‘Hulle wyk nie af van hulle godsdiensopleiding nie’
’N VROU van Miami, Florida, VSA, het die volgende brief aan ’n plaaslike koerant gestuur: “Op 10 Des. is my seun se notebeurs uit sy sak gesteel by ’n vlooimark. Daarin was sy rybewys, sy werkloosheidskaart, ens., asook $260 [R1 215].
“Nadat hy die bestuurder van sy verlies in kennis gestel het, het hy huis toe gegaan. Vroeg die aand het hy ’n oproep van ’n Spaanssprekende dame gekry wat, met behulp van ’n [telefonis] wat as tolk opgetree het, vir hom gesê het dat sy sy beurs gevind het.
“Sy het vir hom haar adres gegee. . . . Sy het vir hom die beurs gegee, wat nog alles ingehad het, ook die $260.
“Sy het gesien hoe die dief sy beurs steel en het geskreeu. Die dief het die beurs laat val en weggehardloop. Teen dié tyd het my seun uit haar sig verdwyn, en daarom het sy die beurs huis toe geneem en gebel.
“Sy en haar gesin is Jehovah se Getuies. Hulle wyk ongetwyfeld nie af van hulle godsdiensopleiding nie.”
Jehovah se Getuies is nie eerlik omdat hulle die lof van mense wil ontvang nie (Efesiërs 6:7). Dit is eerder hulle opregte begeerte om lof aan hulle hemelse Vader, Jehovah, te bring (1 Korintiërs 10:31). Hulle liefde vir God en vir hulle naaste beweeg hulle om die “goeie nuus” oor God se Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). God beloof om deur middel van die Koninkryk die aarde in ’n pragtige paradys te omskep. Dan sal die aarde nie net ’n plek van fisiese skoonheid wees nie, maar ook van sedelike voortreflikheid waar daar vir ewig eerlikheid sal wees.—Hebreërs 13:18; 2 Petrus 3:13.