Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 3/15 bl. 3-9
  • Herleef Jesus se laaste dae op aarde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Herleef Jesus se laaste dae op aarde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • 9 Nisan
  • 10 Nisan
  • 11 Nisan
  • 12 en 13 Nisan
  • 14 Nisan, ná sononder
  • Jesus se lewe en jy
  • ‘Die uur het gekom!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die laaste dag van Jesus se lewe as mens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Jesus se laaste Pasga kom nader
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Jesus se laaste Pasga is ophande
    Die grootste mens wat nog geleef het
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 3/15 bl. 3-9

Herleef Jesus se laaste dae op aarde

DIT is die sewende dag van die Joodse maand Nisan in die jaar 33 G.J. Stel jou voor dat jy gebeure in die Romeinse provinsie Judea waarneem. Jesus Christus en sy dissipels verlaat Jerigo met sy welige plantegroei en stap moeisaam met ’n stowwerige, kronkelpad op. Baie ander reisigers is ook op pad na Jerusalem vir die jaarlikse Pasgaviering. Maar hierdie uitputtende klim is nie al waaraan Christus se dissipels dink nie.

Die Jode sien al lank uit na ’n Messias wat hulle van die Romeinse juk kan bevry. Baie glo dat Jesus van Nasaret hierdie langverwagte Verlosser is. Drie en ’n half jaar lank praat hy al oor God se Koninkryk. Hy het die siekes gesond gemaak en dié gevoed wat honger was. Ja, hy het vertroosting vir die volk gebring. Die godsdiensleiers is egter gegrief omdat Jesus hulle vurig veroordeel het en is vas van plan om hom te laat doodmaak. Maar hier is hy besig om doelgerig al met die dorre pad langs voor sy dissipels uit te stap.—Markus 10:32.

Net toe die son wegsak agter die Olyfberg wat voor hulle lê, kom Jesus en sy metgeselle by die dorpie Betanië aan, waar hulle die volgende ses nagte sal deurbring. Hulle geliefde vriende Lasarus, Maria en Marta is daar om hulle te verwelkom. Die aand bring koele verligting ná die hitte van die reis en dui die begin van die Sabbat van 8 Nisan aan.—Johannes 12:1, 2.

9 Nisan

Ná die Sabbat is Jerusalem ’n miernes van bedrywigheid. Duisende besoekers het reeds uit alle oorde na die stad gestroom vir die Pasga. Maar die roesemoes wat ons hoor, is erger as gewoonlik vir dié tyd van die jaar. Nuuskierige skares haas hulle deur die nou strate na die stadspoorte. Wat ’n gesig begroet hulle tog nadat hulle vir hulle ’n pad deur die besige poorte gebaan het! Talle jubelende mense kom met die pad van Betfage teen die Olyfberg afgeloop (Lukas 19:37). Wat beteken al hierdie dinge?

Kyk! Jesus van Nasaret kom op die hingsvul van ’n esel aangery. Mense sprei hulle klere op die pad voor hom uit. Ander waai palmtakke wat hulle so pas afgesny het en roep vreugdevol uit: “Geseënd is hy wat in Jehovah se naam kom, ja, die koning van Israel!”—Johannes 12:12-15.

Terwyl die skare Jerusalem nader, kyk Jesus na die stad en voel hy diep ontroer. Hy begin ween, en ons hoor hoe hy voorspel dat hierdie stad vernietig gaan word. Wanneer Jesus kort daarna by die tempel aankom, leer hy die skare en genees hy blindes en kreupeles wat na hom toe kom.—Matteus 21:14; Lukas 19:41-44, 47.

Die hoofpriesters en die skrifgeleerdes merk dit op. Hoe irriteer dit hulle tog nie om die wonderlike dinge wat Jesus doen en die jubeling van die skare te sien nie! Die Fariseërs, wat hulle verontwaardiging nie kan verberg nie, sê gebiedend: “Leermeester, bestraf u dissipels.” “Ek sê vir julle”, antwoord Jesus, “as hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” Voordat Jesus daar weggaan, sien hy dat daar in die tempel handel gedryf word.—Lukas 19:39, 40; Matteus 21:15, 16; Markus 11:11.

