Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 3/15 bl. 3-9
  • Die laaste dag van Jesus se lewe as mens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die laaste dag van Jesus se lewe as mens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Donderdagaand, 14 Nisan
  • ’n Spesiale viering
  • In die tuin van Getsemane
  • Vrydagoggend, 14 Nisan
  • ’n Pynlike dood
  • Jesus lewe weer!
  • Hoe jy geraak word
  • Herleef Jesus se laaste dae op aarde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jesus word doodgemaak
    My boek met Bybelverhale
  • ‘Die uur het gekom!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Bybelboek nommer 43—Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 3/15 bl. 3-9

Die laaste dag van Jesus se lewe as mens

Dit is laat Vrydagmiddag, 14 Nisan 33 G.J. ’n Groep mans en vroue is op die punt om ’n dierbare vriend te begrawe. Een van die mans, Nikodemus, het speserye gebring om die liggaam vir die begrafnis voor te berei. ’n Man met die naam Josef het skoon linne voorsien om die gekneusde en mishandelde lyk toe te draai.

WIE is hierdie mense, en wie begrawe hulle? Raak dit jou? Kom ons gaan terug na die begin van daardie betekenisvolle dag om hierdie vrae te beantwoord.

Donderdagaand, 14 Nisan

’n Helder volmaan is stadig besig om oor Jerusalem op te kom. Die stampvol stad kom ná ’n besige dag tot bedaring. Vanaand is die lug vol van die geur van lamsvleis wat braai. Ja, duisende mense berei vir ’n spesiale geleentheid voor—die jaarlikse viering van die Pasga.

In ’n groot gastevertrek vind ons Jesus Christus en sy 12 apostels by ’n voorbereide tafel. Luister! Jesus praat. “Ek het vurig begeer om hierdie pasga saam met julle te eet voordat ek ly”, sê hy (Lukas 22:15). Jesus weet dat sy godsdiensvyande vasbeslote is om hom te laat doodmaak. Maar voordat dit gebeur, sal iets vanaand plaasvind wat baie betekenisvol is.

Nadat die Pasga gevier is, sê Jesus: “Een van julle sal my verraai” (Matteus 26:21). Dit ontstel die apostels. Wie kan dit wees? Ná heelwat bespreking sê Jesus vir Judas Iskariot: “Wat jy doen, kry dit gouer gedaan” (Johannes 13:27). Hoewel die ander dit nie besef nie, is Judas ’n verraaier. Hy gaan om sy gemene rol in die komplot teen Jesus te vervul.

’n Spesiale viering

Jesus stel nou ’n heeltemal nuwe viering in—een wat sy dood sal herdenk. Jesus neem ’n brood, doen ’n dankgebed daaroor en verdeel dit. “Neem, eet”, sê hy. “Dit beteken my liggaam, wat ten behoewe van julle gegee gaan word.” Nadat elkeen van die brood geëet het, neem hy ’n beker rooi wyn en vra ’n seën daaroor. “Drink almal daaruit”, sê Jesus vir hulle en verduidelik: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat ten behoewe van julle uitgestort gaan word.” Hy gee die oorblywende 11 getroue apostels die opdrag: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.”—Matteus 26:26-28; Lukas 22:19, 20; 1 Korintiërs 11:24, 25.

Daardie aand berei Jesus sy lojale apostels op goedhartige wyse voor vir wat voorlê en bevestig sy innige liefde vir hulle. “Niemand het groter liefde as dít nie”, verduidelik hy, “dat iemand ten behoewe van sy vriende van sy siel afstand doen. Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel” (Johannes 15:13-15). Ja, die 11 apostels het bewys dat hulle ware vriende is deur by Jesus te bly gedurende sy beproewinge.

Laat in die aand—dalk ná middernag—doen Jesus ’n onvergeetlike gebed, waarna hulle lofliedere tot Jehovah sing. Dan, in die lig van die volmaan, verlaat hulle die stad en steek die Kidronvallei oor.—Johannes 17:1–18:1.

In die tuin van Getsemane

’n Kort rukkie later kom Jesus en die apostels in die tuin van Getsemane aan. Jesus laat agt van die apostels by die ingang van die tuin en neem Petrus, Jakobus en Johannes verder tussen die olyfbome in. “My siel is diep bedroef, ja, tot die dood toe”, sê hy vir die drie. “Bly hier en hou aan waak.”—Markus 14:33, 34.

Die drie apostels wag terwyl Jesus dieper in die tuin ingaan om te bid. Met sterk uitroepe en trane smeek hy: “Vader, as u wil, neem hierdie beker van my af weg.” ’n Ontsaglike verantwoordelikheid rus op Jesus se skouers. Hoe onrusbarend is dit tog vir hom om te dink wat Jehovah se vyande sal sê wanneer Sy enigverwekte Seun aan ’n paal genael word asof hy ’n misdadiger is! Die gedagte aan die oneer wat dit sy geliefde hemelse Vader sal aandoen as hy hierdie verskriklike toets sou faal, is vir Jesus selfs pynliker. Jesus bid so vurig en verduur soveel sielsangs dat sy sweet soos bloeddruppels word wat op die grond val.—Lukas 22:42, 44.

Jesus het so pas vir ’n derde keer gebid. Manne wat fakkels en lampe dra, kom nou nader. Die een wat voor loop is niemand anders nie as Judas Iskariot, wat reguit na Jesus toe kom. “Goeiedag, Rabbi!” sê hy en soen Jesus baie teer. “Judas”, sê Jesus, “verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?”—Matteus 26:49; Lukas 22:47, 48; Johannes 18:3.

Skielik besef die apostels wat gebeur. Hulle Here en dierbare vriend gaan in hegtenis geneem word! Petrus gryp dus ’n swaard en sny die oor van die hoëpriester se slaaf af. “Laat dit hierby bly”, roep Jesus vinnig uit. Hy steek sy hand uit, maak die slaaf gesond en beveel Petrus: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Lukas 22:50, 51; Matteus 26:52). Die beamptes en soldate gryp Jesus en bind hom vas. Weens vrees en verwarring verlaat die apostels Jesus en vlug die nag in.—Matteus 26:56; Johannes 18:12.

Vrydagoggend, 14 Nisan

Dit is lank ná middernag in die vroeë ure van Vrydag. Jesus word eers na die huis van die voormalige hoëpriester Annas gelei, wat nog groot invloed en gesag uitoefen. Annas ondervra hom en laat hom dan na die huis van die hoëpriester Kajafas geneem word waar die Sanhedrin vergader het.

Die godsdiensleiers probeer nou getuies vind om ’n saak teen Jesus te fabriseer. Maar selfs die valse getuies kan nie in hulle getuienis ooreenstem nie. Jesus bly deur dit alles stil. Kajafas verander toe sy taktiek en eis: “Ek stel jou onder eed by die lewende God om vir ons te sê of jy die Christus, die Seun van God, is!” Dit is ’n feit wat nie ontken kan word nie, en Jesus antwoord derhalwe moedig: “Ek is; en julle sal die Seun van die mens aan die regterhand van krag sien sit en met die wolke van die hemel sien kom.”—Matteus 26:63; Markus 14:60-62.

“Hy het gelaster!” roep Kajafas uit. “Waarvoor het ons nog getuies nodig?” Party klap Jesus nou deur die gesig en spoeg op hom. Ander slaan hom met hulle vuiste en bespot hom (Matteus 26:65-68; Markus 14:63-65). Vrydag kort ná dagbreek vergader die Sanhedrin weer, moontlik om ’n skyn van wettigheid aan die onwettige nagverhoor te verleen. Weer dui Jesus moedig aan dat hy die Christus, die Seun van God, is.—Lukas 22:66-71.

Daarna neem die hoofpriesters en ouer manne Jesus weg om deur Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea, verhoor te word. Hulle beskuldig Jesus daarvan dat hy die nasie ondermyn, die betaling van belasting aan Caesar verbied en “sê dat hy self Christus, ’n koning, is”. (Lukas 23:2; vergelyk Markus 12:17.) Nadat Pilatus Jesus ondervra het, sê hy: “Ek vind geen misdaad in hierdie man nie” (Lukas 23:4). Wanneer Pilatus uitvind dat Jesus ’n Galileër is, stuur hy hom na Herodes Antipas, die heerser van Galilea, wat in Jerusalem is vir die Pasga. Herodes stel nie daarin belang om geregtigheid te laat geskied nie. Hy wil bloot sien hoe Jesus ’n wonderwerk verrig. Aangesien Jesus nie sy nuuskierigheid bevredig nie en stilbly, dryf Herodes en sy soldate die spot met hom en stuur hy hom terug na Pilatus.

“Wat het hierdie man dan gedoen wat sleg is?” vra Pilatus weer. “Ek het niks in hom gevind wat die dood verdien nie; ek sal hom dus kasty en vrylaat” (Lukas 23:22). Hy laat Jesus dus gesel met ’n sweep met etlike riempies wat op ’n pynlike wyse in Jesus se rug insny. Die soldate druk dan ’n kroon van dorings op sy kop. Hulle bespot hom en slaan hom met ’n stewige riet, wat die doringkroon dieper in sy kopvel indruk. Ondanks al die onbeskryflike pyn en mishandeling lê Jesus uitsonderlike waardigheid en krag aan die dag.

Pilatus bring hom weer voor die skare—moontlik in die hoop dat Jesus se gemartelde toestand ’n bietjie simpatie sal ontlok. “Kyk!” roep Pilatus uit, “ek bring hom buitentoe na julle sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Maar die hoofpriesters skreeu: “Hang hom aan die paal! Hang hom aan die paal!” (Johannes 19:4-6). Wanneer die skare al hoe heftiger daarop aandring, gee Pilatus in en lewer hy Jesus oor om aan die paal genael te word.

’n Pynlike dood

Teen dié tyd is dit al die middel van die oggend, moontlik amper twaalfuur. Jesus word na ’n plek buite Jerusalem geneem wat Golgota genoem word. Groot spykers word deur Jesus se hande en voete in ’n folterpaal ingeslaan. Die pyn is onbeskryflik wanneer die folterpaal opgelig word en die gewig van sy liggaam aan die spykerwonde skeur. ’n Skare vergader om te sien hoe Jesus en twee misdadigers aan die paal genael word. Baie praat smadend van Jesus. “Ander het hy gered”, spot die hoofpriesters en ander, “homself kan hy nie red nie!” Selfs die soldate en die twee misdadigers wat aan die pale gehang is, bespot Jesus.—Matteus 27:41-44.

Skielik om twaalfuur die middag, nadat Jesus al ’n rukkie aan die paal gehang het, is daar drie uur lank ’n onheilspellende duisternis van Goddelike oorsprong in die land.a Dít is moontlik wat die een kwaaddoener beweeg om die ander een te bestraf. Hy draai dan na Jesus en smeek: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Watter verbasende geloof openbaar hierdie man tog net voor sy dood! “Voorwaar, ek sê vir jou vandag:” antwoord Jesus, “Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:39-43.

Ongeveer drie-uur die middag voel Jesus dat sy einde naby is. “Ek is dors”, sê hy. Dan roep hy met ’n harde stem uit: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” Jesus kan aanvoel dat sy Vader as ’t ware Sy beskerming van hom weggeneem het sodat sy onkreukbaarheid tot die uiterste beproef kan word, en hy haal Dawid se woorde aan. Iemand sit ’n spons wat met suur wyn deurweek is teen Jesus se lippe. Nadat Jesus van die wyn gehad het, sê hy: “Dit is volbring!” Dan roep hy uit: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe”, waarna hy sy kop buig en sy laaste asem uitblaas.—Johannes 19:28-30; Matteus 27:46; Lukas 23:46; Psalm 22:2.

Aangesien dit laat in die middag is, word daar haastig reëlings getref om Jesus te begrawe voordat die Sabbat (15 Nisan) ná sononder begin. Josef van Arimatea, ’n welbekende lid van die Sanhedrin wat ’n geheime dissipel van Jesus is, kry toestemming om hom te begrawe. Nikodemus, ook ’n lid van die Sanhedrin wat in die geheim geloof in Jesus bely het, bring 33 kilogram mirre en aalwyn. Hulle lê Jesus se liggaam versigtig in ’n nuwe gedenkgraf daar naby neer.

Jesus lewe weer!

Dit is vroeg Sondagoggend nog donker wanneer Maria Magdalena en ’n paar ander vroue Jesus se graf nader. Maar kyk! Die klip voor die graf is weggerol. En die graf is leeg! Maria Magdalena hardloop om Petrus en Johannes te gaan vertel (Johannes 20:1, 2). Net nadat sy weg is, verskyn ’n engel aan die ander vroue. Hy sê: “Julle moenie bevrees wees nie.” Hy spoor hulle ook aan: “Gaan gou en sê vir sy dissipels dat hy uit die dode opgewek is.”—Matteus 28:2-7.

Terwyl hulle haastig op pad is, kom hulle Jesus self teë! “Gaan, vertel vir my broers”, sê hy vir hulle (Matteus 28:8-10). Later huil Maria Magdalena by die graf wanneer Jesus aan haar verskyn. Sy kan skaars haar vreugde inhou en haas haar om die ander dissipels die wonderlike nuus te vertel (Johannes 20:11-18). Trouens, die verrese Jesus verskyn vyf keer op daardie onvergeetlike Sondag aan verskeie dissipels en laat geen twyfel dat hy inderdaad weer lewendig is nie!

Hoe jy geraak word

Hoe kan jy nou op die drumpel van die 21ste eeu deur gebeure geraak word wat 1 966 jaar gelede plaasgevind het? ’n Ooggetuie van daardie gebeure verduidelik: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenofferande vir ons sondes.”—1 Johannes 4:9, 10.

In watter opsig is Christus se dood “’n soenofferande”? Dit is versoenend omdat dit ’n goeie verhouding met God moontlik maak. Die eerste mens, Adam, het teen God in opstand gekom en sodoende sonde en die dood aan sy nageslag nagelaat. Jesus het aan die ander kant sy lewe as ’n losprys gegee om die prys te betaal vir die mensdom se sonde en dood en het sodoende ’n grondslag voorsien vir God om barmhartigheid en guns te betoon (1 Timoteus 2:5, 6). Jy kan van die veroordeling verlos word wat jy van die sondaar Adam geërf het deur geloof in Jesus se soenofferande te beoefen (Romeine 5:12; 6:23). Dit gee jou weer die wonderlike geleentheid om ’n persoonlike verhouding met jou liefdevolle hemelse Vader, Jehovah God, te hê. Kortom, Jesus se kosbare offerande kan eindelose lewe vir jou beteken.—Johannes 3:16; 17:3.

Dit en verwante sake sal Donderdagaand, 1 April, by tienduisende plekke regoor die wêreld bespreek word wanneer miljoene mense gaan vergader om die dood van Jesus Christus te herdenk. Jy word genooi om dit by te woon. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal met graagte vir jou sê waar en wanneer jy die vergadering kan bywoon. Jou teenwoordigheid daar sal ongetwyfeld jou waardering vergroot vir wat ons liefdevolle God en sy dierbare Seun op die laaste dag van Jesus se lewe as mens gedoen het.

[Tabel/Prente op bladsy 7]

JESUS SE DOOD EN OPSTANDING

NISAN 33 G.J. GEBEURE GROOSTE MENSb

14 Donderdag Pasgaviering; Jesus voete van die 113, par. 2 -aand

apostels; Judas gaan uit om Jesus te 117, par. 1

verraai; Christus stel herdenking van

sy dood in (word vanjaar op Dondergad,

1 April, ná sononder, gevier);

vermaning om apostels op sy vertrek

voor te berei

Middernag tot Ná ’n gebed en lofliedere gaan, 117 to 120

voor dagbreek Jesus en sy apostels na die tuin

van Getsemane; Jesus bid met sterk

uitroepe en trane; Judas Iskariot

daag daar op met ’n groot skare en verraai

Jesus; apostels vlug terwyl Jesus

vasgebind word en na Annas geneem

word; Jesus word na die hoëpriester Kajafas

geneem word; Jesus word na die hoëpriester Kajafas

geneem om voor Sanhedrin te veskyn; word ter dood

veroordeel; word gesmaad en mishandel;

Petrus verloên Jesus drie keer

Vrydag- Met dagbreek verskyn Jesus weer voor 121 to 124

oggend Sanhedrin; word na Pilatus geneem;

word na Herodes gestuur; terug na Pilatus;

Jesus word gegesel, beledig en aan-

gerand; onder druk lewer Pilatus hom oor vir

teregstelling; word laat in die oggend na Golgota

gelei vir teregstelling

Twaalfuur Kort voor twaalfuur aan die paal genael; 125, 126

tot middel duisternis van twaalfuur tot ongeveer

van midddag drie-uur, wanneer Jesus sterf; geweldige aardbewing; tempel se voorhangsel skeur in twee

Laatmiddag Jesus se liggaam word voor die Sabbat 127, par.

in ’n tuin neergelê 1-7

15 Vrydag- Sabbat begin

aand

Saterdag Pilatus laat toe dat wagte woor Jesus 127, pars.

se graf staan 8-9

16 Sondag Vroeg in die oggend word Jesus se graf 127, par. 10

leeg gevind; verrese Jesus verskyn aan tot 129, par.

(1) ’n groep vroulike dissipels, waaronder 10

Salome, Johanna en Maria die noeder van

Jakobus; (2) Maria Magdalena; (3) Kleopas

en sy metgesel; (4) Simon Petrus; (5) ’n

groep apostels en ander dissipels

[Voetnoot]

a ’n Sonsverduistering kon nie die oorsaak van die duisternis gewees het nie, want Jesus het gesterf toe dit volmaan was. Sonsverduisterings duur net ’n paar minute en vind met nuwemaan plaas wanneer die maan tussen die aarde en die son is.

b Die nommers wat hier aangegee word, dui die hoofstukke in die boek Die Groofste mens wat nog geleef het aan. Sien “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, bladsy 290, vir ’n tabel met die volledige skriftuurlike verwysings na Jesus se finale bediening. Hierdie boeke word uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel