Kan rykdom jou gelukkig maak?
Koning Salomo het die waarde van geld geken. Hy het geskryf: “Eet bring plesier, wyn vrolik die lewe op, maar alles kos geld” (Prediker 10:19, NAV). Dit kan baie aangenaam wees om ’n maaltyd saam met vriende te geniet, maar ’n mens het geld nodig om brood of wyn te koop. Geld is die middel waardeur materiële dinge verkry word; ja, “alles kos geld”.
HOEWEL Salomo ongelooflik ryk was, het hy geweet dat rykdom beperkte mag het. Hy het besef dat ’n materialistiese lewenswyse nie tot geluk lei nie. Hy het geskryf: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie.”—Prediker 5:9.
Gestel ’n ryk persoon verkry selfs groter rykdom. Salomo sê: “As die goed baie word, word die eters baie” (Prediker 5:10). Namate ’n mens se “goed”, of besittings, vermeerder, het jy meer mense nodig om daarna om te sien. Herstelwerkers, opsigters, bediendes, veiligheidswagte en ander moet almal vir hulle dienste betaal word. Dit kos weer nog geld.
So ’n situasie hou direk verband met ’n mens se geluk. Die Griekse geskiedskrywer Xenofon, wat in die vierde eeu v.G.J. gelewe het, het die woorde neergeskryf van ’n arm man wat ryk geword het:
“Dink jy werklik . . . dat ek ’n gelukkiger lewe het omdat ek meer besit? Jy is nie daarvan bewus nie”, het hy voorts gesê, “dat ek nou hoegenaamd nie méér genot daaruit put om te eet en te drink en te slaap as toe ek arm was nie. Al wat dit my gebaat het om soveel te besit, is dat ek verplig is om vir meer te sorg, meer aan ander te gee en die moeite het om na meer om te sien as waarna ek in die verlede moes. Want nou is baie bediendes afhanklik van my vir voedsel, vir water en vir klere, terwyl ander dokters nodig het; en een van hulle kom na my met die nuus dat die skape deur wolwe aangeval is, of dat die beeste dood is toe hulle oor ’n krans geval het of om te sê dat die een of ander siekte onder die vee uitgebreek het. En dus lyk dit vir my . . . of ek baie meer probleme het noudat ek baie besit as wat ek gehad het toe ek min besit het.”
Nog ’n rede waarom mense voortdurend meer rykdom najaag, is dat hulle verlei word deur wat Jesus Christus “die bedrieglike krag van rykdom” genoem het (Matteus 13:22). Hulle word bedrieg omdat hulle in hierdie rykdom wat hulle so ywerig najaag nooit die bevrediging of geluk smaak wat hulle verwag om te vind nie. Hulle redeneer dat groter rykdom sal doen wat beperkte middele nie kan doen nie. Daar is dus voortdurend ’n strewe na meer.
Liefde vir geld lei nie tot geluk nie
Besorgdheid oor besittings kan verhinder dat ’n ryk man ’n rustige nagrus geniet. Salomo skryf: “Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.”—Prediker 5:11.
Wanneer bekommernis oor die moontlike verlies van ’n mens se rykdom tot die uiterste gevoer word, kan dit tot meer as net slapeloosheid lei. Salomo beskryf die gierigaard en skryf: “Ook eet hy sy lewe lank in duisternis en het baie ergernis; daarby sy lyding en toorn!” (Prediker 5:16). Pleks dat sy rykdom hom geluk bring, eet hy met “ergernis”, asof hy ontevrede is oor die geld wat hy aan kos moes bestee. So ’n ongesonde geestesgesindheid kan tot swak gesondheid bydra. Swak gesondheid vergroot weer die angs van die gierigaard, omdat dit hom verhinder om nog meer rykdom te versamel.
Miskien herinner dit jou aan wat die apostel Paulus geskryf het: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, . . . het [party] hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:9, 10). Mense bedrieg ander, lieg, steel, beoefen prostitusie en pleeg selfs moord in hulle strewe na geld. Die gevolg is ’n persoon wat deurboor is met emosionele, fisiese en geestelike pyne as gevolg van die najaging van rykdom. Klink dit vir jou na die weg tot geluk? Hoegenaamd nie!
Tevrede met wat ons het
Salomo het nog meer oor ’n gebalanseerde beskouing van rykdom gesê. Hy het geskryf: “Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie. Kyk, wat ek as ’n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel.”—Prediker 5:14, 17.
Hierdie woorde toon dat geluk nie daarvan afhanklik is dat ons rykdom opgaar vir ’n tyd wat dalk nooit vir ons gaan kom nie. Dit is baie beter om tevrede te wees en vreugde te vind in die resultate van ons harde werk. Die apostel Paulus het ’n soortgelyke gedagte in sy geïnspireerde brief aan Timoteus uitgespreek toe hy gesê het: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dus voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.”—1 Timoteus 6:7, 8; vergelyk Lukas 12:16-21.
Die sleutel tot geluk
Salomo het ’n oorvloed rykdom sowel as goddelike wysheid gehad. Maar hy het geluk met wysheid in verband gebring, nie met geld nie. Hy het gesê: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is ’n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.”—Spreuke 3:13-18.
Waarom is wysheid verhewe bo materiële besittings? Salomo het geskryf: “Wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe” (Prediker 7:12). Hoewel geld ’n mate van beskerming bied, wat die besitter daarvan in staat stel om te koop wat hy nodig het, kan wysheid ’n persoon daarteen beskerm om kanse te waag wat sy lewe in gevaar kan stel. Ware wysheid kan ’n persoon nie net van ’n ontydige dood red nie, maar aangesien dit op ’n behoorlike vrees vir God gegrond is, sal dit ook tot die verkryging van die ewige lewe lei.
Waarom lei goddelike wysheid tot geluk? Omdat ware geluk net van Jehovah God kan kom. Ondervinding bewys dat ware geluk net deur gehoorsaamheid aan die Allerhoogste verkry kan word. Blywende geluk hang af van ’n goedgekeurde verhouding met God (Matteus 5:3-10). As ons toepas wat ons deur ’n studie van die Bybel leer, sal ons “die wysheid van bo” aankweek (Jakobus 3:17). Dit sal ons die geluk gee wat rykdom nooit kan bring nie.
[Prente op bladsy 4, 5]
Koning Salomo het geweet wat ’n mens gelukkig maak. Weet jy?