10 Nisan

Jesus kom vroeg by die tempel aan. Gister kon hy nie anders nie as om woedend te wees omdat die aanbidding van sy Vader, Jehovah God, so openlik in ’n handelsbedryf omskep is. Daarom begin hy diegene wat in die tempel koop en verkoop met groot ywer uitgooi. Dan keer hy die tafels van die gierige geldwisselaars en die banke van die duiweverkopers om. “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed genoem word’, maar julle maak dit ’n rowerspelonk”, roep Jesus uit.—Matteus 21:12, 13.

Die hoofpriesters, die skrifgeleerdes en die vernaamste manne kan Jesus se handelinge en openbare onderrigting nie verdra nie. Hoe graag wil hulle hom tog nie doodmaak nie! Maar weens die skare kan hulle nie, want die mense is verstom oor Jesus se onderrigting en hulle “bly [hom] aanhang om na hom te luister” (Lukas 19:47, 48). Teen die aand geniet Jesus en sy metgeselle die aangename stap terug na Betanië vir ’n goeie nagrus.

11 Nisan

Dit is vroeg die oggend, en Jesus en sy dissipels is reeds oor die Olyfberg op pad na Jerusalem. Wanneer hulle by die tempel aankom, is die hoofpriesters en die ouer manne gou om Jesus te konfronteer. Sy optrede teen die geldwisselaars en handelaars in die tempel is nog vars in hulle geheue. Sy vyande eis op venynige wyse: “Deur watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het jou hierdie gesag gegee?” “Ek sal julle ook een ding vra”, antwoord Jesus. “As julle dit vir my sê, sal ek ook vir julle sê deur watter gesag ek hierdie dinge doen: Die doop deur Johannes, uit watter bron was dit? Uit die hemel of uit die mense?” Die teenstanders drom saam en redeneer: “As ons sê: ‘Uit die hemel’, sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ As ons egter sê: ‘Uit die mense’, het ons die skare om te vrees, want hulle almal hou Johannes vir ’n profeet.” Hulle is vasgevra en antwoord ontwykend: “Ons weet nie.” Jesus antwoord kalm: “Dan sê ek ook nie vir julle deur watter gesag ek hierdie dinge doen nie.”—Matteus 21:23-27.

Jesus se vyande probeer hom nou verstrik om iets te sê waarvoor hulle hom in hegtenis kan laat neem. “Is dit geoorloof”, vra hulle, “om hoofbelasting aan Caesar te betaal of nie?” “Wys my die hoofbelastingmunt”, antwoord Jesus. Hy vra: “Wie se beeld en opskrif is dit?” “Caesar s’n”, sê hulle. Jesus bring hulle van stryk deur sy duidelike antwoord wat almal kan hoor: “Betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—Matteus 22:15-22.

Jesus, wat sy vyande met onweerlegbare argumente stilgemaak het, gaan nou voor die skare en sy dissipels tot die aanval oor. Luister terwyl hy die skrifgeleerdes en die Fariseërs onbevrees veroordeel. “Volgens hulle dade moet julle nie doen nie”, sê hy, “want hulle sê maar doen nie.” Hy spreek moedig ’n reeks weë oor hulle uit en identifiseer hulle as blinde gidse en huigelaars. “Slange, addergebroedsel”, sê Jesus, “hoe sal julle die oordeel van Gehenna ontvlug?”—Matteus 23:1-33.

Hierdie snydende veroordelings beteken nie dat Jesus blind is vir ander se goeie punte nie. Later sien hy hoe mense geld in die tempel se skatkiste gooi. Hoe roerend is dit tog nie om ’n weduwee haar hele lewensonderhoud te sien ingooi nie—twee muntstukkies van geringe waarde! Met innige waardering wys Jesus daarop dat sy in werklikheid baie meer ingegooi het as al dié wat “uit hulle oorvloed” ruim bygedra het. Weens Jesus se tere medelye het hy diepe waardering vir enigiets wat ’n mens in staat is om te doen.—Lukas 21:1-4.

Jesus verlaat die tempel nou vir die laaste keer. Van sy dissipels meld hoe pragtig dit is, dat dit “met goeie klippe en toegewyde dinge versier is”. Tot hulle verbasing antwoord Jesus: “Die dae sal kom waarin nie ’n klip op ’n klip hier gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.” (Lukas 21:5, 6). Terwyl die apostels Jesus uit die besige stad volg, wonder hulle wat hy dan nou eintlik bedoel.

Wel, ’n rukkie later sit Jesus en sy apostels en geniet die rus en vrede van die Olyfberg. Onderwyl hulle die pragtige uitsig oor Jerusalem en die tempel indrink, wil Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas weet wat Jesus se skrikwekkende voorspelling beteken. Hulle vra: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—Matteus 24:3; Markus 13:3, 4.

In antwoord daarop gee die Meesteronderrigter ’n waarlik merkwaardige profesie. Hy voorspel verwoestende oorloë, aardbewings, voedselskaarstes en pessiektes. Jesus voorspel ook dat die goeie nuus van die Koninkryk regoor die aarde verkondig sal word. “Dan”, waarsku hy, “sal daar groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie.”—Matteus 24:7, 14, 21; Lukas 21:10, 11.

Die vier apostels luister aandagtig terwyl Jesus ander aspekte van die ‘teken van sy teenwoordigheid’ bespreek. Hy beklemtoon die belangrikheid daarvan om ‘aan te hou waak’. Waarom? “Want”, sê hy, “julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.”—Matteus 24:42; Markus 13:33, 35, 37.

Dit was ’n onvergeetlike dag vir Jesus en sy apostels. Trouens, dit is die laaste dag van Jesus se openbare bediening voor sy inhegtenisname, verhoor en teregstelling. Aangesien dit laat word, begin hulle die kort entjie oor die heuwel na Betanië terugstap.

12 en 13 Nisan

Jesus bring 12 Nisan rustig saam met sy dissipels deur. Hy besef dat die godsdiensleiers hom bitter graag wil doodmaak, en hy wil nie hê dat hulle hom verhinder om die Pasga die volgende aand te vier nie (Markus 14:1, 2). Die volgende dag, 13 Nisan, is die mense besig om finale reëlings vir die Pasga te tref. Vroeg die middag stuur Jesus Petrus en Johannes om vir hulle die Pasga in ’n bovertrek in Jerusalem te gaan voorberei (Markus 14:12-16; Lukas 22:8). ’n Rukkie voor sononder ontmoet Jesus en die ander tien apostels hulle daar vir hulle laaste Pasgaviering.

14 Nisan, ná sononder

Jerusalem is in sagte skemerlig gehul terwyl die volmaan oor die Olyfberg opkom. In ’n groot gemeubileerde vertrek is Jesus en die 12 by ’n voorbereide tafel. “Ek het vurig begeer om hierdie pasga saam met julle te eet voordat ek ly”, sê hy (Lukas 22:14, 15). Ná ’n ruk is die apostels verbaas om te sien dat Jesus opstaan en sy boklere eenkant sit. Hy neem ’n handdoek en ’n kom water en begin hulle voete was. Wat ’n onvergeetlike les in nederige diens!—Johannes 13:2-15.

Jesus weet egter dat een van hierdie manne—Judas Iskariot—reeds ooreengekom het om hom aan die godsdiensleiers te verraai. ’n Mens kan begryp dat dit hom baie ontstel. “Een van julle sal my verraai”, sê hy. Dit laat die apostels baie bedroef voel (Matteus 26:21, 22). Nadat hulle die Pasga gevier het, sê Jesus vir Judas: “Wat jy doen, kry dit gouer gedaan.”—Johannes 13:27.

Wanneer Judas weg is, stel Jesus ’n maal in om sy naderende dood te herdenk. Hy neem een van die ongesuurde brode, doen ’n dankgebed, breek dit en sê vir die 11 om daarvan te eet. “Dit beteken my liggaam”, sê hy, “wat ten behoewe van julle gegee gaan word. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” Dan neem hy ’n beker rooiwyn. Nadat hy ’n seën gevra het, gee hy hulle die beker en sê hy dat hulle daaruit moet drink. Jesus voeg by: “Dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat ten behoewe van baie uitgestort gaan word tot vergifnis van sondes.”—Lukas 22:19, 20; Matteus 26:26-28.

Gedurende daardie betekenisvolle aand leer Jesus sy getroue apostels talle nuttige lesse, waaronder die belangrikheid van broederliefde (Johannes 13:34, 35). Hy verseker hulle dat hulle ’n “helper”, die heilige gees, sal ontvang. Dit sal hulle gedagtig maak aan al die dinge wat hy hulle vertel het (Johannes 14:26). Later die aand moedig dit hulle sekerlik baie aan om te hoor hoe Jesus ’n innige gebed ten behoewe van hulle doen (Johannes hoofstuk 17). Nadat hulle lofliedere gesing het, verlaat hulle die bovertrek en volg hulle Jesus die koel naglug in.

Jesus en sy apostels steek die Kidronvallei oor en gaan na een van hulle geliefkoosde plekke, die tuin van Getsemane (Johannes 18:1, 2). Terwyl sy apostels wag, gaan Jesus ’n entjie daarvandaan om te bid. Hy ervaar onbeskryflike emosionele spanning wanneer hy God innig om hulp smeek (Lukas 22:44). Die blote gedagte aan die oneer wat dit sy geliefde hemelse Vader sal aandoen as hy sou faal, is uiters pynlik.

Jesus het skaars klaar gebid of Judas Iskariot kom daar aan met ’n skare wat swaarde, knuppels en fakkels dra. “Goeiedag, Rabbi!” sê Judas terwyl hy Jesus teer soen. Dit is die teken vir die manne om Jesus in hegtenis te neem. Skielik kap Petrus met sy swaard en sny hy die oor van die hoëpriester se slaaf af. “Sit jou swaard terug in sy plek”, sê Jesus terwyl hy die man se oor genees. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.”—Matteus 26:47-52.

Alles gebeur so vinnig! Jesus word gevange geneem en geboei. Weens vrees en verwarring verlaat die apostels hulle Meester en vlug. Jesus word weggelei na Annas, die voormalige hoëpriester. Daarna word hy na Kajafas, die huidige hoëpriester, geneem om verhoor te word. In die vroeë oggendure kla die Sanhedrin Jesus valslik van godslastering aan. Vervolgens laat Kajafas hom na die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus neem. Hy stuur Jesus na Herodus Antipas, die heerser van Galilea. Herodus en sy wagte dryf die spot met Jesus. Dan word hy na Pilatus teruggestuur. Jesus se onskuld word deur Pilatus bevestig. Maar die Joodse godsdiensleiers plaas hom onder druk om Jesus ter dood te veroordeel. Nadat Jesus baie beledigings en liggaamlike mishandeling verduur het, word hy na Golgota geneem waar hy op wrede wyse aan ’n folterpaal genael word en ’n pynlike dood sterf.—Markus 14:50–15:39; Lukas 23:4-25.

Dit sou die grootste tragedie in die geskiedenis gewees het as Jesus se dood sy lewe permanent beëindig het. Gelukkig was dit nie die geval nie. Op 16 Nisan 33 G.J. was sy dissipels verbaas om te vind dat hy uit die dood opgewek is. Mettertyd kon meer as 500 mense bevestig dat Jesus weer lewendig was. En 40 dae ná sy opstanding het ’n groep getroue volgelinge gesien hoe hy na die hemel opvaar.—Handelinge 1:9-11; 1 Korintiërs 15:3-8.

Jesus se lewe en jy

Hoe word jy—trouens, ons almal—hierdeur geraak? Wel, Jesus se bediening, dood en opstanding verheerlik Jehovah God en is uiters belangrik in die uitvoering van Sy grootse voorneme (Kolossense 1:18-20). Dit is lewensbelangrik vir ons, aangesien ons sondes op grond van Jesus se offerande vergewe kan word en ons sodoende ’n persoonlike verhouding met Jehovah God kan hê.—Johannes 14:6; 1 Johannes 2:1, 2.

Selfs die mense wat al gesterf het, word geraak. Jesus se opstanding baan die weg vir hulle om in God se beloofde Paradysaarde opgewek te word (Lukas 23:39-43; 1 Korintiërs 15:20-22). As jy meer aangaande hierdie dinge wil weet, nooi ons jou om die Herdenking van Christus se dood op 11 April 1998 by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in jou gebied by te woon.

[Venster op bladsy 6]

“’n Rowerspelonk”

JESUS het oorgenoeg rede gehad om te sê dat gierige handelaars God se tempel in “’n rowerspelonk” verander het (Matteus 21:12, 13). Jode en proseliete uit ander lande moes hulle buitelandse geld vir ’n aanvaarbare betaalmiddel ruil om die tempelbelasting te betaal. Alfred Edersheim verduidelik in sy boek The Life and Times of Jesus the Messiah dat geldwisselaars gewoonlik hulle ondernemings op 15 Adar, ’n maand voor die Pasga, in die provinsies opgestel het. Van 25 Adar af het hulle na die tempelgebied in Jerusalem verskuif om munt te slaan uit die groot getalle Jode en proseliete wat daarheen gestroom het. Handelaars het ’n florerende bedryf gehad en ’n koste gehef op elke geldstuk wat gewissel is. Jesus se verwysing na hulle as rowers gee te kenne dat hulle pryse so buitensporig was dat hulle as ’t ware geld van die armes afgepers het.

Party kon nie hulle eie offerdiere bring nie. Enigiemand wat dit wel gedoen het, moes die dier deur ’n inspekteur by die tempel laat ondersoek—teen vergoeding. Baie wat nie die risiko wou loop dat ’n dier verwerp kon word nadat hulle dit ’n lang ent pad saamgebring het nie, het een wat deur die Leviete “goedgekeur” is van die verdorwe handelaars by die tempel gekoop. “Menige arm plattelander is daar goed die vel oor die ore getrek”, sê een geleerde.

Daar is bewyse dat die eertydse hoëpriester Annas en sy gesin gevestigde belange by die tempelhandelaars gehad het. Rabbynse geskrifte praat van “die [tempel]basaars van die seuns van Annas”. Geld wat van die geldwisselaars en die veeverkope binne die tempelterrein ingevorder is, was een van hulle hoofbronne van inkomste. Een geleerde sê dat Jesus se optrede om die handelaars uit te gooi “nie net op die aansien van die priesters gemik was nie, maar ook op hulle beurse”. Hoe dit ook al sy, sy vyande wou hom beslis van kant maak!—Lukas 19:45-48.

[Tabel op bladsy 4]

Die Laaste Dae Van Jesus Se Menselewe

Nisan 33 G.J. Gebeurtenisse Grootste mens*

7 Vrydag Jesus en sy dissipels 101, par. 1

reis van Jerigo na

Jerusalem (7 Nisan

kom ooreen met Sondag,

5 April 1998, hoewe

l Hebreeuse dae van

die een aand tot die

volgende gestrek het)

8 Vrydagaand Jesus en sy dissipels 101, par. 2-4

kom in Betanië aan;

Sabbat begin

Saterdag Sabbat (Maandag, 6 April 1998) 101, par. 4

9 Saterdagaand Ete saam met Simon 101, par. 5-9

die melaatse; Maria

salf Jesus met nardus;

baie kom van Jerusalem

om Jesus te sien en te

hoor

Sondag Triomfantlike intog in 102

Jerusalem; onderrig in tempel

10 Maandag Reis vroeg na Jerusalem; 103, 104

reinig tempel; Jehovah

spreek vanuit hemel

11 Dinsdag In Jerusalem, onderrig 105 tot

by tempel deur middel 112, par. 1

van illustrasies; veroordeel

Fariseërs; sien weduwee

se bydrae; gee teken

van sy toekomstige

teenwoordigheid

12 Woensdag Rustige dag in Betanië 112, par. 2-4

saam met dissipels;

Judas onderhandel om

hom te verraai

13 Donderdag Petrus en Johannes berei 112, par. 5 tot

voor vir Pasga in Jerusalem; 113, par. 1

Jesus en ander tien

apostels gaan laatmiddag

daarheen (Saterdag, 11 April 1998)

14 Donderdagaand Pasgaviering; Jesus was 113, par. 2

voete van apostels; tot117

Judas verlaat hulle

om Jesus te verraai;

Christus stel Herdenking

van sy dood in (Ná sononder,

Saterdag, 11 April 1998)

Ná middernag Word in tuin van Getsemane 118 tot 120

verraai en gearresteer;

apostels vlug; verhoor

voor hoofpriesters en

Sanhedrin; Petrus verloën Jesus

Vrydag sonop Weer voor Sanhedrin; 121 tot 127,

na Pilatus, dan tot par. 7

na sononder Herodus,

dan terug na Pilatus;

ter dood veroordeel;

aan paal genael; begrawe

15 Saterdag Sabbat; Pilatus gee 127, par. 8-10

toestemming vir wagte

by Jesus se graf

16 Sondag Jesus word opgewek 128

* Die nommers wat hier aangegee word, verwys na hoofstukke in die boek Die grootste mens wat nog geleef het. Sien “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, bladsy 290, vir ’n tabel met die uitvoerige skriftuurlike verwysings na die laaste deel van Jesus se bediening. Hierdie boeke word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel