Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 3/1 bl. 8-13
  • ‘Wees moedig en sterk!’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Wees moedig en sterk!’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom moet ons ’n stryd voer?
  • Hoe om moed aan te kweek
  • Navolgenswaardige voorbeelde van moed
  • Ons moedige standpunt behaag en vereer Jehovah
  • Wanneer ons voor owerhede verskyn
  • Hou goeie moed!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wees moedig—Jehovah is met jou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • ‘Wees moedig en baie sterk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Wandel moedig in Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 3/1 bl. 8-13

‘Wees moedig en sterk!’

“Skep moed! Ek het die wêreld oorwin.”—JOHANNES 16:33.

1. Watter aanmoediging het die Israeliete ontvang met die oog op wat in Kanaän op hulle gewag het?

NET voordat die Israeliete die Jordaan oorgesteek het om die Beloofde Land in te gaan, het Moses vir hulle gesê: “Wees moedig en sterk. Moenie bang wees of sidder voor hulle nie, want Jehovah jou God trek saam met jou.” Toe het Moses Josua geroep, wat die Israeliete in Kanaän sou inlei, en aan hom persoonlik die raad herhaal om moedig te wees (Deuteronomium 31:6, 7). Later het Jehovah self Josua aangemoedig en gesê: “Wees moedig en sterk . . . Wees net moedig en baie sterk” (Josua 1:6, 7, 9). Dit was tydige woorde. Die Israeliete sou moed nodig hê om teen die magtige vyande te veg wat oorkant die Jordaan op hulle gewag het.

2. In watter situasie bevind ons ons vandag, en wat het ons nodig?

2 Vandag sien ware Christene ook daarna uit om binnekort die beloofde nuwe wêreld in te gaan, en net soos Josua het hulle moed nodig (2 Petrus 3:13; Openbaring 7:14). Maar ons situasie verskil van Josua s’n. Josua het met swaarde en spiese geveg. Ons voer ’n geestelike stryd en neem nooit letterlike wapens op nie (Jesaja 2:2-4; Efesiërs 6:11-17). Daarbenewens moes Josua selfs nadat hulle die Beloofde Land binnegegaan het, talle hewige gevegte voer. Maar ons ondervind nou ons hewigste stryde—voordat ons die nuwe wêreld ingaan. Kom ons kyk na ’n paar situasies wat moed verg.

Waarom moet ons ’n stryd voer?

3. Wat openbaar die Bybel oor ons vernaamste teenstander?

3 Die apostel Johannes het geskryf: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Hierdie woorde dui op ’n basiese rede waarom Christene ’n stryd moet voer om hulle geloof te behou. Wanneer ’n Christen sy onkreukbaarheid handhaaf, is dit in sekere mate ’n nederlaag vir Satan die Duiwel. Daarom is Satan soos “’n brullende leeu” wat getroue Christene probeer intimideer en verslind (1 Petrus 5:8). Ja, hy voer oorlog teen gesalfde Christene en hulle metgeselle (Openbaring 12:17). In hierdie oorlog gebruik hy mense wat wetend of onwetend sy oogmerke bevorder. Dit verg moed om vas te staan teen Satan en al sy agente.

4. Watter waarskuwing het Jesus gegee, maar watter eienskap het ware Christene aan die dag gelê?

4 Omdat Jesus geweet het dat Satan en sy agente die goeie nuus kragtig sou teëstaan, het Hy sy volgelinge gewaarsku: “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:9). Hierdie woorde was waar in die eerste eeu, en dit is ook vandag waar. Trouens, die vervolging wat party van Jehovah se hedendaagse Getuies verduur het, was net so wreed soos enige vervolging deur die geskiedenis heen. Nietemin is ware Christene moedig ten spyte van sulke druk. Hulle weet hoe waar die woorde is: “Om vir mense te bewe, span ’n strik”, en hulle wil nie in ’n strik gevang word nie.—Spreuke 29:25.

5, 6. (a) Watter situasies verg moed van ons? (b) Hoe reageer getroue Christene wanneer hulle moed op die proef gestel word?

5 Daar is ander uitdagings benewens vervolging wat moed van ons verg. Vir party is dit ’n uitdaging om met vreemdelinge oor die goeie nuus te praat. Party skoolkinders se moed word op die proef gestel wanneer daar van hulle verwag word om die volkslied te sing of ’n eed van getrouheid aan die land of die vlag af te lê. Aangesien hierdie dinge in werklikheid soos godsdienstige verklarings is, het Christenkinders hulle moedig voorgeneem om te doen wat God behaag, en hulle goeie gedrag is hartverblydend.

6 Ons het ook moed nodig wanneer teenstanders die media beïnvloed om ongunstige berigte oor God se knegte te versprei of wanneer hulle ware aanbidding probeer beperk deur “moeilikheid deur verordening” te beraam (Psalm 94:20). Hoe moet ons byvoorbeeld voel wanneer koerant-, radio- of televisieberigte oor Jehovah se Getuies wanvoorstellings of volslae leuens is? Moet ons geskok wees? Nee. Ons verwag sulke dinge (Psalm 109:2). En ons is nie verbaas as party mense die leuens en wanvoorstellings glo wat gepubliseer word nie, want “iemand wat onervare is, glo elke woord” (Spreuke 14:15). Maar lojale Christene weier om alles te glo wat oor hulle broers gesê word, en hulle laat beslis nie toe dat slegte publisiteit hulle beïnvloed om van Christelike vergaderinge weg te bly, traag te word in die veldbediening of in hulle geloof te wankel nie. Inteendeel, hulle “beveel [hulle] as God se bedienaars aan . . . deur middel van heerlikheid en oneer, deur middel van slegte berig en goeie berig; as bedrieërs [volgens teenstanders] en tog [in werklikheid] waaragtig”.—2 Korintiërs 6:4, 8.

7. Watter indringende vrae kan ons ons afvra?

7 Paulus het aan Timoteus geskryf en gesê: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag . . . Moet jou dus nie skaam vir die getuienis aangaande ons Here nie” (2 Timoteus 1:7, 8; Markus 8:38). Noudat ons hierdie woorde gelees het, kan ons ons afvra: ‘Skaam ek my vir my geloof, of is ek moedig? Vertel ek almal by die werk (of by die skool) dat ek ’n Getuie van Jehovah is, of probeer ek dit wegsteek? Is ek skaam om anders te wees, of is ek trots daarop dat my verhouding met Jehovah my anders maak?’ As iemand bang is om die goeie nuus te verkondig of om ’n ongewilde standpunt in te neem, moet hy Jehovah se raad aan Josua onthou: “Wees moedig en sterk.” Moet nooit vergeet dat dit nie die opinie van ons werksmaats of skoolmaats is wat belangrik is nie, maar die beskouing van Jehovah en Jesus Christus.—Galasiërs 1:10.

Hoe om moed aan te kweek

8, 9. (a) Hoe is die moed van die vroeë Christene by een geleentheid op die proef gestel? (b) Hoe het Petrus en Johannes gereageer toe hulle gedreig is, en wat het hulle en hulle broers ondervind?

8 Hoe kan ons die soort moed aankweek wat ons in staat sal stel om ons onkreukbaarheid in hierdie moeilike tye te handhaaf? Wel, hoe het die vroeë Christene moed aangekweek? Dink aan wat gebeur het toe die hoofpriesters en ouer manne in Jerusalem Petrus en Johannes beveel het om op te hou om in Jesus se naam te getuig. Die dissipels het geweier om dit te doen en is gedreig en toe vrygelaat. Daarna het hulle weer by die broers aangesluit, en hulle het almal saam gebid en gesê: “Jehovah, skenk aandag aan hulle dreigemente, en gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek” (Handelinge 4:13-29). Hierop het Jehovah hulle met heilige gees versterk, en soos Joodse leiers later getuig het, het hulle ‘Jerusalem vervul’ met hulle leer.—Handelinge 5:28.

9 Kom ons ontleed wat by daardie geleentheid gebeur het. Toe die dissipels deur die Joodse leiers gedreig is, het hulle nie daaraan gedink om voor die druk te swig nie. Die dissipels het eerder gebid vir moed om aan te hou preek. Toe het hulle in ooreenstemming met hulle gebed opgetree, en Jehovah het hulle met sy gees versterk. Hulle ondervinding toon dat die woorde wat Paulus jare later in ’n ander konteks geskryf het, op Christene van toepassing is wanneer hulle vervolg word. Paulus het gesê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.

10. Hoe help Jeremia se ondervinding diegene wat van nature skugter is?

10 Maar gestel iemand is van nature skugter. Kan hy Jehovah nietemin moedig dien ten spyte van teenstand? Beslis! Dink aan Jeremia se reaksie toe Jehovah hom as ’n profeet aangestel het. Die jong man het gesê: “Ek is nog maar net ’n seun.” Dit is duidelik dat hy onbevoeg gevoel het. Jehovah het hom egter met hierdie woorde aangemoedig: “Moenie sê: ‘Ek is nog maar net ’n seun’ nie. Maar na almal na wie toe ek jou sal stuur, moet jy gaan; en alles wat ek jou sal beveel, moet jy spreek. Moenie bang wees vir hulle aangesigte nie, want ‘ek is met jou om jou te verlos’” (Jeremia 1:6-10). Jeremia het vertroue in Jehovah gehad, en gevolglik het hy met Jehovah se krag sy huiwerigheid te bowe gekom en ’n besonder moedige getuie in Israel geword.

11. Wat help Christene vandag om soos Jeremia te wees?

11 Gesalfde Christene het vandag ’n opdrag soortgelyk aan dié van Jeremia, en met die ondersteuning van die “groot menigte” “ander skape” gaan hulle voort om Jehovah se voornemens bekend te maak, ten spyte van onverskilligheid, bespotting en vervolging (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Hulle word bemoedig deur Jehovah se woorde aan Jeremia: “Moenie bang wees . . . nie.” Hulle vergeet nooit dat hulle opdrag van God kom en dat hulle sy boodskap verkondig nie.—2 Korintiërs 2:17.

Navolgenswaardige voorbeelde van moed

12. Watter uitstekende voorbeeld van moed het Jesus gestel, en hoe het hy sy volgelinge aangemoedig?

12 Dit kan ons help om moed aan te kweek as ons peins oor die voorbeelde van ander wat, soos Jeremia, moedig opgetree het (Psalm 77:12). Wanneer ons byvoorbeeld Jesus se bediening ondersoek, word ons beïndruk deur die moed wat hy aan die dag gelê het toe hy deur Satan versoek is en toe hy later die verbete teenstand van die Joodse leiers ondervind het (Lukas 4:1-13; 20:19-47). In Jehovah se krag was Jesus onwankelbaar, en kort voor sy dood het hy vir sy dissipels gesê: “In die wêreld het julle verdrukking, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33; 17:16). Deur sy voorbeeld te volg, sou Jesus se dissipels ook oorwinnaars wees (1 Johannes 2:6; Openbaring 2:7, 11, 17, 26). Maar hulle moes ‘moed skep’.

13. Watter aanmoediging het Paulus aan die Filippense gegee?

13 Jare ná Jesus se dood is Paulus en Silas in Filippi in die tronk gegooi. Later het Paulus die gemeente in Filippi aangespoor om ‘in een gees vas te staan, met een siel sy aan sy vir die geloof van die goeie nuus te stry en in geen opsig deur hulle teenstanders bang gemaak te word nie’. Om hulle hierin te versterk, het Paulus gesê: “Juis dít [dat die Christene vervolg is] is ’n bewys van vernietiging vir [die vervolgers], maar van redding vir julle; en hierdie aanduiding kom van God, want aan julle is die voorreg ter wille van Christus gegee, nie net om julle geloof in hom te stel nie, maar ook om ter wille van hom te ly.”—Filippense 1:27-29.

14. Watter uitwerking het Paulus se moed op dié in Rome gehad?

14 Toe Paulus aan die gemeente in Filippi geskryf het, was hy weer in die tronk, dié keer in Rome. Nogtans het hy voortgegaan om moedig vir ander te getuig. Watter uitwerking het dit gehad? Hy het geskryf: “My boeie in verbintenis met Christus [het] algemeen bekend geword . . . onder die hele pretoriaanse wag en al die ander; en die meeste van die broers in die Here lê al hoe meer moed aan die dag om die woord van God onbevrees te spreek.”—Filippense 1:13, 14.

15. Waar kan ons goeie voorbeelde van geloof vind wat ons meer vasbeslote sal maak om moedig te wees?

15 Paulus se voorbeeld is vir ons ’n aansporing. So ook die goeie voorbeelde van hedendaagse Christene wat vervolging verduur het in lande waar diktators of geestelikes aan bewind is. Die verhale van baie van hulle verskyn in Die Wagtoring en die Ontwaak! en in die jaarboeke van Jehovah se Getuies. Wanneer jy hierdie verslae lees, moet jy onthou dat dit verhale van gewone mense soos ons is; maar wanneer hierdie persone hulle in uiters moeilike omstandighede bevind het, het Jehovah hulle die krag gegee wat bo die normale is, en hulle het volhard. Ons kan seker wees dat hy dit ook vir ons sal doen as die omstandighede dit sou vereis.

Ons moedige standpunt behaag en vereer Jehovah

16, 17. Hoe kan ons vandag ’n moedige gesindheid aankweek?

16 As ’n mens ferm standpunt inneem vir waarheid en regverdigheid, openbaar dit moed. As jy dit doen al voel jy bang, openbaar dit selfs groter moed. Trouens, enige Christen kan moedig wees as dit sy opregte begeerte is om Jehovah se wil te doen, as hy vasbeslote is om getrou te bly, as hy voortdurend op God vertrou en as hy altyd in gedagte hou dat Jehovah in die verlede baie mense soos hy versterk het. En wanneer ons besef dat ons moedige standpunt Jehovah behaag en vereer, is ons selfs meer vasbeslote om moedig te bly. Ons is bereid om bespotting of erger dinge te verduur omdat ons hom innig liefhet.—1 Johannes 2:5; 4:18.

17 Moet nooit vergeet dat ons nie vir ons geloof ly omdat ons iets verkeerds gedoen het nie (1 Petrus 3:17). Ons ly omdat ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun, omdat ons goed doen en omdat ons geen deel van die wêreld is nie. Die apostel Petrus het in hierdie verband gesê: “As julle, wanneer julle goed doen en ly, dit verduur, is dit iets welgevalligs by God.” Petrus het ook gesê: “Laat dan ook dié wat in ooreenstemming met die wil van God ly, aanhou om hulle siel aan ’n getroue Skepper toe te vertrou terwyl hulle goed doen” (1 Petrus 2:20; 4:19). Ja, ons geloof behaag ons liefdevolle God, Jehovah, en strek hom tot eer. Wat ’n kragtige rede is dit tog om moedig te wees!

Wanneer ons voor owerhede verskyn

18, 19. Watter boodskap dra ons in werklikheid oor wanneer ons ’n moedige standpunt voor ’n regter inneem?

18 Toe Jesus vir sy volgelinge vertel het dat hulle vervolg sou word, het hy ook gesê: “[Mense] sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer, en hulle sal julle in hulle sinagoges gesel. Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies” (Matteus 10:17, 18). Dit verg moed om op valse aanklagte voor ’n regter of ’n heerser te verskyn. Maar wanneer ons sulke geleenthede moedig gebruik om vir hierdie mense te getuig, verander ons ’n moeilike situasie in ’n geleentheid om iets belangriks te doen. Ons dra in werklikheid aan regters Jehovah se woorde in die 2de Psalm oor: “Nou, o konings, tree met insig op; laat julle teregwys, o regters van die aarde. Dien Jehovah met vrees” (Psalm 2:10, 11). Wanneer Jehovah se Getuies in die hof valslik beskuldig is, het regters al dikwels godsdiensvryheid gehandhaaf, en ons waardeer dit. Party regters het hulle egter deur teenstanders laat beïnvloed. Vir hulle sê die Skrif: “Laat julle teregwys.”

19 Regters moet besef dat die hoogste wet dié van Jehovah God is. Hulle moet onthou dat alle mense, regters inkluis, teenoor Jehovah God en Jesus Christus aanspreeklik is (Romeine 14:10). Wat ons betref, of ’n menseregter ons nou regverdig behandel of nie, ons het alle rede om moedig te wees, want Jehovah ondersteun ons. Die Bybel sê: “Gelukkig is almal wat hulle toevlug tot hom neem.”—Psalm 2:12.

20. Waarom kan ons gelukkig wees as ons vervolging en laster moet verduur?

20 Jesus het in die Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg” (Matteus 5:11, 12). Die vervolging self is natuurlik nie aangenaam nie, maar die feit dat ons standvastig bly ondanks vervolging, insluitende lasterlike berigte in die media, is ’n rede tot vreugde. Dit beteken dat ons Jehovah behaag en ’n beloning sal ontvang. Ons moedige standpunt toon dat ons ware geloof het en verseker ons van God se goedkeuring. Ja, dit toon dat ons volkome op Jehovah vertrou. Sulke vertroue is noodsaaklik vir ’n Christen, soos die volgende artikel sal toon.

Wat het jy geleer?

• Watter situasies verg vandag moed?

• Hoe kan ons moed aankweek?

• Wie is goeie voorbeelde van moed?

• Waarom wil ons moedig optree?

[Prente op bladsy 9]

Simone Arnold (nou Liebster) in Duitsland, Widdas Madona in Malawi en Lydia en Oleksii Kurdas in die Oekraïne het moed aan die dag gelê en die bose teëgestaan

[Prente op bladsy 10]

Ons skaam ons nie vir die goeie nuus nie

[Prent op bladsy 11]

Paulus se moed in die tronk het die goeie nuus grootliks bevorder

[Prent op bladsy 12]

As ons ons skriftuurlike posisie moedig aan ’n regter verduidelik, dra ons ’n belangrike boodskap oor

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel