Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 4/15 bl. 28-31
  • Het jy goeie geestelike eetgewoontes?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy goeie geestelike eetgewoontes?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voedsel vir geestelike groei
  • Voedsel vir geestelike energie
  • Voedsel vir geestelike gesondheid
  • Geestelike besmetting
  • ’n Oorvloed geestelike voedsel
  • Goeie eetgewoontes
  • Hoe goed is jou geestelike eetgewoontes?
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Delf dieper in God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Genoeg voedsel vir almal!
    Ontwaak!—1995
  • Handhaaf jou geloof en geestelike gesondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 4/15 bl. 28-31

Het jy goeie geestelike eetgewoontes?

“’n Goeie dieet is die mees basiese menslike behoefte. . . . Sonder voldoende voedsel sal ons sterwe.”

—Food and Nutrition.

DAARDIE fundamentele waarheid blyk duidelik wanneer ’n mens die uitgeteerde liggame van verhongerde mans, vrouens en kinders sien in wie se “mees basiese menslike behoefte” nie voorsien word nie. Ander is in staat om tot ’n mate in hierdie behoefte te voorsien, maar is steeds ernstig ondervoed. Baie wat gesond kan eet, is egter dikwels tevrede met gemorskos wat min voedingswaarde het. “Dit lyk asof voedsel”, sê Healthy Eating, “een van ons middele is wat die meeste misbruik word.”

Dieselfde geld vir geestelike voedsel—die waarheid wat in God se Woord, die Bybel, gevind word. Party mense beskik nie eers oor die mees basiese geestelike voeding nie; hulle ly geestelik honger. Ander versuim eenvoudig om die geestelike voedsel wat beskikbaar is te benut. Wat van jou? Het jy persoonlik goeie geestelike eetgewoontes? Of weerhou jy jou dalk geestelike voeding? Dit is belangrik om eerlik met onsself te wees wat hierdie saak betref, want ons het geestelike voedsel selfs nodiger as fisiese voedsel.—Matteus 4:4.

Voedsel vir geestelike groei

Food and Nutrition, ’n handboek wat die belangrikheid van ’n behoorlike dieet bespreek, gee ons drie goeie redes om goeie eetgewoontes te hê. Een rede is dat ons voedsel nodig het “om groei te bevorder en liggaamselle te hernieu”. Het jy geweet dat ’n biljoen van jou liggaamselle elke dag van jou lewe ophou funksioneer en vervang moet word? Behoorlike groei en instandhouding van jou liggaam vereis goeie voedsel.

Dit is ook waar in geestelike sin. Toe die apostel Paulus aan die gemeente in Efese geskryf het, het hy byvoorbeeld beklemtoon dat elke Christen goeie geestelike voedsel nodig het om “’n volgroeide man” te word (Efesiërs 4:11-13). Wanneer ons ons behoorlik voed met voedsame geestelike voedsel is ons nie langer soos swak babatjies wat nie vir onsself kan sorg en die slagoffers van alle soorte gevare word nie (Efesiërs 4:14). Ons groei eerder op tot sterk volwassenes, wat in staat is om hard te stry vir die geloof omdat ons “gevoed word met die woorde van die geloof”.—1 Timoteus 4:6.

Is dit waar van jou? Is jy geestelik volwasse? Of is jy nog in geestelike sin soos ’n klein kindjie—kwesbaar, geheel en al afhanklik van ander en nie in staat om al die verantwoordelikhede van ’n Christen na te kom nie? Dit is te verstane dat min van ons geredelik sal erken dat ons in geestelike sin soos ’n klein kindjie is, maar eerlike selfondersoek is gepas. Party gesalfde Christene in die eerste eeu was so. Hoewel hulle “leermeesters” moes gewees het, in staat en gewillig om ander te leer wat God se Woord sê, het die apostel Paulus geskryf: “Julle [het] weer nodig dat iemand julle van die begin af die elementêre dinge van die heilige verklarings van God moet leer; en julle het mense geword wat melk nodig het, nie vaste voedsel nie.” As jy geestelik volwasse wil word, moet jy ’n begeerte na goeie, vaste geestelike voedsel ontwikkel. Moenie tevrede wees met geestelike babakos nie!—Hebreërs 5:12.

Ons het ook hierdie vaste geestelike voedsel nodig om enige skade wat deur daaglikse beproewinge in ’n vyandige wêreld aangerig word te herstel. Dit kan ons ons geestelike krag ontneem. Maar God kan daardie krag vernuwe. Paulus het gesê: “Ons [gee] nie moed op nie, maar selfs al teer die mens wat ons uiterlik is weg, word die mens wat ons innerlik is beslis van dag tot dag vernuwe” (2 Korintiërs 4:16). Hoe word ons “van dag tot dag vernuwe”? Onder meer deur ons gereeld met God se Woord te voed deur die Skrif en Bybelpublikasies persoonlik en as groepe te bestudeer.

Voedsel vir geestelike energie

Voedsel is ook nodig “om hitte en energie voort te bring”. Voedsel voorsien die brandstof wat ons liggame nodig het om goed te funksioneer. As ons slegte eetgewoontes het, sal ons min energie hê. ’n Tekort aan yster in ons dieet kan ons moeg en lomerig laat voel. Is dit hoe jy soms oor geestelike bedrywighede voel? Vind jy dit moeilik om die pligte te vervul wat met Christenskap gepaardgaan. Party wat bely dat hulle volgelinge van Jesus Christus is, raak moeg om goed te doen en het nie die uithouvermoë om met Christelike werke vol te hou nie (Jakobus 2:17, 26). As jy sien dat dit in jou geval waar is, sal jou genesing in ’n groot mate daarvan afhang of jy jou geestelike dieet gaan verbeter of jou inname van geestelike voedsel gaan vermeerder.—Jesaja 40:29-31; Galasiërs 6:9.

Moenie toelaat dat jy bedrieg word en swak geestelike eetgewoontes aankweek nie. Een van die grootste maniere waarop Satan mense deur die eeue heen mislei het, was om hulle daarvan te oortuig dat hulle nie nodig het om die Bybel te lees en juiste kennis daaruit in te neem nie. Hy gebruik ’n eeue oue taktiek wat deur invallende leërs gevolg is om vyandelike stede tot oorgawe te dwing—ontneem hulle hulle voedsel en laat hulle honger ly totdat hulle oorgee. Maar hy het hierdie taktiek ’n stap verder gevoer. Hy mislei diegene wat hy “beleër” om hulleself uit te honger terwyl hulle omring word deur ’n berg van heilsame geestelike voedsel. Dit is geen wonder dat soveel mense slagoffers van sy aanvalle word nie!—Efesiërs 6:10-18.

Voedsel vir geestelike gesondheid

’n Derde rede waarom ons voedsel nodig het, sê Food and Nutrition, is “om die gesondheid van die liggaam te reguleer . . . en siekte te voorkom”. Die gesondheidsvoordele van goeie voedsel is nie onmiddellik duidelik nie. Wanneer ons ons mes en vurk neersit ná ’n goeie maaltyd dink ons selde: ‘Dit het my hart (of my niere of my spiere, ensovoorts) die wêreld se goed gedoen.’ Maar probeer ’n ruk lank sonder voedsel bly en die uitwerking op jou gesondheid word duidelik. Watter uitwerking? “Die algemeenste beeld”, sê een mediese naslaanwerk, “is ’n negatiewe: die onvermoë om gesond te bly, die onvermoë om weerstand te bied teen geringe infeksies, ’n gebrek aan energie of inisiatief.” ’n Vergelykbare soort geestelike siek toestand het eertydse Israel ’n ruk lank geteister. Die profeet Jesaja het van hulle gesê: “Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie.”—Jesaja 1:5, 6.

Goeie geestelike voedsel gee ons die krag om weerstand te bied teen so ’n geestelike swak toestand en die gevolge van geestelike infeksie. Kennis wat van God kom, help ons om geestelik in ’n goeie toestand te bly—mits ons gebruik daarvan maak! Jesus Christus het kommentaar gelewer oor hoe die meeste mense in sy dag nie geleer het uit hulle voorvaders se versuim wat behoorlike geestelike voeding betref nie. Hulle het ook geweier om gevoed te word met die waarhede wat hy mense geleer het. Wat was die gevolg? Jesus het gesê: “Die hart van hierdie volk het onontvanklik geword, en met hulle ore het hulle gehoor sonder om te reageer, en hulle het hulle oë gesluit; sodat hulle nooit met hulle oë sou sien en met hulle ore sou hoor en met hulle hart die sin daarvan sou begryp en terugdraai en ek hulle genees nie” (Matteus 13:15). Die meeste het nooit by die genesende krag van God se Woord baat gevind nie. Hulle het geestelik siek gebly. Selfs party gesalfde Christene het “swak en sieklik” geword (1 Korintiërs 11:30). Mag ons nooit minagting toon vir die geestelike voedsel wat God voorsien nie.—Psalm 107:20.

Geestelike besmetting

Benewens die gevaar van geestelike verhongering is daar nog ’n gevaar waarvan ons bewus moet wees—die soort voedsel wat ons eet, kan besmet wees. Om leringe in te neem wat besmet is met gevaarlike demoniese gedagtes kan ons net so maklik vergiftig as om fisiese voedsel te eet wat met kieme of gifstowwe besmet is (Kolossense 2:8). Dit is nie altyd maklik om voedsel uit te ken wat giftig is nie. “Voedsel”, sê een kenner, “kan partykeer heeltemal heilsaam lyk en tog skadelike bakterieë bevat.” Dit sal dus vir ons goed wees om die bron van ons figuurlike voedsel te ondersoek, en terselfdertyd in gedagte te hou dat party bronne, soos lektuur van afvalliges, met onskriftuurlike leringe en filosofieë besmet kan wees. Sommige voedselvervaardigers gebruik selfs misleidende etikette om hulle verbruikers om die bos te lei wat die inhoud van hulle produk betref. Ons kan beslis verwag dat Satan, die groot bedrieër, dieselfde sal doen. Maak dus seker dat jy sulke figuurlike voedsel van ’n betroubare bron kry, sodat jy “gesond in die geloof” kan bly.—Titus 1:9, 13.

Thomas Adams, ’n 17de-eeuse prediker, het van mense in sy tyd gesê: “Hulle het hulle grafte met hulle tande gegrawe.” Met ander woorde, wat hulle geëet het, het hulle dood veroorsaak. Maak seker dat wat jy in geestelike sin eet jou nie doodmaak nie. Kies goeie geestelike voedsel uit. “Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie?” het Jehovah God gevra toe diegene wat beweer het dat hulle sy volk is hulle tot valse leermeesters en profete gewend het. “Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe.”—Jesaja 55:2, 3; vergelyk Jeremia 2:8, 13.

’n Oorvloed geestelike voedsel

Daar is beslis geen tekort aan goeie geestelike voedsel nie. Soos Jesus Christus voorspel het, het hy nou ’n “getroue en verstandige slaaf”-klas wat besig is om “voedsel op die regte tyd” te voorsien aan enigiemand wat dit wil hê (Matteus 24:45). Deur die profeet Jesaja het Jehovah beloof: “Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; . . . my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is.” Trouens, hy beloof ’n feesmaal vir diegene wat dit wil eet. “Die HERE van die leërskare sal . . . vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg.”—Jesaja 25:6; 65:13, 14.

Maar dink hieraan: Ons kan by ’n feesmaal van honger omkom! Al is ons omring deur voedsel kan ons nog steeds ernstig ondervoed bly as ons nie daadwerklik optree en daarvan eet nie. Spreuke 26:15 gee hierdie letterlike beskrywing: “Het die luiaard sy hand in die skottel gesteek, hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring.” Wat ’n treurige situasie! Ons kan eweneens te lui word om onsself in te span om persoonlike studie van God se Woord en Bybelpublikasies te doen wat bedoel is om ons te help om geestelike voedsel in te neem. Of ons kan te moeg word om voor te berei vir die vergaderinge van die Christengemeente of om daaraan deel te neem.

Goeie eetgewoontes

Ons het dus alle rede om goeie geestelike eetgewoontes te ontwikkel. Maar in werklikheid peusel baie aan hulle geestelike voedsel, en party honger hulle selfs heeltemal uit. Hulle kan soos mense wees wat nie die belangrikheid van ’n behoorlike dieet besef nie totdat hulle later in hulle lewe die gevolge daarvan dra. Healthy Eating gee hierdie rede waarom ons dalk onverskillig oor ons eetgewoontes is, al weet ons dat goeie eetgewoontes noodsaaklik vir lewe is: “Die probleem is dat daar [as gevolg van slegte eetgewoontes] geen vinnige verslegting in gesondheid is nie, geen skielike resultaat soos die geval is wanneer iemand op onverskillige wyse oor die pad loop nie. In plaas daarvan kan ’n mens se gesondheid baie stadig en ongemerk agteruitgaan, jy kan makliker infeksies kry, jou beenstelsel word moontlik swakker en dit kan langer neem vir wonde om te genees en om van ’n siekte gesond te word.”

In uiterste gevalle kan ’n mens soos ’n jong vrou word wat aan anorexia nervosa ly. Ten spyte daarvan dat sy fisies wegteer, oortuig sy haarself daarvan dat sy min voedsel nodig het en dat niks met haar verkeerd is nie. Uiteindelik wil sy glad nie meer eet nie. “Dit is ’n gevaarlike toestand”, sê ’n mediese naslaanwerk. Waarom? “Hoewel die pasiënt selde letterlik van honger sterf, raak sy ernstig ondervoed en kan sy beswyk aan wat gewoonlik ’n geringe infeksie is.”

Een Christenvrou het erken: “Ek het jare lank ’n stryd gehad tussen die wete dat gereelde voorbereiding vir vergaderinge en persoonlike studie nodig is en die feit dat ek dit nogtans nooit kon doen nie.” Sy het uiteindelik wel veranderinge aangebring en ’n goeie student van God se Woord geword, maar eers nadat sy die dringendheid van haar situasie ten volle begryp het.

Neem dus die raad wat die apostel Petrus gegee het ter harte. Word soos “pasgebore kindertjies”, en “ontwikkel . . . ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat julle daardeur tot redding kan groei” (1 Petrus 2:2). Ja, ‘ontwikkel ’n verlange’—kweek ’n sterk begeerte aan—om jou verstand en hart met die kennis van God te vul. Dié wat geestelik volwasse is, moet ook aanhou om daardie verlange te koester. Moenie dat geestelike voedsel ‘een van jou middele word wat die meeste misbruik word’ nie. Ontwikkel goeie geestelike eetgewoontes, en vind ten volle baat by al die “gesonde woorde” wat in God se Woord, die Bybel, gevind word.—2 Timoteus 1:13, 14.

[Prent op bladsy 28]

Moet jy jou dieet verbeter?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel