees, en gehoorsame mense sal vir ewig lewe—op hierdie planeet.” Sy het vir die meisie Openbaring 21:3, 4; Job 33:25; Jesaja 35:5-7 en 65:21-25 gewys. Ná ’n lang bespreking het die meisie, sigbaar verlig, gesê: “Nou weet ek waarvoor ek lewe. Kan ek weer met jou kom praat?” Hierna is ’n Bybelstudie twee keer per week met haar gehou.
Met die vertroosting wat God gee
5. Wat sal ander waarlik vertroos wanneer ons ons meegevoel betuig?
5 Wanneer ons ander probeer vertroos, is dit beslis gepas om ons meegevoel uit te spreek. Ons wil deur ons woorde en stemtoon die bedroefde persoon laat besef dat ons diep besorg is oor sy situasie. Ons sal dit nie met leë, niksseggende woorde regkry nie. Die Bybel sê vir ons dat “ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Met dit in gedagte kan ons op ’n gepaste tyd verduidelik wat God se Koninkryk is en hoe dit volgens die Bybel die huidige probleme uit die weg sal ruim. Dan kan ons redeneer oor waarom dit ’n betroubare hoop is. So sal ons ander kan vertroos.
6. Wat moet ons mense help besef sodat hulle ten volle kan baat vind by die vertroosting in die Skrif?
6 Om ten volle baat te vind by die vertroosting wat gegee word, moet die persoon weet wie die ware God is, watter soort Persoon hy is en dat sy beloftes betroubaar is. Wanneer ons iemand probeer help wat nog nie ’n aanbidder van Jehovah is nie, is dit goed om die volgende punte te verduidelik. (1) Die vertroosting wat in die Bybel gevind word, kom van Jehovah, die ware God, af. (2) Jehovah is die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Hy is ’n God van liefde en is oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid. (3) Ons kan versterk word om situasies te hanteer as ons nader aan God kom deur juiste kennis van sy Woord in te neem. (4) Die Bybel bevat tekste wat verband hou met die spesifieke beproewinge waarvoor verskillende persone te staan kom.
7. (a) Wat kan ons bereik as ons beklemtoon dat die vertroosting wat God gee, “oorvloedig deur middel van die Christus” is? (b) Hoe kan jy iemand vertroos wat besef dat sy gedrag sleg was?
7 Party het aan bedroefdes wat die Bybel ken, ’n geestelike seën oorgedra deur vir hulle 2 Korintiërs 1:3-7 te lees. En wanneer hulle dit gelees het, het hulle klem gelê op die woorde “so is die vertroosting wat ons ontvang ook oorvloedig deur middel van die Christus”. Hierdie teks kan iemand help besef dat die Bybel ’n bron van vertroosting is waaraan hy meer aandag moet skenk. Dit kan ook die grondslag lê vir verdere besprekings, moontlik by ander geleenthede. As iemand meen dat sy probleme die gevolg is van slegte dinge wat hy gedoen het, kan ons, sonder om veroordelend te wees, vir hom sê dat dit vertroostend is om te weet wat in 1 Johannes 2:1, 2 en Psalm 103:11-14 opgeteken staan. Op dié maniere vertroos ons ander waarlik met die vertroosting wat God gee.
Wanneer die lewe deur geweld of ekonomiese probleme bederf word
8, 9. Hoe kan gepaste vertroosting gegee word vir mense wat weens geweld ly?
8 Die lewe van miljoene der miljoene is al deur geweld bederf—geweld weens misdaad in ’n gemeenskap of die geweld van oorlog. Hoe kan ons hierdie mense vertroos?
9 Wanneer dit by die wêreld se konflikte kom, is ware Christene versigtig om nie in woord of in daad kant te kies vir enige groep nie (Johannes 17:16). Maar hulle gebruik gepas die Bybel om te bewys dat die huidige slegte toestande nie vir ewig sal voortduur nie. Hulle lees dalk Psalm 11:5 om te toon hoe Jehovah voel oor diegene wat geweld liefhet, of Psalm 37:1-4 waar ons God se aanmoediging vind om nie self kwaad vir kwaad te vergeld nie, maar op God te vertrou. Die woorde van Psalm 72:12-14 toon hoe die Grotere Salomo, Jesus Christus, wat nou as hemelse Koning heers, voel oor onskuldige mense wat weens geweld ly.
10. Hoe kan die tekste wat hier aangegee word, jou vertroos as jy al jare lank te midde van oorlog lewe?
10 Party mense beleef die een konflik na die ander terwyl strydende faksies veg om beheer te verkry. Vir hulle is oorlog en die gevolge daarvan deel van die lewe. Hulle enigste hoop op ’n beter lewe, meen hulle dalk, is om na ’n ander land te vlug. Maar die meeste van hulle slaag nooit daarin om dit te doen nie, en baie wat dit probeer het, het hulle lewe verloor. Diegene wat wel ’n ander land bereik, vind dikwels dat hulle bloot een stel probleme vir ’n ander verruil het. Psalm 146:3-6 kan gebruik word om sulke mense te help om hulle hoop te vestig op ’n betroubaarder oplossing as emigrasie. Die profesie in Matteus 24:3, 7, 14 of 2 Timoteus 3:1-5 kan hulle help om die geheelbeeld te sien, asook die betekenis van die toestande wat hulle verduur, naamlik dat ons gedurende die voleinding van die ou stelsel van dinge lewe. Tekste soos Psalm 46:1-3, 8, 9 en Jesaja 2:2-4 kan hulle help besef dat daar waarlik hoop is op ’n vreedsame toekoms.
11. Watter tekste het ’n vrou in Wes-Afrika vertroos, en waarom?
11 Gedurende ’n tydperk van ononderbroke oorlogvoering in Wes-Afrika het ’n vrou tydens hewige geweervuur uit haar huis gevlug. Haar lewe is daarna gevul met vrees, droefheid en hartverskeurende teleurstelling. Later, terwyl die gesin in ’n ander land gewoon het, het haar man besluit om hulle huweliksertifikaat te verbrand, sy vrou, wat toe swanger was, en hulle tienjarige seuntjie weg te stuur en ’n priester te word. Toe Filippense 4:6, 7 en Psalm 55:22 sowel as skriftuurlike artikels uit Die Wagtoring en Ontwaak! met haar bespreek is, het sy uiteindelik vertroosting en ’n doel in die lewe gevind.
12. (a) Watter verligting bied die Skrif vir mense wat swaarkry? (b) Hoe kon ’n Getuie in Asië ’n klant help?
12 Ekonomiese krisisse het die lewe van miljoene mense bederf. Dit word ook soms veroorsaak deur oorlog en die gevolge daarvan. Ander kere het onverstandige regeringsbeleide en die gierigheid en oneerlikheid van diegene in regeringsposisies spaargeld verslind en mense gedwing om hulle besittings prys te gee. Ander het nog nooit baie aardse besittings gehad nie. Al hierdie mense kan vertroos word deur die wete dat God verligting verseker vir diegene wat op hom vertrou en ’n regverdige wêreld waarborg waarin mense die werk van hulle hande sal geniet (Psalm 146:6, 7; Jesaja 65:17, 21-23; 2 Petrus 3:13). Toe ’n Getuie in ’n land in Asië hoor hoe ’n klant ernstige kommer uitspreek oor die ekonomiese situasie in die land, het sy verduidelik dat hierdie dinge deel is van ’n patroon van gebeure wat regoor die wêreld plaasvind. ’n Bespreking van Matteus 24:3-14 en Psalm 37:9-11 het tot ’n gereelde Bybelstudie gelei.
13. (a) Hoe kan ons die Bybel gebruik om mense te help wat deur leë beloftes ontnugter is? (b) Hoe kan jy met mense probeer redeneer wat meen dat slegte toestande bewys dat daar geen God is nie?
13 Wanneer mense jare lank ly of deur talle leë beloftes ontnugter is, kan hulle soos die Israeliete in Egipte optree wat “uit ontmoediging” nie geluister het nie (Eksodus 6:9). In sulke gevalle sal dit dalk nuttig wees om maniere te beklemtoon waarop die Bybel hulle kan help om die huidige probleme met welslae die hoof te bied en strikke te vermy wat die lewe vir baie onnodig bederf (1 Timoteus 4:8b). Party beskou moontlik die slegte toestande waaronder hulle lewe as bewys dat daar geen God is nie of dat hy nie vir hulle omgee nie. Jy kan met hulle redeneer oor gepaste tekste wat hulle sal help besef dat God hulp voorsien het, maar dat baie dit nie aanvaar nie.—Jesaja 48:17, 18.
In tye van storms en aardbewings
14, 15. Hoe het Jehovah se Getuies hulle besorgdheid getoon toe baie mense ná ’n ramp in ’n geskokte toestand was?
14 ’n Storm, ’n aardbewing, ’n brand of ’n ontploffing kan tot rampspoed lei. Dan is droefheid dalk iets algemeens. Wat kan gedoen word om die oorlewendes te vertroos?
15 Mense moet weet dat iemand omgee. Ná ’n terreuraanval in een land was baie mense in ’n geskokte toestand. Baie van hulle het familielede verloor, asook broodwinners, vriende, werk, of watter veiligheid hulle ook al gedink het hulle het. Jehovah se Getuies het ’n helpende hand gereik na mense in hulle omgewing, meegevoel uitgespreek oor hulle groot verlies en vertroostende woorde uit die Bybel aan hulle oorgedra. Baie het hierdie besorgdheid opreg waardeer.
16. Waarom was die velddiens van plaaslike Getuies baie doeltreffend nadat ’n ramp ’n gebied in El Salvador getref het?
16 In El Salvador is ’n hewige aardbewing in 2001 gevolg deur ’n verskriklike modderstorting, wat baie lewens geëis het. Die 25-jarige seun van ’n Getuie en twee susters van die seun se verloofde het daarin omgekom. Die jong man se moeder en sy verloofde het kort daarna in die veldbediening uitgegaan. Baie het vir hulle gesê dat God die slagoffers geneem het of dat dit God se wil was. Die Getuies het Spreuke 10:22 aangehaal om te bewys dat God nie wil hê dat ons pyn moet verduur nie. Hulle het Romeine 5:12 gelees om te toon dat die dood deur die sonde van die mens veroorsaak is, nie omdat dit die wil van God is nie. Hulle het ook die vertroostende boodskap in Psalm 34:18, Psalm 37:29, Jesaja 25:8 en Openbaring 21:3, 4 gelees. Mense was bereid om te luister, veral aangesien die twee vroue self familielede in die ramp verloor het, en baie Bybelstudies is begin.
17. Op watter maniere kan ons mense help in tye van rampe?
17 Wanneer ’n ramp tref, kom jy dalk iemand teë wat onmiddellik fisiese hulp nodig het. Jy moet miskien ’n dokter ontbied, iemand help om by ’n hospitaal te kom of doen wat jy kan om kos en verblyf te voorsien. In 1998, gedurende so ’n ramp in Italië, het ’n joernalis opgemerk dat Jehovah se Getuies “op ’n praktiese manier te werk gaan en mense help wat ly, ongeag aan watter godsdiens hulle behoort”. In party gebiede veroorsaak gebeure wat vir die laaste dae voorspel is, groot lyding. Op daardie plekke verwys Jehovah se Getuies na Bybelprofesieë hieroor en vertroos hulle mense met die Bybel se versekering dat God se Koninkryk ware veiligheid vir die mensdom sal bring.—Spreuke 1:33; Miga 4:4.
Wanneer ’n gesinslid sterf
18-20. Wat kan jy sê of doen om vertroosting te gee as iemand in ’n gesin gesterf het?
18 Elke dag treur miljoene mense oor die dood van ’n geliefde. Jy ontmoet dalk hierdie bedroefdes terwyl jy aan die Christelike bediening deelneem of in jou daaglikse bedrywighede. Wat kan jy sê of doen om hulle te vertroos?
19 Is die persoon oorweldig deur smart? Is die huis vol bedroefde familielede? Daar is moontlik baie dinge wat jy graag sou wou sê, maar goeie oordeel is belangrik (Prediker 3:1, 7). Wat dalk gepas sal wees, is om jou meegevoel uit te spreek, ’n gepaste Bybelpublikasie (’n brosjure, ’n tydskrif of ’n traktaat) te laat en dan ná ’n paar dae terug te gaan om te sien of jy enige verdere hulp kan gee. Op ’n geskikte tyd kan jy aanbied om bemoedigende gedagtes uit die Bybel te bespreek. Dit kan ’n kalmerende en helende uitwerking hê (Spreuke 16:24; 25:11). Jy kan nie die dooies opwek soos Jesus gedoen het nie. Maar jy kan vir ander vertel wat die Bybel oor die toestand van die dooies sê, hoewel dit moontlik nie die regte tyd sal wees om verkeerde beskouings te probeer regstel nie (Psalm 146:4; Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Julle kan die Bybel se beloftes aangaande die opstanding saam lees (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Jy kan die betekenis hiervan verduidelik met behulp van ’n Bybelverslag oor ’n opstanding (Lukas 8:49-56; Johannes 11:39-44). Vestig ook die aandag op die eienskappe van die liefdevolle God wat ons hierdie hoop gee (Job 14:14, 15; Johannes 3:16). Verduidelik hoe jy by hierdie leringe baat gevind het en waarom jy vertroue daarin stel.
20 ’n Uitnodiging na die Koninkryksaal kan die bedroefde help om mense te leer ken wat waarlik hulle medemens liefhet en wat weet hoe om mekaar op te bou. Vir ’n vrou in Swede was dit juis waarna sy haar hele lewe lank gesoek het.—Johannes 13:35; 1 Tessalonisense 5:11.
21, 22. (a) Wat moet ons doen as ons ander wil vertroos? (b) Hoe kan jy iemand vertroos wat reeds die Bybel goed ken?
21 Voel jy soms onseker oor wat jy moet sê of doen as jy weet dat iemand bedroef is, hetsy dit iemand binne of buite die Christengemeente is? Die Griekse woord wat dikwels in die Bybel met “vertroos” vertaal word, beteken letterlik “om iemand na jou sy te roep”. Om ’n ware vertrooster te wees, dui daarop dat jy jou beskikbaar stel vir diegene wat treur.—Spreuke 17:17.
22 Sê nou die persoon wat jy wil vertroos, weet reeds wat die Bybel oor die dood, die losprys en die opstanding sê? Selfs net die teenwoordigheid van ’n vriend met dieselfde oortuigings kan ’n vertroosting wees. As hy wil praat, moet jy ’n goeie luisteraar wees. Moenie dink dat jy ’n toespraak moet hou nie. As jy tekste lees, moet jy dit beskou as woorde van God wat julle albei se harte versterk. Spreek die sterk oortuiging uit wat julle albei het dat die beloftes daarin beslis vervul sal word. Deur godvrugtige medelye te betoon en die kosbare waarhede in God se Woord te bespreek, kan jy die treurendes help om vertroosting en krag te verkry van “die God van alle vertroosting”, Jehovah.—2 Korintiërs 1:3.
[Voetnoot]
a Sien die boeke Kennis wat tot die ewige lewe lei, hoofstuk 8; Redenering uit die Skrif, bladsye 167-171, 279-286; Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, hoofstuk 10, en die brosjure Gee God werklik vir ons om?
Hoe sal jy antwoord?
• Wie is volgens baie mense verantwoordelik vir rampe, en hoe kan ons hulle help?
• Hoe kan ons ander help om ten volle baat te vind by die vertroosting wat die Bybel bied?
• Watter situasies veroorsaak hartseer vir baie in julle omgewing, en hoe kan jy hulle vertroos?
[Prente op bladsy 23]
’n Boodskap van ware vertroosting word in tye van benoudheid oorgedra
[Erkenning]
Vlugtelingkamp: UN PHOTO 186811/J. Isaac
[Prent op bladsy 24]
Selfs net die teenwoordigheid van ’n vriend kan ’n vertroosting wees