Baie bely geloof
“JESUS is wonderlik! Hy is eenvoudig merkwaardig!” het ’n godsdienstige vrou in Brasilië uitgeroep. Die krag van Jesus se naam is inderdaad onbetwisbaar. Deur die geskiedenis heen het mense gewillig vir hom gely en gesterf.
Die apostels Petrus en Johannes het ‘in Jesus se naam’ in Jerusalem getuig. Hiervoor is hulle in hegtenis geneem en geslaan. En tog het hulle “van die Sanhedrin af weggegaan terwyl hulle hulle verheug het omdat hulle waardig geag is om ter wille van sy naam oneer te ly”.—Handelinge 5:28, 41.
Antipas was nog ’n eerste-eeuse Christen wat groot waarde aan Jesus se naam geheg het. In die laaste boek van die Bybel, Openbaring, het Jesus na hom verwys as “my getuie, die getroue, wat aan julle sy, waar Satan woon, doodgemaak is” (Openbaring 2:13). Saam met ander Christene in Pergamum het Antipas geweier om sy geloof in Christus te verloën. Antipas het selfs ten koste van sy eie lewe aan Jesus se naam vasgehou!
Ongeveer ’n halfeeu later, in 155 G.J., het ’n verklaarde Christen met die naam Polycarpus voor ’n soortgelyke toets te staan gekom toe hy beveel is om Christus te smaad. Sy antwoord was: “Ek het Hom ses-en-tagtig jaar lank gedien, en Hy het my geen onreg aangedoen nie. Hoe kan ek my Koning wat my gered het, laster?” Omdat Polycarpus geweier het om Christus te verloën, is hy op die brandstapel verbrand.
Die apostels, Antipas en ander was bereid om hulle getuienis aangaande Christus met die dood te seël! Wat van mense wat vandag leef?
Jesus se naam vandag
Jesus se naam wek nog steeds sterk gevoelens. In onlangse dekades is die groeikoers van kerke in Latyns-Amerika wat bely dat hulle in Jesus glo hoër as ooit. Selfs die kleinste dorpies het ’n Pinksterkerk. Terselfdertyd neem die politieke invloed van sulke kerke toe. In Brasilië se Kongres en Senaat word 31 setels byvoorbeeld deur lede van hierdie kerke beklee.
Jesus is ook die middelpunt van ’n nuwe godsdiensbeweging in die Verenigde State. Die volgelinge daarvan noem hulleself Beloftehouers. Die tydskrif Time het in 1997 berig dat die bywoning van hulle vergaderings van 4200 in 1991 tot 1,1 miljoen in 1996 toegeneem het. Een van hulle gesange sê: “O, oorwinning in Jesus, my Verlosser vir ewig.”
Maar nie alle gevoelens wat deur Jesus se naam gewek is, was edel nie. Die oorlogsvaandel het dikwels in sy naam gewapper. Jode is in groot getalle doodgemaak, heidene is vermoor, andersdenkendes is gemartel, vermink en op die brandstapel verbrand—alles in die naam van Jesus. En in onlangser tye het die kommersialisering van evangelisasie welbekend geword. Dit alles is ’n verskriklike en afstootlike misbruik van Jesus se naam en waarvoor dit werklik staan!
Daarbenewens laat dit ’n paar tersaaklike vrae ontstaan: Wat behels dit om geloof in Jesus se naam te stel? En hoe beskou Jehovah se Getuies hierdie saak? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.