Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 6/1 bl. 14-19
  • ‘Stry hard vir die geloof’!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Stry hard vir die geloof’!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Weerstaan onsedelikheid
  • Respekteer Goddelik ingestelde gesag
  • ‘Hou julle in God se liefde’
  • Bybelboek nommer 65—Judas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Geliefdes, . . . Bly in die liefde van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • ‘Stry kragtig vir die geloof’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Ons moet hard stry om in die waarheid te bly
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 6/1 bl. 14-19

‘Stry hard vir die geloof’!

“Stry [hard] vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is.”—JUDAS 3.

1. In watter sin is ware Christene vandag in ’n oorlogvoering gewikkel?

SOLDATE in ’n oorlog het nog altyd ’n harde lewe gehad. Stel jou voor dat jy jou in volle oorlogsmondering uitrus en eindelose kilometers in alle weerstoestande loop, uitputtende opleiding in die gebruik van wapentuig ontvang of dat jy jou teen allerhande gewelddadige, lewensgevaarlike situasies moet verdedig. Ware Christene neem egter nie aan die oorloë van die nasies deel nie (Jesaja 2:2-4; Johannes 17:14). Maar ons moet nooit vergeet dat ons almal in sekere sin in ’n oorlog gewikkel is nie. Satan is vervul met haat vir Jesus Christus en sy volgelinge op die aarde (Openbaring 12:17). Almal wat besluit om Jehovah God te dien, sluit in werklikheid aan as soldate om ’n geestelike oorlog te voer.—2 Korintiërs 10:4.

2. Hoe beskryf Judas die Christelike oorlogvoering, en hoe kan sy brief ons help om daarin te volhard?

2 Jesus se halfbroer Judas skryf gepas: “Geliefdes, hoewel ek alles in my vermoë gedoen het om oor ons gemeenskaplike redding aan julle te skryf, het ek dit nodig gevind om aan julle te skryf om julle te vermaan om hard te stry vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Wanneer Judas Christene aanspoor om “hard te stry”, gebruik hy ’n uitdrukking wat verwant is aan die woord vir “pyn”. Ja, hierdie stryd kan moeilik, selfs pynlik, wees! Vind jy dit soms moeilik om in hierdie oorlogvoering te volhard? Judas se kort maar kragtige brief kan ons help. Dit spoor ons aan om onsedelikheid te weerstaan, om Goddelik ingestelde gesag te respekteer en om ons in God se liefde te hou. Kom ons kyk hoe ons hierdie raad kan toepas.

Weerstaan onsedelikheid

3. Met watter noodsituasie het die Christengemeente in Judas se dag te kampe gehad?

3 Judas kon sien dat nie al sy mede-Christene oorwin in die stryd teen Satan nie. Die kudde het met ’n noodsituasie te kampe gehad. Verdorwe mense het “ingeglip”, skryf Judas. Hierdie mense het onsedelikheid subtiel bevorder. En hulle het hulle dade op bedrewe wyse geregverdig en “die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander” (Judas 4). Miskien het hulle, soos party eertydse Gnostici, geredeneer dat ’n mens, hoe meer jy sondig, des te meer van God se genade kan ontvang—dit was dus in werklikheid beter om meer te sondig! Of hulle het miskien gemeen dat ’n goedhartige God hulle nooit sou straf nie. Hoe dit ook al sy, hulle was verkeerd.—1 Korintiërs 3:19.

4. Watter drie skriftuurlike voorbeelde van Jehovah se oordele in die verlede haal Judas aan?

4 Judas weerlê hulle goddelose redenasies deur drie voorbeelde van Jehovah se oordele in vervloë tye aan te haal: teen die Israeliete wat “nie geloof getoon het nie”; teen die “engele wat . . . hulle eie gepaste woonplek verlaat het” om met vroue te sondig en teen die inwoners van Sodom en Gomorra , wat “uitermate hoerery gepleeg en vir onnatuurlike gebruik agter vlees aan geloop het” (Judas 5-7; Genesis 6:2-4; 19:4-25; Numeri 14:35). Jehovah het in elke geval ’n besliste oordeel aan die sondaars voltrek.

5. Watter eertydse profeet haal Judas aan, en hoe het daardie profesie die gewisse sekerheid van die vervulling daarvan uitgespreek?

5 Later verwys Judas na ’n selfs verreikender oordeel. Hy haal ’n profesie van Henog aan—iets wat nêrens anders in die geïnspireerde Skrif gevind word niea (Judas 14, 15). Henog het ’n tyd voorspel wanneer Jehovah al die goddeloses en hulle goddelose dade sou oordeel. Dit is interessant dat Henog in die verlede tyd gepraat het, want God se oordele was so seker dat dit was asof hulle alreeds plaasgevind het. Mense het moontlik met Henog en later met Noag gespot, maar al hierdie spotters het in die wêreldwye Vloed verdrink.

6. (a) Waaraan moes die Christene in Judas se dag herinner word? (b) Waarom moet ons Judas se herinneringe ter harte neem?

6 Waarom het Judas aangaande hierdie Goddelike oordele geskryf? Omdat hy geweet het dat sommige wat in sy eie dag met die Christengemeentes omgegaan het sondes gepleeg het wat net so afskuwelik en afkeurenswaardig was soos die sondes wat tot daardie vroeëre oordele aanleiding gegee het. Judas skryf derhalwe dat die gemeentes aan sommige basiese geestelike waarhede herinner moet word (Judas 5). Hulle het klaarblyklik vergeet dat Jehovah God gesien het wat hulle doen. Ja, wanneer sy knegte sy wette opsetlik oortree en hulleself en ander verontreinig, sien hy dit (Spreuke 15:3). Sulke dade maak hom diep seer (Genesis 6:6; Psalm 78:40). Die gedagte dat ons as blote mense die gevoelens van die Soewereine Heer van die heelal kan raak, vervul ons met verwondering. Hy kyk elke dag na ons, en wanneer ons ons uiterste bes doen om in die voetstappe van sy Seun, Jesus Christus, te volg, dan verbly ons gedrag sy hart. Laat ons dan nooit gekrenk voel oor herinneringe soos dié wat Judas gee nie, maar laat ons hulle ter harte neem.—Spreuke 27:11; 1 Petrus 2:21.

7. (a) Waarom is dit lewensbelangrik dat diegene wat by ernstige oortreding betrokke is onmiddellik hulp soek? (b) Hoe kan ons almal onsedelikheid vermy?

7 Jehovah sien nie net nie, maar hy tree ook op. Omdat hy ’n God van geregtigheid is, straf hy kwaaddoeners—vroeër of later (1 Timoteus 5:24). Diegene wat reken dat sy oordele bloot geskiedenis is en dat hy hom nie steur aan die kwaad wat hulle doen nie, lei net hulleself om die bos. Hoe lewensbelangrik is dit tog vir enigeen wat vandag by onsedelikheid betrokke is om onmiddellik die hulp van Christen- ouer manne in te roep! (Jakobus 5:14, 15). Ons kan almal op ons hoede gestel word teen die bedreiging wat onsedelikheid inhou in ons geestelike oorlogvoering. Daar is elke jaar slagoffers—persone wat uitgesit word, meestal omdat hulle hulle aan onsedelike dade skuldig maak sonder om berou daaroor te hê. Dit moet ons vaste voorneme wees om enige versoeking te weerstaan wat selfs net begin om ons in so ’n rigting te lei.—Vergelyk Matteus 26:41.

Respekteer Goddelik ingestelde gesag

8. Wie was die “heerlikes” wat in Judas 8 gemeld is?

8 ’n Ander probleem waaraan Judas aandag gee, is die gebrek aan respek vir Goddelik ingestelde gesag. In vers 8 beskuldig hy dieselfde goddelose mense byvoorbeeld dat hulle ‘smadend praat van heerlikes’. Wie was hierdie “heerlikes”? Hulle was onvolmaakte manne, maar hulle het verantwoordelikhede gehad wat deur Jehovah se heilige gees aan hulle opgedra is. Die gemeentes het byvoorbeeld ouer manne gehad wat die taak opgelê is om as herders toesig te hou oor die kudde van God (1 Petrus 5:2). Daar was ook reisende opsieners, soos die apostel Paulus. En die liggaam van ouer manne in Jerusalem het as ’n bestuursliggaam gedien en het besluite geneem wat die hele Christengemeente geraak het (Handelinge 15:6). Judas was diep besorg omdat sekeres in die gemeentes smadend, oftewel lasterlik, van sulke manne gepraat het.

9. Watter voorbeelde van oneerbiedigheid teenoor gesag haal Judas aan?

9 Judas veroordeel sulke oneerbiedige spraak deur in vers 11 nog drie voorbeelde as herinneringe aan te haal: dié van Kain, Bileam en Korag. Kain het Jehovah se liefdevolle raad geïgnoreer en opsetlik sy eie weg van moorddadige haat gevolg (Genesis 4:4-8). Bileam het herhaalde waarskuwings ontvang wat onteenseglik uit ’n bonatuurlike bron gekom het—selfs sy eie eselin het met hom gepraat! Maar Bileam het selfsugtig voortgegaan om planne teen God se volk te smee (Numeri 22:28, 32-34; Deuteronomium 23:5). Korag het sy eie posisie van verantwoordelikheid gehad, maar dit was nie genoeg nie. Hy het opstand teen Moses, die sagmoedigste mens op die aarde, aangestook.—Numeri 12:3; 16:1-3, 32.

10. Hoe kan sommige vandag in die strik trap om “smadend van heerlikes” te praat, en waarom moet sulke spraak vermy word?

10 Hoe duidelik leer hierdie voorbeelde ons tog om na raad te luister en diegene te respekteer wat deur Jehovah in posisies van verantwoordelikheid gebruik word! (Hebreërs 13:17). Dit is alte maklik om fout te vind met die aangestelde ouer manne, want hulle is net so onvolmaak soos ons. Maar praat ons nie dalk “smadend van heerlikes” as ons op hulle foute hamer en respek vir hulle ondermyn nie? In vers 10 meld Judas diegene wat “smadend [praat] van alles wat hulle in werklikheid nie ken nie”. Party kritiseer soms ’n besluit wat deur ’n liggaam van ouer manne of ’n regterlike komitee geneem is. Maar hulle weet nie van al die besonderhede wat die ouer manne moes oorweeg om tot ’n besluit te kom nie. Waarom praat hulle dus smadend oor dinge waarvan hulle in werklikheid nie kennis dra nie? (Spreuke 18:13). Diegene wat volhou met sulke negatiewe spraak, kan verdeeldheid in die gemeente veroorsaak en kan selfs vergelyk word met gevaarlike “rotse wat onder die water verborge is” by samekomste van medegelowiges (Judas 12, 16, 19). Ons wil tog nooit ’n geestelike gevaar vir ander inhou nie. Laat elkeen van ons eerder vasbeslote wees om verantwoordelike manne te waardeer weens hulle harde werk en hulle toewyding aan die kudde van God.—1 Timoteus 5:17.

11. Waarom het Migael hom daarvan weerhou om met smadende woorde ’n oordeel teen Satan uit te spreek?

11 Judas haal ’n voorbeeld van iemand aan wat regmatig ingestelde gesag gerespekteer het. Hy skryf: “Toe Migael, die aartsengel, met die Duiwel ’n geskil gehad en oor Moses se liggaam geredetwis het, het hy nie met smadende woorde ’n oordeel oor hom durf uitspreek nie, maar gesê: ‘Mag Jehovah jou bestraf’” (Judas 9). Hierdie boeiende verslag, wat in die hele geïnspireerde Skrif net in Judas voorkom, bevat twee duidelike lesse. Aan die een kant leer dit ons om oordeel aan Jehovah oor te laat. Satan wou blykbaar die liggaam van die getroue man Moses misbruik om valse aanbidding te bevorder. Hoe goddeloos tog! Maar Migael het hom nederig daarvan weerhou om ’n oordeel uit te spreek, want slegs Jehovah het daardie gesag. Hoeveel te meer moet ons ons dan daarvan weerhou om getroue manne wat Jehovah probeer dien te oordeel.

12. Wat kan diegene met verantwoordelike posisies in die Christengemeente uit Migael se voorbeeld leer?

12 Aan die ander kant kan diegene met ’n mate van gesag in die gemeente ook ’n les by Migael leer. Migael het per slot van rekening selfs nie toe hy uitgetart is sy magsposisie misbruik nie, al was hy die “aartsengel”, die hoof van al die engele. Getroue ouer manne volg daardie voorbeeld noukeurig na, in die besef dat hulle oneerbiedig is teenoor Jehovah se soewereiniteit as hulle hulle gesag misbruik. Judas se brief het veel te sê gehad oor manne wat posisies van respek in die gemeente gehad het, maar hulle mag begin misbruik het. Byvoorbeeld, in verse 12 tot 14 skryf Judas ’n skerp veroordeling teen “herders wat hulleself sonder vrees voed”. (Vergelyk Esegiël 34:7-10.) Met ander woorde, hulle eerste belang was om hulleself te bevoordeel, nie Jehovah se kudde nie. Ouer manne kan vandag baie uit sulke negatiewe voorbeelde leer. Ja, hierdie woorde van Judas gee ’n duidelike beeld van wat ons nie wil wees nie. Wanneer ons voor selfsug swig, kan ons nie soldate van Christus wees nie; ons is te besig om vir onsself te stry. Laat ons almal eerder in ooreenstemming met Jesus se woorde lewe: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

‘Hou julle in God se liefde’

13. Waarom moet dit ons almal se innige begeerte wees om in God se liefde te bly?

13 Na aan die einde van Judas se brief gee hy hierdie bemoedigende raad: ‘Hou julle in God se liefde’ (Judas 21). Niks sal vir ons van groter hulp wees in ons Christelike oorlogvoering as dít nie—dat ons die voorwerp van Jehovah God se liefde bly. Liefde is op stuk van sake Jehovah se oorheersende eienskap (1 Johannes 4:8). Paulus het aan die Christene in Rome geskryf: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Romeine 8:38, 39). Maar hoe bly ons in daardie liefde? Kom ons kyk na drie dinge wat ons volgens Judas kan doen.

14, 15. (a) Wat beteken dit om ons op ons “allerheiligste geloof” op te bou? (b) Hoe kan ons die toestand van ons geestelike wapenrusting ondersoek?

14 Eerstens sê Judas vir ons om aan te hou om ons op ons “allerheiligste geloof” op te bou (Judas 20). Soos ons in die vorige artikel gesien het, is dit ’n voortdurende proses. Ons is soos geboue wat al hoe meer versterking teen die verergerende aanslae van die elemente nodig het. (Vergelyk Matteus 7:24, 25.) Laat ons dus nooit oorgerus raak nie. Laat ons eerder sien waar ons ons op die grondslag van ons geloof kan opbou en sterker, getrouer soldate van Christus kan word. Ons kan byvoorbeeld die dele van die geestelike wapenrusting ondersoek wat in Efesiërs 6:11-18 beskryf word.

15 Wat is die toestand van ons eie geestelike wapenrusting? Is ons “groot skild van geloof” so sterk soos dit moet wees? Wanneer ons oor die afgelope jare terugkyk, merk ons enige tekens dat ons verslap, soos ’n afname in vergaderingbywoning, ’n verlies aan ywer vir die bediening of kwynende geesdrif vir persoonlike studie? Sulke tekens is ernstig! Ons moet nóú optree om onsself op te bou en in die waarheid te versterk.—1 Timoteus 4:15; 2 Timoteus 4:2; Hebreërs 10:24, 25.

16. Wat beteken dit om met heilige gees te bid, en wat is een ding wat ons gereeld van Jehovah moet vra?

16 ’n Tweede manier om in God se liefde te bly, is om aan te hou om “met heilige gees te bid” (Judas 20). Dit beteken om onder die invloed van Jehovah se gees en in ooreenstemming met sy geesgeïnspireerde Woord te bid. Gebed is ’n uiters belangrike manier om persoonlik nader aan Jehovah te kom en uiting te gee aan ons toegewydheid aan hom. Mag ons nooit hierdie wonderlike voorreg verwaarloos nie! En wanneer ons bid, kan ons vra—trouens, aanhou vra—dat Jehovah ons sy heilige gees gee (Lukas 11:13). Dit is die sterkste krag tot ons beskikking. Met sulke hulp kan ons altyd in God se liefde bly en as soldate van Christus volhard.

17. (a) Waarom is Judas se voorbeeld wat barmhartigheid betref so merkwaardig? (b) Hoe kan elkeen van ons aanhou om barmhartigheid te bewys?

17 Derdens spoor Judas ons aan om aan te hou om barmhartigheid te bewys (Judas 22). Sy eie voorbeeld in hierdie verband is merkwaardig. Hy was per slot van rekening tereg ontsteld oor die korrupsie, onsedelikheid en afvalligheid wat in die Christengemeente ingesluip het. Hy het nietemin nie paniekerig geraak en begin dink dat die tye eenvoudig te gevaarlik was om ’n “tere” eienskap soos barmhartigheid te bewys nie. Nee, hy het sy broers aangespoor om aan te hou om wanneer moontlik barmhartigheid te bewys, deur vriendelik te redeneer met diegene wat twyfelgedagtes het en diegene wat gevaarlik na aan ernstige sonde kom selfs “uit die vuur te ruk” (Judas 23; Galasiërs 6:1). Watter goeie aansporing tog vir ouer manne in hierdie moeilike tye! Hulle probeer ook barmhartigheid bewys waar daar ook al ’n grondslag daarvoor is, terwyl hulle nog steeds ferm is waar dit nodig is. Ons almal wil eweneens barmhartigheid aan mekaar bewys. Ons kan mekaar byvoorbeeld eerder vryelik vergewe as om wrokke oor kleinighede te koester.—Kolossense 3:13.

18. Hoe kan ons verseker wees van oorwinning in ons geestelike oorlogvoering?

18 Die oorlog wat ons voer, is nie maklik nie. Ons moet ‘hard stry’, soos Judas sê (Judas 3). Ons vyande is sterk. Ons moet nie net vir Satan weerstaan nie, maar ook sy goddelose wêreld en ons eie onvolmaakthede. Maar ons kan heeltemal seker wees van oorwinning! Waarom? Omdat ons aan Jehovah se kant is. Judas sluit sy brief af met ’n herinnering dat “heerlikheid, majesteit, mag en gesag in die ganse vergange ewigheid en nou en tot in alle ewigheid” tereg aan Jehovah toegeskryf word (Judas 25). Is dit nie ’n ontsagwekkende gedagte nie? Kan daar dus enige twyfel bestaan dat hierdie selfde God ons “van struikeling kan bewaar”? (Judas 24). Beslis nie! Laat elkeen van ons vasbeslote wees om aan te hou om onsedelikheid te weerstaan, Goddelik ingestelde gesag te respekteer en ons in God se liefde te hou. Sodoende sal ons saam ’n glorieryke oorwinning behaal.

[Voetnoot]

a Sommige navorsers beweer dat Judas uit die apokriewe Book of Enoch aanhaal. Maar R. C. H. Lenski sê: “Ons vra: ‘Wat is die bron van hierdie lapwerk, die Book of Enoch?’ Hierdie boek is ’n vreemde sameflansing, en niemand is seker van die jaartalle van die verskillende dele daarvan nie . . . ; niemand kan seker wees dat sommige van die uitdrukkings daarin nie miskien uit Judas self geneem is nie.”

Hersieningsvrae

◻ Hoe leer Judas se brief ons om onsedelikheid te weerstaan?

◻ Waarom is dit so belangrik om Goddelik ingestelde gesag te respekteer?

◻ Waarom is die misbruik van gesag in die gemeente so ernstig?

◻ Wat kan ons doen om in God se liefde te bly?

[Prent op bladsy 15]

In teenstelling met Romeinse soldate voer Christene ’n geestelike oorlog

[Prent op bladsy 18]

Christenherders dien nie uit selfsug nie, maar uit liefde

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel