Die Christengemeente—’n bron van versterkende hulp
POPI, ’n vrou in haar vroeë twintigerjare, was gefrustreerd, want ’n pynlike situasie het in hulle gesin ontwikkel omdat sy nie openlik met haar ouers kon praat nie.a Nadat sy haar hart aan ’n Christen- ouer man en sy vrou uitgestort het, het sy vir hulle geskryf: “Baie dankie dat julle die tyd geneem het om met my te praat. Julle weet nie hoeveel dit vir my beteken dat julle omgee nie. Ek dank Jehovah dat hy my mense gegee het wat ek kan vertrou en met wie ek kan praat.”
Toula, ’n vrou met twee tieners wat onlangs ’n weduwee geword het, het gevind dat sy vasgevang was in kwellende emosionele en finansiële probleme. Sy en haar kinders het gereeld versterkende besoeke van ’n Christenegpaar in die gemeente ontvang. Nadat sy haar situasie die hoof gebied het, het sy vir hulle ’n kaartjie gestuur en gesê: “Ek dink altyd aan julle in my gebede. Ek onthou die talle kere wat julle my bygestaan en ondersteun het.”
Voel jy soms dat jy “swaar belaai is” deur die toenemende druk van hierdie wêreld? (Matteus 11:28). Het “tyd en lotgeval” jou lewe met pynlike ondervindinge versuur? (Prediker 9:11). Dan is jy nie alleen nie. Maar soos duisende wat deur sulke probleme geteister word reeds ondervind het, kan jy ook betekenisvolle hulp in die Christengemeente van Jehovah se Getuies verkry. In die eerste eeu G.J. het die apostel Paulus gevind dat sekere medegelowiges veral vir hom ’n “versterkende hulp” was (Kolossense 4:10, 11). Jy kan iets soortgelyks ondervind.
Ondersteuning en bystand
In die Christelike Griekse Geskrifte word die woord “gemeente” vertaal van die Griekse woord ek·kle·siʹa, wat ’n groep mense wat saamgeroep is, beteken. Die gedagtes van saamhorigheid en wedersydse ondersteuning lê in daardie woord opgesluit.
Die Christengemeente verdedig die waarheid van God se Woord en maak die goeie nuus van sy Koninkryk bekend (1 Timoteus 3:15; 1 Petrus 2:9). Maar die gemeente voorsien ook geestelike ondersteuning en bystand aan diegene wat daarmee assosieer. In die gemeente kan ’n mens ’n groep liefdevolle, besorgde vriende vind wat omgee en wat gereed en bereid is om ander in moeilike tye te help en te vertroos.—2 Korintiërs 7:5-7.
Aanbidders van Jehovah het nog altyd veiligheid en sekuriteit in sy gemeente gevind. Die psalmis het aangedui dat hy vreugde en ’n gevoel van sekuriteit onder God se vergaderde volk ondervind het (Psalm 27:4, 5; 55:15; 122:1). Die Christengemeente is vandag eweneens ’n assosiasie van medegelowiges wat mekaar opbou en aanmoedig.—Spreuke 13:20; Romeine 1:11, 12.
Lede van die gemeente word geleer om “aan almal goed [te] doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan [hulle] verwant is” (Galasiërs 6:10). Die Bybelse onderrigting wat hulle ontvang, beweeg hulle om broederliefde en tere geneentheid vir mekaar te hê (Romeine 12:10; 1 Petrus 3:8). Geestelike broers en susters in die gemeente word beweeg om goedhartigheid, vredeliewendheid en tere medelye te betoon (Efesiërs 4:3). Hulle is nie net vormlike aanbidders nie, maar hulle toon eerder liefdevolle besorgdheid vir ander.—Jakobus 1:27.
In die gemeente vind diegene wat verbrysel is derhalwe ’n hartlike atmosfeer soos dié van ’n gesin (Markus 10:29, 30). Die gevoel dat hulle aan ’n hegte en liefdevolle groep behoort, versterk hulle (Psalm 133:1-3). Deur die gemeente voorsien “die getroue en verstandige slaaf” voedsame geestelike “voedsel op die regte tyd”.—Matteus 24:45.
Hulp van liefdevolle opsieners
Lede van die Christengemeente kan verwag om liefdevolle, simpatieke en bekwame herders daarin te vind wat geestelike ondersteuning en aanmoediging voorsien. Herders met sulke eienskappe is soos “’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën” (Jesaja 32:1, 2). Geesaangestelde ouer manne, of opsieners, sorg vir God se skaapgeaarde volk, bemoedig die siekes en terneergedruktes en probeer om diegene wat gesondig het reg te help.—Psalm 100:3; 1 Petrus 5:2, 3.
Die gemeente se liggaam van ouer manne is natuurlik nie professionele terapeute of gesondheidspraktisyns, wat die fisiese of geestesgesondheidsprobleme van medegelowiges kan genees nie. In hierdie stelsel van dinge het die siekes nog steeds “’n geneesheer nodig” (Lukas 5:31). Maar hierdie herders kan diegene help wat geestelike hulp nodig het (Jakobus 5:14, 15). Wanneer dit ook al moontlik is, tref die ouer manne ook reëlings vir ander hulp.—Jakobus 2:15, 16.
Wie het so ’n liefdevolle reëling ingestel? Jehovah God self! Die profeet Esegiël sê dat Jehovah verklaar: “Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg. . . . Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is . . . Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus.” God is ook besorg oor die uitgeputte en swak skape.—Esegiël 34:11, 12, 15, 16.
Ware hulp op die regte tyd
Is ware hulp werklik beskikbaar in die Christengemeente? Ja, en die volgende voorbeelde lig die verskeidenheid omstandighede toe waarin die gemeente van hulp kan wees.
◆ Die dood van ’n geliefde. Anna se man het ná ’n chroniese siekte gesterf. “Sedertdien het ek innige liefde van die Christenbroederskap ontvang”, sê sy. “Die voortdurende vriendelike woorde van ondersteuning en aanmoediging van my medegelowiges, asook hulle liefdevolle omhelsings, het my hart laat aanhou klop sodat dit nie heeltemal gebreek het nie, en ek dank Jehovah. Hulle liefde het my laat voel dat ek geweldig ondersteun is, uiteindelik versterk is en teer versorg is.” Jy het dalk ook die traumatiese ondervinding gehad om ’n geliefde aan die dood af te staan. By sulke geleenthede kan lede van die gemeente broodnodige vertroosting en emosionele ondersteuning gee.
◆ Siekte. Arthur, ’n reisende opsiener uit Pole, het gemeentes in Sentraal-Asië gereeld besoek om hulle geestelik te versterk. Gedurende een van hierdie besoeke het hy baie siek geword en ernstige komplikasies gekry. “Ek wil julle vertel hoe die broers en susters in [’n stad in Kazakstan] vir my gesorg het”, sê Arthur met diep waardering. “Broers en susters, waarvan ek baie nie ken nie—en selfs belangstellendes—het geld, kos en medisyne gebring. . . . En hulle het dit met groot vreugde gedoen.
“Stel julle my gevoelens voor toe ek ’n koevert met geld en die volgende brief ontvang het: ‘Liewe Broer, ek stuur vir jou hartlike groete. My ma het vir my geld gegee vir roomys, maar ek het besluit om dit vir jou te gee vir medisyne. Word asseblief gou gesond. Jehovah het ons ’n lang tyd nodig. Beste wense. En vertel ons nog goeie, leersame verhale. Wowa.’” Ja, soos in hierdie geval getoon is, kan oud en jonk in die gemeente versterkende hulp voorsien in tye van siekte.—Filippense 2:25-29.
◆ Depressie. Teri het die innige begeerte gehad om as ’n pionier, of voltydse Koninkryksverkondiger, te dien. Maar weens probleme kon sy nie met die pionierdiens voortgaan nie. “Ek het geweldig skuldig gevoel omdat ek in hierdie hoedanigheid probeer dien het en nie eers ’n volle jaar uitgehou het nie”, sê sy. Teri het verkeerdelik geglo dat Jehovah se goedkeuring alleenlik afhang van hoeveel tyd sy in haar diens aan hom deurbring. (Vergelyk Markus 12:41-44.) Sy het heel terneergedruk geraak en haarself afgesonder. Maar toe het verkwikkende hulp van die gemeente gekom.
Teri sê: “’n Ouer pioniersuster het my geredelik gehelp en na my geluister toe ek my gevoelens uitgestort het. Toe ek by haar huis weg is, het ek gevoel asof ’n las van my af is. Van daardie tydstip af aan het hierdie pioniersuster en haar man, ’n ouer man in die gemeente, my van waardevolle hulp voorsien. Hulle het my daagliks gebel om te vra hoe dit met my gaan. . . . Hulle het my toegelaat om hulle gesinstudie by te woon, wat my laat besef het hoe belangrik dit is dat gesinne na aan mekaar bly.”
Dit is nie ongewoon dat baie—selfs toegewyde Christene—terneergedruk, ontmoedig en eensaam word nie. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat liefdevolle, onselfsugtige bystand in God se gemeente beskikbaar is!—1 Tessalonisense 5:14.
◆ Rampe en ongelukke. Stel jouself in die plek van ’n gesin van vier wat al hulle besittings verloor het toe hulle huis afgebrand het. Weldra het hulle ’n ondervinding gehad wat hulle beskryf het as “’n aanmoedigende ondervinding wat ons vir ewig sal onthou en wat die ware liefde onder Jehovah se volk by ons tuisgebring het”. Hulle verduidelik: “Ons is byna onmiddellik toegeval deur opregte oproepe van ons geestelike broers en susters om hulle ondersteuning en simpatie uit te spreek. Die telefoon het aanhoudend gelui. Almal se opregte besorgdheid en liefde was so roerend dat ons trane van dankbaarheid gestort het.”
Kort voor lank het die ouer manne van die gemeente ’n groot groep broers bymekaargekry, en binne ’n paar dae het hulle vir dié gesin ’n nuwe huis gebou. Een van die bure het uitgeroep: “Jy moet dit sien! Allerhande mense het daar gewerk—mans, vroue, swart mense, Spanjaarde!” Dit was ’n duidelike bewys van broederliefde.—Johannes 13:35.
Mede-Christene het die gesin ook klere, voedsel en geld gegee. Die vader sê: “Dit was gedurende die Kerstyd wanneer almal geskenke gee, maar ons kan eerlik sê dat niemand anders die soort opregte, oorweldigende vrygewigheid ondervind het wat ons ondervind het nie.” En hulle voeg by: “Herinneringe aan die brand is stadig besig om te vervaag en word vervang deur spesiale herinneringe aan goedhartige dade en goeie vriende. Ons dank ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, dat ons so ’n wonderlike, verenigde gesin van broers op die aarde het, en ons is so dankbaar dat ons deel daarvan uitmaak!”
Sulke hulp is natuurlik nie met elke tragedie moontlik nie, en dit kan ook nie verwag word nie. Maar hierdie geval lig beslis die ondersteuning toe wat die gemeente kan voorsien.
Wysheid van bo
Baie het nog ’n bron van hulp en krag in die Christengemeente gevind. Wat is dit? Publikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorberei is. Van die belangrikste onder hulle is die tydskrifte Die Wagtoring en Ontwaak! Ten einde insiggewende raad en praktiese onderrigting te voorsien, maak hierdie publikasies hoofsaaklik staat op die Goddelike wysheid wat in die Bybel gevind word (Psalm 119:105). Skriftuurlike inligting word aangevul met verantwoordelike en deskundige navorsing oor onderwerpe soos geestesdepressie, die herstelproses ná mishandeling, verskeie maatskaplike en ekonomiese probleme, uitdagings waarvoor jongmense te staan kom en moeilikhede wat eie is aan ontwikkelende lande. Bowenal bevestig hierdie publikasies dat God se weg die beste lewensweg is.—Jesaja 30:20, 21, NW.
Die Wagtoringgenootskap ontvang elke jaar duisende briewe van waardering. Aangaande ’n Ontwaak!-artikel oor selfmoord het ’n jong man in Rusland byvoorbeeld geskryf: “Weens my neiging tot depressie . . . het ek al baie maal aan selfmoord gedink. Hierdie artikel het my geloof versterk dat God my sal help om my probleme die hoof te bied. Hy wil hê dat ek moet lewe. Ek dank hom vir sy steun wat deur middel van hierdie artikel gegee is.”
As die stormagtige probleme in hierdie wêreld te erg lyk om te bowe te kom, kan jy seker wees dat daar ’n veilige toevlug in die Christengemeente is. Ja, as hierdie liefdelose stelsel wat soos ’n dorre woestyn is jou uitmergel, kan jy ’n versterkende oase in Jehovah se organisasie vind. Nadat jy sulke ondersteuning ondervind het, sal jy dalk ook voel soos ’n Christenvrou wat haar man se ernstige siekte die hoof kon bied en geskryf het: “Weens die liefde en sorg wat teenoor ons betoon is, voel ek asof Jehovah ons deur hierdie krisis in die palm van sy hand gedra het. Hoe dankbaar is ek tog dat ek aan Jehovah se wonderlike organisasie behoort!”
[Voetnoot]
a Die name is verander.
[Prente op bladsy 26]
Ons kan versterkende hulp aan die siekes, die bedroefdes en ander verleen