Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 3/1 bl. 5-7
  • Hulle het oor vervolging geseëvier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle het oor vervolging geseëvier
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrygelaat, maar nie vir lank nie
  • Fascisme in Hongarye
  • Gevangenis in Hongarye, strafkamp in Serwië
  • Hongarye onder Kommunistiese beheer
  • ’n Einde aan alle vervolging
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
    Ontwaak!—2002
  • Die booshede van Nazisme aan die kaak gestel
    Ontwaak!—1995
  • Godsdiensvervolging—Waarom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 3/1 bl. 5-7

Hulle het oor vervolging geseëvier

FRIEDA JESS is in 1911 in Denemarke gebore, van waar sy later saam met haar ouers na Husum in noordelike Duitsland getrek het. Jare later het sy in Maagdenburg begin werk, en in 1930 is sy as ’n Bybelstudent gedoop, soos Jehovah se Getuies destyds bekend was. Hitler het in 1933 aan bewind gekom, en vir Frieda was dit die begin van 23 jaar van mishandeling, nie net deur een totalitêre regering nie, maar twee.

In Maart 1933 het die Duitse regering ’n algemene verkiesing gereël. Dr. Detlef Garbe, hoof van die Neuengamme-konsentrasiekamp se Gedenkmuseum naby Hamburg, verduidelik: “Die Nasionaal-Sosialiste wou die oorgrote meerderheid dwing om vir Adolf Hitler as hulle kanselier en führer te stem.” Jehovah se Getuies het Jesus se vermaning gehoorsaam om op politieke gebied neutraal te bly en “geen deel van die wêreld” te wees nie, en daarom het hulle nie gestem nie. Wat was die gevolg? Die Getuies is onwettig verklaar.—Johannes 17:16.

Frieda het in die geheim voortgegaan met haar Christelike bedrywighede en selfs gehelp om Die Wagtoring te druk. “Van die tydskrifte is in die konsentrasiekampe ingesmokkel vir ons medegelowiges”, sê sy. Sy is in 1940 in hegtenis geneem en deur die Gestapo ondervra, waarna sy maande lank in alleenopsluiting was. Hoe het sy volhard? Sy sê: “Gebed was my redding. Ek het vroeg in die oggend begin bid en verskeie kere deur die dag gebid. Gebed het my krag gegee en my gehelp om nie te angstig te raak nie.”—Filippense 4:6, 7.

Frieda is vrygelaat, maar in 1944 het die Gestapo haar weer in hegtenis geneem. Dié keer is sy vir sewe jaar na die Waldheim-gevangenis gestuur. Frieda vertel verder: “Die tronkbewaarders het my saam met ander vroue in die waskamers laat werk. Ek was dikwels saam met ’n gevangene van Tsjeggo-Slowakye en het dus baie met haar oor Jehovah en my geloof gepraat. Daardie gesprekke het my sterk gehou.”

Vrygelaat, maar nie vir lank nie

In Mei 1945 het Sowjet-troepe gevangenes in die Waldheim-gevangenis vrygelaat, en Frieda kon na Maagdenburg terugkeer en haar openbare bediening voortsit, maar nie vir lank nie. Die Getuies het weer ’n teiken van diskriminasie geword, hierdie keer deur die owerheid in die Sowjet-besettingsone. Gerald Hacke van die Hannah-Arendt-instituut vir Navorsing oor Totalitarisme skryf: “Jehovah se Getuies is een van die min groepe wat feitlik ononderbroke deur albei diktatorskappe op Duitse grondgebied vervolg is.”

Waarom die hernieude diskriminasie? Die hoofgeskil was weer eens Christelike neutraliteit. In 1948 het Oos-Duitsland ’n volkstemming gehou, en soos Hacke verduidelik, “was die basiese rede [vir die vervolging van Jehovah se Getuies] dat hulle nie aan die volkstemming deelgeneem het nie”. In Augustus 1950 is Jehovah se Getuies in Oos-Duitsland onwettig verklaar. Honderde is in hegtenis geneem, insluitende Frieda.

Frieda was weer terug in die hof en is tot ses jaar tronkstraf gevonnis. “Dié keer was ek saam met medegelowiges, en die assosiasie het my grootliks gehelp.” Toe sy in 1956 vrygelaat is, het sy na Wes-Duitsland getrek. Frieda is nou 90 jaar oud en woon in Husum, waar sy nog steeds die ware God, Jehovah, dien.

Frieda het 23 jaar van vervolging onder twee diktatorskappe deurgemaak. “Die Nazi’s het my fisies probeer vernietig; die Kommuniste het my gees probeer breek. Waar het ek die krag gekry? Ek het goeie Bybelstudiegewoontes gehad toe ek vry was, gedurig gebid terwyl ek in afsondering was, met medegelowiges geassosieer wanneer ek kon en ander by elke geleentheid van my oortuigings vertel.”

Fascisme in Hongarye

Nog ’n land waar Jehovah se Getuies dekades lank diskriminasie verduur het, was Hongarye. Party het vervolging deur nie net twee totalitêre regimes ondervind nie, maar drie. Een voorbeeld is dié van Ádám Szinger. Ádám is in 1922 in Paks, Hongarye, gebore en het as ’n Protestant grootgeword. In 1937 het Bybelstudente Ádám by sy huis besoek, en hy het onmiddellik belangstelling in hulle boodskap getoon. Wat hy uit die Bybel geleer het, het hom daarvan oortuig dat die leerstellings van sy kerk nie skriftuurlik is nie. Hy het dus die Protestantse Kerk verlaat en saam met die Bybelstudente in hulle openbare bediening uitgegaan.

Fascisme het sy invloed in Hongarye uitgebrei. Etlike kere terwyl Ádám van huis tot huis getuig het, het polisiesoldate hom gesien en vir ondervraging polisiestasie toe geneem. Die druk op die Getuies het al hoe hewiger geword, en in 1939 is hulle werk verbied. In 1942 is Ádám in hegtenis geneem, tronk toe gestuur en erg geslaan. Wat het hom op 19-jarige ouderdom gehelp om die lyding en die maande in die tronk te verduur? “Terwyl ek nog by die huis was, het ek die Bybel deeglik bestudeer en ’n duidelike begrip van Jehovah se voornemens gekry.” Eers nadat Ádám uit die tronk vrygelaat is, is hy uiteindelik as een van Jehovah se Getuies gedoop. Dit was op ’n donker nag in Augustus 1942, in ’n rivier naby sy huis.

Gevangenis in Hongarye, strafkamp in Serwië

Intussen het Hongarye tydens die Tweede Wêreldoorlog by Duitsland aangesluit teen die Sowjet-Unie, en in die herfs van 1942 is Ádám vir diensplig opgeroep. Hy vertel: “Ek het gesê dat ek nie militêre diens kon doen nie weens die dinge wat ek uit die Bybel geleer het. Ek het my neutrale standpunt verduidelik.” Hy is tot 11 jaar tronkstraf gevonnis. Maar Ádám het nie lank in Hongarye gebly nie.

In 1943 is omtrent 160 Getuies van Jehovah aangekeer, op vragbote gelaai en met die Donau-rivier na Serwië geneem. Ádám was een van hulle. In Serwië was hierdie gevangenes nou onder die beheer van Hitler se Derde Ryk. Hulle is in die strafkamp in Bor aangehou en gedwing om in ’n kopermyn te werk. Sowat ’n jaar later is hulle teruggeneem na Hongarye, waar Ádám in die lente van 1945 deur Sowjet-troepe bevry is.

Hongarye onder Kommunistiese beheer

Maar die vryheid was van korte duur. Teen die laat 1940’s het die Kommunistiese owerheid in Hongarye die bedrywighede van Jehovah se Getuies beperk, net soos die Fasciste voor die oorlog gedoen het. In 1952 is Ádám, wat teen dié tyd 29 jaar oud en getroud met twee kinders was, in hegtenis geneem en aangekla omdat hy weer eens geweier het om militêre diens te doen. Ádám het aan die hof verduidelik: “Dit is nie die eerste keer dat ek weier om diensplig te doen nie. Gedurende die oorlog is ek om dieselfde rede tronk toe gestuur en na Serwië verban. My gewete laat my nie toe om by die weermag aan te sluit nie. Ek is een van Jehovah se Getuies, en ek bly neutraal op politieke gebied.” Ádám is tot agt jaar tronkstraf gevonnis, wat later tot vier jaar verminder is.

Ádám was tot die middel-1970’s, meer as 35 jaar nadat die Bybelstudente die eerste keer sy ouerhuis besoek het, die slagoffer van diskriminasie. Gedurende hierdie tyd is hy deur ses howe tot 23 jaar tronkstraf gevonnis en is hy in ten minste tien gevangenisse en kampe aangehou. Hy het voortgesette vervolging onder drie regimes verduur—Fasciste in vooroorlogse Hongarye, Duitse Nasionaal-Sosialiste in Serwië en Kommuniste in Hongarye tydens die koue oorlog.

Ádám woon vandag nog in sy tuisdorp Paks, waar hy God lojaal dien. Het hy buitengewone vermoëns wat hom gehelp het om die ontberings suksesvol te verduur? Nee. Hy verduidelik:

“Bybelstudie, gebed en assosiasie met medegelowiges was onontbeerlik. Maar ek wil graag twee ander dinge beklemtoon. Eerstens, Jehovah is die Bron van krag. ’n Intieme verhouding met hom was my lewenslyn. En tweedens, ek het Romeine hoofstuk 12 in gedagte gehou, wat sê: ‘Moet julle nie wreek nie.’ Ek het dus nooit ’n wrok gekoester nie. ’n Paar keer het ek die geleentheid gehad om my op my vervolgers te wreek, maar ek het dit nooit gedoen nie. Ons moenie die krag wat Jehovah ons gee, gebruik om kwaad vir kwaad te vergeld nie.”

’n Einde aan alle vervolging

Frieda en Ádám kan Jehovah nou ongehinderd aanbid. Maar wat leer hierdie soort ondervindinge ons oor godsdiensvervolging? Dat sulke vervolging geen sukses behaal nie—ten minste nie wanneer ware Christene die skyf daarvan is nie. Hoewel dit baie geld en middele gekos het om Jehovah se Getuies te vervolg, asook verskriklike lyding veroorsaak het, het dit nie die doel daarvan bereik nie. Vandag floreer Jehovah se Getuies in Europa waar die twee groot diktatorskappe eens op ’n tyd die septer geswaai het.

Hoe het die Getuies op vervolging gereageer? Soos die ondervindinge van Frieda en Ádám toon, het hulle die Bybel se raad toegepas: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:21). Kan die goeie werklik die kwaad oorwin? Ja, wanneer ons ’n sterk geloof in God het. Die feit dat Jehovah se Getuies geseëvier het oor vervolging in Europa, beteken dat God se gees geseëvier het, ’n bewys van die positiewe krag wat die gevolg is van die geloof wat heilige gees in nederige Christene voortbring (Galasiërs 5:22, 23). In vandag se gewelddadige wêreld is dit ’n les wat almal ter harte kan neem.

[Prente op bladsy 5]

Frieda Jess (nou Thiele) toe sy in hegtenis geneem is en vandag

[Prente op bladsy 7]

Ádám Szinger toe hy gevange geneem is en vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel