Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 1/15 bl. 5-9
  • Boodskappers van Goddelike vrede kom byeen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Boodskappers van Goddelike vrede kom byeen
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Hoe lieflik is die een wat vrede verkondig’
  • ‘Die vrede van God gaan alle denke te bowe’
  • ‘Bewaar die eenheid in die verenigende band van vrede’
  • Jy sal dit beslis wil bywoon!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Die “Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms—Net wat ons nodig gehad het!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Sal jy daar wees?
    Ontwaak!—1996
  • “Ywerige Koninkryksverkondigers” kom vreugdevol byeen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 1/15 bl. 5-9

Boodskappers van Goddelike vrede kom byeen

“ONS is nog by elke streekbyeenkoms wat ons bygewoon het, opgebou”, sê ’n Christen- ouer man van die Verenigde State. “Maar hierdie jaar was eenvoudig onbeskryflik. Na afloop van elke dag het ons gewonder hoe die volgende dag ons verwagtinge sou oortref, en ons is nie teleurgestel nie!”

As jy een van die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkomste bygewoon het, sal jy ongetwyfeld met hierdie entoesiastiese byeenkomsganger saamstem. Op elke dag van die byeenkoms is die aandag gevestig op ’n ander aspek van die opdrag wat Jehovah se Getuies as God se boodskappers uitvoer. Kom ons hersien die driedaagse program.

‘Hoe lieflik is die een wat vrede verkondig’

Dit was die tema van die byeenkoms se eerste dag. Dit was gebaseer op Jesaja 52:7 (NW). In hierdie swaar tye dien baie mense Jehovah onder moeilike omstandighede. Die toespraak “Hoor van ywerige verkondigers van vrede” het onderhoude met ’n paar van hierdie getroues ingesluit. Om na hulle persoonlike ondervindinge te luister, was beslis bemoedigend, en byeenkomsgangers is sodoende verseker dat Jehovah hulle ook kan versterk en selfs “krag wat bo die normale is”, kan gee om hulle te help volhard.—2 Korintiërs 4:7.

Jehovah se vereistes is nie swaar nie (1 Johannes 5:3). Dit is duidelik gemaak in die laaste toespraak van die oggendprogram wat ’n hoogtepunt bereik het met die vrystelling van ’n 32-bladsy-brosjure met die titel Wat vereis God van ons? Hierdie pragtig geïllustreerde nuwe studiehulp sal ongetwyfeld ’n betekenisvolle rol speel en nog baie meer mense van God se voornemens leer. Kommentare oor hoe om hierdie nuwe publikasie te gebruik, kan in die laaste studieartikel en op bladsye 16 en 17 van hierdie tydskrif gevind word.

Die toespraak “Volhard in goeie werk” het die feit beklemtoon dat Jehovah deeglik bewus is van ons beproewinge. Om te volhard, beteken dat ons vasstaan en nie moed verloor nie. Jehovah het vir ons sy Woord, sy gees en sy organisasie gegee om ons by te staan. Dit verg volharding om die predikingswerk te doen, maar die predikingswerk help ons weer om te volhard, want dit hou ons geloof lewend. So na aan die einde moet ons nie toelaat dat ons probleme ons ywer demp nie, want slegs diegene wat tot die einde toe volhard, sal gered word.—Matteus 24:13.

Die programrede, “Ons rol as boodskappers van Goddelike vrede”, het die aandag gevestig op die vrylating van die Joodse ballinge uit Babilon en die herstel van ware aanbidding in Jerusalem in 537 v.G.J. Hierdie gebeurtenis, het die spreker verduidelik, was slegs ’n voorskou van wat God se Koninkryk binnekort op ’n wêreldwye skaal tot stand gaan bring (Psalm 72:7; Jesaja 9:6). Ons huidige toewysing is om die goeie nuus van hierdie Koninkryk te verkondig en om in ooreenstemming met daardie boodskap te lewe. Liefde vir God en ons medemens moet ons beweeg om sonder ophou met hierdie werk voort te gaan.—Handelinge 5:42.

’n Hoogtepunt van Vrydag se program was die simposium “Pas op vir die verborge strikke van vermaak”. Vandag se musiek, rolprente, video’s, televisieprogramme, videospeletjies, boeke, tydskrifte en strokiesverhale weerspieël dikwels demoniese denke. Ons moet dus “verafsku wat goddeloos is” en “[vashou] aan wat goed is” (Romeine 12:9). Ja, ons moet verdorwe vermaak met afsku bejeën en dit vermy, terwyl ons kuis, deugsame en lofwaardige dinge bedink (Filippense 4:8). Die publikasies en navorsingshulpe wat deur Jehovah se organisasie voorsien word, stimuleer ons verstand met opbouende gedagtes en lei ons op om tussen reg en verkeerd te onderskei (Hebreërs 5:14). Ons moet aan hierdie voorsienings vasklou soos ons aan ’n vlot in ’n onstuimige see sal vasklou.

Die volgende toespraak was: “Staan die Duiwel teë en duld geen mededinging nie.” Kort voor die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, is duisende deur onsedelikheid verstrik. Pinehas het geen mededinging ten opsigte van ware aanbidding geduld nie. Hy het daadwerklik teen oortreders opgetree, en sy uitsluitlike toegewydheid het Jehovah behaag (Numeri 25:1-13). Dit is Satan se doel om elkeen van ons ongeskik te maak om God se nuwe wêreld binne te gaan. Soos Pinehas moet ons dus die Duiwel se pogings om ons te verontreinig, teëstaan. Hetsy ons getroud of ongetroud is, ons moet “vlug vir die hoerery”.—1 Korintiërs 6:18.

“Verdedig lojaal die integriteit van God se Woord” was die slottoespraak van die byeenkoms se eerste dag. Baie vertalers verander dele van die Skrif of laat dele weg. Om voorstanders van vroueregte byvoorbeeld tevrede te stel, verwys die vertalers van The New Testament and Psalms: An Inclusive Version na God, nie as die Vader nie, maar as die Vader-Moeder en na Jesus as “die Mens” eerder as die “Seun van die mens”. In teenstelling hiermee bly die Nuwe Wêreld-vertaling so getrou by die teks in die oorspronklike taal dat dit ons denke oor ’n hele aantal skriftuurlike sake duidelik gemaak het. Die spreker het byvoorbeeld gesê: “Dit was die juistheid van die Nuwe Wêreld-vertaling wat die grondslag gelê het vir ons herorganisering van die gemeentes deur liggame van ouer manne aan te stel, sodat dit meer in ooreenstemming met die voorbeeld van die eerste-eeuse Christengemeente kon wees.” Ons toon ons lojaliteit aan God se Woord deur dit daagliks te lees en die raad daarin toe te pas. Die spreker het ook gesê: “Ons toon dat ons lojale voorstanders van God se Woord is deur dit ywerig aan ander te verkondig en deur dit versigtig te gebruik terwyl ons dit aan ander leer sodat ons dit nooit by ons eie idees probeer aanpas deur dit te verdraai of uit verband te gebruik nie.”

‘Die vrede van God gaan alle denke te bowe’

Hierdie tema, gebaseer op Filippense 4:7, was ’n goeie inleiding tot die tweede dag van die byeenkoms. Baie van die inligting wat aangebied is, het met die behoorlike beskouing van ’n mens se bediening, gesin, toewyding en ander aspekte van die daaglikse lewe verband gehou.

Ná ’n bespreking van die dagteks is ’n simposium met die titel “Boodskappers wat goeie nuus van vrede bring” aangebied. Ons boodskap is ’n boodskap van vrede, en dit moet op ’n vreedsame manier aangebied word (Efesiërs 6:15). Ons doel is om harte te wen, nie argumente nie. Die opleiding en publikasies wat ons van Jehovah se organisasie ontvang, help ons om juis dit te doen. Ons moenie toelaat dat onverskilligheid of ’n gebrek aan belangstelling ons ontmoedig nie. Ons moet eerder voortgaan om ‘ons uiterste bes te doen’ deur ’n goeie rooster te hê wat persoonlike studie, vergaderingbywoning en ’n deelname aan die predikingswerk betref (2 Timoteus 2:15). Ons moenie nalaat om aan ander, veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is, goed te doen nie (Galasiërs 6:10). Om ons uiterste bes te doen, beteken natuurlik nie dat ons onsself daardeur moet laat uitmergel nie. Dit wat elkeen volgens sy vermoë en omstandighede kan doen, is vir Jehovah aanneemlik.

God se volk bied hulle tyd, energie en middele aan om Koninkryksbelange te bevorder. Die toespraak “Hoe om blymoedig te gee in Jehovah se organisasie” het getoon dat meer toerusting, vergaderplekke en takfasiliteite nodig raak namate skaapgeaardes op die Koninkryksboodskap reageer. Ons bydraes stel die organisasie in staat om tot hulle beskikking te hê wat nodig is om die wêreldwye predikingswerk uit te voer. Vrygewigheid strek Jehovah ook tot eer en bring vir die gewer vreugde mee. As Christene moet ons derhalwe nie versuim om aan hierdie belangrike aspek van ons aanbidding aandag te skenk nie.—2 Korintiërs 8:1-7.

Ter afsluiting van die oggendsessie is die dooptoespraak gehou—altyd ’n hoogtepunt by groot byeenkomste van Jehovah se Getuies. Wat ’n vreugde is dit tog om te sien hoe pastoegewydes in Jesus se voetstappe volg deur waterdoop te ondergaan! (Matteus 3:13-17). Almal wat hierdie stap doen, is in die bron van die grootste wysheid—die Bybel—opgelei. Daarbenewens het hulle ’n ware doel in die lewe gevind, en hulle word geseën met die vrede wat spruit uit die wete dat hulle doen wat reg is.—Prediker 12:13.

Gepaste raad is gegee in die toespraak “Laat onderskeidingsvermoë jou beveilig”. Onderskeidingsvermoë is baie belangrik as dit kom by saketransaksies. Die Koninkryksaal is nie ’n plek vir persoonlike sakebedrywighede nie, en ons moet ook nie mede-Christene om finansiële gewin uitbuit nie. (Vergelyk Johannes 2:15, 16.) Onderskeidingsvermoë is ook nodig wanneer ons geld in ’n onderneming belê of wanneer ons geld leen of uitleen. “Mislukte sakeondernemings onder Christene het al daartoe gelei dat sommige, wat hulle halsoorkop tot onsekere geldmaakskemas verbind het, teleurgestel is of selfs hulle geestelikheid verloor het”, het die spreker gesê. Hoewel dit nie verkeerd van Christene is om met mekaar sake te doen nie, is dit beslis verstandig om versigtig te wees. En wanneer twee partye ’n sakeooreenkoms aangaan, moet die voorwaardes altyd op skrif gestel word.

God se standaard vir mans en vroue is in die toespraak “Man en vrou het hy hulle geskep” bespreek. Die rolle van die geslagte is deur die geskiedenis heen verdraai. “Baie stel manlikheid verkeerdelik gelyk aan streng oorheersing, hardvogtigheid of machismo”, het die spreker gesê. “In sekere kulture is dit ongewoon, selfs skandelik, vir ’n man om in die openbaar of selfs privaat te huil. Maar Johannes 11:35 sê dat ‘Jesus trane begin stort het’ terwyl hy saam met die skare buite Lasarus se graf was.” Wat van vroue? Vroulikheid word dikwels gelykgestel met fisiese aantreklikheid. Maar die spreker het gevra: “Kan ’n vrou wat mooi is, maar nie gesonde verstand het nie en twisgierig, sarkasties of aanmatigend is, werklik in die ware sin van die woord mooi, waarlik vroulik wees?” (Vergelyk Spreuke 11:22; 31:26.) In hulle spraak, gedrag en persoonsversorging streef Christenmans en -vroue daarna om Bybelstandaarde na te volg. Die spreker het gesê: “Dit is maklik om ’n man wat die vrugte van die gees openbaar te respekteer, en dit is maklik om ’n vrou wat dit doen, lief te hê.”—Galasiërs 5:22, 23.

Volgende was die simposium “Die God van vrede is besorg oor jou”. Baie Christene het finansiële sorge. Jehovah belowe nietemin: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Ondanks ekonomiese teëspoed het party vertroue in hierdie belofte getoon deur die hulp- of die gewone pionierdiens te betree. Ander wat nie nou aan die pionierdiens kan deelneem nie, stel Koninkryksbelange eerste deur elke geleentheid om te getuig aan te gryp (Matteus 6:33). Al hierdie pogings moet geprys word! Jehovah se organisasie het al etlike publikasies voorsien om ons in ons bediening te ondersteun en ons te help om ons probleme die hoof te bied. As ons waardering vir Jehovah se geestelike voorsienings toon, sal hy ons in hierdie ekonomies onstuimige tye met vrede seën.—Psalm 29:11.

Ter afsluiting van die dag se laaste toespraak “Streef Goddelike vrede in die gesinslewe na” was byeenkomsgangers verheug om die nuwe boek Die geheim van gesinsgeluk te ontvang. “Bestudeer hierdie boek ywerig as individue en as gesinsgroepe”, het die spreker almal aangespoor. “Probeer hard om die Bybelse raad daarin toe te pas, en julle sal gewis die vrede en geluk in julle gesin laat toeneem.”

‘Bewaar die eenheid in die verenigende band van vrede’

Hierdie tema, gebaseer op Efesiërs 4:3, was gepas vir die laaste dag van die byeenkoms. Jehovah se Getuies, uit alle nasies van die wêreld, is deur God geleer. Gevolglik het hulle vrede lief. Hulle volg Jesus se voorbeeld en streef daarna “om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar”.

Die vrede wat God se organisasie vul, is in die simposium “Identifiseer die regte soort boodskappers” beklemtoon. Daar was valse profete in eertydse Israel. Maar God se ware boodskappers—profete soos Jesaja, Esegiël en Jeremia—het die val van Jerusalem, die tydperk van ballingskap en die uiteindelike bevryding van God se volk akkuraat voorspel. Daar bestaan ’n soortgelyke situasie vandag. In die politiek en valse godsdiens is daar baie valse boodskappers. Maar Jehovah het sy Getuies in aansyn geroep om sy voorneme met betrekking tot hierdie stelsel van dinge te verkondig. Jehovah se knegte is veral sedert 1919 gebruik om God se boodskap te verkondig. Hoe verskil hulle tog van die valse boodskappers van die Christendom! Mag ons ywerig ons deel in hierdie werk bydra totdat Jehovah sê dat dit voltooi is.

Die toespraak “Luister na en gehoorsaam God se Woord” het beklemtoon dat die Skrif die grootste bron van leiding, bemoediging en hoop is (Jesaja 30:20, 21, NW; Romeine 15:4). Die wêreld van vandag word al hoe permissiewer. Dit is dus meer as ooit tevore nodig om na die raad te luister wat uit God se Woord en van sy organisasie af kom. Jehovah ken ons swakhede, en in sy Woord het hy duidelik getoon watter weg ons tot voordeel sal strek. Die wete dat Jehovah ons ondersteun, gee ons die vertroue om voort te gaan met enigiets wat hy ons vra.

Dit was ’n goeie inleiding tot die gekostumeerde drama wat gevolg het. Die tema daarvan was “Waarom moet ons teokratiese reëlings respekteer?” Deur die Bybelverslag van Gideon as ’n grondslag te gebruik, het hierdie aanbieding ’n kragtige les by ons tuisgebring—ons moet God se voorskrifte volg en dit nie met ons eie denke vervang of probeer om teokratiese raad te omseil nie.

Die openbare toespraak het gehandel oor die onderwerp “Uiteindelik ware vrede!—Uit watter bron?” Die vrede wat God belowe, oortref enigiets wat hierdie wêreld hom kan voorstel. “Ware vrede beteken vrede elke dag”, het die spreker gesê. “God se vrede beteken ’n wêreld sonder siekte, pyn, droefheid en die dood.” Die Bybel sê vir ons dat Jehovah “oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde” (Psalm 46:10). Hoe gaan hy dit doen? Deur die aanstoker van oorlog, Satan die Duiwel, uit die weg te ruim (Openbaring 20:1-3). Dit sal vir ootmoediges die weg open om ‘die aarde te besit en hulle oor groot vrede te verlustig’.—Psalm 37:11.

Ná ’n opsomming van Die Wagtoring-studieartikel vir die week is die laaste toespraak van die byeenkoms aangebied. Met die titel “Voorwaarts as boodskappers van Goddelike vrede” het hierdie aangrypende toespraak die feit beklemtoon dat ons predikingswerk uniek sowel as dringend is. Dit is nie nou ’n tyd om te ontspan, traag te wees of na dwaalbegrippe terug te keer nie. Ons is toegerus met wat ons nodig het—God se boodskap, sy heilige gees en tallose voorsienings wat van sy liefdevolle teokratiese organisasie af kom. Laat ons as Jehovah se knegte dus almal voorwaarts bly beweeg as boodskappers van Goddelike vrede!

[Venster/Prente op bladsy 9]

’n Liefdevolle voorsiening vir gesinne

Diegene wat op die tweede dag van die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms teenwoordig was, was verheug om die nuwe publikasie met die titel Die geheim van gesinsgeluk te ontvang. Hierdie boek bevat skriftuurlike inligting waarby alle gesinne wat vir God lief is baat sal vind.

’n Ouer man van Connecticut, VSA, sê: “Ons het ons Gesinsgeluk-boek op 15 Junie ontvang. Teen 16 Junie het ek dit al halfpad deurgelees. Op die 17de het ons ons eerste gesinstudie daarin gehad, en ons is so bemoedig! Op daardie selfde dag het ek die boek klaar gelees. Hierdie puik publikasie sal vir almal wat daarvan gebruik maak ongetwyfeld kosbaar wees. Die boek se inligting is eerlik en op hoogte van die tyd, en dít bied verdere bewys dat ‘die getroue en verstandige slaaf voedsel op die regte tyd’ gee en baie bewus is van ons behoeftes in hierdie moeilike tye.”—Matteus 24:45-47.

[Prent op bladsy 7]

Oud en jonk wil weet wat God vereis

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel